2 bladsye.

Ons Het Mekaar Nodig

In ʼn gesprek gee hulle te kenne dat hulle nie juis mense vir ʼn Bybelstudiegroep is nie. Al wat jy daar hoor (sê hulle) is verskillende interpretasies van ’n Bybelgedeelte. Dit help jou in elk geval niks nie.

Op my vraag: “Met wie in die gemeente het julle ʼn bietjie meer kontak?”, was hulle antwoord: “eintlik met niemand meer nie”. Hulle het ook nie ʼn behoefte daaraan nie. “Het julle dan glad nie vriende nie?” Ja, ons het vriende deur ons werk en by die tennisklub … en ja, ons het ’n lekker tyd saam met hulle.

Partykeer het hulle saam met ander mense op vakansie gegaan. “Lewe julle reisgenote dan ook met die Woord van God?” Nee, hulle doen nie, maar is dit dan ’n noodsaaklikheid? Mens hoef mos nie ander mense as minderwaardig te sien as hulle anders dink oor dinge as jy nie?

Dit het ʼn hele gesprek tot gevolg gehad. Dit word duidelik dat hulle ook geleidelik anders oor baie dinge begin dink het. Hulle het al hoe gemakliker oor dinge begin dink. Daar het al hoe meer ruimte en vryheid gekom om te doen soos wat ons self voel. En die media het ook daarin sy bydrae gelewer.

Toe ek ʼn sin by Luther lees: ”Die reinheid van ander weerstaan die aanval van my onreine luste”, moes ek aan hierdie besoek dink. Ek interpreteer hierdie sin soos volg: as ek omgaan met Bybelgetroue Christene, wat ook in hulle lewenswandel Christus se volgelinge is, word ek deur hulle beïnvloed om ook in daardie weë te wandel. Omgang met Godvresende mense het ʼn goeie invloed op jou Christelike lewensstyl. Dit help ’n mens om te voorkom dat jy op ʼn wêreldse manier begin dink.

Ons is nie Bybelstudiegroepsmense nie, het hulle gesê, maar wie is dan jou vriende? Hoe word jou mening gevorm? Met wie kan jy identifiseer?

Ek dink aan 1 Korinthiërs 12:26: “En as een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly”. Iemand se geloof straal iets uit na diegene wat met hulle omgaan. Andersyds geld die waarskuwende teks uit 1 Korinthiërs 15:33: “Moenie dwaal nie; slegte gesprekke bederf goeie sedes”. ʼn Ander leer veroorsaak ook ʼn ander lewe. As jy ander leerstellinge begin hanteer, sal daar anders oor etiese sake gedink word.

Dit is uiters noodsaaklik dat ons buiten die kerkdienste ook met getroue Christene uit die gemeente omgaan. Dis onmoontlik om met elkeen in ’n groot gemeente hegte kontakte te hê, maar dit is goed om enkele gemeentelede as vriende te hê. Die spreekwoord sê: “Sê my wie jou vriende is, en ek sal jou sê wie jy is.

Ek praat nou die dag met iemand wat so vyftig jaar gelede Christen geword het. Hy sê my toe dat die oorgang na die kerk, wat algemene waardes betref, daardie tyd nie so groot was nie. Oor sake soos huwelik en gesin is daardie tyd, vir alle praktiese doeleindes, nog baie dieselfde gedink.

In ons tyd is dit egter baie anders. Daar is so baie aangeleenthede waaroor die Christene net só totaal anders dink as nie-Christene. Dink byvoorbeeld aan die siening van lewe (die begin en einde daarvan), dink aan Sondagsheiliging, die huwelik, opvoeding, geldbesteding en naasteliefde.

Dit beteken nie dat jy hoogmoedig na mense van buite die kerk mag kyk nie. Dit beteken ook nie dat ons geen kontakte met mense by die kerk behoort te hê nie. Maar hulle mag nie jou lewenstyl bepaal nie. Die navolging van Christus vereis ʼn lewe wat gelykvormig aan Christus word. ʼn Mens ontwikkel gedurig. En in hierdie ontwikkeling is dit ’n belangrike vraag: Wie vorm ons lewe? Wie is die mense met wie ons omgaan? Aan watter mense gee ons ons tyd en aandag? By hierdie laaste vraag dink ek ook aan dit wat deur middel van die media by ons huise inkom. Ook in jou jong lewe: watter musiek en watter films vul jou lewe?

Christus sê dat ons sy getuies moet wees. Moet jou dus nie deur die kwade laat saamsleep nie, maar laat jou vorm deur die Woord van God en die omgang met God se kinders. Dit is bepalend vir ons belydenis: “Ek glo aan die gemeenskap van die heiliges.”