2 bladsye.

Ons Houding by Gesamentlike Bybelstudie

Daar is al baie geskrywe oor gebed en ons omgang met die Woord van God. ʼn Belangrike tema ook vir ons gesamentlike Bybelstudies. Van die apostel Paulus leer ons dat hy ʼn werksame, asook biddende lewe gelei het. Hoeveel van sy briewe begin hy nie met ʼn getuienis dat hy die Here te ‘alle tye dank’ en bid, ook vir sy lesers. Laat ek drie elemente uit die gebede uitlig, wat belangrik is vir gesamentlike Bybelstudie: geloof, liefde en kennis.

Geloof🔗

Eerstens dank die apostel, in sy briewe, vir die geloof van sy lesers. Hulle het met blydskap die evangelie aangeneem. Die Heilige Gees het hulle daarin laat verstaan dat in die evangelie nie gaan oor net nog ʼn wêreldbeskouing nie, maar oor die Woord van die Lewende God, die Vader van ons Here Jesus Christus. Dit is vir Paulus, as dienaar van Jesus Christus, die belangrikste en word met dankbaarheid eerste genoem. Die gemeentes aan wie hy skryf het verstaan dat die evangelie nie gaan oor ʼn aansprekende idee of teorie nie, maar dat die Here self tot hul gekom het. Hulle het nie in die eerste plek ʼn boek begin waardeer nie, maar hulle het begin glo in ʼn Heer. Geloof is immers nie om ʼn boek as waarheid te aanvaar nie, maar dit is om die Here te vertrou op Sy Woord. Geloof is om onvoorwaardelik voor Hom te buig en sonder voorbehoud sy boodskap van vergifnis en vernuwing te aanvaar.

Tydens ons gesamentlike Bybelstudiebyeenkomste gaan dit oor Bybel-studie, maar ons werk daar is veroordeeld wanneer ons ons maar net “besig hou met ʼn boek”. Al word daar baie intensief bespreek en is ons ernstig besig en word daar baie waar dinge gesê, as ons nie in die Skrif na die stem van die Here luister nie, is dit alles tevergeefs.

Dit is tog juis die werk van die Heilige Gees! Hy plaas ons voor die lewende God, sodat ons Hóm kan leer ken. Hy bewerk groei in ons liefde vir die Here. Sy beloftes word ʼn stralende werklikheid vir ons. Ons leer sien dat God se gebod geen grense ken nie. Die Heilige Gees keer dat ons tevrede is met ʼn ‘kern’ van die Bybelse boodskap of met net die ‘minimale waarsonder jy nie kan leef nie’. Hy maak juis dat ons ons eie gedagtes al hoe meer gevange neem in gehoorsaamheid aan Christus. In situasies waarvoor daar geen spesifieke gebod in die Skrif staan nie, soek ons steeds na die wil van God. Is ons bereid om dit so te doen? Is ons só met die Skrif besig: As die eie Woord van ons goeie God? Bid ons genoeg vir besprekings op hierdie vlak? Is ons werklik dankbaar en dank ons die Here, wanneer ons wel so ʼn geloofshoudings by mekaar ontdek?

Liefde🔗

Die tweede element wat ons kan uitlig in die gebede van Paulus se briewe is die liefde, wat die lesers teenoor mekaar en alle gelowiges het. As Christen lewe ons vanuit die liefde wat God in Christus aan ons bewys het. Deur gewortel en gegrondves in sy liefde te wees, kan ons ons broers en susters liefhê. Sóós Christus en omdát Christus ons vergewe, so vergewe ons mekaar en is ons vriendelik en barmhartig teenoor mekaar.

Die liefde tot mekaar moet deurwerk in die gesamentlike Bybelstudie. Hoe gaan dit in hierdie opsigte met ons besprekings? Deur Christus is ons met mekaar verbind in een liggaam. Kan ʼn mens dit waarneem? Hoe sien ons mekaar? Dra ons die “regte bril” of het ons ʼn balk of ʼn splinter in ons oog? Is ons werklik bereid om na mekaar te luister en neem ons mekaar se vrae ernstig op? Het ons alreeds ons oordeel gefel en mense, waarmee ons tog nie saamstem nie, klaar afgeskryf? Watter motiewe dryf ons?

Ek kan dit nie nalaat om die apostel Paulus self aan die woord te stel nie. Die vrug van die Gees is liefde, blydskap, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, trou, sagmoedigheid en selfbeheersing. En Jakobus, wat blykbaar te doen gehad het met gemeentelede wat mekaar afgekraak het, skryf ook: Die wysheid wat van Bo kom is allereers sonder bybedoelings en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig en opreg. Woorde wat deur ons geproe moet kan word.

Ons kla soms nogal oor die kwynende deelname aan die Bybelstudie-byeenkomste. Ons dink aan allerhande maniere om hierdie verskynsel te probeer verander. Maar word die weersin teen of die aantrekkingskrag van die Bybelstudie-byeenkomste nie hoofsaaklik bepaal deur die manier waarop ons met mekaar omgaan nie? Dink ons ook dááraan in ons gebede týdens die vergaderings en bid ons ook voor die Bybelstudiewerk? Kan ons ook dáárvoor dank?

Kennis🔗

Ons moet bewus aandag gee aan die telkens terugkerende tema in Paulus se gebed dat sy lesers in die kennis van die Here en Sy wil mag toeneem. Daar is mense vir wie die atmosfeer tydens die Bybelstudies die belangrikste is. Vir hulle is die doel bereik as ons op Bybelstudies oop is vir mekaar se opvattings en as daar ruimte gelaat word vir totaal uiteenlopende en “van die spoor af” gevoelens.

Ek het eenkeer as ʼn beswaar teen ʼn Bybelstudie-byeenkoms gehoor: “Hulle is altyd so daarop uit om mekaar te oortuig en om tot ʼn afgeronde Bybelse standpunt te kom. Ek ervaar dit as ʼn ketting waaraan ek ongemaklik voel.”

Dit is goed om op hierdie punt ook na die apostel te luister. By hom is die liefde nooit vryblywend nie. Dit is ook nooit op homself gerig nie, maar op die Here. Paulus bid vir liefde wat heeltyd oorvloediger word in begrip en fyngevoeligheid, om te kan onderskei wat reg en goed is. Sy lesers moet nie net letterknegte wees wat hulle net hou aan dit wat in soveel woorde in die Skrif staan nie. Hulle moet kinders wees wat vanuit die Skrif ʼn sesde sintuig ontwikkel waarmee hulle in álle situasies God se wil leer onderskei. Die apostel hou daarom nie op om te bid en te vra dat sy lesers met die regte kennis van God se wil vervul mag word, nie. In alle wysheid en geestelike insig om in die Here se weë met waardigheid te wandel, Hom in alles te behaag, in goeie werk vrug te dra en om in die regte kennis van God te groei. Dit is sy gebed dat sy lesers éénsgesind sal wees en eendragtig uit één mond die God en Vader van ons Here Jesus Christus mag verheerlik.

Christelike liefde is nooit vryblywende liefde nie. Ons toon ons liefde in die Bybelstudie-byeenkomste deur mekaar te help om steeds skerper te luister na die Here en Sy wil. Juis hiermee herken ons dat ons God se kinders liefhet: wanneer ons God liefhet en sy gebooie hou.

Laat dit die doel van ons Bybelstudie-byeenkomste en die inhoud van ons gebede wees: dat ons daagliks in ware geloof en in gemeenskap met Christus mag toeneem. Staan die Bybelstudie-tafel nie in die verlengde van die nagmaalstafel nie?