3 bladsye. Vertaal deur ​ Nic Grobler.

Ons is Nie vir die Dood Geskape nie, maar vir die Lewe

Die Ou Testament🔗

Daar is oorgenoeg rede om die lig van die Woord van God op die lewe en die dood te laat val.

God het die mens na sy beeld geskape en hom ʼn lewende wese (“lewende siel” in die OAV) gemaak (Genesis 1:27; 2,7). Die mens is vir die lewe geskape.

Die dood kom vir die eerste keer ter sprake in die verbod om van die boom van kennis van goed en kwaad te eet. God spreek die waarskuwende woord:

... die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.Genesis 2:7

Dit kan beteken dat die mens onmiddellik sou sterwe wanneer hy die gebod van God oortree, maar ook dat hy dan onvermydelik, onafwendbaar, sal sterwe — dat daar nie aan die dood ontkom kan word nie.

As die mens sondig, kan hy die doodsvonnis verwag; maar in Genesis 3:15 is daar ’n belofte van verlossing! Tog bly die oordeel van krag: “...stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer” (Genesis 3:19). Deur die sonde het die mens in die mag van die dood gekom. Moeite en lyding is ook die gevolg van die sonde (Genesis 3:16-18).

Daar is dus ’n noue samehang tussen die sonde en die dood, wat volgens die Skrif ’n groot onheil is. Die heil bestaan daarom nie alleen uit die verlossing van die sonde nie, maar ook uit die oorwinning van die dood. Dit kom na vore in Jesaja 25:8 waar geprofeteer word dat die Here die dood vir ewig sal vernietig. In God se nuwe wêreld sal die dood daar nie meer wees nie. Die sonde sal immers ook nie daar wees nie.

Daar staan nêrens in die Ou Testament dat die sterflikheid van die mens ’n natuurlike gegewe is nie. Die verganklikheid van die mens word wel met beelde uit die natuur geteken, soos gras wat verdor en die blom van die veld wat afval, maar daarmee word die lewe van die mens nog nie as deel van die natuur beskou nie, laat staan nog biologies benader. Ons lewe is ’n gawe van God, die God van die lewe.

Ons lewe en ons sterwe is in die hand van God. Wie op Hom vertrou kan sê: “My tye is in u hand” (Psalm 31:16). Gelowiges lewe in afhanklikheid van God. Hulle mag dankbaar wees as aan hulle ’n lang lewe geskenk word, maar hulle moet met die dood en die gerig van God wat eenmaal kom, erns maak (lees Prediker 11:9 en 12:14). Wie homself ken as ’n sondaar voor God, sal weet dat die dood ’n oordeel van God is (Psalm 90:7-12).

Die mens is nie geskape om te sterwe nie, maar om te lewe. Die ware lewe is ’n lewe met God. Sou die mens altyd bly lewe het as hy nie van God afvallig geword het nie? Die vraag word wel gestel, maar die Bybel swyg daaroor. Dit is denkbaar dat daar ’n oomblik van transformering kon kom, ’n oorgang na ’n nuwe lewensfase in gemeenskap met God.

Die Nuwe Testament🔗

Die apostel Paulus lê ’n direkte verband tussen die sonde en die dood. Die loon van die sonde is die dood (Romeine 6:23). Die Griekse woord beteken: besoldiging, soldy. Daar word ’n verdiende loon uitbetaal: die dood. Waarom is die dood die loon van die sonde? Omdat God dit so beskik het.

In Romeine 5 leer Paulus dat die sonde deur één mens in die wêreld gekom het, en deur die sonde die dood. So het die dood ook na alle mense gekom, omdat hulle almal gesondig het. Die apostel dink hier aan die oortreding van Adam in die paradys — die oortreding van die één (Romeine 5:15). Daardeur het die sonde en die dood die hele mensheid in hulle greep gekry. Vir Paulus gaan dit ewenwel oor die verkondiging van die genade van God in Christus wat meer as oorvloedig geword het sodat, net soos die sonde in die dood as koning geheers het, die genade sou heers deur die geregtigheid tot die ewige lewe deur Christus Jesus, ons Here (Romeine 5:20, 21).

In Romeine 5 is Adam die eerste historiese mens. Hy is ook die hoof van die mensheid en hy verteenwoordig as sodanig alle mense. Toe Adam van God afgeval het, het nie net die eerste mens geval nie, maar ook die mensdom. Die verlossing van die sonde en die oorwinning van die dood word ook deur net één daad van geregtigheid verwesenlik — die werk wat Christus volbring het.

Daar is Bybeltekste waarin mense dood genoem word, terwyl hulle, na ons menslike opvatting van lewe en sterwe, nie dood is nie (Efesiërs 2:1). In die geloofsleer word dit die geestelike dood genoem. Dié dood bestaan in sondige vervreemding van God, sonder wie se gemeenskap die mens die ware lewe ontbeer.

Vir hulle wat uit die dood in die ware lewe oorgegaan het (vgl. Johannes 3:14), verloor die dood sy verskrikking, omdat Christus Jesus hom van sy krag beroof het en, deur die evangelie, die onverganklike lewe aan die lig gebring het (2 Timoteus 1:10).

Ons dink veral aan die perspektief wat 1 Korinthiërs 5 vanuit die opstanding gee. Dié woord wat geskryf is, sal werklikheid word:

Die dood is verslind in die oorwinning.
v. 54

Die dood blý intussen steeds ’n vyand — die laaste vyand wat onttroon word (v. 26). Ons brose bestaan in hierdie tyd word deur Paulus met ’n tent wat afgebreek word, vergelyk (2 Korintiërs 5:1-10). Daar is veroudering, verswakking deur kwale, lyding onder geweld. Ons kan enigiets oorkom. Ons liggaam is ’n vernederde liggaam (Filippense 3:21).

Vir die gelowiges het die dood van aard verander, omdat die straf deur die Here Jesus Christus vir hulle gedra is. Dit is nou vir hulle ’n deurgang na die ewige lewe. Dit neem nie weg dat die tonnel na die ewige lig opsigself nog donker is nie. Die wete van die geloof dat met die werklikheid van Pase aan ons die oorwinning van die dood in beginsel gegee is, mag ons nie tot ’n abstrakte Christelike triomfalisme verlei nie. (J. Hoek, De dood hoort er niet bij, Apeldoorn 1983, p. 38)

Beteken die Leer van die Onsterflike Siel nog Iets vir Ons?🔗

Dit is nie net Christene wat volhou dat die dood nie die allereinde is nie. Daar is ’n baie ou en algemeen verspreide opvatting wat inhou dat die dood betrekking het op die liggaamlike lewe, maar dat die siel van die mens bly voortbestaan.

Hierdie voortbestaan word wyd aangedui as ‘onsterflikheid’. Hoe interessant die verskillende voorstellings van die onsterflikheid van die siel ook mag wees, laat ons dit hier agterweë, omdat daaruit wel afgelei kan word wat mense voor en na die dood kan verwag, maar nie wat hulle moet verwag nie. Dat baie op ’n voortbestaan in een of ander vorm hoop, sê immers nie dat daar ’n werklike voortbestaan sal wees nie.

Die Griekse wysgeer, Plato, word dikwels as getuie bygehaal om die geloof aan die lewe na hierdie lewe te bevestig. Die verhewe deel van die siel verlang volgens Plato na die onsigbare wêreld, die ideëwêreld, waar die siel sy oorsprong het en dus mee verwant is. Die hoogste idee is die idee van die goeie, wat goddelik is. Met die liggaam is dit anders, dit is selfs ’n kerker vir die siel. Die dood word dan die bevryding van die siel.

Die dualisme van siel en liggaam, wat kenmerkend is van die gedagtewêreld van Plato, het aansienlike invloed in die Christendom gehad. Selfs Calvyn kon skryf: “Indien volkome vryheid beteken om van die liggaam bevry te word, wat is die liggaam anders as ʼn kerker?” (Vgl. H. Quistorp, Die letzten Dinge in Zeugnis Calvins, Gütersloh 1941, p. 54-57.)

Beteken dit dan vir ons niks dat vele wat vóór ons gelewe het, gemeen het dat hulle moet aanneem, of selfs gedink het dat hulle kon bewys, dat daar iets in die mens is wat nie sterf nie? Dit is inderdaad ’n belangwekkende verskynsel. Wie beweer dat met die dood alles verby is, staan teenoor almal — Christene en ander — wat daarvan oortuig is dat alles nie met die dood gedaan is nie.

Die Bybel sluit ewenwel, deur wat daarin geopenbaar word oor die oordeel van God, die groot skeiding wat daar sal wees, die opstanding van die dode en die ewige lewe, alle twyfel beslissend uit.

Ons noem hier enkele Skrifwoorde:

En net soos die mense bestem is om een maal te sterwe en daarna die oordeel.
Hebreërs 9:27En hulle sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe.
Matteus 25:46...want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word.
1 Korintiërs 15:52