Bron: Vox Viva. 2 bladsye.

Ontmoeting tussen God en Sy gemeente

- in hemel en op aarde voor God se aangesig -🔗

Dit is nou byna honderd jaar gelede dat A. Kuyper (sr.) sy waardevolle boek oor die erediens begin met ‘n klag. Hy verwoord die gevoelens van vele ander oor die besef van wat die christelike erediens is of beter gesê behoort te wees : “Jarenlang heerschte op dit punt grenzenlooze verwarring,…”. Kuyper wil daarmee geen regverdiging gee vir die pleidooi vir slegs een strakke en onwisselbare vorm van liturgie nie. Ewe min is dit die bedoeling van hierdie skrywer. My sorg is dat die samekomste van die gemeente van die Here nie meer gesien en beleef word binne die raamwerk van God se verbond met sy gemeente nie.

In die praktyk kom allerlei liturgiese vraagstukke aan die orde. Dit is egter my oortuiging (in navolging van Kuyper) dat die vraagstukke te veel bespreek word (en ‘n plek kry in die erediens) as los- en opsigself staande aspekte van ons aanbidding. ‘n Helder insig in dit wat beheersend is vir die erediens, is soek. Vraagstukke oor ons liturgie is geweldig belangrik, aangesien dit nie los staan van ons lewe van elke dag nie. Daar word gesê dat iemand leef soos hy bid. Tereg. Met eweveel goeie reg kan gesê word dat iemand voor die Here leef, soos wat die erediens beleef en ingevul word.

Een sprekende voorbeeld behoort duidelik te maak wat hiermee bedoel word. In die Oosters-Ortodokse kerke word die kerkgebou gesien as ‘n heiligdom. In hierdie heiligdom word die liturgie afgespeel as ‘n heilige drama waarin die lewe van Christus uitgebeeld word. Hierdie drama moet die lidmate help om ‘n mistieke ervaring en ontmoeting met God te ervaar. Die manier waarop Christus in só ‘n erediens teenwoordig is, is nie deur sy Heilige Gees wat deur geloof in die harte van sy kinders leef en werk nie. Die prediking van die Woord van genade moes grootliks plek maak vir die drama van die goddelike. Geloofsvertroue in die Woord van Christus wat bedien word in die prediking, maak plek vir die belewing van ‘n hemelse drama. Die erediens word ‘n stuk hemel op aarde. Laasgenoemde word onderstreep deurdat die kerkdeure letterlik gesluit word om ‘n ruimte te skep wat afgesluit is van die wêreld. Die lewe en wêreld van elke dag moet verlaat word om gemeenskap met God te kan hê. Vanweë hierdie mistiek in die erediens, kon die kerk in Rusland in die verlede ook heel maklik haar oë toesluit vir ‘n daaglikse heilige lewenswandel en sosiale onreg wat die kerk spraakloos gelaat het.

In ‘n gereformeerde liturgiese besef, is die uitgangspunt nie dat die erediens los staan van die daaglikse lewe nie. Lewe in die erediens en in die lewenspraktyk van elke dag is ‘n lewe voor die aangesig van God (Coram Deo). Die praktyk van ‘n lewe voor die aangesig van God word egter wel gevoed vanuit die erediens en het ook daar sy bron. God se Naam moet weer aangeroep word (Gen. 4:26), ons afhanklikheid van die Here se genade vir elke dag en oomblik van ons lewens moet bely word, vanuit die Woord moet ons (geloof) gevoed word sodat ons met lofprysing tot die Here kan sing.

In die erediens gaan dit daarom om ‘n lewende, aktuele ontmoeting tussen die Lewende Here en sy verbondsgemeente binne ‘n spesifieke tyd en konteks. Die liefde tussen die hemelse Bruidegom en sy bruid word gevier en gevoed. Die erediens moet daarom ‘n struktuur hê van ‘n dialoog – gesprek en reaksie van die een op die ander. Daarmee het ons nie gesê dat die prediking ‘n dialoog is nie!! In die prediking is dit nou juis die Bruidegom wat tot die hart van sy (sondige) bruid spreek. Die preek is liefdesverklaring van die Bruidegom. Daarin praat die gemeente nie saam nie, maar mag sy deur haar houding laat sien wat dit beteken om uit genade te leef. ‘n Reseptiewe / ontvanklike houding van geloof pas by die gemeente. Natuurlik lok die liefdesverklaring lof op in die harte van die gemeente. Die lof van die gemeente is dan eerder ‘n belydenis en dankoffer (Hebr. 13 : 15) as wat dit deel is van dialoog in die prediking. Prediking is per definisie monoloog – eenrigtingsgeskenk van Christus aan sy gemeente. Wie wil en kan daarin saampraat? Sinergisme (medewerking tussen God en mens) in die prediking is net so onvanpas as wat dit in ons wedergeboorte is!!

Die boek Openbaring maak ons attent op die wesenlike eenheid tussen die erediens in die hemel rondom die troon van die Lam en die erediens van die gemeente hier op aarde (Op. 4:6-11). Die diens rondom die hemelse troon is niks anders as ‘n voortsetting van die diens hier op aarde nie. Dit het daarom veel te sê vir ons belewing van ons aardse erediens wanneer die gemeente van Christus saamkom. In die hemel is ‘n erediens aan die gang waaraan nie alleen mense nie, maar ook engele deel het en waarvan die middelpunt ingeneem word deur die Lam wat geslag is vir ons sondes. Hý is die Een wat werd is om die boek met sy seëls oop te maak, Hy is die Een wat waardig is om die lof van mense en engele te ontvang.

Op die minste kan en moet daarom vanuit die Skrif gesê word dat ons erediens elke Sondag (of ander dae van die week!!), niks minder behoort te wees as ‘n aardse samekoms wat reg laat geskied aan die hemelse samekoms (wat reeds aan die gang is en tot in alle ewigheid sal voortduur) nie. Die middelpunt van die hemelse erediens is die Lam wat in die allerheiligste van die hemel ingegaan het met sy bloed ter wille van Sy verbondsgemeente. Met sy bloed pleit Hy as Hoëpriester vir die gemeente by die Vader. Dit doen Hy nie as bedelaar nie, maar as oorwinnaar en gestuurde van die Vader. Daarom die onstuitbare lof van die wat hulle klere gewas het in die bloed van die Lam wat rondom die troon staan.

Wat ook al vêrder in ‘n erediens gebeur, lyk dit onontwykbaar dat bogenoemde die basis vorm van enige erediens wat christelik wil wees. Binne só ‘n erediens alleen kry die doopsformulier en nagmaalsformulier en bevestiging van ampsdraers ‘n waardige plek as gawes van die Here. Sonder die leef vanuit die Lam op sy (genade)troon as middelpunt van ons erediens, word al ons sang slegs ‘n klinkende metaal en luidende simbaal; ons gebede word mistieke en emosionele gesprekke met onsself of op sy meeste met ons naaste; die prediking word ‘n uitroep om hulp van die een mens aan die ander.

Dit lyk vir my nie te veel gesê nie, dat die erediens niks minder mag wees as die viering van God se genadeverbond met sy gemeente nie! Los van hierdie besef word alle liturgiese besinning grepe in die lug waarin die een wat die hardste stem het of die langste sy argument kan volhou, die oorwinnaar gaan wees. Dan het die fees van die oorwinning van die Lam verdwyn!