Bron: De Reformatie. 2 bladsye.

Oorvloed en Skaarste

In die kerk wat Pinkster vier, is skaarste ʼn innerlike teenstrydigheid.

Vir ons gevoel is dit nie altyd so nie. Maar ons gevoel is ’n bedrieglike termometer. Dit raak so maklik afgestomp, en pas hom na verloop van tyd by ’n teenstrydige situasie aan.

Na die norm van die Skrif is skaarste in die pinksterkerk wel ’n teenstrydigheid! En uit hierdie norm moet ons praat, dinge takseer, en waar nodig ook ons gevoel korrigeer en opskerp.

As uit die Skrif een ding duidelik word, dan is dit die oorvloed wat die Heilige Gees in alle opsigte aan sy kerk skenk. Pinkster is die fees van die uitstorting van die Heilige Gees.

God se geskenk in die nuwe verbond is nie karig nie. God skenk sy Gees aan sy Seun se volk om hulle ryk te maak. Hy skenk oorvloed om hulle blydskap, vertroosting, liefde en wysheid te laat toeneem.

As ons in die Skrif lees, dan sien ons dat hierdie geskenk van oorvloed ’n opdrag inhou, maar ook as ’n kenmerk van die gemeente beskryf word in haar lewe met God. (Kyk bv. na 1 Tessalonisense 4:1,10 en die uitbundige beskrywing in 2 Petrus 1:3-8).

Die Heilige Gees wil ons volgens God se ryke genade álle wysheid en verstand gee om die heilsgeheime van God se wil te ken. Dit is nie ’n saak wat slegs bekend is aan een of twee ingewydes wat agter die skerms mag kyk nie. Nee, dis ’n saak wat God oorvloedig aan ons bewys het in alle wysheid en verstand (Efesiërs 1:8).

Net soos wat in Efesiërs 1:8 oor die oorvloed van wysheid en verstand gepraat word, praat ander Skrifgedeeltes oor geloof, toewyding, die liefde, goeie werke en die stigting van die gemeente:

  • 2 Korintiërs 8:7: Maar soos julle in alles oorvloedig is – in geloof en woord en kennis en alle ywer in julle liefde vir ons – sorg dat julle in hierdie liefdesdaad oorvloedig is.

  • Filippense 1:9,10: En dit bid ek dat julle liefde nog meer en meer oorvloedig mag word in kennis en alle ervaring, om die dinge waar dit op aankom, te onderskei.

  • 1 Tessalonisense 3:12: en mag die Here julle ryk en oorvloedig maak in liefde vir mekaar en almal.

  • 2 Tessalonisense 1:3: Ons moet God altyd oor julle dank, broeders, soos dit billik is, omdat julle geloof grootliks toeneem en die wederkerige liefde van elkeen van julle almal groter word.

  • 2 Korintiërs 9:8: En God het mag om alle genade oorvloedig oor julle te laat wees, sodat julle altyd in alle opsigte volop kan hê en oorvloedig kan wees in elke goeie werk.

  • 1 Korinthiërs 15:58: Daarom, my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.

  • 1 Korinthiërs 14:12: So moet julle ook, terwyl julle streef na geestelike gawes, probeer om uit te munt tot stigting van die gemeente.

In hierdie verband kan nog baie meer tekste aangehaal word. Wat duidelik behoort te wees, is dat dit steeds gaan oor die uitbreiding en die intensivering wat aan die Gees van Christus eie is. Oorvloed van genade en heerlikheid word deel van die gemeente!

Van alles wat God deur middel van sy ampsdraers in hierdie bedeling doen, geld die woord van die apostel: Want dit is alles om julle ontwil, sodat die genade, wat groter geword het deur so baie mense, die danksegging oorvloedig kan maak tot die heerlikheid van God (2 Korintiërs 4:15).

Hierdie uitbundige Skrifonderrig oor die oorvloed van die Pinksterbedeling laat ons jaar na jaar beskaamd staan, as ons kyk na hoe ons die Pinksterfees vier.

Want by al die sake waarop die Skrif lig werp (getalle, geloof, insig, toewyding, goeie werke, dankbaarheid, ens.) sal ons sonder moeite kan sien dat daar weinig groei, en geen oorvloed waargeneem kan word nie. Daar is baie traagheid, dorheid en stilstand te bespeur. Ons sou selfs van agteruitgang en insinking kon praat!

Die skuld daarvoor lê nie by die Gewer van alle goeie dinge  nie. Die oorsaak moet uitsluitend by die ontvanger gesoek word (Jakobus 1:17).

Wie regtig Pinkster vier, sal nooit aan hierdie situasie gewoond raak nie, maar dit toenemend as teenstrydig ervaar. Pinksterfees is vir die kerk dus ook altyd die fees waarin daar vernuwing van ons normbesef moet wees. Die fees verfris ons aandag, skerp ons gewete op, verskerp ons blik op God se bedoeling, en laat ons die kerklike lewe se armoedigheid weer raaksien.