Bron: Die Kerkblad. 4 bladsye.

Op die Knieë vir die Samelewing en die Owerhede

Ons abnormale samelewing🔗

Die binnelandse nuus word die afgelope maande oorheers deur drie verbandhoudende sake, wat al drie vra om ’n “normalisering” van ons Suid-Afrikaanse samelewing:

  • Hoë vlakke van geweld: kapings, gewapende roof (nie net op straat nie, maar ook in beveiligde huise), verkragtings en moord. Daar was openbare protesaksies en e-posveldtogte om die owerhede, en veral pres. Mbeki, te oortuig om daadwerklike stappe teen misdaad te neem.
  • Die verlies van geskoolde mannekrag. Weens buitengewone maatreëls (sg. regstellende aksie) word daar dikwels onbekwame persone in poste aangestel ten koste van opgeleide persone, en dit lei tot vertragings, onge­lukke en kragonderbrekings. Ons infrastruktuur (paaie, elektrisiteits- en watervoorsiening, openbare gesondheidsorg en onderwys) kom onder druk. Afgesien van ’n wêreldwye tendens dat kundiges ontwikkelende lande verlaat op soek na groener weivelde, verlaat kundiges (ons eie kinders) die land dikwels as gevolg van regstellende aksie.

Aan die een kant was daar die afgelope tyd vertoë deur organisasies wat blanke werkers verteenwoordig dat daar ’n billiker bedeling moet kom - die gevoel is dat die buitengewone maatreëls moet uitfaseer. Aan die ander kant het die regering in Februarie aangekondig dat hoëvlak kundigheid na die land teruggelok gaan word.

  • Die debat oor populêre liedjie, “De la Rey”. Die gewildheid van dié treffer dui op iets wat nog nie duidelik uit die verf gekom het nie. Dit mag frustrasie onder veral die jong “Boere” (die benaming wat die liedjie gebruik) wees. Dit mag ’n soeke na identiteit wees. Dit mag ’n versugting wees om “weer op te staan” na ’n tyd van skaamte of vernedering. Dit mag ’n roep na sterk leier wees. Die liedjie kan selfs ’n verskietende ster aan die hemel wees, wat skielik verskyn het en net so weer sal verdwyn.

Die feit is egter: die debat rondom dié treffer duur al geruime tyd. met verklarings deur kultuurleiers en selfs 'n kabinetsminister. Binne ’n genormaliseerde Suid-Afrika sou dit nie gebeur het nie.

Gebed vir die samelewing en owerhede🔗

As Christene neem ons aan debatte van die dag deel en is dit ons roeping om ook in die lig van die Skrif aan die oplossing van probleme mee te werk.

Ons word ook dringend opgeroep om te bid vir alle mense (2 Tim 2:1). Binne die onmiddellike konteks in 2 Timótheüs word bedoel dat gelowiges nie net vir medegelowiges moet bid nie. Ons mag nie in ons gebede bloot na binne gekeer wees nie, maar moet betrokke wees by die samelewing in sy verskeidenheid.

ln hierdie Skrifgedeelte word spesifiek gepraat van die owerhede: konings en almal wat hooggeplaas is (1933/53-vertaling), dié wat regeer en gesag uitoefen (1983/91-vertaling). Die owerhede is immers in ’n posisie om sterk medisyne te gee vir die genesing van ’n siek samelewing en om maatreëls in te stel dat die samelewing gesond bly. Dit is waarvoor hulle van God die swaardmag (vgl. Rom 13:4) ontvang het.

Gebed vir die samelewing en die owerhede is ook nie ’n klein, weglaatbare deel van ons gebedslewe - en veral van die openbare gebed - nie. Verskeie woorde word gebruik om hierdie gebed te beskryf.

  • Gebed vir die samelewing en die owerhede sluit smeking in, waar ons ernstig by die Here pleit op grond van nood wat ons ondervind. As dit ons erns is, kan en moet ons ook voor die Here sug oor die abnormaliteit van ’n siek samelewing met ’n: Hoe lank nog, Here?
  • Voorbidding is nodig, waar ons byvoorbeeld vra dat owerheidspersone goed sal regeer. Ons vra as’t ware namens hulle wysheid en insig en opregtheid. Ons bid ook vir hulle persoonlike bekering indien hulle nie saligmakende kennis van die waarheid besit nie. Ons bid vir geweldenaars en owerheidspersone wat mag misbruik - nie uit wrewel nie, nie om hulle in ons gebed te probeer terugkry nie - maar met besorgdheid oor dit wat hulle doen en wie hulle is.
  • Ons erken ook dat die owerhede middele in God se hand is, waarvoor Hy voortdurend gedank moet word. Selfs wanneer owerhede die wêreld vir ons moeilik maak, is daar stof tot dankbaarheid, want dit kan wees dat die Here daardeur ons dieper wil inlei in sy heiligdomme: dat hy ons van verkeerde weë wil terugbring of dat ons deur lyding iets by Hom leer.

Die gebed van die gelowige het groot krag (Jak 5:16). As ons bid vir ’n siek samelewing of regering, word ons mederegeerders van hierdie wêreld, want God is die Opperkoning wat luister na ons, sy onderdane.

Nie vir eie gemak🔗

Die apostel Paulus noem nie wat die inhoud van die gebed vir die samelewing en die owerhede moet wees nie - dit wil sê vir watter sake ons moet bid nie. Dit word grootliks bepaal deur vraagstukke van die dag.

Ons kan egter aflei wat die inhoud moet wees as hy noem wat die doel van so ’n gebed is: sodat ons ’n rustige en stil lewe kan lei (1 Tim 2:2). Wanneer ’n mens die dringende opdrag buite verband lees, kan jy dink dat dit waarvoor gelowiges moet bid 'n onbesorgde lewe is, waar jy nie daagliks gepla word deur probleme in die samelewing en persoonlike bedreigings van jou loopbaan en besittings nie.

Blote normalisering van die samelewing is nie moontlik nie. Wanneer geweld onder die knie gekry word, sal daar nog steeds roof en moord wees, hoewel op ’n laer vlak. Nuwe probleme sal ook in die plek van oues kom.

Ons lewe in ’n gebroke bedeling. Eers met Christus se wederkoms sal alles nuut gemaak word.

Daar is ’n Italiaanse uitdrukking wat ook in ander tale opgeneem is, naamlik: la dolce vita. Letterlik beteken dit: die soet lewe. Die uitdrukking word gebruik om ’n lewe te beskryf waar genot en luukshede nagejaag word. As ons opgeroep word om te bid vir ’n rustige en stil lewe, gaan dit juis nie daaroor nie. Ons pleit nie voor die Here oor die geweld in ons land bloot sodat ons onbesorg kan lewe, snags goed kan slaap en veilig kan vakansie hou op afgeleë plekke nie. Ons bid nie vir gelykberegtiging by die werkplek sodat ons welvarender kan wees, ons viertrekvoertuig en woonwa en strandhuis kan bekostig of ander luukshede kan aankoop nie.

Die apostel dui aan wat rustig en stil inhou:🔗

  • Dis ’n lewe in godsvrug en waardigheid (1 Tim 2:2). Ons bid vir toestande wat dit moontlik maak dat ons aan God toegewy kan lewe en dat ons voor mense waardig, onberispelik en as voorbeeld kan optree. Die implikasie is dat daar situasies kan wees wat dit vir ons moeilik maak om in godsvrug en waardigheid te lewe. Ons bid daarom dat daar ’n samelewing en owerhede sal wees waar daar nie sulke belemmerings is nie.
  • Rustig en stil beteken ook dat daar omstandighede moet wees wat die uitdra van die evangelie dien (1 Tim 2:3 ev.). Ons bid vir geopende deure. geleenthede, dat mense tot kennis van die waarheid kom (vs 4). God wil hê dat die evangelie sy loop moet neem onder alle mense - dit wil sê dat dit sonder onderskeid aan alle stande, klasse, tale en nasies verkondig sal word met die bevel dat mense sal glo en hulle sal bekeer. Hy het ’n heilsbedoeling wat alle mense insluit. En daarvoor moet die toestande gunstig wees. As plekke te gevaarlik word of ontoeganklik is (sogenaamde no go areas) belemmer dit die uitdra van die evangelie. Dis vir God goed en aangenaam as ons met die oog hierop bid vir ’n rustige en stil lewe.

Sambreel van wet en orde🔗

Wat behels 'n rustige en stil lewe in die lig van die voorafgaande?🔗

  • Daar is plekke op die wêreld. soos Noord-Europese lande en Japan, waar welvaart en sekuriteit juis verstikkend is. Baie mense wil doodgaan van verveling. Hulle is alles gewoond. Hulle is nie ontvanklik vir die heil nie omdat hulle dink hulle is ryk en verryk en het aan niks gebrek nie. Sulke omstandighede is volgens die strekking van 1 Timótheüs 2 nie ’n rustige en stil lewe nie - al lyk dit op die oog af so.
  • Aan die ander kant is daar in Latyns-Amerika en sommige Afrikalande toestande waar gelowiges armoede ly, daar onderliggende sosiale span­ninge is en waar vigs hoogty vier (laasgenoemde in elk geval in Sub­-Sahara Afrika). En tog groei die kerk van die Here tans op ’n ongekende skaal in hierdie gebiede.

In die sin van 1 Timótheüs 2 sou dit kon geld as ’n rustige en stil lewe omdat daar omstandighede heers wat ruimte laat dat die kerk sy werk kan doen en baie mense tot kennis van die waarheid kom.

ln die eerste brief aan Timótheüs skryf Paulus teen die agtergrond van die Romeinse Ryk, waar daar keisers was en onder hom regeerders en amptenare, wat hulle mag misbruik het. Onder Nero en latere keisers was daar selfs vervolging van Christene. Daar was korrupsie, veral in gevalle waar amptenare (prokonsuls en andere) oor nie-Romeinse gebiede regeer het en belasting gevorder het. Maar daar was basiese omstandighede wat dit moontlik gemaak het dat die evangelie van verlossing heel gou tot in die uithoeke van die Ryk kon versprei:

  • Daar was die Pax Romana - die vrede en stabiliteit wat Rome met mag en goeie administrasie oor die hele ryk gehandhaaf het. Daar was wet en orde.
  • Daar was ook ’n basiese infrastruktuur - goeie paaie en skeepsverbindings - wat dit moontlik gemaak het om rond te reis.

Wes van Palestina was daar die Parthiese Ryk, waar die toestande nie so gunstig was as in die Romeinse Ryk nie, maar waar die evangelie nogtans sy loop kon neem omdat daar ook orde was. Die evangelie het ook heel gou ingang gevind in gevestigde koninkryke soos in Ethiopië en Armenië.

Dieselfde kan egter nie gesê word van die gebiede waar daar geen sterk regering was nie, waar nomade rondgetrek het en daar voortdurende stam-en faksiegevegte was. Binne ’n atmosfeer waar jy nie van jou lewe seker is nie en waar die wet van die familie of stam of doodgewoon die sterkste krygs­heer geld, is dit moeilik om die saligmakende kennis, die evangelie, te versprei. Die sogenaamde barbare (waaronder ons eie voorouers) is eers later met die evangelie bereik.

Waarvoor ons dus moet bid, is DAT daar regering is. Dikwels is swak regering beter as geen regering nie. Die mees uitstaande kenmerk van ’n regering is dat dit regéér, en van ’n leier dat hy/sy léí. Vir goeie regering kan en moet ons ook bid, maar voor daar goeie regering kan wees, moet daar ’n regering wees wat die wil en moed het om wet en orde te handhaaf en die infrastruktuur in stand te hou. Waar wanorde en chaos heers, het ons die situasie soos in sommige Afrikalande heers (bv. tot onlangs Somalië) en in dele van Irak

Onderdrukkende regerings is gewoonlik beter as so ’n toestand, omdat daar ten minste nog struktuur is, wat die kerk (hetsy openlik of in die geheim) kan gebruik om te funksioneer. Onder die onderdrukkende regering van Saddam Hoesein was daar minder Christene wat landuit gevlug het as tans, waar daar in dele van die land wanorde en voortdurende vergeldingsaanvalle is.

Ons hou ons asems op vir wie in die leierskapstryd binne die regerende party as oorwinnaar sal tree. Dit is te verstane. Die groter gevaar is egter dat daar geen sterk leierskap is nie en selfs interne twis en gevegte kom. Wat die uitdra van die evangelie meer in die wiele sal ry as ’n leier wat mag misbruik, is dat ons verder verval in ’n situasie waar misdadigers letterlik met moord wegkom, waar die polisie magteloos word en waar infrastruktuur verval.

Dis met die oog op so ’n scenario wat ons op ons knieë moet bly vir ons samelewing en veral vir die regering: om by God te pleit dat ons nie verval in anargie nie, maar ook om Hom te dank dat ons nog nie daar is nie én dat ons in druk en hartseer wat ons wel ervaar, leer om Hom op ’n besondere manier te vertrou.