Bron: Kompas. 3 bladsye.

Op Julle Merke...!

In die tyd waarin ons leef, is daar baie aandag vir sport. Almal kom op een of ander manier daarmee in aanraking. As deelnemer, as toeskouer of andersins. Sport het in ons tyd ʼn grootheid geword waarmee rekening gehou moet word. Vanaf 11 Junie tot 11 Julie vanjaar gaan Suid-Afrikaners deeglik kennis maak met die grootheid van sport. Hierdie grootheid van sport lei natuurlik tot baie etiese vrae. Vrae soos: Hoe moet ons professionele sport beoordeel? Is die Wêreldbeker-sokker 2010 vriend of vyand van God se koninkryk? Wie hierop antwoorde het, moet dit asseblief sê! In hierdie artikel wil ons egter nadink oor sport as onderdeel van ons kultuurmandaat en dan spesifiek stilstaan by die konsep van kompetisie, om daarna enkele oorwegings te maak.

Paulus se beelde uit die sportwêreld🔗

In die Nuwe Testament vind ons van die hand van Paulus, gelei deur die Heilige Gees, enkele gedeeltes wat na sport verwys (1 Korintiërs 9:24-26; 2 Timoteus 2:5; 2 Timoteus 4:7; Hebreërs 12:1). Daardie gedeeltes is nie geskryf om ʼn argument vir sport te wees nie. Dit is geskryf om die gelowige voort te help op die pad van die geloof, met behulp van beelde ontleen uit die Griekse sportwêreld. Die groei, die volharding en die einddoel van die geloof is die swaartepunt van daardie gedeeltes.

Verder is dit ook geskryf om te wys hoedanig die apostel Paulus in Gods koninkryk gearbei het. Hierdie gedeeltes kan dus nie gebruik word as begronding vir sport nie.

Onderdeel van ons kultuurmandaat🔗

Soos in die inleiding gesê, kan sport en ontspanning beskou word as ʼn onderdeel van ons kultuurmandaat. Die mens, as beeld van God, is op aarde geplaas met ʼn spesifieke doel. Dit is om, langs die weg van diensbaarheid teenoor God en sy naaste, die liefde van Christus gestalte te gee in die opbou en instandhouding van die skepping en die bevordering van God se koninkryk op aarde. En waar pas sport en ontspanning nou hierin? Basies kan twee dinge genoem word. Die mens neem tyd vir ontspanning en sport ter bevordering van liggaamlike en geestelike gesondheid.

Met die doel om sy kultuurtaak des te beter te kan verrig. Ons mag ná elke dag se werk ook rus. Ná inspanning is daar ook tyd vir ontspanning. Die snaar wat styf gespan was, mag ook weer ontspan word. Die mens is nie ʼn 24 uur-arbeider nie. Daar mag ook tyd gemaak word vir spel.

Maar dis nie al nie. Die Here gee, behalwe ons normale dagtaak, ook vir ons allerhande genietinge wat ons met vreugde mag gebruik. Dink byvoorbeeld aan die heerlike bord kos wat ʼn mens mag geniet na ʼn dag se inspannende arbeid. Dink ook aan die natuurlike behoefte van die mens om ná sy arbeid uit te rus en te slaap. Dink byvoorbeeld aan die feestelikheid waarin ons mag deel as iemand verjaar.

Opsommend kan ons dus sê dat die mens tyd mag neem om te rus en te ontspan ter wille van liggaamlike en geestelike gesondheid en te mag deel in die genietinge wat God skenk.

Wat is sport?🔗

Kom ons probeer ʼn definisie te gee: Sport is ʼn liggaamlik geestelike spel wat deur tyd (die speeltyd) en ruimte (die sportveld) begrens word, ʼn ordelike (reëls), maar feestelike (genot en opwinding) kompeterende gebeure van twee of meer deelnemers. Kompetisie is dan die meting van kragte, vermoëns, vaardighede, uithouvermoë en strategiese vaardighede. Beskrywende terme word hiervoor gebruik soos kragmeting, wedywering, wedstryd.

Die vervolg van die artikel beoog om aan te toon dat kompetisie ʼn sinvolle middel is ter bevordering van die groter doel.

Is die opponent hindernis of helper?🔗

ʼn Mens kan op twee maniere na jou opponent op die sportveld kyk: as hindernis of as helper.

As hindernis: Is hy iemand wat in my pad staan op pad na sukses, een wat uit die weg geruim moet word? Een wat my eer gaan steel en wat my wil benadeel? Een wat my verhoed om punte aan te teken? Een wat daarop uit is om my te oorrompel? Die einde van sulke denke kom kortliks daarop neer: wen die teenstander in plaas van wen die kompetisie. So ʼn denke skep ʼn vyandige atmosfeer en is nie bevorderlik vir die spel nie.

Of is die opponent ʼn skepper van geleenthede? Kompetisie kan beskou word as die poging om in dieselfde vaardigheid beter as die opponent te wees. Vir die ontwikkeling van hierdie vaardigheid is die opponent onontbeerlik.

Die opponente stimuleer mekaar om ʼn vaardigheid of ander handeling beter te kan doen. Kompetisie is ʼn aktiwiteit saam met ander en nie soseer teen ander nie. Die ander gee my die geleentheid om ʼn bepaalde vaardigheid te beoefen en te ontwikkel. Ek is op my teenstander aangewese. Om dié rede moet my teenstander nie geëlimineer word nie, maar moet ek juis sy belange bevorder. As ek in ʼn wedloop of ʼn wedstryd net halfhartig deelneem, dan doen ek my opponent ʼn oneer aan. Ek bied nie vir hom ʼn geleentheid om sy vaardighede te toets en daarvan te geniet nie. Ek frustreer eerder my opponent.

Om ʼn voorbeeld te noem: die goeie afslaan van my teenstander op die tennisbaan maak dit vir my moontlik om ʼn goeie terughou te speel.

ʼn Vaardigheid wat ek ingeoefen het. ʼn Swak afslaan frustreer en uiteindelik ly my eie vaardigheid daaronder.

Al is wen ʼn belangrike komponent van kompetisie, is dit nie die swaartepunt nie. Eerder is passievolle deelname, goeie spel en die kreatiwiteit van die deelnemers die swaartepunt van die spel. Ideaal gesien is die mees genotvolle en aanskoulike kompetisie die een waar die deelnemers min of meer gelyke vermoëns het.

Wen en verloor🔗

Prof Johan Heyns skryf in sy Teologiese Etiek die volgende oor wen en verloor:

Wie nie speel om te wen nie, speel met ʼn verkeerde gesindheid. En met ʼn foutiewe opvatting van die spel. Wie nie wil wen nie, ontneem dus die spel sy spelkarakter. Dit beteken dat daar met erns gespeel moet word, en wie die spel nie ernstig neem nie, word ʼn spelbreker. Maar dan moet dit steeds die erns van die spel wees en nie bv. die erns van arbeid nie. Terwyl die regte erns die spel tot spel maak, kan die verkeerde erns die spel van sy karakter beroof. Tot die verkeerde erns behoort ook die ingesteldheid van nie gewillig wees om ook te verloor nie. Wie so speel, verongeluk ook die spel. Kompeteer om te wen in behendigheid, vaardigheid, kennis, krag en uithouvermoë is dus nie afkeuringswaardig nie, en is deel van die genot van die spel. Maar dan moet dit reg hanteer word. Om te wen geld alleen ʼn bepaalde kompetisie. Dit is nie oordraagbaar na ander areas van die lewe nie. Wat wel oordraagbaar is, is die sukses van die enkeling op die groep. Van die groep kom die toejuiging, lof en aanmoediging en bystand, en daarom is die aansien van die wenner ook dié van die groep. Hierdie stryd om te wen en die identifikasie met en van die groep is alles deel van die spelgenot. Maar dan is dit eweneens deel daarvan om te kan verloor en te weet hoe om te verloor. Wat jy verloor, is immers nie die spel nie, maar die kompetisie in die spel.

Wie meen dat hy die spel verloor het, terwyl hy maar net die kompetisie in die spel verloor het, het met ʼn verkeerde gesindheid gespeel. Spel is die gebeure waarin die mens met genoeë teen homself en teen ander kragte meet en, ofskoon hy probeer om te wen, die spel geniet, ook al verloor hy die kompetisie.

Belangrike oorwegings en vrae🔗

Met al die voorafgaande in gedagte, moet ook nog die volgende gesê word:

  • Sport is nie ʼn hoër of beter vorm van ontspanning as byvoorbeeld ʼn wandeling in die natuur nie. Slegs ʼn ander vorm van ontspanning. Slegs een waarin ander dimensies van ons menswees tot uiting kom.
  • Net soos op ander terreine van die lewe, moet sportbeoefening gedra word deur liefde tot God en liefde tot die naaste. Wie dit kortkom op die sportveld, moet grondige selfondersoek doen. Ook op die sportveld wil die Satan alle “komposisies” dekomponeer. Daar word dus van diegene wat aan sport deelneem, ook verwag om ʼn soutende sout en ʼn ligtende lig te wees.
  • Wanneer sportbeoefening tot afbreek van liggaam en gees lei en nie tot die bevordering daarvan nie, het ons die doel gemis. Die Engelse uitdrukking: “it’s defeating the object”, geld hier. Want die sesde gebod geld ook vir ons sportbeoefening.
  • Sport het ook nog ander positiewe bydraes: dit kan bydra tot die oefening in dissipline en verantwoordelikheidsbesef en tot oefening in inagneming van ander. Dit kan ook bydra tot die verryking van die menslike persoonlikheid.

En dan is daar ook nog ʼn belangrike vraag wat gevra moet word:

Is die tyd wat vandag aan sportbeoefening spandeer word, gebalanseerd, of verraai die tyd wat daaraan spandeer word, dalk iets van eiebelang ten koste van ander belangrike lewenstake?

Kompetisie is ʼn aktiwiteit saam met ander, en nie soseer teen ander nie.

Afsluitend ʼn positiewe vraagstelling: Kan die deelname aan en aanskouing van sport ons nie ook help om die bedoeling van Paulus se sportbeelde beter te verstaan en ons eie te maak nie?

Dat ons in hierdie lewe sal deelneem volgens die reëls wat die Here gegee het, in die geloof mag volhard, sonder om terug te keer na ons ou mens, om hierna in die ewigheid ʼn onverwelklike krans te ontvang as genadebeloning!

Geraadpleegde bronne:🔗

  • Dr JA Heyns. 1986. Teologiese etiek, deel 2.1, p. 391-406.
  • Prof BJ van der Walt et al. 1992. Venster op Sport – Christelike perspektiewe.
  • Prof BJ van der Walt. 2006. Sport onder die soeklig – ʼn Christelik-lewensbeskoulike filosofiese besinning. In KOERS – Bulletin vir Christelike wetenskap, jaargang 71 no. 2,3 & 4.