Bron: De Wekker. 2 bladsye. Vertaal deur ​Nic Grobler.

Openbaring 1:17 - Ontmoeting op Patmos

En toe ek Hom sien, val ek soos ʼn dooie aan sy voete; en Hy het sy regterhand op my gelê en vir my gesê: Moenie vrees nie...

Daar is ontmoetings in jou lewe wat jy nooit sal vergeet nie; wat ʼn geweldige indruk op jou maak; wat ʼn belangrike wending aan jou lewe gee, wat jou van dinge bevry. Ons lees dikwels in die Bybel van ingrypende oomblikke in die lewens van mense; vernaamlik daar waar God mense ontmoet en waar mense God ontmoet. Ontmoetings wat tot vandag toe nog die intensiteit daarvan lewend hou. Eén so ʼn ontmoeting was dié van Johannes met die opgestane Here, Jesus Christus op die eiland Patmos.

Einde?🔗

Vir Johannes was dit byna die einde van die pad. Met Éfese as sy standplaas kon hy jarelank die jong Christengemeentes in die teenswoordige Turkye bedien en was hy ʼn steunpilaar vir gemeentes in die hele toenmalige provinsie Klein-Asië van die Romeinse Keiserryk. Daar het egter ʼn wrede einde aan gekom. Keiser Domitianus het weereens begin om Christene te vervolg en een van die slagoffers was die apostel Johannes. Hy is gevange geneem en vir die res van sy lewe as staatsgevaarlike bandiet na die klein eilandjie Patmos verban. .

Soos ʼn dooie ...🔗

En dan, meteens, is daar op ʼn Sondagoggend die ontmoeting. Onaangekondig. Dit oorval Johannes byna letterlik soos ʼn donderslag by ʼn helder hemel.

Hy hoor agter hom ʼn stem soos van ʼn basuin en wanneer hy omdraai en die Here Jesus in al sy heerlikheid en glorie sien, val hy soos ʼn dooie neer. ʼn Hartroerende ontmoeting; ook vir Johannes, die apostel wat in die hart van die Here Jesus so ʼn besondere plek gehad het. Die apostel wat soveel saam met Hom meegemaak het; wat aan die voet van die kruis en by die geopende graf gestaan het. Die apostel wat die laaste van die twaalf is wat toe nog geleef het. Ook hy is heeltemal verras en oorrompel deur die verskyning van sy Heer.

Dieselfde het hom oorgekom as die soldate-wag by die graf van Jesus op die Paasoggend. Met die verskyning van ʼn engel in hemelse ligglans het ook hulle soos dooies geword. Net so indrukwekkend, aangrypend, vol hemelse intensiteit as wat die konfrontasie met die opstandingsmag van die God van Israel vir húlle was, so was dit ook vir Johannes op dáárdie Sondag op Patmos.

Afstand én nabyheid🔗

Nie baie mense het dít in hulle ontmoeting met die Here God meegemaak nie. Ons lees in die Ou Testament van Daniël wat iets soortgelyks te beurt geval het. Ook die verskyning van Jesus aan Paulus op die pad na Damaskus toon iets van hierdie intensiteit.

By die lees van sulke ontmoetings vra mens jouself af: Wat het dit vandag met my te doen? Hoe raak dit my gedurende die week in my werk, of op vakansie, of aanstaande Sondag? Wanneer ek na dié teks luister, sou ek dit met twee uitdrukkings wou vervang: verstillende afstand en genadige nabyheid.

Afstand in die sin dat die Here Jesus hom hier aan Johannes, en in hom aan ons, openbaar as die Vors van die lewe. As die Heer van die here en die Koning van die konings. Hy is inderdaad die Lewende wat dood was, maar nou lewe tot in ewigheid. Hier staan ek as skepsel voor my Skepper; voor die Oorsprong en Onderhouer van my bestaan; voor die Almagtige; die groot Oorwinnaar wat selfs die mag van die dood verbreek het in Sy oorwinning aan die kruis.

Hierdie afstand bring my tot stilte, tot stilswye. Soos Job lê ek my hand op my mond. Voor die aangesig van Jesus Christus, die lewende Here, verstil my groot mensewoorde in my mond. Van aangesig tot aangesig met Hom kan ek maar net in diepe eerbied en ontsag stil word en stil wees. En ek ervaar die groot afstand tussen Hom, die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, wat bestaan van ewigheid tot ewigheid en myself, ʼn nietige stippeltjie in die ruimte van die ganse heelal, ʼn nanosekonde in die verloop van tientalle eeue – ʼn asemtog!

Terselfdertyd ervaar ek ʼn genadige nabyheid. Dit is die almagtige Heer, die Vors van die lewe, wat, wonder bo wonder, sy regterhand (!) na my uitsteek – soos Hy gedoen het na Johannes. En my genadig en bemoedigend oprig, en in al sy liefde en heerlikheid toefluister:

Moenie bang wees nie, dit is Ek. Ek het my lewe vir jou gegee, sodat jy kan lewe tot in ewigheid.