Bron: Die Kerkblad, 2006. 2 bladsye.

Opregte geloof, vurige liefde en vaste hoop

geloof hoop en liefde

Die Christelike lewe word immers juis deur hierdie drie “deugde”, of gawes, gekenmerk, naamlik geloof, hoop en liefde.

Hierdie formulering is aan ons goed bekend uit die eerste bede van die klassieke Doopsformulier. Daarin bid die gemeente vir die dopeling soos volg:

Laat hy/sy, terwyl hy/sy Jesus Christus daagliks navolg, sy/haar kruis blymoedig dra en Hom aanhang met opregte geloof, vaste hoop en vurige liefde, sodat hy/sy hierdie lewe, wat tog niks anders as ’n voortdurende sterwe is nie, deur U getroos mag verlaat en op die laaste dag sonder verskrikking voor die regterstoel van Christus, u Seun, mag verskyn.

Die vraag is: Waarom word daar byvoeglike naamwoorde bygevoeg by die bekende driedeling wat die apostel Paulus in 1 Korinthiërs 13 gebruik (kyk ook 1 Tess 1:3)? Waarom juis opregte geloof, vurige liefde en vaste hoop? Waar kom hierdie woorde vandaan? Ons vind hierdie formulering nêrens presies só in die Bybel nie.

Navorsers wys daarop dat hierdie bewoording voorkom in die Doopsformuliere van die Paltz (1563, Heidelberg), van Datheen (1566, Heidelberg) en van Dordt (1578, Antwerpen), maar dat dit eienaardig genoeg nie te vind is in die Doopsformulier van Calvyn nie (1539, Straatsburg).

Ek kon – helaas – nie daarin slaag om die oorsprong van die woorde op te spoor nie, maar blykbaar is soortgelyke formulerings al vroeg in die kerkgeskiedenis gebruik.

In een van die geskrifte van die kerkvader Augustinus, Oor die ongelukkige lewe (386/387), verwys hy na ’n gesprek tussen hom en sy moeder Monnica. Daar is by hulle eenstemmigheid dat ware geluk net in God te vind is. Sy moeder merk daarby op:

Dit is sonder enige twyfel die gelukkige lewe, wat die volmaakte lewe is, waarvan ons mag aanneem dat ons met 'n snel pas daarheen gebring sal word deur ’n sterk geloof (solida fide), entoesiastiese hoop (alacri spe) en ’n brandende liefde (flagranti caritate).

Hierdie formulering kom ook in enkele ander geskrifte van dié kerkvader voor en is klaarblyklik bedoel om die kwaliteit van die geloof en hoop en liefde te beklemtoon. Dit gaan nie maar oor énige soort geloof, hoop en liefde nie; nee, dit gaan oor opregte geloof, vaste hoop en vurige liefde.

Die Christelike lewe word immers juis deur hierdie drie “deugde”, of gawes, gekenmerk, naamlik geloof, hoop en liefde – en daaroor het Augustinus ’n pragtige Handboek (421/422) geskryf. Dís die dinge wat saak maak, veral die liefde.

Veral bekend is sy – dikwels misbruikte – uitspraak: Het lief en doen wat jy wil (dilige et quod vis fac). As ons dit verstaan as het Gód lief en doen wat jy wil, word die bedoeling van Augustinus duideliker. Want wie God waarlik liefhet, sal ook sy naaste (selfs sy opponent) waarlik liefhê.

Die jaar 2006 lê voor ons uitgestrek soos ’n onbekende landskap. Drie dinge vra die Here van sy kinders: geloof, hoop en liefde – opregte geloof, vaste hoop en vurige liefde. Is dit dan nie waarvoor die gemeente gebid het toe ons gedoop is nie?