3 bladsye. Vertaal deur Nic Coetzee.

Ou Verwagtings

Toe Jesus sy aardse bediening begin het, het hy begin deur “die evangelie van die koninkryk te verkondig” (Mat. 4:23). Maar ons sien nêrens in die Evangelies dat Jesus ʼn duidelike definisie van die koninkryk gee nie. Die rede daarvoor is eenvoudig: Jesus het nie nodig gehad om te definieer wat die koninkryk beteken nie omdat sy toehoorders goed bekend was met die Ou Testament. Hul probleem was om te probeer uitwerk hoe die koms van Jesus inpas in hul Ou-Testamentiese verwagtings. Dit is waarom Jesus later gesê het: “So is elke skrifgeleerde wat ʼn leerling word in die koninkryk van die hemel, soos ʼn huiseienaar wat uit sy voorraad nuwe en ou dinge te voorskyn bring (Mat. 13:52). Die koninkryk van God, of die koninkryk van die hemel soos Matteus dit noem, is iets wat beide oud en nuut is. Dit is ʼn konsep so oud soos die skepping self, maar met die koms van Christus het dit op die aarde in ʼn volkome nuwe gedaante verskyn. In hierdie artikel sal ons die antieke wortels van die koninkryk van God nagaan en oorweeg hoe dit hernu en vervul is in die persoon en werk van Jesus Christus.

Die koninkryk van God het ontstaan by skepping self. Die Here is koning oor alles wat Hy geskep het; dit beteken dat Hy oor alles in die heelal om ons heers. Hy heers oor die sterre van die hemel en die planete, ʼn heerskappy wat weerspieël word in die ondergeskikte  natuurwet waarmee die son en die maan beurtelings dag en nag, seisoene en jare beïnvloed. Hy heers oor die aarde en alle skepsels, en dit word weerspieël in die mandaat wat aan Adam en Eva gegee is om oor die laer geskape ordes te regeer, dit te vul en te onderwerp tot die eer van die Groot koning, na Wie se beeld hulle geskape is.

In die tuin van Eden is dit van hulle vereis om hulle te onderwerp aan die Wet van die Groot Koning, en nie te eet van die van die boom van alle kennis nie. Die eerste openbaring van God se heerskappy was ʼn tyd van “regverdigheid, vreugde en blydskap”, wat Paulus beskou as die essensie van die koninkryk van God in Romeine 14:17. Maar toe Adam en Eva gesondig het, het dit alles verlore gegaan. Die heerskappy van God oor die skepping is uitgedaag deur ʼn opstand: regverdigheid is vervang met onregverdigheid, met die gevolg dat die eensgesinde verhouding tussen die Koning en Sy volk verbreek is.

God was egter vasbeslote om Sy genadige heerskappy oor die mens te hervestig. Om daardie rede het Hy vir Abraham uit sy heidense omgewing geroep en belowe om aan hom ʼn land te gee waar hy kan bly. Met die uittog uit Egipte het Hy Abraham se afstammelinge uitgelei en verklaar dat hulle op ʼn spesiale manier aan Hom sal behoort: Israel sal Sy koninkryk van priesters, Sy heilige volk, wees (Eks. 19:5-6). Die Here sal hul hemelse herder wees, en sal aardse herders vir hulle voorsien, konings wat hulle in wysheid sou regeer (Deut. 17:15). Die Here sal Sy soewereine besitreg met regverdigheid en regmatigheid oor die hele wêreld uitoefen, tot voordeel van Sy eie volk (Ps. 99).

Die Here se heerskappy oor Israel is uitgedaag deur die sonde, net soos dit voorheen Sy heerskappy oor die skepping uitgedaag het. God se uitverkore volk het teen Hom in opstand gekom en die verbond verbreek, en ander heersers in Sy plek gesoek. Die konings wat God opgevoed het om die volk in regverdigheid te lei, het hulle op ʼn dwaalspoor gelei, en vir hulle afgode gegee om te aanbid. Gevolglik het Israel in plaas van regverdigheid, vrede en vreugde, die vloek van die verbond ervaar, en dit het uitgeloop op verbanning uit die land van belofte. Die Groot koning het die tempel, die plek van Sy aardse woning in Jerusalem, verlaat en dit weerloos teen vyande gelaat (Eseg. 9-10).

Maar menslike sonde kan nooit die laaste woord hê nie. Selfs terwyl Israel en Juda in ballingskap weggevoer was, het die profete reeds die sekerheid van ʼn nuwe begin in die toekoms aangekondig: ʼn nuwe koninkryk gegrond op ʼn nuwe verbond (Jer. 31: 31-33). Die dae is aan die kom wanneer God ʼn nuwe hemel en ʼn nuwe aarde sal daarstel (Jes. 65:17). Die Here sal weer Sy volk in ʼn nuwe uittog bymekaarmaak uit ʼn vreemde land, en uit die droë bene van die verlede sal hy ʼn nuwe Israel vorm (Eseg. 37). Hierdie nuwe volk sal gelei word deur ʼn nuwe koning so na God se eie hart (Eseg. 34: 23-24), en sal selfs nie-Israeliete insluit (Jes. 2: 2-4; 56: 3-7).

Maar hierdie nuwe begin van God se koninkryk sal nie dadelik of meteens gebeur nie. Self  na hul terugkeer uit die ballingskap het die volk gevind dat hulle in dae van klein dingetjies lewe, terwyl hulle probeer om in die afwesigheid van hul koning te lewe (Sag. 4:10). Hulle is deur die profeet Daniel gewaarsku dat die einde van die wêreld nog nie naby is nie – daar was nog ʼn lang en harde pad om te loop voor die heerskappy van die Here en Sy heiliges sal begin. Die komende koninkryk, wat alle koninkryke sal vervang, sal eers kom na ʼn uitgerekte en uitmergelende tydperk in die geskiedenis (Dan. 8).Die jare van ballingskap is maar ʼn klein deeltjie van die era van beproewing en verdrukking, en dit sou nie slegs sewentig jaar lank wees nie, maar sewentig maal sewe jaar (Dan. 9:24; vergelyk ook Matt. 18:22). Die koninkryk van God sal begin as ʼn klein klippie wat dan sal groei tot ʼn wêreld-oorheersende berg (Dan. 2:34-35). Maar uiteindelik, ongeag van die menslike en spirituele weerstand daarteen, sal die koninkryk van God vir seker triomfeer.

Toe Jesus gekom het en die koninkryk van die hemel verkondig het, het Hy gepraat teen die agtergrond van hierdie Ou-Testamentiese verwagtings. Hy het die aankoms van God se heerskappy op aarde op ʼn nuwe en konkrete wyse aangekondig: God het self gekom om onder die mense te woon om Sy ewige doelwit om ʼn volk vir Homself te hê, te verwesenlik. Sy koms sal regverdigheid, vrede, en vreugde in die Heilige Gees bring (Luk. 4:18-19).

God se koninkryk het verskyn deur die koms van ʼn nuwe Israel, Jesus self. In die evangelie van Matteus sien ons uit Jesus se geslagsregister dat hy die nuwe Israel is, afstammeling van Abraham, seun van Dawid, kind van die ballingskap (Mat. 1:2-16). Soos Israel, het ook Jesus as kind afgegaan na Egipte en het weer veilig vandaar teruggekeer (Mat. 2:13-15). Hy is gedoop en het veertig dae en nagte in die woestyn gespandeer, soortgelyk aan Israel se eie ervaring (Mat. 3-4), voordat Hy die berg opgegaan het om Sy volk die Wet te gee (Mat. 5). Maar waar Israel gefaal het in die woestyn, was Jesus getrou gehoorsaam. Jesus het gekom om die Wet waaronder Israel gebuk gegaan het, te vervul (Mat. 5:17). Deur Sy dood en opstanding het Jesus ʼn nuwe eksodus vir sy volk bewerk, deur hulle uit die slawerny van sonde en dood  te lei. In Hom het die nuwe volk van God – wat Jode, Samaritane en nie-Jode verenig het – ʼn werklikheid geword (Joh. 4, Ef. 2:11-22). In Christus is regverdigheid, vrede en vreugde in God se teenwoordigheid weer oopgestel vir die mensdom. Maar terwyl die koninkryk van God meer as twee millennia gelede na die aarde gekom het in die persoon van Jesus, bly die finale volvoering daarvan ons toekomshoop. Dit is waarom Jesus sy dissipels geleer het om te bid vir die koms van die koninkryk (Mat. 6:10), en met groot verwagting daarop te wag, selfs al sou dit lank neem om te kom (Mat. 25). God se heerskappy het begin, en dit het vir Sy volk vrede en vreugde gebring, maar ons het nog nie die nuwe hemel en die nuwe aarde waarvan die profete gepraat het, gesien nie. Op ʼn diepsinnige manier het die koninkryk van hierdie wêreld reeds die koninkryk van God en Sy Christus geword (Openb. 11:15) met die koms van Christus, en in besonder met Sy dood en opstanding. Maar ons het nog nie gekom nie by die nuwe Jerusalem, wat op sigself ʼn nuwe Eden omsluit, en wat alle menslike geskiedenis tot ʼn kosmiese voltooiing bring. Alhoewel ons dit nog nie kan sien nie, is die voleinding van die verhaal seker. Die klip het die kleivoete van die magstrukture getref en begin om dit tot finale stof te verkrummel (Dan. 2:34-35). Ten spyte van al hul heerlikheid en trotse houdings is die skrif aan die muur vir die konings en koninkryke van die wêreld – hul ondergang is seker. Die koninkryk van God is die enigste koninkryk wat vir altyd bestaan.

Ondertussen wag ons met ʼn lewende hoop op  die terugkeer van ons koning vanaf die hemel. Hy sal weer kom om die volheid van regverdigheid, vrede, en vreugde in die Heilige Gees te bring, die beloofde vrugte van Sy heerskappy. Hy sal van see tot see regeer, oor manne en vroue van elke stam en taal en volk en nasie. Die beslissende geveg het reeds plaasgevind, en die oorwinning is openbaar in Jesus se opstanding uit die dood. In Jesus het die koninkryk van God na die aarde toe gekom, en Sy heerskappy sal vir ewig duur.