Bron: Wegwijs. 3 bladsye.

Ou Vrou Gedrag

“Sou mense hierdie week kon agterkom dat jy ʼn Christen is?” Hoe sou jy dit beantwoord?

Is ek ver van die waarheid af, as ek sou veronderstel dat jy (nadat jy ʼn oomblik nagedink het) sal antwoord: “Wel, ek bid darem altyd in ʼn restaurant voor ek begin eet” of: “mense sien hoe ons Sondae altyd kerk toe gaan” of iets in daardie lyn?

Meer nog, ons maak immers gereeld ons stem dik teen aborsie en eutanasie (genadedood), teen die verseksualisering van die samelewing, teen die aantasting van die Sondagsrus, die aanranding van die Christelike onderwys en wat nie nog alles nie?

Ja, ons kan inderdaad sê: As Christene staan ons tog nog uit en is ons nog herkenbaar in die Suid-Afrikaanse samelewing. Ek wil ook niks slegs hieroor sê nie.

Maar sê nou maar daar word vir jou gevra: was jy die afgelope week ook vriendelik teenoor jou naaste, het jy vrede gesoek in konfliksituasies, iets van die liefde en blydskap uitgestraal? Was jy geduldig, goed, getrou en het jy sagmoedig opgetree, selfbeheersing getoon (Galasiërs 5:22), was jy nederig (Efesiërs 4:2), was jy innerlike bewoë met jou medemens in nood en het jy geduld beoefen (Kolossense 3:12)?

Sulke vrae laat ons dalk ’n bietjie meer ongemaklik voel, is bietjie moeiliker om ronduit te beantwoord. Eintlik wil ons baie graag ’n vinnige oplossing gee soos: “Maar ons is nou eenmaal sondige mense en ons struikel gereeld” of iets soortgelyks, maar diep in ons harte weet ons dat dit alles maar net goedkoop praatjies is.              

En tog is dit die eerlike vrae wat ons moet vra – en ek verseker u, dit is allereers die vrae wat ek vir myself moet beantwoord. Want as ek my Bybel oopmaak en probeer naspeur wat daarin staan oor hoe Jesus-verloste mense hulle behoort te gedra, dan sien ek daarin nie allereers sekere uiterlike persoonlike of gemeenskaplike gedragskenmerke raak nie. Dit ook, maar nie in die eerste plek nie. Dit is nie waarmee dit begin nie. Nee, in die Woord van ons God lê die begin by ʼn lewenshouding wat oor en oor herhaal en benadruk word. Of, om dit in Bybelse terme uit te druk, by ʼn gesindheid. Daardie gesindheid – m.a.w. hoe jy daaroor dink, wat jou daartoe dryf – bestuur jou mond, jou oë, jou hande, jou voete en jou ore. Met ander woorde: die gesindheid het groot konsekwensies vir jou uiterlike gedrag – van kerk toe gaan tot die leuses wat jy op jou skooltas skryf. Die beginpunt lê egter in jou hart, in jou denke. By die gedrag van die volgelinge van Jesus Christus gaan dit in die eerste plek nie oor die vertoon van ʼn klompie uiterlike kenmerke nie, en sekerlik nie daaroor om te voldoen aan ʼn reeks uiterlike verpligtinge nie. Dit gaan allereers oor ʼn mentaliteit, ʼn ingesteldheid, ʼn nuwe uitkyk op die lewe.

ʼn Heilige Bereidwilligheid🔗

En die eerste wat ’n mens dan moet opmerk oor die gelowige se nuwe uitkyk op die lewe, is dat dit nie gedryf word deur ’n heilige dwang, deur ’n heilige ‘moet’ nie. Die gelowige word gedryf deur ʼn heilige bereidwilligheid. Paulus het geskryf dat Titus die inwoners van Kreta – waar Titus op daardie oomblik vertoef het – moet opwek om geen ‘Joodse fabels of verdigsels’ en ‘gebooie van mense’ na te volg nie (Titus 1:14). En die kern van daardie Judaïsme, waarteen Paulus hom ook elders in sy briewe uitspreek, was dat die diens van die HERE afgewater het tot ʼn etiese stelsel van: ‘jy moet dit of dat doen’. En dit sou dan meebring dat ons in God se goeie boekies kon kom, kon vorder op die heiligingspad, iets kon verdien. Maar die HERE soek nie kinders wat doen wat Hy sê omdat dit nou eenmaal ‘moet’ nie. Want sulke optrede is geen hart-saak nie.

‘Moet’ is die resep van Boeddha, Allah, Hindoe-gode en enige ander heidense onsin. Die God van Abraham, Isak en Jakob soek jou hart. Jou wil. En Hy gaan daardie wil van jou ombuig, want jy is nie self daartoe in staat nie. Dit is geheel en al die werk van sy Gees, wat jou sal gee as jy Hom vra. Hy sal jou lewe verander, jou denke hervorm, jou lewensuitkyk van rigting laat verander – omdat Hy in jou hart gegee het watter onuitspreeklike en oneindige wonder dit is, dat Hyself die hele puinhoop van jou lewe op Hom geneem het. In Jesus Christus.

En so het ons by Jesus gekom – Lewe van my lewe en Dood van my dood – en by sy gesindheid. Sy ingesteldheid, wat nou jou ingesteldheid word.

Jesus se lewensuitkyk, sy geestesinstelling. Daarvan praat Paulus in Filippense 2, dat Hy die gestalte van ʼn dienskneg aangeneem het. Diensbaarheid, dit is wat Jesus ons as voorbeeld voorgehou het. Dit is ook die kernwoord van die samevatting wat Hy self van God se leefreëls vir die mensdom gegee het: jy moet die Here jou God liefhê en jou naaste soos jouself. Diens – aan God en my naaste.

Diens. Dit is sekerlik ook wat ons doen as ons Sondae twee keer kerk toe gaan, of as jy betrokke raak by Christelike politiek, of deur jou stryd teen aborsie en teen die oopmaak van winkels op Sondae. Maar nie as dit abstrakte, op sigself staande ‘ideale’ word nie – of nog erger: as dit verpligtinge word wat deel is van Christen-wees, terwyl jy ondertussen jou kerklike of werklike buurman byt en opeet, lelik praat oor mense van ’n ander ras en kultuur, jou vrou of jou man met netjiese taal die grond in trap, eintlik nie omgee wat rondom hou in die buurlande plaasvind nie, en so kan u die lys maar verder aanvul.

Of nee, laat my toe om tog verdere invulling daaraan te gee: As u glo dat daadwerklike liefdesbetoon binne en buite die gemeente, vergewingsgesindheid, barmhartigheid, vriendelikheid ten opsigte van jou broeders en mense van buite, ontferming teenoor jou naaste in nood – as u glo dat dit alles eintlik maar dinge vir wêreldvreemde papbroeke en sukkelaars is.

Ja, dit alles is verseker wêreldvreemd wat Paulus en ander evangelieskrywers ons voorhou. Maar dit is dan ook presies die posisie waarin jy en ek geplaas is: ons is vreemdelinge in hierdie wêreld en dit sal mense raaksien as hulle na ons kyk! Wanneer die hele godverlate mensdom demonstreer en skree: “ek, ek, ek” dan roep ons: “jy, jy, jy”. Want as my God my in my verlore ellende so liefgehad het dat Hy my uit die voerbak van die varke wou uittrek, sal ek jou dan in jou hoogmoed, jou dwaalweë, jou uitsigloosheid, jou eensaamheid, jou materialisme en jou nood, wat ten diepste ook myne is, laat vassit? Of sal ek dalk deur my liefde vir jou iets laat sien van wat my Vader vir my oorgehad het?

Diensbaar Wees Waar Jy Kan🔗

Terwyl ek vakansie gehou het en my ʼn paar uur teruggetrek het om ʼn paar gedagtes op papier te sit vir hierdie artikel, het ek in ʼn onbewaakte oomblik die opskrif: ‘Ou-vrou gedrag’ neergeskryf. Dit na aanleiding van die genoemde hoofstukke uit die brief van Paulus aan Titus (Hfst. 2:3). Skaars het dit bekend geword wat die opskrif van my artikel sou wees, of ʼn beminlike suster skakel my met die vraag of ek dalk ʼn tirade gaan hou teen die ‘kwaadsprekery’ van die ouer susters van die gemeente. Want is dit nie waaroor Paulus in daardie vers gepraat het nie?

Gelukkig kon ek haar gerus stel: daardie gedagte het selfs nie in my opgekom nie. My bedoeling is om te fokus op die aansporing wat die apostel in dieselfde vers aan die ouer susters saamgegee het: wees priesterlik in jou optrede. Dit wil sê: wees diensbaar waar jy kan. Dit moet jy as jou hooftaak beskou en beskou dit daarom as die hoofsaak. Dit moet jou gedrag, jou lewenshouding bepaal. En dit geld nie net vir die ouer susters nie, maar vir almal. Oueres, jongeres, opgeleides of ongeskooldes. Want daardie diensbaarheid weerspieël die gesindheid van Jesus Christus, wat die gestalte van ʼn dienskneg aangeneem het.

Dade🔗

Nog ʼn laaste opmerking. Is hierdie onderwerp eintlik wel relevant teen die agtergrond van ons omstandighede in die jaar 2010? ʼn Tyd waarin Suid-Afrika steeds meer versekulariseer (verwêreldlik) en ons (as Christene) steeds groter uitsonderings word? ’n Tyd waarin die duiwel rondgaan soos ʼn verskeurende leeu, en die kerk-besef afneem? ’n Tyd waarin my dogter onheilige plekke besoek en my seun vreemde gedagtes het oor die plek van kinders in die gesin en in God se koninkryk? Ja, en so kan ons aangaan. Moet ons in so ’n tyd nog besig wees met ’n onderwerp wat gaan oor diensbaarheid?

Verseker! Eerstens omdat ons omstandighede in beginsel nie verskil van, kom ons sê 1510 of 1710 of 1910, nie. Dit wat toe gegeld het, geld vandag nog. Immers, die evangelie geld vir alle tye en vir alle plekke. Ja, die maatskaplike omstandighede was toe sekerlik baie anders, maar dink u dat die mens en die duiwel en Jesus Christus al die jare wesenlik verskil het? Daar is konstantheid in die menslike geskiedenis en die duiwel werk hard daaraan om dit lewendig te hou: hy wil graag soos God wees en sy eie sakies reël, self op die troon sit en… veral nie diensbaar wees nie, maar heers.

Maar, en dit is die tweede punt, wisselende kulture het wel wisselende dominante trekke. En vandag se kultuur word beheers deur die gedagte dat kerk en Christelike geloof oorblyfsels is van  ʼn verlede wat agterhaal is – hoogstens nog bekend van wyle oupa en ouma, wat nog iets daaraan ‘gedoen’ het. En in so ’n kultuur moet ons veral nie mooi stories aandra nie, want dit maak die mense rondom ons baie skepties. Daar is immers vandag honderde ketters wie se geskrifte gelees word. Dus wie bepaal wat die waarheid is? Wie sê dat jy die waarheid het?

Is dit dalk toevallig dat Jesus self, wanneer Hy aan die begin van sy bergrede in Matteus 5:16 sy volgelinge die sout van die aarde en die lig van die wêreld noem, hulle aanspoor om vir die wêreld hul goeie werke te wys, sodat so sy (en ons) Vader wat in die hemel is, verheerlik sou word? En dat juis hierdeur die wêreld van sy waarheid oortuig sou word?

Miskien sou ons minder moet praat oor wat ons ‘moet’ doen – en nog minder oor wat ons sou moet doen – en sou ons gewoonweg meer moet doen. Laat ons leesbare briewe wees. Vanuit die gesindheid van Jesus Christus, wat gekom het om te dien en wat ons in sy Woord aangespoor het om Hom daarin te volg.

Verseker, ’n slaaf is tog nie meer as sy Meester nie?

Of wat dink u?