Bron: Kompas, 2002. 3 bladsye.

Ouers en Tieners

Het jy ook al, soos ek, met jou hande in die hare gestaan en wonder wat om nou weer vir jou tiener te sê? Wat jy ook al sê, dis tog immers verkeerd in haar oë. Sy sê mos jy verstaan haar nie, jy is ouderwets en bekrompe en … Wat het geword van die liewe klein dogtertjie wat altyd jou hand wou vashou – die lieftallige kind van ’n paar jaar gelede?

Die tyd toe jou kind nog vertroulik sy handjie in jou hand geplaas het by openbare plekke, toe die groot wêreld daar buite nog bedreigings ingehou het, is nog nie verby nie. Hy plaas inderdaad nie meer sy hand in die van jou nie, maar wys en ‘skree’ op ander maniere dat jy hom tog asseblief moet vashou, bevestig en beskerm. Dat jy tog asseblief vir hom moet wys dat jy vir hom lief is, want die wêreld daar buite is vir hom so deurmekaar en kompleks!

Dit is juis gedurende dié fase dat jy daar moet wees vir jou kind. Is dit nie so dat benewens alle ander verlangens dit juis die verlange na ’n onfeilbare relasie is wat by elke mens die diepste is? ’n Relasie met iemand wat vir-haar-daar-is, wat haar nie in die steek sal laat nie, wat haar onvoorwaardelik lief het, met wie sy intiem kan verkeer. Hierdie verlange het jy bevredig toe sy nog ’n klein dogtertjie was, maar nou sê sy dat sy groot is. Jou seun sê dat hy jou nie meer nodig het nie, dat hy graag op eie bene wil staan en nie kan wag vir die dag dat hy self kan besluit oor sy eie lewe nie. Dit lyk asof sy vriende meer invloed op hom het as al jou gepraat en gepleit en selfs al die raas. Die norme wat die wêreld stel maak skielik vir hom so baie saak. Hy bevraagteken dit wat jy hom geleer het. Dit lyk selfs asof hy doelbewus oortree. Jy het miskien die gevoel dat jy hom verloor. Jy het dalk al baie trane van mismoedigheid gestort en die Here op jou knieë gesmeek om hom te bewaar.

Vir heelwat ouers is die kind se puberteit ’n krisistyd. ’n Tyd van rusie, onbegrip, en verwyte. Tog reken kenners dat dit juis gedurende dié fase van ons kinders se lewens is dat ons groot belangrike voortbouwerk aan hulle opvoeding kan verrig. ’n Skrywer noem selfs die jare: “The age of opportunity”.

Wat is dit wat jou kind skielik so anders maak? Die een moment is sy haar ou self om net die volgende oomblik weer die vreemdeling te wees. Die een wat met woorde harde houe slaan, wat haar kamerdeur toesmyt na een enkele vir-haar-verkeerde-opmerking, wat skielik huil oor ’n netelige sakie… Die rede vir die groot verandering lê op ’n liggaamlike sowel as intellektuele vlak.

Verandering🔗

Tussen twaalf en veertien kry meisies mooi rondings en die kinderliggaam groei tot dié van ’n jong vrou. Nie alleen wat betref hul lengte nie, maar ook wat betref hul optrede is hul ‘groter’ as die seuns in hul leeftydsgroep. Seuns ontwikkel meestal tussen veertien en sestien en skielik groei daar hare op die voorheen gladde vel en sy bene en arms lyk soos tentakels waaroor hy nie altyd motories beheer het nie. Sy stem kry so ’n piep-piep wat enige tyd kan opklink. Hy voel beslis nie beïndruk met homself nie.

Die mense om haar heen behandel haar skielik anders: Jy is mos nou al mooi groot, gedra jou dan ook so! Aan die klein kind in die groot liggaam word nou eise gestel wat nie by haar pas nie. Erger nog, dis nie slegs ander wat eise stel nie, sy stel ook allerlei eise aan haarself! Modelle en sterre in tydskrifte en op televisie word haar ideaal. Sy wil ook eendag beroemd wees. Sy wil net so ’n lyfie hê soos die en ’n gladde vel soos die, eer en bekwaamheid soos ’n ander. Sy begin meer minute voor die spieël spandeer en bemerk tot haar groot ontsteltenis dat sy nie so ’n vel het nie – erger nog: sy het selfs nog weer ’n paar puisies bygekry! Ook die seuns met hulle uit-verhouding-liggame lyk nie soos die kragfigure op TV nie. Nie goed genoeg nie, bestempel tieners hulself. Gevoelens van minderwaardigheid ontstaan.

Op intellektuele gebied gebeur daar ook baie gedurende die storm en drang jare. ’n Tiener is opeens in staat tot formele denkvermoë: Skielik sien hy die verband tussen oorsaak en gevolg. Hy sien die spanningsveld tussen feite en ideale. Hy beskik nou oor die vermoë om hom in ’n ander mens in te lewe en hy kan selfs gebeure in die toekoms voorsien. Dit veroorsaak dat hy dus nou ook in staat is om probleme in sy omgewing – waarvan hy voorheen onbewus was – raak te sien. Spanning en angs is dikwels die gevolg.

Alhoewel die tiener is staat is tot volwasse denke, beteken dit nie dat hulle daarvolgens kan handel en optree nie. Hulle interpretasie van dit wat hulle waarneem is nie altyd in ooreenstemming met die waarheid nie en is oorwegend subjektief gekleurd. Dit op sigself veroorsaak verwarring, onsekerheid en ’n gevoel van onveiligheid:

Omdat sy die kontras tussen feite en ideale kan raaksien, sien sy ook dat haar ouers wat eens haar helde was, nie die ideale ouers is nie. Sy sien dat hulle ook faal en fouteer en selfs nie altyd voldoen aan die norme wat deur hulself gestel word nie. Dit veroorsaak ’n gevoel van intense teleurstelling. ’n Gevoel van ek-is-in-die-steek-gelaat wanneer hulle nie op haar reageer soos sy wil hê dat hulle moet nie. Sy beleef: Hulle verstaan my nie…

Adolessensie – kenners meen dit duur van twaalf tot twee en twintig jaar! – is beslis vir die kind ’n moeilike fase. Wel in staat tot formele denkvermoë, ontbreek dit hulle egter aan perspektief om situasies objektief te beoordeel. Tieners is uiters subjektief. Na die besoek van ’n tienerdogter se vriendin, merk haar vader op dat die vriendin sulke mooi maniere het. Die reaksie van die tienerdogter: Pa wil dus eintlik sê dat ek nie goeie maniere het nie!

Ouers se Rol🔗

In hierdie onseker, deurmekaar belewingswêreld verkeer ons tieners. Dit ontbreek hulle aan die regte insig en wanneer Pa of Ma dit in die regte perspektief wil stel moet hulle dikwels hoor: Julle verstaan nie!!! Hoe dikwels word ’n klein berisping geïnterpreteer as: Hulle is kwaad vir my. Hulle hou nou seker nie meer van my nie. Hoe belangrik is dit egter dat ons as ouers nou vir hulle geborgenheid bied en liefde gee. Hoe belangrik die skouerkloppie vir die seun en die warm hand van aanmoediging vir die dogter. Die liefdevolle arms en persoon wat hulle wil aanvaar net soos hulle is. Wat verstaan hoe hulle diep binnekant voel: verward, onseker en minderwaardig.

Ons as ouers faal egter dikwels en reageer self soms ook verkeerd. Dit is die gebrokenheid in onsself waarteen ons ook daagliks moet stry.

Die belangrikste taak vir ons as ouers is egter om hulle te leer dat Vader in die hemel hulle onvoorwaardelik lief het. Sy liefde word nie minder wanneer hulle fouteer nie. God meet hulle nie aan hulle gedrag, voorkoms en prestasies nie. Vader se liefde lê veranker in sy Seun wat al ons swakhede op Hom geneem het. Ons moet ons kinders leer om hulle onseker hande in God se Vaderhande te plaas. Om met alle hartseer, teleurstelling, verwarring en pyn na Hom te gaan.

Wanneer ons as ouers dit nie doen nie, sal die tiener voortgaan op die dwase pad van doen-dit-self: As ander dan so en so ’n negatiewe beeld (soos hy dink…) van hom het, sal hy sy uiterste bes doen om die beeld te verander. So sien ons tieners wat naarstiglik probeer om ‘in’ te wees. Hy wil behoort-by. Ander moet tog net dink hy’s ‘cool’. Hy gaan liewer dood as om uit die groep te wees. By sy vriende soek hy erkenning en bevestiging wat hy dikwels nie by hulle kry nie. Een enkele afkrakende woord of kyk kan sy hele selfopgeboude pogings in mekaar laat tuimel. Hy sal egter weer probeer, maar hierdie keer anders…

Meisies se uiterlike voorkoms word dan vir hulle die laaste hoop! Deur hulle liggame kan hulle die aandag kry waarna hulle smag, al is dit ook kortstondig. Hulle sal die dwase pad loop en redeneer: As ek mooi lyk is ek gewild, maak ek maklik vriende. Ek moet ten alle koste in die mode bly. Wat ’n vreeslike ellende wanneer sy bemerk dat sy ’n paar kilogram gewig opgetel het. Uiterlike skoonheid word ’n obsessie en die arme tienerdogter sal haarself maer eet of selfs ophou eet.

Dit is egter nie slegs ons as ouers wat ’n taak het om ons kinders te leer van die Een wat onvoorwaardelik lief het en wat vir hulle self ook liefde en geborgenheid moet gee nie. Ons moet ook ons kinders leer om die liefde aan mekaar te bewys! Kerkjeug moet mekaar onvoorwaardelik aanvaar. Ander norme hanteer as die wêreld. Die Here het hulle immers aan mekaar gegee. Mekaar aanvaar, ongeag die voorkoms. Mekaar bevestig en omgee. Luister vir die wat met vrae worstel en moenie afwys nie. Help mekaar in die stryd. Betrek die jeugdige wat stadig maar seker stil-stil eenkant raak en nie meer deelneem aan jeugaktiwiteite nie. Gee mekaar die gevoel van behoort-by. Elkeen het immers die verlange om te behoort-aan. Ons moet ons kinders leer om vir mekaar te bid, maar ook om met mekaar te bid. Kerkjeug mag mekaar se laste dra en dit saam in God se Hande neerlê.

Dit is ons tieners. So lyk hulle en so voel hulle. Ons moet hulle van Christus se onfeilbare liefde leer. As ons dié perspektief in alle situasies voor oë hou, doen ons reg. Die egter nie ’n maklike pad nie. Ook nie ’n pad wat ons kinders graag loop nie. Baie probleme en moeites om die doel te bereik. So dikwels dat ons self fouteer. Vergeet egter nooit dat hulle God se kinders is nie. Daarom mag jy hulle in God se sorg plaas tydens jou gebede. Jy mag Vader vra vir krag, wysheid en geduld. Jy mag Hom vra om jou verwarde tiener deur sy Heilige Gees te regeer. Wat ’n heerlike blydskap dat ons as ouers nie alleen die opvoeding hoef te behartig nie! Wat ’n vreugde dat God dit is wat harte kan verander deur die kragtige werking van sy Gees! Slegs so sal ons tieners ook voortaan alleen vir Hom wil lewe!