Bron: Die Kerkblad, 1986. 3 bladsye.

Peinsend by die tuingraf

Abraham Kuyper het eens sy gedag­tes by Golgota in die "Kerk van die heilige graf" as volg verwoord: "Wie hier met 'n ongeskokte geloof wat alles belug, staan, voel dat dit hier die plek is waar die regsgeding tussen God en die Verleider besleg is. Hier is die hakskeen van die Hei­lige gebyt. Hier is ook die kop van die boosheid vermorsel. Hier het die Liefde, hier het die Heilige, hier het wat aan God behoort, oorwin. Hier is die plek in die geestelike lewe waar die stroom sy draaipunt bereik het". Op Golgota is die Paaslam geslag wat die versoening tussen God en mens gebring het.

'n Besoeker sal deur 'n gemengde skare verder gedra word tot by die lang ry nuuskierige mense wat wag om die "heilige graf" waar hulle die liggaam van Jesus neergelê het, te sien. In die gedrang van veelkleu­rige Oosterlinge en gemaklik ge­klede westerlinge is dit nogal moei­lik om oor die grootsheid van die grafgebeure te besin. Hoe het dit eeue gelede hier gelyk en wat het die mense van daardie tyd met 'n be­grafnis gedoen? Die gepraat en ge­stamp en gestoot van die opdringe­rige mensemassa word dan te veel.

Is ons dan ooit op die regte plek?🔗

Alle gegewens wat ons tot ons be­skikking het, wil die omgewing waarin "Golgota" en die "graf" in die "Kerk van die heilige graf" in Jerusalem, bevestig. In die tyd van Jesus was dit buite die tweede muur en dus buite die stad. Jesus is buite die stad gekruisig en begrawe (vgl. Hebreërs 13:12). Dit was die voorskrif vir die Jode dat die vloekers en sab­batskenders buite die laer gestenig moes word (vgl. Levitikus 24:14 en Numeri 15:33-36). Die Romeine het óók die gewoonte gehad om die misdadi­gers buite die stad te dood. Flavius Josefus het van die Tuinpoort in die noordelike muur melding gemaak. Dit was net aan die noordekant van die stad werklik moontlik om 'n tuin aan te lê. Want aan die suide was die Mispoort met die Hinnomdal waarin al die vuilgoed gegooi was. En die dale in ooste en weste het landbou bra onmoontlik gemaak. Die plek is vandag in die stad en binne die der­de muur, maar die derde muur is eers in 44 A.D., dit wil sê na die krui­siging, deur Herodus Agrippa I gebou.

Daar bestaan vanaf 135 A.D. 'n lang tradisie ten opsigte van die plek van die graf. In 144 A.D. het Hadria­nus die terrein opgeval en 'n tempel vir die afgode Jupiter, Juno en Mi­nerva laat bou. Hy het ook 'n beeld van Venus daar laat oprig. In 325 A.D. het Konstantyn, volgens die kerkvader Eusebius, "die geseënde plek van die Verlosser se opstanding op 'n waardige en opsigtelike plek vertoon" deur die "heilige grot" (die graf) op te ruim en 'n kerk daaroorheen te bou. Dit is eienaar­dig dat hy niks van Golgota gesê het nie. Miskien was die juiste plek waar Golgota was, nie so seker nie. Die moontlikheid is dus baie groot dat ons wel met die ware plek te doen het, maar dit wil nie sê dat ons die juiste graf gekry het nie. In die nabye omgewing is nog graftes ont­dek wat in die tydperk 200 v.C. — 200 A.D. gedateer word.

Niks aanskouliks nie🔗

Tog kry 'n mens nie in die "Kerk van die heilige graf" rus nie. Dit is nie net die gedrang van die mense nie maar daar is werklik niks aan­skouliks nie. Alles is deur die jare herbou. Die grafte is verkap en toegebou. Dit is dan ook geen wonder dat 'n sekere Charles Gordon tot die konklusie gekom het dat 'n koppie verder noord, wat naby die soge­naamde grotte van Jeremia geleë is, Golgota moes wees nie. In 'n brief wat van hom in 1885 gepubliseer is, het hy beweer dat dit die koppie Gol­gota moes wees. As 'n mens 'n deursnit van die koppie en die nabygeleë Jerusalem sou maak, sal dit lyk asof die koppie die hoofskedel en die stad self die liggaam is. Die koppie het vandag ook twee grotte wat dit na 'n kopbeen laat lyk. Daar naby is 'n tuin met 'n graf gevind en dit het toe pragtig by sy teorie ingepas. Die tuin is in 1894 deur ortodokse kerk­like instansies aangekoop. En alhoe­wel Gordon se Golgota en die Tuin­graf niks met die Bybelse gegewens te doen het nie, kom 'n mens daar meer onder die indruk van die ver­lede as in die "Kerk van die heilige graf".

Die tuingraf word vandag onbe­boud bewaar. Daar is besoektye en daar word gereëlde dienste gehou. As 'n mens wil peins dan moet jy daarheen gaan. Daar kan 'n mens sonder die gedrang van ander rustig jou gedagtes vrye teuels gee.

Josef van Arimatea en Nikode­mus het op die Vrydag die liggaam van Jesus van die kruis afgehaal. Hulle het dit met mirre en aalwyn behandel, gesalf en met linne doeke toegedraai. Die liggaam moes tot­dat dit begrawe was, so goed en ver­sorg as moontlik bly. Johannes ver­tel dat hulle Hom uitgelê het soos die Jode dit in daardie tyd gedoen het. Gewoonlik is die oë gesluit, die mond opgebind en alle openinge in die liggaam toegebind. Ter wille van die warm klimaat is die liggame van afgestorwenes nog dieselfde dag begrawe. Die Jode wou Jesus se liggaam ook nog voor die Sabbat, wat in die aand begin het, van die kruis afhaal en begrawe. Daarby kom nog die Ou Testamentiese bepaling dat die liggaam van 'n ver­oordeelde nie aan 'n paal mag bly hang nie omdat dit deur God ver­vloek is en die land verontreinig het (Deuteronomium 21:22-23). Die liggaam is gewoonlik op 'n draagbaar na die graf gedra. By 'n gewone begrafnis het die mense wat die draers en die baar sien, by hulle aangesluit om so eer aan die ontslapene te bewys.

Jesus by 'n ryke in sy dood🔗

Hulle het Hom daarna in die graf gelê terwyl Maria Magdalena en Maria, die moeder van Josef, toegekyk het. Dit was alleen die rykes wat dit kon bekostig om vir hulle voor die tyd grafte te laat uitkap. Die armes het van grondgrafte en grotte gebruik gemaak. Die ver­moënde Josef het egter sy eie nuwe graf vir Jesus beskikbaar gestel. Jesus was dus by 'n ryke in sy dood (vgl. Jesaja 53:9).

Die grafte is uit die sagte kalk­steen gekap. Dit het in sommige gevalle uit 'n voorhof, 'n voorportaal en 'n grafkamer(s) bestaan. In die mure van die grafkamer is skuif­grafte gekap wat soos klein tonnel­tjies (ongeveer twee meter lank, tot 72 cm breed en met 'n hoogte van 65 — 86 cm) gelyk het. Ander graf­kamers het nisse langs die mure gehad wat 'n rak gevorm het. Die bokant van die nis het 'n boog ge­vorm. Die onderkant is so uitgekap dat die kop heelwat hoër as die voete op 'n klipkussing sou lê. Die graf van Jesus was heelwaarskynlik van die laasgenoemde bankbooggrafte.

Die graf is daarna afgesluit met 'n ronde klipskyf. Die klipskyf is in 'n gleuf voor die opening van die graf gerol. Dit is deur kleiner klippies in hulle plek gehou. So was die opening verseël. Die Jode het die gewoonte gehad om die liggaam na die begrafnis daagliks vir 31 dae te besoek (om te kyk of die persoon werklik dood is?). Soms is die lig­gaam vir 'n tweede keer gesalf. Dit was wat die vroue die Sondagmôre met die liggaam van Jesus wou kom doen.

Nadat die liggaam verteer is, is die bene na 'n hoek van die graf­kamer of 'n aparte kamer verskuif. Later is die kaal bene in 'n klipkissie geplaas. Hierdie klipkissie was soms pragtig versier en die naam van die oorledene is aan die buite­kant uitgekap. Dit kom egter meermale voor dat een klipkissie die bene van meer as een persoon bevat het. Die kindersterftes was onge­veer 43% en baie kinderbene is saam met die van die grootmense in die klipkissie gevind. Daar is ook van houtkiste in plaas van die klip­kis gebruik gemaak. Die gewoonte was aan die einde van die eerste eeu A.D. gestaak.

Dit het ook nog in die tyd van Christus gebeur dat kookpotte, fles­sies, erdekruike en groot stoorkrui­ke in die grafte geplaas is. Sommige oordeel dat daar ook nog voedsel in die grafte geplaas is maar die ge­bruiksartikels en voedsel was alleen 'n ou tradisie. Die Jode het die men­se kwalik geneem as hulle kosbaar­hede daar gelaat het. Dit was as 'n wanbesteding van besittings be­skou. 'n Persoonlike besitting soos 'n inkpot of 'n gewig wat deur die oorledene gebruik was, was as 'n eerbewys wel toegelaat.

In die omgewing van Jerusalem is heelwat grafte ontdek en dit het interessante inligting verskaf. In 'n graf wat uit die koningstyd dateer, kom 'n inskripsie voor wat as volg lui: "(Die graf van… ) yahu, wat oor die huis was. Hier is geen silwer of goud nie, maar eerder (sy bene) en die bene van sy vrou saam met hom. Vervloek is die man wat hier­die sou oopmaak". Dit laat ons aan Sebna wat oor die paleis aangestel was en wat vir hom 'n graf laat uit­kap het (Jesaja 22:15-16) dink. By Giv'at ha-Mivtar, ongeveer 2,4 km noord van Jerusalem, is 'n klipkis ontdek met die bene van 'n man tussen 24-28 jaar. Dit blyk dat die voete deur 'n spyker aanmekaar ge­koppel was. Dit moes 'n gekruisigde man uit 'n welgestelde familie ge­wees het.

Moenie rou nie — Christus lewe!🔗

As ons egter by die Tuingraf sou sit en peins, sal die gedagte aan doodsbene nie by ons opkom nie. Die dissipels het net doeke gevind. "Waarom soek julle die Lewende by die dooies? Hy is nie hier nie. Hy is uit die dood opgewek". Die Paaslam was vir eens en vir altyd geslag.

Jesus het opgestaan.
Die graf is leeg.
Die dood is oorwin.
Ons hoef nie in rou by 'n graf te treur nie.
Ons kan met vreugde aan die we­derkoms en 'n bruilofsmaal dink.