Bron: Die Kerkblad, 1986. 3 bladsye.

Persoonlike dankbaarheid in sang en lied

Dankbaarheid is 'n kernsaak in die geloofslewe. My dankbaarheid is 'n getuienis van my menswees en her­inner my aan my hoë roeping as ge­lowige. Daarmee erken ek my diepe afhanklikheid van die ewige Sken­ker wat my met sy gawes vir die ewige lewe vorm. Sommige van die gawes is my deel as lewende lid van die liggaam van Christus.

Ek is dankbaar bewus daarvan dat sulke gawes afgemeet word vol­gens my behoefte om begrypend te waardeer wat ek ontvang, sodat my honger na meer kan groei. Maar daar is ook gawes wat op my per­soonlike behoeftes en node afgestem is, wat my geloof laat toeneem. Een gevolg van hierdie toename is dat my persoonlike behoeftes gaande­weg ligter weeg, deurdat my liefde vir God en my naaste altyd swaarder begin weeg – en my liefde vir myself voortdurend afneem.

Dankbaarheid hou dus tred met die toename in die genade van my groei as 'n burger van God se ko­ninkryk. Ek groei deur die gawes van God na die punt waar ek kan uit­roep: "My hoof druip olie en my beker vloei van wyn". Dan is ek deurdrenk van dankbaarheid.

Stemklank dra iets oor🔗

Hoe getuig ek daarvan? Eerstens en vanselfsprekend om my tong en lippe te gebruik — ek kan daarvan vertel, aan andere dit meedeel. Maar hierby moet 'n bepaalde ge­dagte sterk beklemtoon word: die belangrikste bestanddeel van wat ek vertel, skuil dikwels in die stem waarmee ek vertel.

Hoorders word getref en meegesleur deur die krag van my menslik­heid soos my stem dit openbaar. Die trillings van my stem verraai hoe diep my belewenis van my woorde is — innerlike verveling wek verveling, genieting wek genieting…

Wat tog maak die liefdesverkla­ring van twee jong mense so onver­geetlik? Die woorde? Nee wat, dis verslete muntstukke, menigvuldig gebruik. Dis die drif en verlange van die sprekers wat die oortuiging skep dat die woorde daar die eerste keer in die geskiedenis gespreek word! En wat is die verborge angel in baie huweliksrusies? Dit was mos on­skuldige woorde — ja maar die wrywing het gekom deur die manier van praat — daardie afsydigheid, die bedekte belediging skuil in die stemklank. Alle mense het hierdie innerlike ontvangers wat die klank van die stem blitsvinnig ontleed om tot die binneste van die spreker deur te dring. Dit is daarop wat ons rea­geer — en nie eerstens op die woor­de nie!

Innerlikheid en musiek🔗

Musiek is gebore uit hierdie vermoë van die stem om innerlikheid mee te deel. So kan onbeskryflike belewe­nisse meegedeel word. En almal is by die hoor van musiek op soek na daardie innerlike "klank van die stem". Veral in sang luister ons ge­spanne of ons die oortuigingskrag van 'n sterk, draende gevoel kan agterkom. Selfs al verstaan ons nie die woorde nie, kan ons nog altyd waardering hê vir die egte menslike emosie wat deurklink. Onwillekeu­rig dink mens aan die reaksies van diere — wat op die klank van die stem reageer, en miskien nog ster­ker as mense omdat hulle die woor­de nie kan verstaan nie.

Het jy al gesien hoe 'n weduwee die dood van haar seun betreur? Het jy dit al belewe? Hoe sy met arms om haar bors gevou heen-en-weer wieg, en haar leed in 'n sangerige monotoon verkondig? Haar oor­maat van droefheid styg bo spraak uit en word 'n vorm van sang. Die klank van die stem is by haar besig om musiek te word.

Lofsange in die Bybel🔗

Stel jou voor wat daar op die oewer van die Rooisee gebeur het, na die waters oor die magte van Egipte ge­sluit het. Die volk het gesien hoe hulle vry geraak het. Hulle wou van blydskap huil en lag. Toe soek hulle nie 'n redenaar nie, maar hulle be­gin sing: "Ek wil tot eer van die Here sing omdat Hy hoog verhewe is…" In die aangesig van hierdie groot verlossingsdaad het die man­ne en vroue van Israel na daardie "klank van die stem" gegryp om hulle onstuimige blydskap uit te jubel. En let verder op hierdie be­langrike feite:

Israel het nie "vooraf-gekompo­neerde musiek" gesing nie. Dit was spontane improvisasie, terwyl die dankbaarheid vuurwarm in die are geklop het.

Die oomblik wanneer so 'n groot emosie sang word, tree daar onmid­dellik orde in.

Die Bybel bied nog talle gevalle oor hoe lof- en dankgesange sommer uit 'n oorvol hart opgeborrel het.

  • Debora het saam met Barak 'n loflied aangehef om die einde van 20 jaar se verdrukking te vier: "Julle moet die Here prys… uit die hemel het die sterre geveg… "
  • Hanna het, na tergende kinder­loosheid en vurige gebede, later vir Samuel aan die Here gaan aflewer. Sy stort haar hart uit: "Ek jubel in die Here… ek is bly oor die uitkoms wat U my gegee het…"
  • Die Nuwe Testament berig van die vader van Johannes en moeder van Jesus…; terwyl Openbaring vertel van die groot "nuwe lied" wat aangehef word.
  • Wat van al die Psalms?
  • Het dit u ook opgeval hoe promi­nent juis vroue is waar harte in sang uitgestort word?

God — orde — en musiek🔗

Hierdie soort ongeskrewe spontane sang was egter nie "onordelike musiek" nie. So iets bestaan nie, want wanorde is 'n siekte waaraan musiek dadelik sterf. Die God van orde het die sin vir orde saam met die lewe in die mens geblaas. Musiek is die ordelike omgang met klank en tyd; hoe prominenter die orde in die musiek is, hoe hoër styg ons waar­dering en genot. Kinders is veral baie gevoelig vir musikale orde — en hoor weer hoe die kinders die lied waarmee Jesus in Jerusalem ge­bring is, later nog in die tempel sing: "Prys die Seun van Dawid" (Matteus 21).

Nou weet ons uit die Skrif wat sang is: die ordelike wyse waarop 'n spreekstem onder gevoelsdruk 'n sangstem word. Sang is nie net van stemmeprag afhanklik nie; wel van die omkeerbare drang om die volheid van die hart uit te druk. Die swak­heid van baie sangers is dat hulle net hulle stemme aan luisteraars kan gee; die krag van oortuigde sangers — Mirjam, Maria — lê daarin dat hulle 'n sterk belewenis, ten spyte van ongeskoolde stemme, aan die hoorders kan oordra. In hierdie groep hoort elke Christelike gemeentesanger tuis. Die enigste voorwaarde is: 'n sterk belewenis of gevoel wat die stem uit die hart uit voed.

Kinders van God… sing🔗

Is daar 'n sterk gevoel aanwesig – sê maar van dankbaarheid – dan gee dit die stem sy eie vleuels, en die hart begin — met of sonder woorde – sing in 'n opwelling van emosie wat sy eie loop neem. Dit gebeur sommer. Dis ook nie bedoel vir iemand nie. Dis 'n intieme, persoon­like verkeer met God, soos gebed. Sulke sang kom deur die Gees van God. Miskien wonder iemand hoe dit klink? Gaan luister na die klein stemmetjie van 'n dogter wat eenkant popspeel en deurentyd daarby sing. Moenie haar steur nie; luister net! Jy sal ervaar hoe wonderlik dit is. En jy kan daaraan dink hoe graag ons "kinders van God" ge­noem wil word! Só kan elke kind van God sit of loop en sing by sy werk. Ek het al sulke "kinders van God" hoor neurie of sing by hulle dagtaak – en dit was vir my asof die Heilige Gees deur die huis trek. Sulke sang is mos welgevallig voor God! En dit is binne bereik van elke gelowige met die behoefte om sy hart voor God uit te stort. Dit is Sang (met 'n hoofletter).