2 bladsye.

Post-Eleksie Stres?

Mandela

Baie vrae word oor die politiek van die dag gevra. Daar is verskillende politieke stelsels wat almal aan allerhande maatstawwe van die rede vir toetsing onderwerp word. Aan die burgers moet lewensruimte gegee word. Hulle moet beskerm en in toom gehou word. In ’n demokratiese stelsel is dit ook belangrik dat hulle tevrede gehou moet word. ’n Regering wat ten alle koste na al die mense se wense wil handel, verval uiteindelik in totale anargie. ’n Regering, aan die ander kant, wat alleen sy eie wil deurvoer, verval maklik in ’n diktatuur. Soos dit tans in Suid-Afrika gaan, word die pluriforme bevolking as burgers opgeroep om te stem. Die verskeidenheid van politieke partye is groot. Die party wat in die oë van die grootste deel van die bevolking die beste bewys gelewer het van sy diensbaarheid aan die land en sy mense, wen die verkiesing en kry geleentheid om die regering saam te stel. Daarna regeer die nuut-saamgestelde regering met behulp van uitgebreide wetgewing wat op die grondwet moet berus. Wanneer gemeen word dat die regering deur sy wetgewing of wetstoepassing in stryd met die grondwet handel, kan die optrede in ’n onafhanklike regbank getoets en na bevind van sake gehandel word.

In hierdie sin ressorteer die hele landspolitiek binne die denkkader van die Griekse begrip oikos nomos (ekonomie) – dit behels die bestuur van die huishouding. Juis hierdie bestuur van die huis is ’n saak wat ons uit Gereformeerde perspektief verstaan as ’n daad wat God deur sy alomteenwoordige krag en voorsienigheid uitvoer. Hy doen dit in en deur al die prosesse en interaksie van die politiek, om uiteindelik mense in gesagsposisies te plaas wat die regeertaak moet uitvoer. Deur die instrument van daargestelde regeerders moet die mensheid begelei word om God se skepping te bewerk en te bewaak. Wanneer dit aanvaar word bestaan daar dus nie so iets soos ’n ongeldige regeerder nie. Verskeie groepe voer aan dat die huidige politieke bestel as sulks ongeldig is – mede omdat klein minderhede hulle selfbeskikking of dalk selfs hulle al-beskikking in die land verloor het. Die geskiedenis van die politiek in die wêreld bewys egter dat dit slegs in uitsonderlike gevalle en dan ook maar vir ’n baie kort periode gebeur het dat klein minderhede binne ’n bepaalde magsgebied almal hulle sin kon kry. Op die verwyt teen ’n ongeldige bestel sou dus aangevoer kan word dat prakties alle bestelle daarom ongeldig sou wees. Ongeldige regeerdade kom egter wel dikwels voor. Oor die regeerdade bely ons in die Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 36 sekere dinge in verband met die taak van die owerheid en daarmee saam bepaalde dinge in verband met burgerskap. Die owerhede moet in erkentlikheid aan God volgens sy wet regeer. Burgers moet in erkentlikheid aan God die owerheid wat Hy ons gegee het, gehoorsaam, behalwe as die owerheid eise stel wat teen die wil van God ingaan (Handelinge 5:29).

Dit is treffend dat die kerkvolk in die Ou Testamentiese bedeling verskeie kere onder vreemde regering gekom het. Elke keer was die vreemde regering ’n aanduiding van die swaar hand van God se vyande wat sy Koningskap teengaan. Teengaan is ook die vertaalde betekenis van die Duiwel se naam. Hy is die Teëstander van God. Dit het dikwels gebeur dat God sy kerkvolk aan die heerskappy van Godvervreemde heersers oorgegee het. Onder Farao in Egipte was dit tekenend hoe die in sonde gevalle mensheid aan allerhande ellende en aan die dood onderworpe is en daaruit nie verlos kan word tensy die HERE self verlossend en wederbarend ingryp nie. Die HERE het hulle onder leiding van Moses met groot tekens en wonders uit Egipte bevry.

kiesers

Binne hulle eie erfland het dit dikwels gebeur dat vreemdes en heidene oor die kerkvolk regeer het. Die vernaamste volkere was die Filistyne en die Arameërs. Die HERE het hierdie volkere gebruik om die kerk weens haar verbondsbreuk te tugtig. Ook baie van hulle eie konings het in goddeloosheid verval en “gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE”. Die kerkvolk het dan, weens die wanbestuur en korrupsie van hulle koning, self ook in bandeloosheid en goddeloosheid verval en swaar gely. Dink byvoorbeeld aan die swaar lyding wat in die dae van Agab en sy Baälaanbidder-vrou, Isébel, oor die volk gekom het. Versengende droogte. Die ergste en swaarste was toe die tienstammeryk en later ook Juda en Benjamin deur die Assiriërs in ballingskap weggevoer is. Jerusalem asook die tempel is verwoes. Hierdie dinge gaan nie buite die HERE se beheer om nie. Inteendeel, Hy is volmaak in beheer. Hy is ook in beheer van die heidene se gedagtes. Hy kan vyandelike konings se gedagtes stuur en lei om, teen hulle eie wil in, sy kerk te seën (vergelyk Balak en Bileam), te straf (Nebukadnésar) en weer te herstel (Kores). Dit is treffend hoe die engel Gabriël aan Daniël verduidelik dat God inderwaarheid die koning se gedagtes deur die geveg van engele en dienende geeste beheers (Daniël 10). Koning Dawid het soortgelyke dinge in Psalm 139 bely. God ken die koning se gedagtes en oorlegginge! Ook die vroeë Nuwe Testamentiese kerk het onder ’n antichristelike burgerlike owerheid tot stand gekom en verbrei. Die HERE sit egter sy kerkvergaderende werk met krag voort ondanks die weerkragte van owerhede.

Ons staan nou in die nadraai van ’n afgelope nasionale verkiesing. Die vuilspel en karaktermoord wat dit voorafgegaan en agterna ontlok het, verbyster ons. Die gebrek aan respek vir individuele waardes en die gestadige sielkundige druk om van die een veelvormige nasie ook een volk te maak laat die kop skud. Die snaakse kruipspel wat politici vir vuil gewin by godsdienstige byeenkomste gespeel het, amuseer ons. Die waaghalsige wyse waarop hulle die bande van God se heerskappy breek en beraadslaag om Hom na die kroon te steek, bedroef ons. Dit herinner ons aan Psalm 2 en laat ons uitroep:

Kom dien die HEER en wees in Hom verblyd

met blydskap wat Hom huldig as die HEER,

en kus die Seun in onderworpenheid.

Buig jul voor Hom met vrees en bewing neer

Want ligt’lik kan Gods gramskap jul verteer

net soos ’n vuur eers alte klein geag.

Welsalig wie Hom huldig as hul Heer

Wie by Hom skuil en op sy bystand wag.

Die belangrike vraag wat na die afloop van die hele verkiesingsproses bly staan, is: Wie regeer nou eintlik? Die Bybel leer ons dat ons en ook alle mense in God se hande is en dat ons buite Hom niks kan doen nie. Ook hierdie laaste verkiesingsuitslag het vir sy kwota blydskap en teleurstelling gesorg. Sommige partye het sedertdien meer werk, ander minder werk, nog ander – geen werk nie. Op horisontale vlak kan interessante ontledings en verklarings gegee word oor die partye se beleid, standhoudende bydrae in die verlede en die kiesers se idee. Die resultaat kan eiewaan, nederige dankbaarheid, betroubare diensbaarheid wees, of selfverwyt, betwisting van die uitslae en blaam op die kiesers. Na alles kom dit hierop neer:

“…ek het die Allerhoogste geloof en Hom wat ewig lewe, geprys en geëer, wie se heerskappy ’n ewige mag en wie se koningskap van geslag tot geslag is.

En al die aardbewoners word as niks geag nie, en na sy wil handel Hy met die leër van die hemel en die bewoners van die aarde, en daar is niemand wat sy hand kan afslaan en vir Hom kan sê: Wat doen U nie?

Nou prys ek, … , en ek roem en eer die Koning van die hemel: al sy werke is waarheid en sy paaie is reg” (Daniël 4:34, 35, 37).

’n Uitsonderlike belydenis wat die HERE uit die selfvoldane Nebukadnésar gedwing het!