Bron: Nader Bekeken. 3 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler .

Preekbespreking

ʼn Wesenlike taak van die ouderlinge is, volgens die bevestigingsformulier, die toesig oor die leer van die bedienaars van die Woord: daar mag geen vreemde leer verkondig word nie en die gemeente moet in alle opsigte opgebou word. Dit is algemene gebruik in ons kerke dat die preekarbeid van die dominee van tyd tot tyd in die kerkraad bespreek word. Die woord ‘preekbespreking’ het algemeen geword, maar dit weerspieël nie presies die inhoud van die agendapunt nie. Dit gaan naamlik meestal nie oor die bespreking van ʼn bepaalde preek nie, maar oor ʼn broederlike gesprek oor die prediking, die bediening van die Woord, wat as eerste taak aan die dominee toevertrou is.

  1. ʼn Eerste vraag vir die ouderlinge is natuurlik of die prediking volgens die gesonde leer is (vgl. Titus 1:9; 2:1; 2:8). Dit gaan hier oor ʼn leer wat volgens Gods Woord is. Wie die evangelie bring, moet “die woord van die waarheid reg sny” (2 Timoteus 2:15), moet “instem met die gesonde woorde van onse Here Jesus Christus en met die leer wat volgens die godsaligheid is” (1 Timoteus 6:3); kortom, hy moet “bly in die leer van Christus” (2 Johannes 1:9). Daar moet “onvervalstheid in die leer” wees, “gesond en onweerspreeklik”, sodat daar niks teen ingebring kan word nie (Titus 2:7, 8).
    Die Woord van God moet nie net suiwer nie, maar ook onverkort bedien word. Na die voorbeeld van Paulus moet die “hele raad van God” verkondig word (Handelinge 20:27). Tekskeuse mag dus nie eensydig wees nie. Die boodskap mag nie gereduseer word nie. Die predikant moet die versoeking weerstaan om net te verkondig wat mense vandag graag wil hoor!
  2. Die bevestigingsformulier vir ouderlinge noem ook dat die gemeente ‘in alles opgebou’ moet word. Al die ampswerk het die opbou van die gemeente ten doel (Efesiërs 4:12; 2 Korintiërs 12:19). Vir die prediking geld dit by uitstek. By die opbou gaan dit oor groei in diepte: versterking van die lewe uit Christus (Efesiërs 3:19; 4:13 e.v.), maar ook oor groei in omvang: missionêre gerigtheid op hulle wat buite is (Filippense 2:15; 1 Petrus 2:9). Deur die prediking moet die gemeente groei in geloof en liefde (2 Tessalonisense 1:3), toeneem in genade en kennis (2 Petrus 3:18), heilig word in haar hele lewenswandel (1 Petrus 1:15), oorvloedig word in liefde vir mekaar en vir almal (1 Tessalonisense 3:12).
    Die formulier praat van opbou ‘in alles’. Dit is ʼn aandagstreep by die ‘preekbespreking’. Geen nood van die gemeente mag in die prediking verwaarloos word nie. Swak punte moet aandag kry. Die prediking moet werklik gerig wees op die stryd, die aanvegting en die probleme waarmee die gemeente te doen het.
  3. In die prediking moet die Woord bedien word. Die gemeente moet ingelei word in die skatkamer wat die Woord van God is. Dit impliseer dat die predikant sal werk maak van die eksegese van die teks en die konteks. Dit is waarvoor hy geleer het. Ek hoor soms die klagte dat preke op hierdie punt tekortskiet, en te min getuig van studie. Die gemeente het die reg om onderrig te word. Die uitleg van die Skrif is wesentlik deel van ʼn goeie preek. Die prediker moet van die uitleg werk maak. Hierby mag die plek van die teks in die geheel van die Woord van God nie oor die hoof gesien word nie. Die hele Woord moet steeds gehoor word.
  4. In die prediking moet Christus verkondig word (Kolossense 1:28). Van Filippus word geskryf: “En Filippus het sy mond geopen en van hierdie Skrif af begin en die evangelie van Jesus aan hom (die hofdienaar) verkondig” (Handelinge 8:35). ʼn Preek sonder Christus is nie ʼn preek nie. Ook die Ou Testamentiese Skrif getuig van Hom (Johannes 6:39; 1 Petrus 1:11). Na die voorbeeld van Filippus moet die prediker van die teks uitgaan en laat sien hoe dit van Christus spreek. Dit beteken nie dat dit in die prediking net oor Christus gaan nie. Die werk van die Vader en die werk van die Heilige Gees moet vir seker aandag kry. Die prediking moet trinitaries wees. Maar die trinitariese word vervat in die Christologiese: die Vader oor wie dit gaan, is die Vader van ons Here Jesus Christus, wat deur sy Seun ons Vader is (vgl. 2 Korintiërs 1:3; Efesiërs 1:3); die Gees wat aan die gemeente geskenk is, is die Gees van sy Seun (Galasiërs 4:6) of die Gees van Christus (Romeine 8:9). Kyk hoe die Heidelberger praat oor die werk van die Vader in Sondag 9 en oor die werk van die Gees in Sondag 32!
  5. Die prediking moet rekening hou met die heilsgeskiedenis. Die Skrif gee nie vir ons losstaande verhale nie. Dit verkondig die één verhaal van God, wat lei na die geboorte van die Verlosser wat gekom het. By prediking oor Ou Testamentiese ‘stof’ moet nie te gemaklik is-gelyk-aan tekens gemaak word nie: Abraham só, dus ons nou ook so. Die werk van God het voortgegaan. Die saligheid is nou “nader by ons” (Romeine 13:11). Die werk van Christus en die koms van die Gees maak ons verantwoordelikheid groter (Hebreërs 13:36). Die plek van die figure uit die Ou Testament is in die eerste plek op die pad van God na Bethlehem (Handelinge 13:36). Dié plek moet nie vergeet word nie, hoeseer hulle ook in hulle geloof voorbeelde is wat gevolg kan word (Hebreërs 11:4v), en in hulle foute vir ons ʼn waarskuwing is (1 Korintiërs 10:6).
    Dit lyk soms of die heilshistoriese aspek nie in ag geneem word nie. Ek hoor ouer mense kla dat ‘eksemplarisme’ aan die orde is, en dat preke dikwels ‘slagspreuk-preke’ word.
  6. Christus moet verkondig word. Nie net wat Christus vir ons gedoen het nie, maar ook wat Christus in ons doen. Dit gaan dan oor alles wat sy Gees bewerk. Om dit soos ons Christelik Gereformeerde broeders te sê: dit gaan oor die ‘toe-eiening van die heil’. Die werk van die Gees moet in die prediking aandag kry. Hoe Hy werk en wat Hy bewerk. Waardeur word die kinders van God gekenmerk, en wat ervaar hulle wanneer die Gees hulle vernuwe? Ek verwys graag na wat die Heidelberger en die Dordtse Leerreëls daaroor sê. Help die prediking die gemeente ook in die regte belewing van die geloof? Kan hulle oor die skriftuurlike bevinding praat?
  7. Luther het al gesê dat die geloof ʼn ‘onrustige ding’ is. Hou die prediking rekening met die probleme, die twyfel en die aanvegtinge waarmee die kinders van God in die geloof te make het? Word daar aandag gegee aan die ‘teëstemme’ wat uit die moderne lewensgevoel kom, en vir die vrae wat ʼn wêreld vol geweld en onrus oproep? Is die prediking ook dáárin pastoraal dat dit neergeboënes vertroos en die ‘kleinmoediges’ (1 Tessalonisense 5:14) bemoedig?
  8. In die prediking word die koninkryk oop- én toegesluit, soos ons dit bely in Sondag 31 van die Heidelbergse Kategismus. Word daarmee rekening gehou dat daar in die gemeente ongelowiges en huigelaars kan wees, en word die oordeel van God aan hulle verkondig? Mense wil vandag graag hoor van liefde en geborgenheid. Maar in die prediking kan die verkondiging van die oordeel en toorn van God nie weggelaat word as daar sprake is van sleutelbediening op die preekstoel nie.
  9. Wettiese prediking bring onrustigheid by die hoorders en maak mense moedeloos. In die prediking moet die beloftes van God vooropgestel word, om daaruit te vermaan. Die Leerreëls sê dat die belofte van die evangelie ‘sonder enige onderskeid verkondig en bekend gestel moet word, met die eis tot bekering en geloof’ (DL II, 5). Die predikant is die bringer van ʼn baie blye boodskap, hy moet die evangelie verkondig. En op grond van daardie evangelie kom die vermaning (vgl. Romeine 12:1; Kolossense 3:1; Tessalonisense 4:8). Daar word in die verbond gepraat oor ‘belofte en eis’, maar wat die Here van ons vra, belowe Hy eers! Juis omdat dit so is, moet die gemeente besef dat niemand die Here sal sien sonder heiligmaking nie (Hebreërs 12:14), en moet op dááglikse bekering aangedring word.
  10. Die oproep tot selfbeproewing mag ook nie in die prediking ontbreek nie (vgl. 2 Korintiërs 12:5). Dit gaan hier oor die ‘regtheid’ en die ‘egtheid’ van die geloof. Neem ons alles wat die Here sê, aan; ken ons die Here Jesus werklik; is ons lewe ooreenkomstig sy Woord? Daar is altyd die gevaar van ‘dooie geloof’ (Jakobus 2:17). Die ware geloof is ʼn geloof wat deur die liefde werk (Galasiërs 5:6). Dit word getoon in goeie werke. Daar moet in die prediking aandag wees vir dit wat die kinders van God kenmerk. Ouderlinge kan ook hieroor veel vind in ons belydenis (bv. In Sondag 12, Sondag 33; NGB artikel 29; DL I, 12; V, 2, 12).
  11. Die bevestigingsformulier vir predikante noem ook hulle taak om dwalinge en kettery met die Woord te weerlê. Dit moet ook op die preekstoel gebeur. Daar mag nie by moderne dwalings wat die gemeente bedreig, verbygegaan word nie. Die predikant moet by uitstek op die preekstoel die herder wees wat oor die kudde waak (vgl. Handelinge 20:28 e.v.) Dit is vanouds die kategismusprediking wat besonder geskik is vir hierdie weerlegging.
  12. Daar moet in die prediking goeie leiding gegee word (1 Timoteus 5:17). Die weg moet aangewys word (Jesaja 30:21). Die weg van bekering en geloof, van gehoorsaamheid en selfverloëning, van die verborge omgang met God, van die liefde tot die naaste en van die liefde tot ‘almal’.

Hierdie is maar ʼn paar punte wat diepte kan gee aan die gesprek oor die prediking in die kerkraad. Ek is daarvan bewus dat dit lank nie volledig is nie. Die voordrag van die dominee, sy woordgebruik, sy aandag aan die jeug en die ouer mense, die manier waarop hy ‘oorkom’, het ek daargelaat. Daar is al baie oor geskryf. Ek wou my beperk tot die meer inhoudelike van die prediking.

Ek hoop dat dit diensbaar sal wees aan die broederlike gesprek oor die dinge waarvoor die ouderlinge ook groot verantwoordelikheid dra. ʼn Gesprek waarvan verwag kan word dat dit met liefde en wysheid gevoer word, met die besef dat om te preek ʼn pragtige, maar nie geringe taak is, en dat God se krag in swakheid volbring word!