Bron: Die Kerkblad, 2007. 2 bladsye.

Protesteer

protes🔗

… die Christen se roeping🔗

Die grondbetekenis van die woord protesteer beteken “om openlik te getuig”, om jou in woord en daad teen iets te versit wat jy as verkeerd en kwaad beskou.

Dié begrip het veral ten tye van die 16de-eeuse Reformasie ’n besondere betekenis verkry toe die Reformatore hulle versit het teen wat hulle in die Katolieke Kerk van hulle dag as verkeerd en in stryd met die Woord van God en die evangelie van Christus beskou het. Vandaar die bekende naam Protestant.

Kerklike protes is dus ’n ou verskynsel. Eintlik kan ons nog verder teruggaan, selfs so ver terug as die Ou Testament, waar ons lees van die protes van die profete teen afgodediens, vormgodsdiens en mishandeling van medemense in Israel.

Ook Jesus se tempelreiniging kan gesien word as protes teen die verval van die tempeldiens. Sy skerp uitsprake in Matthéüs 23 was ook niks anders nie as protesuitsprake teen die vormgodsdiens van sy tyd waartydens nagenoeg alle godsdienstige reëls nagekom is, behalwe geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid.

In die gereformeerde tradisie is protes ’n bekende begrip. Die Kerkorde maak byvoorbeeld voorsiening vir beswaar- en appèlskrifte in gevalle waar iemand van oordeel is dat kerklike besluite behoort te verander.

Omdat daar sonde in die wêreld is, is dit byna ’n tweede natuur by gereformeerde Christene om noukeurig te kyk, fyn te onderskei, te toets, te beproef, of iets welgevallig is vir God - en of dit tot die welsyn van mense en die samelewing strek. Nié dat ons hiermee ’n permanente gesindheid van beswaardheid wil aanbeveel nie. Dit is verkeerd indien beswaardheid ’n obsessie word, maar dis goed indien Christene – binne en buite die kerk – protesteer teen dit wat volgens die Woord verkeerd is.

Dit is goed om te protesteer as daar duidelike tekens van magsmisbruik deur die regering is, of as die regering nie sy verantwoordelikheid ten opsigte van (wat genoem word) misdaad, vigs en korrupsie nakom nie. Dis goed om te protesteer indien staats- en munisipale dienste verswak en verval, of indien die polisiediens, onderwyssisteem en mediese dienste benede peil is.

Die manier waarop Christene protesteer, is egter belangrik. Hulle doen dit op ’n wyse wat in ooreenstemming is met die evangelie van Christus (Fil 1:27). Hulle tree nie op soos wêreldlinge wat maak en breek nie. Ook in hulle protes volg hulle Christus na en dien hulle sy koninkryk van vrede, vryheid en geregtigheid. Hulle maak hulle nie skuldig aan onbillike kritiek, afbrekende optrede of ondermynende aktiwiteite nie. Hulle oë is vasgenael op die koms van die ryk van God, hulle optrede deur die beginsels daarvan bepaal en hulle denke daardeur beïnvloed. Hulle weet die kerk staan in diens van die koms van die koninkryk, en as Christene probeer hulle iets van die beginsels van daardie koninkryk in die samelewing verwerklik.

lig skyn deur hande

Daarom protesteer hulle teen alles wat boos, kwaad, verkeerd, lelik en sondig is. In die kerk en in die samelewing. Dit is hulle roeping. Hulle kan nie anders nie.

In die begin van die kerkgeskiedenis was die kerk ’n klein minderheid in ’n groot, heidense samelewing en het die kerk dus weinig invloed daarop gehad. In ’n land waar byna 80% van die bevolking hulleself as Christene beskou, kan hulle ’n groot invloed op die welsyn van die samelewing uitoefen.

As Christene is ons die sout vir die aarde, lig vir die wêreld en suurdeeg vir die samelewing.

Ons moet net begin wéés wat ons (in Christus) is.