Bron: Waarheid en Dwaling. 2 bladsye.

Psalm 116:1 - God het ek Lief

Ek het lief, want die HERE hoor my stem, my smekinge.

Psalm 116:1

God het ek lief’ - so staan dit in die berymde psalm. 🔗

Die bedoeling van die digter is hiermee skoon en suiwer weergegee. Die verband wys uit dat God en niemand anders nie as God die voorwerp van sy liefde is. Maar tog is die toon van die onberymde psalm inniger, dieper en voller. Die sanger sê in die oorspronklike nie wie hy liefhet nie. Hy voel nie behoefte daaraan om dit daarby te sê nie. Hy kán dit selfs nie daarby sê nie. Dit sou vir sy eie hart ’n belediging wees as hy dit daarby sou sê. Hierdie hart het immers nie ’n keuse tussen baie nie; dit is geheel en al van die gedagte aan die Een vervul. En daarom sing die psalmis skynbaar baie algemeen en onbepaald maar in werklikheid so persoonlik en bepaald as wat maar kan: ‘Ek het lief!’.

Herken ons hier die suiwerheid van sy liefde?🔗

Kyk na die bruid wat met haar oorvloeiende hart alleen is om haar in haar ryk geluk te verdiep. Daar is nie ’n mense-oog wat haar sien en wat haar dwing om haar in haarself op te sluit nie. In maagdelike skugterheid laat sy die volheid van haar gemoed uitvloei in ’n jubeltoon wat soos ’n segelied klink: ‘Ek het lief’... so ruis dit van haar lippe. Sou dit nie ’n krenking vir haar hart wees as aan hierdie jonkvrou gevra word om die versweë naam hier te noem nie? Juis die swye oor dié naam verraai dat hy haar hele wese vervul en dat sy aan niemand anders as aan hom, aan hom alleen, kan dink nie.

Roep ook voor u aandag op die jong vrou wat die eerste moederweelde kon smaak. Sy verlustig haar in die aanblik van die beminlike kind. Vlees van haar vlees. Been van haar gebeente. Hart van haar hart. Sy kan daarvan nie genoeg kry nie. Haar siel swel uit en word wyd binne-in haar. In dankbaarheid sing sy uit met trillende lippe: ‘Ek het lief’ ... Is dit vir hierdie moeder nie ’n koue wind wat teen haar waai as iemand haar vra wie hierdie liefde nou eintlik geld nie.

Dink ten slotte ook aan die psalmis. Daar is Een wat hom wonderbaar uit die kake van die verderf gered het. Alles, alles het hy aan Hom te danke. Sy hele hart word ’n psalm om daardie Een te loof. Soos die moeder net dink aan die vrug van haar skoot en die beskroomde bruid aan die bruidegom van haar siel, so dink hy net aan God, wat vir hom meer as die lig van sy oë is. Hom noem? ... Dit is heeltemal oorbodig. Hy sing nie vir ander nie; hy sing vir homself, en sy hart ken die naam. Drie kort woorde is vir hom genoeg, maar dit is woorde waarin ’n ganse hemel vol heilige engele juig:               ‘Ek het lief!’

‘Ek het lief!’ - dit is die grondtoon van die psalm. Is dit ook die grondtoon van ons lewenspsalm?🔗

’n Lewe sonder liefde - laat dit maar sonder aardse liefde wees - is die naam lewe nie werd nie. Die selfsug is kil soos die dood, harteloos soos die dood, skrikaanjaend soos die dood. Ons vlug vir mense wat niks anders as hulleself soek nie en wat soos die see al die riviere na hom toe trek maar nooit vol word nie. Hulle neem maar gee nie. Hulle laat hulle dien maar dien nie. Hulle voed hulle met die bloed van hulle broer maar stel nie ’n nerfie van hulle eie lewe tot sy beskikking nie ...

Maar nou kom die wonder van die alles vermoënde liefde. Laat hierdie selfsugtige harte ’n bietjie leer om die saligheid daarvan te smaak; laat hulle vir die eerste keer uit innerlike aandrif die drie woorde spel: ‘Ek het lief’ ... en, nie waar nie, dit bring ’n soort herskepping in hierdie kil harte teweeg. Die lente breek uit die dooie winter te voorskyn; die wonderbare aar van die liefde laat die kaal stam uitbot in die fris, groen blad: dis die ene blanke bloeisel; dit word die ene verkwikkende vrug. As die liefde van mens tot mens die lewe so verryk en verheerlik, hoe moet dit dan nie by die liefde tot God wees nie?

As hierdie liefde die lewe binnekom, kom ook die erns die lewe binne. Die bruid het die ware doel van haar lewe deur haar liefde ontdek. Sy bestaan vir die bruidegom. Sy arbei vir die bruidegom. Sy tooi haar vir die bruidegom. Die slag van haar hart, die lig van haar oog, die werk van haar hand, die denke van haar brein - dis alles vir die bruidegom om hom daarmee te dien. Die bruidegom vul haar lewe geheel en al. Al sien sy hom nie, al is hy na die liggaam ver van haar af, haar hart is altyd met hom besig, en selfs in haar onbespiede gedagtes soek sy om hom te behaag.

O, ons sing so vlot: ‘God het ek lief!’🔗

Daardie sang klink dikwels vals as ons dit aan die reine bruidsliefde toets. God is nie altyd die skoonheid en die glans, die krag en die doel van ons lewe nie. Ons vermy nie altyd sorgvuldig wat Hom mishaag nie, en wat sou Hom meer mishaag as die sonde? Ons skik ons wil nie gretig na syne wanneer dit teen ons s’n indruis nie; die harde juk wat Hy ons oplê, noem ons nie altyd sag nie, en die swaar las noem ons nie altyd lig nie, en tog sing ons maar dat die kerkmure soms dreun: ‘God het ek lief!’

  • Om hom lief te hê is om afstand te doen van ons self.
  • Om hom lief te hê is die oorgawe van ons persoonlikheid.
  • Om hom lief te hê is die lus om ’n offer te wees.

Nie om ’n offer te bring nie ’n offer van ons goud, ons tyd, ons krag nie maar om ’n offer te wees, ’n brandoffer wat op die altaar verteer word en in die stil vlam heeltemal opstyg tot die verheerliking van God. Om God lief te hê is iets geweldigs.

Niemand is uit homself daartoe bekwaam nie. Ons is van nature geneig om God en ons naaste te haat. Maar as die liefde van God in Christus ons aanraak en as sy Gees ons haatdraende hart vernuwe, dan keer hierdie goddelike mededoë soos die lig wat in ’n spieël weerkaats word, as weder-liefde na Hom terug en sit hierdie hart die lewens-psalm in met die jubeling van die dankbaarheid: ‘Ek het lief - God het ek lief!’