Bron: De Wekker. 2 bladsye. Vertaal deur ​ Nic Grobler.

Psalm 42:2-3 - Die Smagtende Hert en die Smagtende Hart

Soos ʼn hert wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God! My siel dors na God, na die lewende God.

Psalm 42:2, 3

Hoeveel mense het nie al na hierdie Psalm gegryp wanneer die onrustigheid hulle oorval en die hoop vervaag nie? Dit is ’n Psalm van alle tye; van die Koragiete; van Israel; van die vroeë kerk; van oupa en ouma, en van ons. Psalm van die kerk vandag.

ʼn Psalm van herkenning🔗

Die kerk van die 21e eeu. Ek weet nie van u nie, maar die kerk vandag laat my aan daardie smagtende hert dink. Dorstend na die water wat hy nie weet of hy dit sal kry nie. So sien ons die kerk in die media, ons sien die verleentheid met moeilike vrae op sinodes, en dit is dikwels ook so in ons gemeentes.

Nader tuis dink ek ook aan die smagtende hert wanneer ek met gewone kerkmense praat wat sê: ‘Dominee, ek weet nie of ek nog glo nie, dit beteken vir my niks meer nie. Ek kan niks daarmee doen nie’. Vir sommiges lyk dit asof dit ’n gedane saak is, en daar word met die daaglikse dinge voortgegaan. Ander spreek egter hulle twyfel met pyn in die hart uit. Hulle “gaan in die rou deur die vyand se verdrukking” (vers 10b). Niks meer om in te glo nie. Wat oorbly is angs, ontreddering, onrus en ’n versmagtende hart. Psalm 42 is vir húlle. Die Psalm vir hulle wat nie meer raad weet nie.

Vir al die smagtende harte sê die hert: God het jou herken, Hy weet wat in jou hart leef! Die Here weet dat ’n mens soms niks meer sien nie as net die één vraag: “Waar is jou God?” Laat dit vir u smagtende hart ’n troos wees: miskien lyk God nou vir u onbereikbaar, maar hierdie Psalm sê dat u nié vir God onbereikbaar is nie. Hy herken u, Hy weet presies waar u is. Hy het selfs die woorde daarvoor gegee, wat ons vandag kan lees.

’n Psalm van vrae🔗

Maar ons is nog nie by die vrae verby nie. Die probleem bly dat ons God so dikwels nie kan vind nie. Noem dit ongeloof. Wat is ongeloof? ‘Ongeloof is sonde’ sê die gereformeerde dogmatiek. ‘Ongeloof is ongehoorsaamheid’ sê Dietrich Bonhoeffer. Ongeloof is ’n gebrek aan oorgawe, sê ’n ander. Drie mooi antwoorde op die vraag oor twyfel en ongeloof.

Maar nou kom die vrae éérs. Waaraan sou jy jou oorgee, as God vir elkeen anders is, en dus nie kenbaar nie? Wie sou jy gehoorsaam wees, as Jesus niemand meer was nie as ’n dwase idealis, ’n martelaar wat, helaas, te vroeg aan ’n kruis gesterf het? Teen wie sou jy sondig, as die lewe sinloos en absurd is, as alles moontlik moet wees en ons ons lewe meet aan die norm van ‘wat kan ek daarmee doen?’

Die vrae bly kom. God skrik nie daarvoor nie. Ons kan die vrae stel én dit voor Hom lê. Die Psalm van die hert gaan ons daarin voor: “Ek wil spreek tot God: My rots, waarom vergeet U my?” (vers 10). As die vraag in jou hart lê, moenie skrik nie. Dit is ’n brutale vraag, ja, maar moenie daarvan wegskram nie. Doen wat die digter van die smagtende hert gedoen het, gaan na God toe daarmee: ‘Here ek wil vir U iets sê... ‘.

’n Psalm van Hoop🔗

Wie dit doen, kan baie hoop hê. Want Jesus het, in God se Naam, die vraag op sy lippe geneem toe Hy uitgeroep het: “ My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matteus 27:46). En dit “sodat ons tot God geneem en nooit meer deur Hom verlaat sou word nie”! – aldus die Nagmaalsformulier. By die kruis van die Here Jesus Christus is rus vir die smagtende hart. Daar het al God se golwe oor Hom heengegaan, totdat Hy daarin ondergegaan het.

Maar Hy het opgestaan! Jesus het die vraag aan die kruis gevra. Sy Vader het in die opstanding sy antwoord gegee. Dit was God self wat met ons was in die golwe en die vrae (Romeine 1:4). Dwars deur die dood heen antwoord Hy. En dit is die opgestane Here wat sê “kyk, Ek is met julle”. Dit is sy belofte. Daarom: “Hoop op God; want ek sal Hom nog loof” –my Verlosser en my God!