Bron: Kerk en Woord. 5 bladsye.

Psalm 78:1-8 - Leer jou Kinders die Here se Groot Dade

ouers en kinders🔗

Psalm 78:1-8🔗

Dawid was begaan oor die vraag of die volk aan sy regering sien dat God hulle Koning is. So bedien ’n ware kneg van God sy amp. En daarom was Dawid die man na God se hart. Hy wou die volk onvoorwaardelike gehoorsaamheid aan die HERE leer, aan SY regering.

Daarvoor laat Dawid Asaf roep. Hy moet ’n Psalm skryf, ’n onderwysing. Daarmee moes hy Israel leer dat hulle Jahwe s’n is. Hulle moes leer verstaan dat die diens van Jahwe bo-aan hul prioriteitslys moet staan. Dit is hoe Ps 78 ontstaan het.

Dit was min of meer in die tyd toe Dawid Jerusalem die koningstad gemaak het, die nasionale sentrum. Toe het hy ook die ark daarheen laat bring. Want Jerusalem moes ook die godsdienstige sentrum van die volk se lewe wees.

Dawid het besef: Wat die kinders van kleins af leer sing, dit sal onuitwisbaar in hul harte bly.

So word Asaf gedryf deur die Heilige Gees. Hy was ’n profeet van die HERE. Matthéüs 13:35 haal Ps 78:2 aan en sê: dit is woorde van “die profeet”.

Die Bybel wil ons goed laat verstaan: Dié Asaf het nie in Ps 78 maar sommer eie lieflingidees kwytgeraak nie. Nee, Hy kom met die woorde van die Heilige Gees. Hemelse outoriteit skuil daaragter!

As Asaf dit ’n “ONDERWYSING” noem, dan is dit nie maar Asaf se onderwysing nie, maar die HERE S’n!

Die Gees se onderwysing🔗

1. Die leerstof🔗

Asaf rig hom tot die hele Ou Testamentiese volk van God. Hy onderrig oud en jonk. Hy sê in vs 1: My volk, luister na my onderrig. Niemand kan dus sê: Dit raak my nie. Dit raak elkeen wat in die verbond is, van die oudste tot die jongste. Geen kind mag sê: Hier word vir pa en ma die Leviete voorgelees nie.

Geen ouer mag sê: Ek het dit nie nodig nie. Ek hoef nie meer gekatkiseer te word nie. Almal deel hulle in die verbondsweldade van die HERE. Almal moet ook die HERE vrees en altyd weer die Heilige Gees se leer ter harte neem.

En die kinders moet dié leer van buite ken sodat hulle vir hul kinders kan vertel waarvolgens oupa en ouma geleef het.

oupa en kleinseun

Soos die verbondsgeslagte kom en gaan, bly die taak om die oorgelewerde leer vas te hou en dit deur te gee.

En dan kom Asaf met die inhoud wat hy by groot en klein wil tuisbring. Dit is die leerstof, lesse uit die geskiedenis van Israel. Maar dit is nie ’n vervelende opsomming van geskiedenisfeite nie. Nee, Asaf laat die volk die HERE sien, Jahwe, en hoe Hy Hom met sy volk bemoei het. Vers 4 praat van die “ROEMRYKE DADE VAN DIE HERE EN SY MAG, EN SY WONDERS WAT HY GEDOEN HET”.

Dié lewende aktiwiteite van die HERE moes die jeug van Israel ken. En dit moes hulle later weer verder vertel as hulle self ouers is. En vs 5 praat daarvan dat God ’n “GETUIENIS OPGERIG (het) IN JAKOB”, en ’n “WET, of soos daar letterlik staan, dat Hy ’n THORA GEGEE (het) IN ISRAEL”.

Soos in die hele Bybel, draai alles in hierdie Psalm ook om die troue Verbondsgod en sy werk tot heil van sy volk.

Om Christus ontwil het Hy Hom neergebuig tot sy volk. Hy het hulle sondes versoen. Hul geskiedenis is die dade van die Almagtige wat van die een verlossing voortgegaan het na die volgende, ’n geskiedenis van hoe God vir Hom ’n kerk vergader. Loflike dade van God wat geprys en geroem moet word deur sy volk. Hulle moet sien: So is Hy! So werk Hy! So is Hy besig om vir sy kerk heil te bring.

Dan gee Asaf ons in die Psalm meer as een staaltjie van die roemryke dade van die HERE, van sy mag en sy wonders. Maar hy begin met die bevryding uit Egipte. Ons kan sê dat God sy volk verlos het uit Egipte. Dit was ’n bevryding - nie net van slawerny nie, maar ook van die dien van die Egiptiese afgode. Hierdie verlossing neem ’n baie prominente plek in die Psalm in, vs 12, 13, 42-52.

Maar dan deurloop Asaf verder ook die hele droewige geskiedenis van Israel se trek deur die woestyn. Teenoor die HERE se trou aan sy verbond staan hulle ontrou. Hulle gruwelike ontevredenheid, hul voortdurende ongehoorsaamheid, hul skandelike ongeloof! Kyk maar na vs 17-32!

Ondanks God se verlossingswonders het hulle voortgegaan om teen Hom te sondig. Asaf praat van hulle “WE­DERSTREWIGHEID”, d.w.s. God laat ’n stroom van liefde op hulle afkom, maar hulle bly maar daarteen inroei. Hulle het God versoek. Hy moes hoor hoe hulle Hom teëspreek, Hom grief, Hom krenk ... en so gaan dit voort. Hulle het nie aan sy hand gedink wat hulle verlos het nie.

Telkens kry ons weer dieselfde refrein: God se verlossing – maar sy volk se ongeloof en afval. Daarom God se oordele … totdat Israel terugkeer. En dan is God so genadig dat Hy hulle opnuut verlos.

Intussen het die HERE trou aan sy verbond egter sy heilswerk voortgesit. Hy het sy volk in die beloofde land gebring. (vs 54). Dog in die beloofde land kry ons ’n herhaling van dieselfde ondankbaarheid. Hulle is weer ontrou, weer afvallig (vs 57).

En hulle het Hom geterg deur hul hoogtes en deur hul gesnede beelde sy jaloersheid gewek (vs 58). Totdat die HERE hulle heeltemal verwerp het, vs 59, totdat Hy die tabernakel in Silo prysgegee het, die ark, sy sterkte in die hande van die Filistyne oorgegee het, sy heerlikheid (kabood=eer) in die hande van die teëstander. Die priesters, Hofni en Pinehas, het deur die swaard geval, sê vs 64.

Dan eindig Asaf sy onderrig met die troonsbestyging van koning Dawid.

Hom het God in sy genade uitgekies om sy volk op te pas (vs 71) om hulle deur sy verstandige leiding rus en vrede te verskaf.

Dawid

Toe Asaf God se groot dade in Israel se geskiedenis opgehaal het. het hy reeds die omtrekke, die skadubeeld van die groot Seun van Dawid, ons Here Jesus Christus, en God se roemryke dade deur Hom laat sien. Maar dit was alles nog net skadubeelde.

As Nuwe Testamentiese Kerk mag ons vandag aan ons kinders iets baie heerliker en iets veel grootser vertel as die verlossing uit Egipte. Ons mag hulle vertel van Gólgota, van Paasmôre, van Hemelvaart en Pinkster. Ons mag hulle vertel hoe God deur ons Here Jesus Christus ons losgekoop het van die mag van die sonde en die dood.

Dit is wat ons aan ons kinders bekend moet maak, die inhoud van die verbondsonderrig. Daarvoor hoef mens nie ’n onderwyser te wees nie. By ons kinders se doop het God die taak aan ons as vader en moeder opgedra.

Ouers, wanneer u u kinders by u het – dis nie so baie ure van u lewe nie – praat u met hulle oor die roemryke dade van die Here? So tussendeur. So onder die spel. So in die motor as u op pad is. So as u saam werk in die tuin. So as u saam skottelgoed was. Soos Deut 6 sê, as u op pad is of in die huis sit.

Maak u tyd daarvoor?

U kan u kind duisend keer meer gee as die TV en die video. God het dit in u hande gelê om hulle die Vaderhart van God te laat sien, soos dit in beide Ou en Nuwe Testament vir ons oopgaan. Leer u hulle van God se verkiesende liefde, van sy genadeverbond vir sondaars, dat Hy sy ellendige volk telkens weer opsoek en hulle op die hande dra? Hy laat dit wat Hy begin het, nie los nie. Dit moet u kind nie eers in die skool of op die katkisasie of die Bybelstudievereniging leer nie. Nee, TUIS. Want so beloof ons by hulle doop. Die ABC van God se genadeverbond moet u kind in die gesinskring ontvang.

En dan moet hulle ook eerlik van u hoor hoe jammerlike die afval en ontrou van die kerk altyd weer was. Dit is nie net die OT verbondsvolk wat gefaal het nie. Dink maar aan die NT, aan die Jode se ongeloof. Dink aan briewe soos 1 Korinthiërs en Galásiërs. U kinders moet van u die duister voorbeelde van ongeloof en afval ook uit die geskiedenis van Christus se kerk hoor! Maar bo alles moet hulle hoor van die genadige ingryping van die troue Vader van ons Here Jesus Christus.

As dit die inhoud van ons verbondsopvoeding is, dan sal u kinders leer om diepe verwondering te hê vir die God van ons vaders. Dan bring u by u kroos van kleins af die begeerte om God se trou te prys, tuis en in die erediens en veral in hulle hele lewe. Dan gebeur wat ons in Ps 105:3 gesing het, dat hulle “daeliks sy aangesig soek”.

2. Die uitwerking🔗

Maar nou moet ons Ps 78 baie goed lees. Dit is nie maar blote verhaaltjies, stories, wat Asaf vertel uit Israel se verlede nie. Dit is die heilsgeskiedenis van God met sy volk. En dit is nie toevallig dat dit begin by die verlossing uit Egipte en dat dit eindig met koning Dawid se troonsbestyging nie.

Heel in die begin van sy onderwysingslied het Asaf gesê: “Ek wil my mond open met ’n spreuk, raaisels uit die voortyd laat stroom”. Die woord wat Asaf vir “spreuk” in vs 2 gebruik, is die Hebreeuse woord “MASJAAL”. En hierdie woord het verskillende betekenisse, soos spreuk, raaisel, geheimenis, verborgenheid. En soos ons in Mat 13:35 sien, kan dit ook vertaal word met “GELYKENIS”, ens.

’n Masjaal of gelykenis was altyd ’n vertelling waaronder die koningskap van God op een of ander manier verborge was. Dink aan die gelykenis van die saaier, van die mosterdsaad, van die skat in die akker, van die kosbare pêrel.

Met so ’n masjaal wou die verteller die hoorders tot ’n KEUSE bring. Hy wou hê dat hulle sou vra: Here, wat beteken dit? Lê vir ons die gelykenis uit. So het Jesus se dissipels mos gemaak. Daar was by hulle ’n opregte verlange om te weet wat God vir sy volk wil sê. En sulkes onder Israel moes geskei word van die wat die gelykenis hoor en dan traak-my-nie-agtig sê: “So what?” en dan maar in hulle goddeloosheid voortleef.

verlore skaap

Wanneer het die profete of die Here Jesus die masjaal of gelykenis gebruik? Dit was as hulle die wat nie glo nie, in hulle ongeloof wou verhard. Gelykenisse was dus vir die ongelowige hoorders ’n OORDEELSPREDIKING. Jesus het met gelykenisse begin toe die massas agter Hom aangeloop het en wonders wou sien, maar Hom nie as die Middelaar van God wou erken nie. Toe het Hy die koninkryk van God as’t ware in gelykenisse weggesteek. En dit het die skeidslyn tussen gelowiges en ongelowiges na die oppervlakte te laat kom.

Die gelykenisse het aan die lig gebring wie werklik gaan vra en wie nie, wie werklik gered wil word en wie nie, wie werklik onder God se koningskap wil leef en wie nie.

Dit sien ons ook in Ps 78. Net soos die Fariseërs in Jesus se dae, het die kinders van Efraim in Asaf se dae gedink: Ons is die volk van God. Ons is die kinders van Abraham. Hulle het gemeen dat die skeidslyn van geloof en ongeloof die lyn is tussen hulle Israel – en die onbesnede Filistyne en al die ander heidenvolke, in Hebreeus genoem die “Gojim”.

Maar die skeidslyn van geloof en ongeloof het nie BUITE OM Israel geloop nie. Nee, dit het dwarsdeur Israel geloop. En met die masjaal wat Asaf in hierdie Psalm hanteer, wou hy die geloof en ongeloof onder God se volk in sy tyd ook na die oppervlakte bring.

Let maar goed op vs 9 en 10 en 67 en 68: Asaf sien Efraim omspring op die dag van oorlog. Hulle het die verbond van God nie gehou nie. Hulle het geweier om te wandel in sy wet. Hulle het God se wonders vergeet. En vs 67 sê: Die HERE het die tent van Josef verwerp. Die stam van Efraim het Hy nie uitverkies nie, maar wel die stam van Juda. Hy het Dawid uitverkies om sy volk op te pas.

Asaf wil dit inskerp: Hy sê: My volk LUISTER na my onderrig. NEIG JULLE OOR tot die woorde van my mond. Daar is nie plek vir neutraliteit nie. Julle moet kies. Één van twee.

Gaan tog nie die pad Efraim, die pad van die wat hulle skouers ophaal en God se koningskap verag nie. Nee, maak die grootste erns met die heilsgeskiedenis! Leer daaruit! En leer julle kinders om die grootste erns daarmee te maak. God het in ons lewe ’n getuienis opgerig, die getuienis van Christus se verlossing. En Hy het ons ’n Thora, die onderwysing van sy hele Woord gegee. Hy het sy masjaal tot ons gespreek.

Ook vandag, soos in Asaf en in Christus se tyd, is daar twee groepe in God se verbondsvolk. Maak nie die fout om te dink dat die twee groepe die kerk en dié buite die kerk is nie. Nee, twee groepe BINNE-IN DIE KERK: Die skeidslyn loop tussen dié wat waarlik in Christus glo en die wat onder die Gereformeerde naam net saamloop, die wat neutrale Christene wil wees. Hulle is gedoop, maar hulle neem God se beloftes nie met ’n waaragtige geloof aan nie.

Die Gees van Christus kom tot ons vanmôre met Ps 78. Met hierdie les uit die geskiedenis, met hierdie masjaal FORSEER Hy ons ook tot ’n keuse. Wie neutraal wil bly, word verhard in sy ongeloof.

Wil ons in die stryd om die ware leer deur te gee aan ons kinders, omspring soos die kinders van Efraim? Laat dit ons koud? Wil ons die roemryke dade van die HERE, wat ons voorgeslagte ons vertel het, VERBERG vir ons kinders? Dan sal ons nie net ons vaders beroof van gelowige kinders nie, dan sal ons nie net die HERE beroof van sy volk nie, dan word ons nie net soos die Israeliete ’n ondankbare, koppige en wederstrewige geslag met ’n onvaste hart, wie se gees ontrou is teenoor God nie.

Maar dan sal God ons vanweë ons verharding uiteindelik ook, soos Efraim en Saul, verwerp.

Vir die ontrou in die kerk gee baie vandag die skuld aan die wêreld met al sy verleidings. Ons sê: Dit is die TV en die nuusmedia, en die rekenaar en die sport en al die vermaaklikhede, ens. ens. wat ons en ons kinders se lewe so vergiftig. Hulle sê: Die verval in die wêreld – waarom sou dit die kerkdeure verbygaan?

kind en Bybel

Dit is egter een van die ernstigste leuens. Dit is nie die Babiloniërs of Arameërs of Filistyne wat Israel laat sondig het nie. Selfs in die goddelose Babel het Daniël en sy vriende steeds die HERE bly dien. Nee, die wêreld sal nie ’n kans by u kry, as u u deur die Gees en die Woord tot gehoorsaamheid laat bring nie. Om Israel tot sulke gehoorsaamheid te laat opstaan, het Asaf vir Israel hierdie Psalm geleer.

Sommige van ons wil modern wees: Ons wil ons kinders vry laat om te doen wat hulle wil en te word wat hulle wil en die Here te dien soos hulle wil. Sulke opvoeding vervloek God in hierdie Psalm.

Die siel van u kind is soos ’n braak land. Dit hang daarvan af wat u as instrument van die Heilige Gees daarin saai. Dit sal bepaal of u kind vrugte vir die HERE gaan dra of die dorings en distels van die duiwel.

Daarom rig hierdie Psalm ’n diep-ernstige woord, veral tot ons jongmense wat op troue staan of pas getroud is: Kyk, jongmense, om te trou is nie moeilik nie.

Maar die taak om vader en moeder te word, is ’n geweldige verantwoordelike een.

Daarom, gee u ja-woord vir ’n huwelik alleen aan dié meisie of dié man wat u weet dat sy of hy saam met u alles in die stryd sal werp om jul kinders te leer om op God te vertrou, sy dade nie te vergeet nie, en troue kerk te wees wat sy gebooie opreg liefhet en gehoorsaam.