Hierdie artikel gaan oor die doel van pyn en lyding.

2 bladsye. Vertaal deur Charlotte Roestorff.

Pyn: God se Megafoon

Opeenvolgende geslagte is vir sestig jaar gehelp deur dit wat C.S. Lewis oor die onderwerp pyn en lyding geskryf het. Dit was tot ‘n groot mate te danke aan die feit dat hy ‘n stewige dosis Christelike realisme op die “probleem” aangewend het, dat sy skrywe die toets van die tyd deurstaan het. Hierdie medikasie kan nou belangriker wees as ooit tevore. Dit is nie ongewoon om te sien hoe televisie predikers hul gehore inlig dat God “nie wil hê dat julle siek moet wees nie”. Dit is moeilik om jou voor te stel dat so ‘n bewering ‘n bemoediging kan wees vir die rolstoel-gebonde, langtermyn lyer aan veelvuldige sklerose. Op sy beste is sulke predikers verward. Die Bybel maak ‘n duidelike onderskeid tussen die nou van ons aardse pelgrimsreis en die dan van ons hemelse tuiste. Die dag kom wanneer daar nie meer dood of rousmart of trane of pyn sal wees nie. Maar, soos wat enige eerlike waarnemer van die toestand van die mens sal erken, het daardie dag nog nie aangebreek nie. Terwyl die meeste van ons waarskynlik nie, soos Lewis dit stel, die “smartlike sleur van eentonige lyding” in die gesig staar nie, word min van ons nie aangeraak deur toetse van verskillende aard nie.

Hoewel die toets hom as ‘n vyand voordoen, kan in werklikheid blyk dat dit ‘n vriend is. Die Bybelskrywer Jakobus moedig sy lesers aan om, as hulle toetse in die oë kyk, laasgenoemde eerder as vriende te verwelkom as om gegrief te voel deur hulle as indringers te beskou. In plaas daarvan om weg te hardloop of weg te kruip, moet ons hulle in die oë kyk, wetende dat hulle kom om ons te toets en te verbeter. Lewis redeneer nie dat lyding op sigself goed is nie. In plaas hiervan wys hy op die verlossende, heiligmakende uitwerking van lyding.

Twee-en-dertig jaar se pastorale bediening het my in direkte kontak gebring met mense vir wie die ervaringe van pyn en lyding duidelik ‘n beproewende seën was. Ek dink aan ‘n kernfisikus wat die eredienste in ons kerk in Skotland bygewoon het, uit agting vir sy vrou en drie jong dogters. Hy het na die preke geluister met ‘n houding van hoflike belangeloosheid;  hy het ‘n kopie van John Stott se “Basic Christianity” aanvaar, maar het veilig binne sy wetenskaplike skulp gebly. Dit was eers toe sy vierde kind, ‘n seuntjie, op die ouderdom van elf maande sterf, dat die megafoon se geluid opgeklink het. In die besef dat sy wêreldbeskouing ontoereikend was om hierdie tragedie en verlies te hanteer, het hy ontdek dat hy tot buite sy skynland moes reik om homself in die omhelsing van die God wat dáár is, te bevind. Deur hierdie verskriklike noodsaaklikheid van beproewing het God die man se rebelse wil onderwerp en hom na die plek van vrede gebring.

Dit is ook waar dat God lyding gebruik om sy kinders te speen van die mooi-lykende bronne van valse geluk. Die Christen kan lomerig raak in die son maar sal nie aan die slaap raak in vuur of die vloed nie. Elkeen van ons moet besef hoe maklik dit is om min aan God te dink wanneer dit goed gaan na die uiterlike. Maar wat ‘n verandering vind plaas wanneer, byvoorbeeld, die uitslag van die biopsie positief is. ‘n Harde rukwind versplinter alle illusies van selfgenoegsaamheid. Hoe goed van God om ons wakker te skud en om ons na die plek van afhanklikheid te bring.

Ons ondervinding van pyn sal, as dit geheilig is, ‘n bewustheid skep van die beproewings wat ander mense in die oë moet kyk en ‘n teerheid in ons optrede teenoor hulle teweegbring. Wanneer ons pyne en teleurstellings die geleentheid word om ons harte te versag, kan ons die voorreg verwag om die kwale van andere te verdra. Jesus, die Opperherder, ons groot Hoëpriester, het “medelye met ons swakhede”, en Hy het vir ons ‘n voorbeeld nagelaat wat ons moet volg. Dit behoort vir dié van ons wat geroep is om onderrig en leiding te gee, ‘n rede tot groot kommer te wees as ons nie daarin slaag om sagmoedigheid en medelye met die swakkes en die kleinmoediges te openbaar nie. Alhoewel ek net my toon in die see van lyding gedoop het, is dit onmiddellik duidelik dat God die eensame ure rondom middernag gebruik om ons lesse te leer wat ons nooit geleer het in ons ure van helder sonlig en gesondheid nie. Ons staan op om Wiliam Cowper se waarneming te beaam dat “agter ‘n fronsende voorsienigheid, God ‘n glimlaggende gelaat verberg”.

Ek het hierdie onderwerp maar net oppervlakkig aangeraak. Ek moet dit aan die leser oorlaat om oor twee sake na te dink. Eerstens, dink daaraan hoe lyding en pyn dikwels God se dissiplinêre maatreël blyk te wees en hoe ons in hierdie tugtiging ‘n teken en seël van ons aanneming tot kinders vind (kyk Heb. 12:5). Tweedens, dink na oor die korrektiewe eienskap van leed soos die psalmis daarna verwys (Ps. 119:67, 71).

Wanneer die megafoon van pyn opklink in ons lewens en in dié van ons ongelowige vriende en bure, help Lewis ons om te besef dat ons nie durf reageer met een of ander oppervlakkige triomfantlikheid of afdaal in ‘n bodemlose put van pessimisme nie. As hulle, wie se lewens die merke van stille wanhoop dra, hulle wat pynlik bewus is van hul beproewings en lyding, ’n Christen gaan opsoek vir hulp, sal dit nie wees omdat ons die indruk skep dat óns lewens lei wat vry van beproewings is nie, maar omdat ons eerlik is oor óns lyding en swaarkry. Ons moet nie ‘n antwoord vir elke vraag probeer vind nie, aangesien ons weet dat God Sy geheime het (Deut. 29:29 Ou Vertaling, 1953). Ons moet bevestig dat ons selfs in die geheimenis van Sy voornemens die sekerheid van Sy liefde ken, en ons moet maniere vind om andere bekend te stel aan ons God wat na ons toe kom in ons smarte en ons lyding.