Bron: Waarheid en Dwaling. 3 bladsye.

Ratifikasieplig

Christus vergader sy algemene kerk van plek tot plek Die kerkraad is volgens Skrif en belydenis die enigste kerklike bestuursliggaam. Die Here bind sy selfstandige plaaslike kerke saam en roep hulle om aan die eenheid in geloof en in kerkverband gestalte te gee. Dit doen gereformeerde kerke deur op vasgestelde tye in meerdere vergaderings byeen te kom. Meerdere vergaderings is nie bestuursliggame, uitgebreide kerkraadsvergaderings of vergaderings van ampsdraers nie, maar byeenkomste van afgevaardigdes van kerkrade. Die afgevaardigdes moet as lashebbers aan die kerkrade, die lasgewers, verantwoording van hulle werksaamhede doen. Hierdie stellings is aan die Skrif, die belydenis en die kerkorde ontleen.

Afgevaardigdes se verantwoording geskied deur die acta of handelinge wat die meerdere vergadering genotuleer en vasgestel het, aan elke kerkraad binne die betrokke ressort beskikbaar te stel. Die vraag kom na vore: Wat moet die kerkrade met die notules doen?

Die Kerkorde: 'n Bindende Ooreenkoms🔗

Die selfstandige plaaslike kerke, geroepe tot kerkverband, het saam ooreengekom hoe om die eenheid in geloof in kerkverband te beleef. Hierdie ooreenkoms het hulle skriftelik in die kerkorde vasgelê. Elke kerkraad het die ooreenkoms aanvaar en belowe om hom daarop toe te lê om die kerkorde te onderhou (KO. art 86).

Beloftes is bindend. Die Skrif verbied om ja te sê en nee te doen. Wat belowe die kerkrade aan mekaar met betrekking tot die handelinge en besluite van meerdere vergaderings? En bly die kerkrade, terwyl hulle hierdie belofte volbring, die enigste kerklike bestuursliggaam wat die Here ingestel het? Ons kry antwoorde op hierdie vrae na noukeurige lesing van die kerkorde-artikels 30 en 31.

Die Agenda van Meerdere Vergaderings🔗

Artikel 30 van die kerkorde beperk die agenda van die meerdere vergadering tot sake "wat nie in mindere vergaderings afgehandel kan word nie en sake wat by die meerdere vergadering tuishoort". Kerkrade kom ooreen: Wat ons in eie kring nie kan afhandel nie, mag ons na die klassis bring. Wat 'n klassis nie kan afhandel nie, mag aan die partikuliere sinode ter afhandeling voorgelê word, ensovoorts. Gee die kerkraad met hierdie ooreenkoms enige regeerbevoegdheid aan die meerdere vergadering? Nee.

Wat is sake wat op die meerdere vergadering tuishoort? Dit is allerlei sake wat die kerke saam tot gemeenskaplike sake maak, soos 'n appel wat teen 'n kerkraadsbesluit by die betrokke klassis ingedien word (art. 310, afstigting van kerke en toewysing van lidmate aan die sorg van kerke (art 38, 39), toesien as kerke op mekaar en op aanvraag advies gee vir die bestuur van 'n plaaslike kerk (art 41), kerkvisitasie (art 44) en so meer. Een van die belangrikste en duurste gemeenskaplike sake is die opleiding van die bedienaars van die Woord.

Tas die feit dat kerkrade sekere sake saam in 'n meerdere vergadering behartig, op enige wyse hulle regeerbevoegdheid aan? Of verstrek hulle daarmee regeerbevoegdheid aan die meerdere vergadering? In geen enkele opsig. Daarom kan kerkrade artikel 30 van die kerkorde met vrymoedigheid in diens van die Koning van die kerk onderhou.

Artikel 31 van die Kerkorde🔗

Die eerste sin van artikel 31 van ons huidige kerkorde lui soos volg: "Wat op 'n kerklike vergadering met meerderheid van stemme besluit is, moet as vas en bindend beskou word tensy bewys word dat dit in stryd is met Gods Woord of die artikels van die Kerkorde". Die sinsnede "moet as vas en bindend beskou word" is na my mening nie skriftuurlik verantwoordbaar nie. Hierdie sinsnede bevat naamlik twee werkwoorde wat van die oorspronklike teks van die Dordtse kerkorde afwyk. Dit is as sulks nie erg nie. Dit moet egter wel in ernstige lig beskou word, as die nuwe teks nie die deur wat toegang gee tot afdwaling, sorgvuldig toegesluit hou nie.

Die omstrede deel van artikel 31 lui in die oorspronklike Dordtse kerkorde as volg: "Wat op 'n meerdere vergadering met meerderheid van stemme besluit is, sal as vas en bindend gehou word tensy -" Al twee werkwoorde is in die nuwe Afrikaanse teks verander: "sal" het "moet" geword en in die plek van "gehou" staan in ons huidige kerkorde "beskou".

"Moet" of "Sal"?🔗

"Moet" is 'n bevel. As 'n kerkraad nie strydigheid met Gods Woord of die kerkorde kan bewys nie, moet hy die besluit van 'n meerdere vergadering sonder meer uitvoer. Kerkrade wat die ''moet" in artikel 31 aanvaar, funksioneer nie meer as lasgewer aan afgevaardigdes nie, maar as lashebber van die meerdere vergadering. Kerkrade word deur die ''moet" in artikel 31 verplig om met die inagneming van die "tensy" klassis- en sinodebesluite uit te voer asof daardie vergaderings hulle opdraggewers is.

Die rolle word presies omgekeer. Die kerkrade (opdraggewers) kry bevele van die afgevaardigdes. Verantwoording doen aan kerkrade word vervang met opdragte verstrek aan kerkrade. Die "moet" in artikel 31 skenk aan die meerdere vergaderings 'n regeerbevoegdheid wat die Here uitsluitlik aan die kerkrade toevertrou het en is sodoende in stryd met wat ons oor die kerkraad as die enigste bestuursliggaam in Christus se kerk bely (NGB, art 30).

Die woordjie "sal" in die ou Dordtse kerkorde druk 'n toekomstige tyd uit Die belofte om te sal "ratifiseer" behels eerstens die toetsing van die besluite wat die meerdere vergaderings geneem het, aan die Skrif en kerkorde. Die opdraggewer aanvaar nie die handelinge van afgevaardigdes sonder om dit eers sorgvuldig aan die Woord en die kerkorde te toets nie. Die kerkorde as die enigste bestuursliggaam in Christus se kerk word deur die woord "sal" in ere gehou.

Die vervanging van die woordjie "sal" met "moet" in art 31 gee ruimte vir die beskouing van meerdere vergadering as uitgebreide kerkrade met regeerbevoegdheid, vergaderings wat gaandeweg meer as opperkerkrade optree. Die vorige artikel in hierdie reeks het hierdie beskouing as hiërargiese afwyking gekenmerk en afgewys. Om sinodokrasie (heerskappy van sinodes) te weer is dit noodsaaklik dat die kerke die "moet" in artikel 31 skrap en met die ou Dordtse "sal" vervang.

“Beskou” of "Gehou"?🔗

Die nuwe artikel 31 bepaal dat besluite van meerdere vergaderings as vas en bindend beskou moet word. Die werkwoord "beskou" het volgens die nuutste uitgawe van die HAT drie betekenisse, naamlik goed, met aandag bekyk, oordink of oorweeg en hou vir, aansien vir.

As "beskou" in die laaste betekenis opgevat word, moet die kerkraad elke besluit van enige meerdere vergadering aansien as 'n vas en bindende besluit, tensy hy kan bewys dat so 'n besluit in stryd is met die Skrif of die kerkorde. "Beskou" in die betekenis van "aansien vir" of "hou vir" dwing die kerkrade nog steeds tot uitvoering van besluite wat afgevaardigdes van kerke geneem het, 'n dwang wat hierbo as sinodokrasie afgewys is.

As 'n kerkraad egter "beskou" in die eerste of tweede betekenis van die woord verstaan, ag hy sy plig vervul as hy besluite van meerdere vergaderings goed, aandagtig bekyk of oordink en oorweeg het. Besluite het vir hom slegs die waarde van adviese. So 'n kerkraad bekyk die acta van 'n meerdere vergadering. Hy bêre dit vervolgens in die argief en gaan oor tot die orde van die dag. Hierdie kerkraad lê besluite wat met die oog op uitvoering daarvan geneem word, met beroep op die nuwe artikel 31 langs hom neer, voer dit uit en maak soos hy wil.

Kerkrade wat maak soos hulle wil, ontbind die kerkverband, verbreek die eenheid in geloof met susterskerke. Die tyd van die rigters "herlewe". Elkeen doen wat reg is in sy oë (Rigters 21:25).

Die Skrif sê: Planne misluk sonder beraadslaging, maar in die veelheid van raadgewers (byvoorbeeld in 'n meerdere vergadering waarin meer kerke beraadslaag) kom dit tot stand. (Spreuke 15:22; vgl. 11:14)

Kerkrade wat hierdie en dergelike woorde van die Here minag, ag die waarde van die sinodebesluite nie hoër as die papier waarop dit geskryf is nie. Hulle kan maar die vermanende vraag wat die Heilige Gees aan die kerk in Korinthe gestel het, ter harte neem: "Het die woord van God van julle uitgegaan, of het dit tot julle alleen gekom?" (1 Korinthiërs 14:36)

Die onafhanklikheidsdrywe van plaaslike kerke is die kwaad van independentisme. Independentisme van kerkrade is konsistoriokrasie (kerkraadsheerskappy). Dit is ook 'n vorm van hiërargie. Sinode- en konsistoriokrasie hiërargie ondermyn die gesag van ons Here Christus oor sy kerk.

Die Dordtse kerkorde bepaal dat besluite van meerdere vergaderings as vas en bindend sal gehou word. Die woord "gehou" sluit die laaste fase van die ratifikasie in: uitvoering van geldige besluite van meerdere vergaderings. Dit word deur die onderlinge ooreenkoms van die kerke om besluite as vas en bindend te beskou nie gewaarborg nie. Daarom behoort die teks van die Dordtse kerkorde weer aanvaar te word: besluite van meerdere vergaderings sal as vas en bindend (as geldig) gehou word, tensy.

Die Ratifikasie-Ooreenkoms🔗

In die kerkorde het die kerke met mekaar ooreengekom om besluite van meerdere vergaderings te "ratifiseer". Hulle mag hierdie besluite nie sonder meer uitvoer nie. Wie dit wel doen, ken aan die meerdere vergaderings regeermag toe wat die Here alleen aan die kerkrade toegeken het Onderwaardering van die kerkraadsgesag laat die kerke verval in die sonde van invoering en eerbiediging van die sinodokrasie.

Die uiterste is dat die kerkrade net kennis neem van die besluite wat hulle afgevaardigdes geneem het. Hulle verval in die kwaad van die independentisme wat die onderlinge afspraak om besluite te ratifiseer as niks ag. Ja, word gesê in die aanvaarding van die kerkorde. Nee, word gedoen deur die belofte wat gegee is, nie na te kom nie. Onderwaardering van die kerkverband laat die kerke verval in die kwaad van die invoering en eerbiediging van konsistoriokrasie.

Onderhouding van die oorspronklike art 31 van die kerkorde vermy die Skilla van die sinodokrasie en die Charibdis van konsistoriokrasie. Dit dien die Christokrasie, die regering van Christus oor sy kerk. Kerke wat aan mekaar belowe dat hulle besluite van meerdere vergaderings as vas en bindend sal hou, aanvaar met hulle belofte 'n opdrag. Beloftes bind. Die ooreenkoms om te ratifiseer behels vir elke kerkraad die ratifikasie-plig.