1 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Regverdiging en Uitverkiesing

Ons glo nie dat God se volk werklik en ten volle in ewigheid (voor die grondlegging van die wêreld) regverdig gemaak is nie, maar wel dat daar ʼn noue verband tussen uitverkiesing en regverdiging bestaan. God se volk word deur geloof, en nie deur uitverkiesing nie, geregverdig. Hulle regverdiging kan nogtans nie van hulle uitverkiesing losgemaak word nie.

Eerstens het God toe Hy sy volk as sy eie uitverkies het, ook besluit om hulle, en hulle alleen, regverdig te maak. Hy het besluit dat hulle heilig en sonder gebrek sou wees (Ef. 1:4). Dit is die besluit van regverdiging.

Tweedens het God dié wat in sy ewige liefde in Christus uitverkies is, in die ewigheid reeds as geregverdig en sonder sonde beskou en sy liefde oor hulle verbrei. Húlle wat Hy as sonder sonde geag het, het Hy ewiglik aan Christus gegee.

Numeri 23:21 is hier van besondere belang: “ ʼn Mens aanskou geen ongeregtigheid in Jakob en sien geen onheil in Israel nie”.1. Dit is die antwoord van God op die pogings van Bíleam en Balak om die volk van God te vervloek. Saam met Romeine 9:13, “Jakob het Ek liefgehad”, word hierdie woorde deur diegene wat in soewereine genade glo, verstaan as ʼn verwysing na God se ewige besluit. Hoewel Christus nog nie gekom het en sy versoeningsbloed nog nie gestort is nie, kon die volk van God, weens sy ewige besluit,  nie vervloek word nie.

Dit is net in hierdie sin wat ons bereid is om van “ewige regverdiging”, of liewer “regverdiging van ewigheid”, te praat. Dit is van die allergrootste belang om hierdie ewigheidsagtergrond van saligmaking te beklemtoon.

Wanneer ʼn mens regverdiging van God se ewige besluit van uitverkiesing losmaak, bevind jy jou met regverdiging wat vir almal beskikbaar is, as hulle maar net sou glo. Dit is ʼn voorwaardelike regverdiging, wat op die een of ander manier afhanklik is van die sondaar se reaksie op die evangelie. Dit is nie die vrye, genadige regverdiging waarvan die Skrif praat nie.

Regverdiging is dus, ooreenkomstig God se besluit van die uitverkiesing, vir die uitverkorenes, en vir hulle alleen, bestem in die dood van Christus. In hierdie besluit van die uitverkiesing word aan die uitverkorenes, en aan hulle alleen, die gawe van geloof gegee, waarmee die regverdiging hulle eie word.

Vir die nie-uitverkorenes is daar geen regverdiging of geregtigheid nie. Daar is vir hulle geen vergiffenis nie. Wat nie in die besluit van God of die kruis van Christus bestaan nie, kan nie vir hulle voorgehou word sonder om die leer van die Skrif oor die waarheid en onveranderlikheid van God geweld aan te doen nie.

Uitverkiesing en regverdiging is só nou verbonde dat ons ons uitverkiesing deur ons regverdiging kan besef. Wanneer ons deur die geloof die vergewing van sonde ervaar, weet ons ook dat ons hierdie vergiffenis ontvang het van Hom wat “geen ongeregtigheid in Jakob en . . .  geen onheil in Israel” (Num. 23:21) gesien het nie.

Loof die Naam van Hom wat sy volk in sy soewereiniteit regverdig maak.

Endnotes🔗

  1. ^ Die KJV het hier: “He [God] hath not beheld iniquity in Jacob, neither hath he seen perverseness in Israel”. Die outeur plaas klem op die verlede tyd van die werkwoord waarmee sowel Num. 23:21 en Rom. 9:13 in die KJV vertaal is. — NG