Bron: Kerk en Woord. 5 bladsye.

Rigters 6:14 - Gaan in hierdie Krag

Gaan in hierdie krag van jou en verlos Israel uit die hand van die Midianiete. Is dit nie Ek wat jou stuur nie?

Rigters 6: 14

Die kerk is in ons tyd in ʼn besondere stryd gewikkel. En dit is noodsaaklik dat hierdie stryd duidelik uitgewys word. Hiermee sal ons die nuwe eeu van die strydende kerk betree.

Ek hoor soms die ouer mense kla: “Nee wat, vandag se jeug is in die vervalling! Toe ons nog jonk was - Dik boeke is uit die kas gehaal. Inleidings is gemaak. Daar was lank geredeneer en baie gepraat. Aande is volgemaak met die wonderlikste vrae wat geen sterfling kon beantwoord nie, maar tog was dit ’n tyd van stryd! Vroeër was daar ’n jeug wat geweet het van veg, van opponeer, van antitese.” So is die kerklike stryd. Daar was ’n tyd toe die lyn helder getrek is tussen die ware kerk en die valse kerk, tussen kerk en sekte. Dwalings is uitgewys en weerlê. Vandag noem ons maar versoeningsonthalwe mekaar almal broeders en susters. Liewers leer van mekaar as om die Woord reg te sny, die waarheid van die dwaling te onderskei en te reformeer en te suiwer. Vandag se slagspreuke is rekonsiliasie, anti-diskriminasie, samesprekings, samewerking en versoening.

’n Nuwe wêreldorde ontvou met ’n samevoeging van alle godsdienste, alle ekonomieë, alle militêre mag, alle tale en kulture. Ons hoor van die internasionale kongres van reformatoriese kerke, van ’n nasionale konvent van reformatoriese kerke, ook van die SA Raad van Kerke en die Wêreldraad van Kerke, en onlangs ook nog van die parlement van godsdienste.

Teoloë van verskillende teologiese agtergronde en standpunte werk deesdae ongeag die leuen hartlik saam om saamgestelde publikasies die wêreld in te stuur.

Kortom: Die stryd om die waarheid is weg. Almal aanvaar dat dit goed is as elkeen doen wat reg is in sy eie oë. Dit het vandag bitter moeilik geword om te kan sondig.

Om met sulke werklikhede ’n jaar en ’n eeu af te sluit en perspektiewe te versamel vir ’n nuwe era, is geen klein opgawe nie. Jare gelede het die mense agter ’n dik vestingmuur gesit en die liberaliste, die kommuniste en sosialiste, die vrysinniges en ketters daarbuite gestel en vuurpyle op hulle afgevuur.

Vandag is daar veel ingewikkelder lewensomstandighede. Ons moet uit ons vestingpoorte uittree om ’n guerrillaoorlog te voer. Ons moet met die mense op die straat, in die kantoor en fabriek praat, baie keer rondom konferensietafels.

Daarom moet ons vandag opnuut die roeping en opdrag van God aan Gideon hoor: “Gaan in hierdie krag van jou en verlos Israel uit die hand van die Midianiete. Is dit nie Ek wat jou stuur nie?”

Vir Israel was daar destyds ’n verskriklike stryd. Elke keer as die vrugtebome in rype drag is en die koringlande met goue glans in die are staan, kom van die oorkant van die Jordaanrivier aanvalle van die Midianiete. Dan stroop hulle die hele oes af. Dit was die nasionale ekonomiese ramp van daardie tyd.

Maar dit was nie die ergste nie: In Manasse het die kerkvolk die lewende God ingeruil vir Baäl, die natuurgod. Hulle het aan hierdie afgod geoffer, altare vir hom opgerig en het heilige boomstamme aan Astarte, die godin van vrugbaarheid, gewy. Dit was ’n owerspelige godsdiens. Elke jaar was daar die oesfees. Dan het die fees ontaard in ’n soort kermis met alles wat begeerlik vir die oog en die drange was. ’n Nasionale aantreklikheid vir die jeug met die warm bloed om die diens van Astarte te pleeg. Seksuele spele sonder beperkings. En dan praat die mense van Israel en sê: “Ja, Baäl is tog eintlik presies dieselfde god as onse HERE. En Astarte, nou ja, Baäl gee vir ons nog ’n godin daarby. Ons mis tog eintlik ’n moeder-godin. Gee dan vir ons Baäl, maar saam met Astarte!” En God word op die langeduur ingeruil; kontak met die natuurgod word naarstig gesoek, maar Jahweh word geïgnoreer.

Aan die begin van die jaar 2000 is hierdie ’n baie aktuele onderwerp. Die mense sê nie meer, “die Vader van ons Here Jesus Christus is saam met die Seun en die Heilige Gees die enigste ware en lewende God nie.” Vandag sê hulle: “Die noodlot is god; die natuur-krag is god. Ja, ek glo wel dat daar iets moet wees,” sê hulle, maar die ander gode kom veel meer na vore. Mammon, die geldgod, word op die voetstuk geplaas en hulle aanbid die ekonomiese magte van die wêreld. Ouers soek die finansieel die lonendste loopbane vir hulle kinders - en basta met die ander beginsels. Want ons moet uit die lewe probeer pluk wat ons kan, roofbou toepas. En as jy deur die week hard gewerk het, moet jy eers ’n plesiertjie gaan hê, en dan kyk jy nie meer so eng nie, selfs Astarte met die seksualiteit van ons tyd is ’n geldige toevlug.

Dit gaan dus deesdae maar presies dieselfde as in die dae van Gideon. Daar word geoffer aan die afgode. En so veel as wat daar in die laat nagte op die plesiere van Baäl en Astarte gespeel word, so is daar al hoe minder tyd vir die ware God en vir konstruktiewe nuttige werk.

In hierdie toestand het Gideon verkeer en hy was allesbehalwe ’n held. Die geskiedbeskrywing lig hom wel as ’n held uit, maar dit was hy beslis nie uit homself nie. Hy het daar eenkant weggesteek in die wynpers gesit. Nie op die dorsvloer om die koring te dors nie, maar om die koring weg te steek in die wynpers!

Waar is die held in Gideon? Het hy dalk gesê: “Ek gaan in die helder daglig koring-gerwe van die lande afhaal, laat die Midianiete dit dan maar sien en die spioene my pak?” “Ek gaan in die Naam van God?” Nee, ons sien maar dieselfde sluipersmentaliteit na veiligheid soos dit al hoe meer in ons misdaadvervulde land ’n werklikheid is. Hy het as’t ware die koringhalms van sy eie land afgesteel, dit weggehou vir die Midianiete en daarna weer in die wynpers ingeduik. Daar sal hulle immers mos nie in die parskuip iets te roof vind daardie tyd van die jaar nie?

Maar tog vind ons by hom ’n ware verbondskind onder die massas. Want, terwyl die res in die môre vir Baäl en Astarte offer, huiwer hy nie om steeds van Jahwe en met Jahwe as sy God te spreek nie. Die HERE wat hy liefhet met sy hele hart en waarmee hy hom met sy hele siel verbind. Dit was ’n baie eensame toestand. Want waar die afgode gedien word, hou God sy geseënde aanwesigheid weg.

Dit is die rede waarom so baie mense kerk toe kom, maar dit doen hulle niks nie. So baie eredienste word bygewoon, maar die preke is op sy beste vervelig. “Want ek dien eintlik die natuurgod, die God van voorspoed en geluk, aan hom bely ek my afhanklikheid, aan hom het ek trou gesweer, en hom dien ek met my wese. Die ware God is dus gerieflikheidshalwe uitgedruk uit my bestaan.”

Maar as God eens die stryd in jou oorwin het, dan spreek Hy, en Hy vul jou op met sy weelde, sy blydskap. Sommige mense kom uit die kerk asof hulle ’n walglike dis ingesluk het, en ons gaan ook baie keer kerk toe asof ons na ’n hartseer-begrafnis toe gaan. Maar as Christus Jesus ook in jou die oorwinnaar is, as die beheerder en as die beheerser erken en gedien word, dan sal die afgode tot swye kom.

Nou is Gideon maar een enkele jongman. Wat beteken hy teenoor ’n hele stad? Hy kyk wel uit. Hy probeer om sy lewe te beskerm en hopelik te verleng: ’n bietjie werk, ’n bietjie eet, ’n deel slaap en dan sterf. Dis so tipies die lewe hier onder die son. Die klokkie lui: Hulle eet, en verder niks. Die klokkie lui weer: Hulle drink, en verder niks. Hulle probeer hul lewe ’n bietjie te verleng.

Dit is die oordeel wat oor die wêreld kom in die laaste dae, dat hulle die duisternis liewer het as die Lig. Niks is gerig op die lewende God nie.

Dan gryp God in. Hy stuur eers ’n profeet na die volk om vir hulle te sê dat hulle sy geseënde nabyheid nie ervaar nie omdat hulle Hom nie meer reg dien nie. Die profeet haal vir hulle die bekende verbondwoorde van Eksodus 20 en Deuteronómium aan. Daar het die HERE immers belowe dat hy hulle sal oorgee aan die heidene en aan allerhande ellende as hulle in die land inkom en van Hom afvallig raak en die afgode begin dien. So moet die volk dit verstaan.

En dan gaan sit die Engel van die HERE onder die terpentynboom by Ofra waar Gideon koring uitslaan. Die Engel van die HERE word verstaan as die optrede en verskyning van die Seun van God in die Ou Testament. Hy tree op binne die offerandes van Gideon asook van Manoag, die vader van Simson. Dis Hy wat met ’n ontblote swaard voor Joshua uitgetrek het voor die volk uit. Dit is Hy wat in Bethlehem as mens gebore sou word, en dit is Hy wat na sy opstanding uit die dood vir sy dissipels gesê het: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde, gaan dan heen en maak dissipels van al die nasies.”

Wat Hy dan daar by die terpentynboom by Ofra betoon, is dat al hierdie dinge perfek en volmaak onder beheer is. Hy weet van alles. Hy weet van al die misdaad wat gepleeg word. Hy weet van die diefstal, van hoe die landbouers van hulle plase af vermoor word en hulle profyt geroof word. Hy weet hoedat die trekboere se vee onder hulle uit gekaap word. Hy weet dat dit vir sy kerk voel asof al hierdie ander bose magte in beheer is. Maar die werklikheid is anders.

Die maatskaplike en politieke en ekonomiese toestand van die kerkvolk moet verbondsmatig geïnterpreteer word. “So spreek die HERE, die God van Israel: Ek self het julle laat optrek uit Egipte en julle uit die slawehuis uitgelei en julle gered uit die hand van die Egiptenaars en uit die hand van al julle verdrukkers en hulle voor julle uit verdrywe en hulle land aan julle gegee. En Ek het aan julle gesê: ‘Ek is die HERE julle God; julle mag die gode van die Amoriete in wie se land julle woon, nie vrees nie.’ Maar julle het nie na my stem geluister nie.”

Dan verskyn Hy aan Gideon, en spreek aangename maar onverstaanbare woorde: Nie: “Wat doen jy daar, sluiper,” nie, maar: “Die HERE is met jou, dapper held.”

Wat? Gideon ’n dapper held? Ja - een op sokkies, ’n slaapwandelaar - net soos ons ook sulke passiewe energielose ekskuus-ek-leef siele geword het. Ons waag geen insette meer nie. Wil nie meer ons ywer in diens van die koninkryk stel nie. Oproep om mee te doen, word rustig geïgnoreer. Geen veglus, geen jeugdige krygsmansdade nie. Liewer nie getuig van Jesus en optree in geloofsdissipline nie, want netnou kry iemand dalk seer.

Dan is dit merkwaardig dat die HERE tog in die kerk is en hier by Gideon staan, voor Jan en by Klaas en Susan - en dat Hy nie sê: “Sit jy nou hier in die kerk, halwe modernis, jou slaapwandelaar van ’n gereformeerde, jou slappeling van ’n hervormde, jou ongeluk van ’n belangstellende wat nooit uitkom en standpunt vir Christus inneem nie!” So praat Hy nie met jou nie. Hy sê vir jou: “Die HERE is met jou, dapper held!”

Spreek God dan nie die waarheid nie? Spreek Hy onwaarheid? Dit is immers nie korrek om vir ’n tweegesig-sluiper te sê dat hy ’n dapper held is nie? Maar ons moet mooi kyk: dis ook nie wat die HERE sê nie. Sy dapperheid is geen beskrywing van sy persoonlikheid nie. Dit is ’n beskrywing van wat met ’n mens gebeur as die HERE met jou is. Hierdie is immers ’n Geestelike en 'n kerklike saak wat eindelik ook op terme van vlees en bloed uitgestry moet word. Deur die teenwoordigheid van die HERE verander ’n teruggetrokke en onbetrokke jongman tot ’n dapper held van God. So het dit ook gebeur toe Jesus sy Gees op sy dissipels uitgestort het. Daardie onbeholpe wegkruipende vissermanne het verander tot predikers wat in die openbaar vir skares van oor die drieduisend tweesnydend preek, en voor die Joodse raad verskyn en hulle aanvat en vrymoediglik getuig sonder om te huiwer.

Hoor Gideon se klaagsang: “Ag, my heer... Die HERE het van ons gewyk. Die wonders is weg uit die wêreld uit.” Merkwaardig hoedat mense juis in sulke swaar tye dikwels sê: “Ja, Jesus het wonderwerke gedoen, maar in die jaar 2000 moet jy glad nie meer wonderwerke verwag nie.” Gideon het ook aan hierdie dwaling geglo. Maar dan sê die HERE vir hom: “Gaan in hierdie krag van jou en verlos Israel uit die hand van die Midianiete. Is dit nie Ek wat jou stuur nie?”

Dis onbegryplik wat die HERE sê. Gideon het dan geen krag gehad nie. Daar is hy weggesteek in Israel, in die stam van Manasse, die nederigste familie uit Manasse, en nou sê Jesus: “Gaan in hierdie krag van jou.”

Dit is die evangelie. As Jesus die jeug roep tot dapper krygsmansdade, dan roep Hy nie edel Germane nie, nie die koninklikes en edeles nie, nie die liggaamsbou-vleis-paleise nie, nie die kick-boxing kampioene en die gladiatore nie, nie forse soldate soos ouboet Eliab nie, maar die tienerseun, die skaapherder agter die skape uit met sy leer lendeskort en sy slingervel. En die ongekunstelde vissermanne. Die seun wat probeer om pa se garsoes in die wynpers weg te steek. Hy kies hulle wat uitwendig na swakkelinge lyk.

Dan benoem die HERE jou soos wat Hy jou sal maak wat jy nie uit jouself is nie. So kan Hy dan vir Gideon sê: “Gaan in hierdie krag van jou” - hierdie swakke krag - hierdie kragteloosheid van jou.

Geliefdes, God roep u. Jesus roep u. Die Heilige Gees roep u!

Dapper jongman, jongmeisie, dapper held, heldin, dapper vaders en moeders, dapper bruid en bruidegom, dapper seun en meisie. En as jy dan sê: “Ek skaam my, want ek is glad nie dapper nie, ek is niks...” Dan kom die geheim hiervan uit die Bybel na u toe in die woorde van Paulus: “As ek swak is, dan is ek sterk.” Jesus maak my tot ’n held. As ek op die vlug slaan, dan maak Hy van my ’n onweerstaanbare, ’n vreesaanjaende wapen in sy hande, die ene behendigheid, doelgerigtheid, sekerheid, omdat Hy deur sy Gees my Godgedrewe kragbron geword het.

Dan sien ons hoedat die gemaakte held van God met ’n paar helpers die altaar van Baäl gaan afbreek, en kort daarna val hy met ’n kleine leërmag van 300 manne die sprinkaanleërmagte van die Midianiete aan.

Jy moet Israel verlos. Jy moet die Midianiete verslaan wat julle kos wegroof. Wil jy jou deur Jesus laat aanspreek? Daar is nou geen tyd meer te verspil nie. Die nuwe eeu van onsekerheid op hierdie aarde gaan oop. Groot is jou roeping. Heilig is jou taak. Jesus sal deur jou nederige hand groot wonders verrig. Jy sal in die kragveld van God staan.

Ons is gewikkel in die stryd teen die godsdienstige afvalligheid wat hand oor hand toeneem, van duisende mense wat die kerk jaarliks vaarwel toesê, en al hoe meer en meer gedoopte verbondskinders wat die enige ware God verpand vir die natuurgode van voorspoed, welvaart, tegnologie, en vir die dranggode van wellus en losbandigheid, sport en plesier.

Die gereformeerde godsdiens het vir baie mense ’n blote modeverskynsel geword wat bedoel is om verby te gaan. Net soos in die tyd van Gideon, en wanneer daar dan depressies, resessies, misdaad en plundering is, dan sug ons vreeslik, maar ons dien die afgode al hoe meer. Hierdie is die een vyand wat ons met mening moet pak in die jare wat voorlê. Die morele stryd.

Die volgende is die kerklike en teologiese stryd. Waar die onderskeiding tussen reg en verkeerd, tussen waar en vals besig is om te verdwyn. Waar die strewe geword het om alle denkrigtings deel van die teologiese wetenskapsroerpan te maak. Dogmatiese skerppunte word stomp geveil om meer vrysinnighede te akkommodeer.

Die stryd van die teologie in hierdie dae en in die nuwe eeu is steeds soos daar in die begin, in die paradys, teen die slang met sy leuens te staan gekom is. En ons herken sy leuens elke keer wanneer hy die integriteit van God se woord afkraak. Elke keer wanneer die slang met die een of ander slenter deur een of ander slim teoloog om ons beweeg om nie die Woord van die Here te gehoorsaam soos wat Hy dit gegee het nie. Elke keer wanneer buitebybelse gegewens heers oor die binne-bybelse gegewens om die Skrif te verklaar. Daarvoor moet u u oë en ore in die komende jare voortdurend oop hou.

Daar lê ons stryd om die waarheid. Dit is die Baäl en Astarte wat ons moet loop omgooi. Dit is die Midianiete wat ons kos van die tafel kom wegroof.

En ons eerste liefde moet weer in die sentrum kom. “Gee My jou hart, my seun,” staan in die Spreukeboek geskrywe.

Dan sê u hard en duidelik dat die stryd van die kerk ook u stryd is. Die stryd teen die leuen is ook my stryd. Die geveg teen morele verval is ook my geveg. Ek gaan om die waarheid en die suiwerheid van die kerk van vandag en in die nageslagte my kragte inploeg waar die oproepe op die kennisgewingbord, in Die Wandel-gang, in Kerk en Woord en in ander kerklike tydskrifte, in die jeug- en ander studieverenigings, op die kerkraadstafel en die kerkverband.

Ja, oral waar die oproepe klink, wil ek met my hande en gedagtes, my woorde en kragte deel wees van die oorwinnende stryd van ons Here Jesus. Dan word die kerk ’n lewende kerk, as sy die strydende kerk hier op aarde is, ook in die jaar 2000.

Die kerk is in ons tyd in ’n besondere stryd gewikkel. Met die nuwe jaar sal ons die nuwe eeu van die strydende kerk betree. So sal ons ook vanjaar die gereformeerde pad soek. Wat ookal daarin vir ons voorlê, dit weet die Here.

Maar die gewetensvraag is of ons die roepstem van ons Here sal navolg. Sal ons ten spyte van ons swakheid steeds in sy krag sal doen wat Hy sê? Hoor dan die belofte van die HERE vir hierdie kerk en vir die kerk van aanstaande eeu: “Ek sal met jou wees, sodat jy die Midianiete soos een man sal verslaan.”

Nader na ons toe hoor ons die woord uit die mond van die Here Jesus aan sy dissipels, terwyl hulle die sendingopdrag van die proklamasie van die oorwinning van Jesus Christus gaan uitvoer, het Hy vir hulle gesê: “Kyk, Ek is met julle al die dae en tot aan die voleinding van die wêreld.” Nog nader aan ons hoor ons die beloftewoord van ons Oorwinnaar Koning wat vir ons sê: “Ja. Ek kom gou!”

“Gaan dan in hierdie krag van jou en verlos Israel uit die hand van die Midianiete. Is dit nie Ek wat jou stuur nie?”