5 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler .

Ryke Troos vir Gelowiges en Ongelowiges

Oor verkiesing en evangelisasie🔗

1. Belemmer die leer van die uitverkiesing evangelisasie?🔗

De verkiesingsleer kry al geruime tyd swaar in verband met sending en evangelisasie. Hoe kan jy immers iemand met dié leer sonder skroom en met vrymoedigheid met die evangelie tot bekering oproep? In God se ‘verborge agenda’, sy ewige raad, kan so iemand net so wel ʼn verworpene wees. Wat wil jy dan doen met ʼn oproep tot bekering? Nie net sinneloos nie, maar selfs ook strydig met die wil van God.

Om die vraagstuk op te los het baie, in die voetspoor van die Remonstrante, téén die leer van die ewige uitverkiesing en verwerping gekies, en doen dit steeds. Hulle staan vir ʼn oop en eerlike evangelieverkondiging met oorvloedige en eerlike kanse vir elke mens om hom te bekeer! In gereformeerde kringe, onder meer seker gereformeerdes in Nederland en die Christian Reformed Churches in die VSA, pleit hierdie mense vir wysiging van die Dordtse Leerreëls (DL) ten aansien van die verwerping.

Die sogenaamde ‘hiper-Calviniste’ kies ʼn ander oplossing. Sommiges weier sendings- en evangelisasie-aktiwiteit: God is in staat om, as dit Hom behaag, heidene te bekeer sonder ons hulp. Ander gaan wel die evangelisasiepad, maar net met die bekeringsbevel, sonder die aanbod van die genadebelofte.

Albei rigtings maak basies dieselfde fout: hulle stel die verkondiging teenoor die verkiesing as ʼn denksisteem. Om hieruit te ontsnap moet dan óf die verkiesing óf die verkondiging verdwyn.

As daar geen soewereine genade van God was nie, sou evangelisasie en sending die mees kinderagtige en waardelose onderneming wees wat die wêreld ooit gesien het, en sou daar geen groter absolute verspilling van tyd onder die son gewees het as die prediking van die Christelike evangelie nie.

J. I. Packer

2. Verkiesing word deur verkondiging gerealiseer🔗

2.1 Bybelse gegewens🔗

In die Bybel is daar nie sprake van spanning of konflik tussen verkiesing en verkondiging nie. Inteendeel staan die twee in noue verband met mekaar. In Handelinge 13:48 staan daar: “...en daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe.” Hoe? Deur die prediking van Paulus in die sinagoge van Antiochíë.

Mens sou kon sê: deur die prediking aan (byna) al die burgers het sommige geglo, en daarmee het die uitverkorenes ‘te voorskyn’ gekom. God het hulle al gehad, maar deur die genade van die prediking, bekering en geloof, word hulle openbaar en ontstaan die uitverkore kerk op dié plek. Deur die prediking word die verkiesing in die tyd gerealiseer.

Die nou verband word ook in Romeine 10:14-15 geleer. Midde in sy betoog oor uitverkiesing en verwerping (Romeine 9-11), pleit Paulus vir die prediking: “...hoe kan hulle in Hom (Christus) glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie?” Hy het ook in Romeine 8:29-30 reeds die roeping (prediking) in die ‘goue ketting’ van verkiesing, roeping, regverdigmaking en verheerliking geplaas. Die verkiesing tot ewige behoud in Christus vind sy pad deur die evangelie-roep tot Christus (2 Tessalonisense 2:13-14).

Ook die Here Jesus self lê hierdie noue verband. In Johannes 6:37 sê Hy: “Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie”, en dié ‘Al’ is ‘sy eie’, ‘sy skape’ wat Hy van ewigheid af by die Vader gekry het (Johannes 6:37-40; 10:14-15, 27-30; 17:6-10). Juis deur sy prediking bring Hy hulle na die Vader.

Uit die optrede van Christus en Paulus is dit dus duidelik dat die verkiesing nie ’n verlammende uitwerking op die prediking het nie. Net so min as by Augustinus, Calvyn en Whitefield, om maar enkeles te noem wat die verkiesing net so vurig verdedig het as die verkondiging – aan alle mense.

2.2 Belydenis, by name die Dordtse Leerreëls🔗

In die Dordtse Leerreëls (DL) spreek die kerk hierdie Bybelse onderrig na. Elke ‘evangelis’ behoort dus die DL grondig te bestudeer. In DL I, 3 lees ons dat God verkondigers van die evangelie stuur, na wie Hy wil en wanneer Hy wil, dit wil sê na sy welbehae, ‘uit louter goedheid’. In DL II, 5 word hier bygevoeg dat die belofte van die evangelie, dat elkeen wat in die gekruisigde Christus glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê, aan alle volke en mense aan wie God die evangelie stuur, sonder enige onderskeid verkondig en bekend gestel moet word, met die eis tot bekering en geloof. In DL III/IV, 8 bely die kerk dat God in alle erns roep; Hy beloof in alle erns die ewige lewe aan almal wat na Hom toe kom en glo. Verkondiging is nie ’n speletjie wat mens met ’n skouerophaal kan afmaak nie. Dit is ’n saak van lewe en dood.

Die kerk is onmiskenbaar vir die verkondiging verantwoordelik; maar die uitkoms laat die kerk aan God oor. Sy weet dat die woord van God nie tevergeefs gepreek word en nie leeg na Hom terugkeer nie (Jesaja 55:11). Sy weet dat die aanneem van die evangelie berus op die ingrypende inwerking van God met sy Gees, as vrug van die verkiesing, en die kerk roem in die Here met dankbare verwondering (DL I, 18 en III/IV, 10). Maar sy wys dié mense wat die evangelie durf weier, op hulle eie skuld in sorgeloosheid, oppervlakkigheid of wêreldgesindheid (DL II, 6 en III/IV 9; lees ook die gelykenis van die saaier in Matteus 13).

In die Bybel én die belydenis staan dit sentraal dat God na sy vrye welbehae sommige sondaars verkies en hulle dáárom met die evangelie kragdadig bekeer. Ewewel beteken dit nêrens ’n terugtrek van die verkondigingsopdrag aan mense nie. Inteendeel, gaan die ontferming van God na hulle almal uit, in alle erns en uit louter goedheid. In die evangelie van die gekruisigde Christus kom mense voor die lewende God te staan, wat hulle beveel om te glo. Wie dan ‘nee’ sê, moet God nie verwyt nie; hulle staan dubbel skuldig (Matteus 11:20-24; DL I, 15 en II, 6).

3. Gevolge vir evangelisasie🔗

3.1 Verkiesing bied troos aan ongelowiges🔗

Verkiesing het dus nie ’n verlammende uitwerking op die prediking nie. Mens kan selfs verder gaan en sê: die verkiesing stimuleer juis die prediking, want in die leer van die verkiesing kry jy te doen met die volslae magteloosheid van die mens om homself te red én met die onverwagte, onverdiende liefde van God wat ons wél red.

Wie die verkiesing nie ken nie, moet vroeër of later terugval op eie menslike krag, in die wanhopige poging om vir God iets aan te bied waarop ons redding sou kan berus. Wie homself en die Skrif ken, weet dat so ʼn poging tot absolute mislukking gedoem is. Ons Pelagiaanse pogings maak dit net erger. Sonder verkiesende welbehae woel ons ons net maar vaster in die troostelose put van ellende en dood.

Daarom sê Bavinck (Gereformeerde Dogmatiek [GD] II, 365) so treffend dat die Pelagianisme in feite meedoënloos hard is. Want volgens Pelagius kom net die allerbeste, allerywerigste en alleraktiefste mense in aanmerking om gered te word. Maar die verkiesing leer juis dat God se genade die vaste basis vir ons behoud is. Daarom is daar hoop! Ook vir die allerellendigste, mees onwaardige mens. Vandaar die diep betekenis van die woorde: ‘die leer van die verkiesing is vir die gelowige én die ongelowige tot ʼn onuitspreeklike ryke troos’ (GD II, 365).

Só kan jy die ongelowiges benader: jou lewe is nie hopeloos verlore nie, kyk maar na die ingrypende liefde van God in Jesus Christus. Daarin lê die grondslag van my en jou behoud! Die verkiesing is nie daar om mense af te stoot nie, maar om in alle erns almal tot die rykdom van die genade van God in Christus uit te nooi (Bavinck, GD II, 366).

3.2 Verkiesing stimuleer en rig die prediking🔗

Aan die ander kant verskaf die verkiesingsleer ʼn sterk stimulant om te preek. Want wat sou jy as mens wil doen om mense tot God te bring, as jy weet van steeds groter wordende skuld, sonde en verset! Elke mens het homself so diep ingegrawe in sy verset teen God dat niemand daar kan deurbreek nie – ook nie die beste preek en die mees indringende metodes nie. Al sou jy tot diep in die nag met hom gesprek voer, as prediker sal jý dit nie regkry nie. Die deurbraak kan God alleen gee in sy wonderlike werk van bekering, wedergeboorte en geloof (DL III/IV, 11-12).

Word verkondiging nie hiermee opsy geskuif nie? Nee, die preek skakel juis by God se werk van verlossing in; want die opdrag om te preek is ons verantwoordelikheid. Maar dit sou ʼn hopelose, sinnelose besigheid word as ons nie seker geweet het dat God die harte van sy kinders wil bereik en oopbreek deur middel van die prediking nie.

As jy met jou preek self die mens moes bekeer, dan was alles sinneloos. Maar nou dat jou preek, jou vermaning, jou gesprek en jou wys op Christus aan die ander, ingebed en meegeneem word in die verkiesende optrede van God, kry die verkondiging vleuels. Dan weet jy dat jou, maar al te dikwels beperkte, krom, tekort skietende woorde ʼn krag van God is om die ander te red (Romeine 1:16; 1 Korintiërs 1:24-25). Só wil God sy genade uitdeel. Dít is nog ʼn stimulans om met des te meer ywer ons roeping tot verkondiging uit te voer (DL III/IV, 17).

So gesien stimuleer die verkiesing ook tot trou en volharding in die gang van God se kerkgeskiedenis. Soos Paulus nie vry was om maar oral te preek en te bly preek nie, só moet ons ook met gerigtheid soek na waar die welbehae van God aan die werk is. Dit impliseer ook dat ernstige kontak uitgebrei moet word (Handelinge 18:9-10). Ook dat aan kontakte wat nie ernstig is nie en aan mense wat duidelik met allerhande bymotiewe saamloop, die gevolge van hulle optrede duidelik gemaak moet word en verhoudinge desnoods (voorlopig) verbreek word. Ons moet nie by deure wil ingaan wat God nie vir ons oopmaak nie (Handelinge 16:7).

3.3 Nie op God se troon sit nie🔗

Met evangelisasiewerk moet ons ons dus hou aan die opdrag tot verkondiging. Ons moet nie meer wil doen as om ons opdrag goed uit te voer nie. Dit is wat Bavinck bedoel het met die woorde dat ons in die verkondiging niks te make het met die besluit van verkiesing en verwerping nie (GD IV, 5). Dit wil sê, jy moet jou werk doen: verkondig, mildelik en vrymoedig! Moet jou nie daaroor bekommer of die ander uitverkore is al dan nie. Want dan gaan sit jy op God se troon, dink jy dat jy moet uitmaak of die ander salig word of nie.

Wie mense benader onder die leuse: ‘God het jou lief’ is net so dwaas as iemand wat sou begin met: ‘God het jou nie lief nie.’ Jy trek daarmee mense nader met pretensies wat jy nie kan waar maak nie. As die ander dalk nie glo nie, wat dan? Dan moet jy al jou mooi woorde terugtrek. Jy loop voor God in.

Agter die leuse is daar die gedagte dat jy mense moet trek met iets wat vir hulle aangenaam lyk. Wie sou nie wou luister na iemand wat jy liefhet nie? Maar as jy dit nie kan waar maak nie, deur die ongeloof van die ander, word die liefdesverklaring goedkoop woorde. G’n wonder dat so baie mense ongeërg op so ʼn benadering reageer nie.

Dieselfde tendens in metodiek merk mens op waar mense hulle inspan om alles vir die luisteraar na sy sin te voor te stel. Daar word kleurige kampanjes geloods, meesleurende musiek, treffende uitroepe, grappige opmerkings. Die stemming laai op. ʼn Goedbeplande toespraak en ... wat wil jy nog meer hê! Soek jy geluk, vrede, innerlike rus? Jou vriend, Jesus, vul al jou nood en begeerte! Dit is dus nie verbasend dat daar dan na ʼn bietjie aandrang mense na vore kom om van hulle plotselinge bekering te getuig nie. Sukses? Met getuienis, ja; maar het dit bekering, geloof, ernstige kerkkeuse en getroue kerkgang meegebring?

Die fout met die metode is dat mens vasgepen is op die doel om ʼn aantal mense te bekeer, op (vinnige) sukses, waarby mense dan dikwels met ʼn handomkeer die moeilike pad van bekering moet gaan; waarby die kennis van die Woord van God vervang word deur ʼn religieuse gevoel, en die majesteit van God en die erns van sy toorn onder druk te staan kom van die grap van die dag. Op die manier doen mens in feite te veel en te min. Te veel, omdat mens angsvallig dink dat mense deur ons tegnieke, ons moeite en sorg tot bekering móét en sál kom. Asof hulle bekering in ons hande is. Te min, omdat mens die hoorders te min tyd gun om werklik met die sonde te breek vanuit ʼn gesonde weloorwoë kennis van die hele leer van die Skrif, en van die gevolge vir die hele lewe.

3.4 Gebruik God se middele: hou belofte en eis voor🔗

Daarom moet ons terugval op die middel wat God self gegee het: die verkondiging van die Woord! Die beste metode is dié waarmee die hele Skrif uitgelê en genoegsaam toegepas word. Daar moet ruimte wees vir onderrig waarby die erns van die evangelie van lewe en dood duidelik word en tyd ingeruim word om na te dink oor die inhoud, en om verkeerde denkbeelde reg te (laat) stel.

Met ander woorde, jy moet aan mense die gekruisigde Christus voorhou, met die bevel tot geloof en bekering. Of anders gestel: belofte en eis. Dit geld buite die kerk én binne die kerk. En laat die resultaat aan God oor.

Op die manier sal die roeping tót Christus die verkiesing ín Christus bevestig. Dan sal ‘vanself’ duidelik word wie, en wie nie, waar, en waar nie, uitverkorenes is. Dit gaan ten slotte in die verkiesing van die uitverkorenes oor die totaal van die uitverkore bruid van Christus. Die verkondigers gaan met die evangelie van Christus op pad na die vergadering van die Bruid.

Wat dan van die verwerping? Miskien is ek verworpe, kan iemand opper. Luister weer na Bavinck: ‘Niemand mág glo dat hy ʼn verworpene is nie, want almal word ernstig vermaan en dringend geroep en is verplig om te glo in Christus tot saligheid.’

In feite gaan so iemand ook op God se troon sit om in menslike hoogmoed die evangelie van hom af weg te hou. Hoe durf jy, wanneer God na jou toe kom met die belófte van ewige lewe in Christus, die belofte in twyfel trek! Wie is jy, o mens, sê Paulus in Romeine 9:20, dat jy beter sou weet?

Jy kan op die manier probeer om van die gesag van God los te kom, maar daarmee bly jy juis in jou sonde (Johannes 3:36). Dan sal jy die krag van die evangelie inderdaad ervaar as “ ʼn reuk van die dood tot die dood” (2 Korintiërs 2:16) in die gerig voor God. Ook dan het die woord nie leeg teruggekeer nie. Die resultaat van die evangelieverkondiging is naamlik nie die sukses van die getal bekeerdes nie, maar die steeds duideliker wordende skeiding van hulle wat gered word en hulle wat verlore gaan (1 Korintiërs 1:18).

3.5 Verset teen die kern van die evangelie🔗

Verset teen die leer van verwerping ter wille van ‘oop en eerlike’ evangelisasie, is daarom onskriftuurlik. Ten diepste is dit ’n verset teen die welbehae van God wat in sy vrymagtige liefde sondaars red uit hulle ewige lot; wie, waar en wanneer Hy wil. Dit is verset teen die kern van die evangelie, naamlik dat jy deur Christus alleen salig kan word, sonder enige prestasie van jou kant.

Die verkiesing word die hart van die kerk genoem. Wie dit uit die evangelisasiepraktyk wil wegneem, sal nie één bekeerling sien nie, en ondermyn by voorbaat die vergadering tot die kerk van Christus en sal nooit rede vind om God te loof nie.

3.6 Gevolge vir die evangeliepredikers🔗

Die leer van die verkiesing het ook gevolge vir die predikers. Hulle word daardeur gestimuleer, so het ons gesien, omdat hulle weet dat hulle werk in die beleid van God ingeskakel word. Dit gee ook aan hulle die moed om vol te hou, teen die stroom van verset in. Hulle staan in die stryd om mense uit die greep van Satan los te kry. As jy op getalle teenoor die energie wat ingesit word, let, is dit om van moedeloos te word. Maar God se verkiesingsplan faal nie. Dít is genoegsame rede om onbeskroomd, in vaste vertroue, voort te gaan.

Die verkiesing maak hulle ook geduldig. Dit is immers God se plan, sý tyd, op sý plek, sý kudde wat Hy vergader wil sien. Dit beteken nie dat die prediking die saak maar sy gang laat gaan nie. Nee, dit moet gerig wees op ’n duidelike houding en rigting ten opsigte van die evangelie by die luisteraar. Dit hoef nie onmiddellike bekering te wees nie. Jy moet ontdek waar God weë wys om op verder te gaan, mense tyd en ruimte gee om tot belydenis te groei. Maar terselfdertyd met geduld leer om te aanvaar dat God soms weë waarop ons graag wil gaan, sluit.

Daarom dring die leer van die verkiesing ook na gebed en nederigheid. Want juis daarin erken die prediker sy eie onmag om mense te bekeer. Daarom smeek hy die almagtige, soewereine God om mense te bekeer, om die verkondigingswerk te seën, om durf, vrymoedigheid en trou te gee, om geleenthede te skep om die gang van die evangelie in hierdie wêreld tot volledige oorwinning te lei. Die gebed is die keersy van die opdrag tot verkondiging. Nie alleen vir predikers nie (Efesiërs 6:19; 2 Tessalonisense 3:1). Die gebed rus in die stellige sekerheid van die verkiesende welbehae van God.

4. Slot🔗

So kan die verkiesingsleer ook in evangelisasiewerk ’n bron van troos en krag wees, van nederige ootmoed, van vertroue en beslistheid. Die saligheid van die mense lê onwankelbaar vas in die genadige en almagtige welbehae van God (Bavinck, GD II, 366). Ons kan ongelowiges inderdaad tegemoet gaan met ʼn ‘onuitspreeklike troos.’ God sy dank.