Bron: Die Kerkblad. 4 bladsye.

Sagaria 2:4-5 - Omdat die Here 'n Muur van Vuur rondom ons is, is ons oop na die Wêreld

Lees: Sagaria 2 en 8:20-23
Teks: Sagaria 2:4b-5, 11

Met groot dankbaarheid en entoesiasme vier ons die verjaardag van hierdie gemeente. Vir ’n gemeente om 150 jaar oud te word en vir so lank ’n hele klomp dogters en seuns groot te maak en soveel gemeentes uit haar te laat voortkom, is ’n wonderwerk van die Heilige Gees. Christus het deur die jare bewys dat Hy die Hoof is van hierdie gemeente. By ’n verjaardag van ’n jongmens kyk ons vorentoe, by ’n verjaarsdag van ’n bejaarde wil ons terugkyk. Nou wil ons vorentoe kyk, want 150 jaar in die lewe van die kerk van die Here is nog baie jonk. ’n Jong mens droom, ’n jong gemeente sien vergesigte.

Wat is jou visie, jou droom vir jou lewe en vir die kerk van die Here? ’n Visie is ’n vergesig wat, as jy dit sien, aan jou geesdrif en energie gee om positief aan te gaan met jou lewe. Byvoorbeeld: ’n Matrikulant het ’n visie om eendag ’n mediese dokter te word, en sy sien haarself al in haar spreekkamer waar sy ander se pyn help verlig. Dit gee energie en dryfkrag om ernstig te studeer.

As jou visie vir die einde van jou lewe die graf en die begrafnisstoet is, dan sal dit jou nie motiveer vir jou lewe nou nie.

Jou visie kan selfs so ver strek dat jy die lied as ’n droom vir jou lewe kan sing: “Ek sien ’n nuwe hemel kom ...” So ’n visie sal dan jou manier van lewe bepaal. Ons kan die tyd en plek sien waar God altyd letterlik sigbaar by ons sal wees. Die stad, die nuwe Jerusalem, dus die nuwe Hemel en Aarde, motiveer en inspireer ons om hier voluit vir God te lewe en te werk.

Sagaria gee ’n visie vir die ballinge wat ’n rukkie terug uit Babel teruggekom het. Hy sien ’n vergesig en vertel hulle daarvan, om hulle so aan te moedig om voort te gaan met die werk van die bou van die tempel. Kan ons uit sy visie iets vir ons lewe hier en nou leer?

Is ’n muur dan nou nodig?🔗

Sagaria profeteer in die tyd van Haggai, ongeveer 520 voor Christus. ’n Aantal lede van sy volk het al teruggekeer van die ballingskap in Babel en het selfs al vir hulle huise in die land gebou. Hulle lewe het in die nuwe omstandighede begin koers kry, maar die tempel is nog nie herbou nie. En dit was ’n ernstige probleem. Die stad Jerusalem was God se woonplek, en die tempel binne-in Jerusalem was die ontmoetingspunt tussen God en sy volk. Die ontmoeting tussen God en sy volk is in gedrang. Nou staan die werk al meer as 15 jaar heeltemal stil. Hoe gaan die Here die volk in beweging kry om die werk aan die tempel te hervat en om die tempel te voltooi?

Hy laat sy profeet agt gesigte in een nag sien. Dit moes ’n oorweldigende ervaring gewees het. Met elkeen van die gesigte word die volk aangemoedig om nie net hulle eie huise te bou, soos wat hulle gedoen het nie, maar om ook sy huis te herbou. Hy wil in hulle midde woon en hulle so beskerm en versorg. Hy wil deur sy eie volk vereer en verheerlik word.

In hierdie nag ontvang Sagaria dus ook die derde gesig. Toe Sagaria in die gesig ’n jongman met ’n maatlyn in sy hand sien, was hy oortuig die man gaan iets afmeet. Daarom vra hy aan hom: “Waar gaan u heen?” Die jongman se missie was om Jerusalem af te meet, sodat die stad soos van ouds weer ’n sterk vestingmuur om hom kan hê. Die man wil dus gaan meet waar die vier mure om die stad gebou moet word. Soos by die ander sewe gesigte, is daar ’n engel wat die gesig vir Sagaria moes uitlê. Hierdie engel kry toe 'n ander engel en gee aan hierdie engel 'n opdrag in verband met die jongman. Die engel moet die man wat die plek waar die muur om Jerusalem gebou moet word, wou afmeet, in sy spore stuit. Die stad gaan in die toekoms nie meer mure om hom hê nie. Hoekom nie?

In ons moderne tyd ken ons die Berlynse muur wat soveel hartseer na die Tweede Wêreldoorlog veroorsaak het. Tans het die Israelis weer ’n muur rond­om ’n deel van die Palestynse gebiede gebou om selfmoord-bomaanvalle te probeer keer. Nou is die vraag in die tyd van Sagaria: Was dit nie nodig om juis op hierdie stadium ’n sterk muur om die stad te bou nie? Israel was polities vasgekeer tussen twee groot wêreldmagte: Egipte in die suide en Persië in die noorde. Hulle kon fyngemaal word tussen hierdie magte. Verder was die onmiddelike bure noord van Jerusalem die Samaritane, wat glad nie gelukkig was met die terugkeer van die ballinge en die herbou van die tempel nie. Trouens, hulle het meegewerk daaraan dat die werk aan die bou van die tempel vir soveel jare vertraag is.

Die inwoners van Jerusalem sou graag, soos al die stede van daardie tyd, ’n muur van beskerming om hulle wou hê, want hulle het nog geen sterk weermag gehad nie. Jerusalem het tog altyd ’n muur om die stad gehad. En nou moet Jerusalem ’n stad sonder mure word.

Daar was twee redes waarom Jerusalem ’n stad sonder mure moes wees. Die eerste een is: Die Here is ’n muur van vuur om die stad en sy magtige teenwoordigheid sal binne-in die stad wees. Die tweede rede is: Die stad moet oop wees na alle kante sodat ook ander volke na die Here toe kan kom.

Die Here is ’n muur van vuur rondom ons🔗

Die volk sou dadelik verstaan as Sagaria vir hulle van hierdie gesig vertel, want ’n muur van vuur is verbondstaal. By die sluiting van die verbond het God reeds so aan Abraham verskyn: Hy gaan soos ’n oond wat rook en ’n fakkel wat brand tussen die stukke vleis deur. Hy is met ’n vuurkolom by sy trekkende volk uit Egipte. Die muur van vuur is vervulling van sy verbondsbelofte dat Hy hulle God sal wees wat in hulle midde sal woon. Hierdie verbondslyn loop deur tot by die Verbondsmiddelaar, Jesus Christus, wat belowe dat Hy by sy kerk sal wees elke dag tot aan die heel einde van hierdie bedeling op aarde. Daarom sal die magte van die hel die kerk ook nie nou oorweldig nie. Die Koning van die kerk beskerm sy eiendom innerlik deur elkeen van ons te verseker: “Ek is ’n muur van vuur rondom julle!” Het jy al ’n mooier belofte gekry? Kan jy dink aan ’n mooier visie, vergesig wat nou al werklikheid is, dat God ’n muur van vuur rondom ons is?

Die volk sal dus ’n vuurmuur in plaas van ’n steenmuur kry. Hulle word verseker dat dit God se vurige liefde is wat van Hom ’n vuurmuur maak. Hy sê: “Wie aan julle vat, vat aan my oogappel.” God se volk van die Nuwe Testament en dwarsdeur die eeue het beleef hoe God ’n muur van vuur om hulle was. Daar was bloedige vervolging, vlamme van die brandstapels wat hulle letterlik doodgebrand het, maar Hy was die muur van vuur wat gesorg het dat hulle hul geloof behou. Hy het gekeer dat geestelike aanslae en dwaling sy kerk vernietig. Hy het as muur van vuur gelowiges saamgesmelt bo rasse en ander verdeeldheid uit.

Hy is nou nog ’n muur van vuur om jou persoonlik wat jou geestelik beskerm, wat jou kinders, selfs dié wat oorsee lewe, geestelik beskerm. Jy en ek is God se oogappel, sy geliefde, en dit is die rede waarom Hy ons so vurig beskerm. Hy is nie net om ons nie, maar beskerm ons van binne, omdat sy magtige teenwoordigheid in ons is. Al is daar fisiese gevare en word ons letterlik gewelddadig aangeval en gewond en selfs gedood, sal ons behoue by God uitkom, juis omdat hy ons met soveel liefde omvou. Ons bejaardes sal tuiskom en kan volhard, al is daar geweldige liggaamlike en verstandelike aftakeling. Sien net die muur van vuur om jou. Die Here sal elkeen wat biddende die muur van vuur om hom of haar sien, die krag gee om versoekinge en aanvegtinge van die bose te kan weerstaan. Ook julle jongmense moet nooit die lewe ingaan sonder die versekering dat die Here ’n muur van vuur om julle is en met sy magtige teenwoordigheid in julle is nie.

Die Here was ’n muur van vuur rondom die gemeente van Lydenburg. En in die vertroue kan die gemeente vorentoe gaan dat die vuurmuur hulle nie net sal beskerm nie, maar hulle krag en energie gee om in die omarming van die Heilige Gees in geloof, hoop en liefde te groei.

Die kerk moet oop wees vir soekendes🔗

Beskerm God ons om in ons eie ou hoekie te sit en te wag dat ons uiteindelik in die nuwe Jerusalem aankom? Is dit die visie wat jy van jou kerk en van jou eie lewe het? Moet ons gemeente ’n kerk in isolasie wees? Moet ons ’n kloostermuur om ons bou, sodat die wat binne is, nie uit kan glip nie, en die wat buite is, nie in kan kom nie? Nee, Jerusalem moet ’n stad sonder mure wees, sodat dit oop kan staan na die wêreld toe. Dit beteken nie dat die kerk moet verwêreldlik nie. Die sondige wêreld moenie in die kerk inkom nie. Nee, die nasies moet van alle kante deur kerkmense aangetrek word. Uit al die nasies moet hulle kom, want God is die Here van die Leërskare, van ’n magtige skare gelowiges. Die getal van sy uitverkorenes moet vol word. Hy wil dat die soekende en lewensmoeë mense ook moet ervaar dat Hy ’n muur van vuur rondom sy oogappel sal wees, en dat hulle deel daarvan is.

Daarom moet die magtige boodskap van genade van binne Jerusalem sonder mure, sy kerk, ons gemeente, na buite weerklink. Dan kan die kerk saam met die hemelbewoners sing dat die ingange na die ewige stad lokkend oopstaan sodat die nasies daarheen kan kom. Ons het ’n magtige boodskap van God se liefde wat in Christus duidelik sigbaar is. Die boodskap van die Gekruisigde wat die doodsmagte oorwin het en wat mense wat geestelik dood is, deur sy Heilige Gees weer ’n keer laat gebore word. Hy keer lewens om en maak van woeste sondaars sy oogappel.

Ons, die kerk, is God se sending in die wêreld, en ons kan en wil God se stem indra in elke lewensfeer waar ons beweeg. Ons wil God se liefde sigbaar maak deur hongeriges kos te gee, mense sonder huise ’n blyplek te gee, kinders wat andersins hulle lewe sonder betekenis moes voer, ’n doel gee om voor te lewe, dominees se sorge weg te neem sodat hulle in ’n verwoeste land die blye boodskap kan verkondig.

Dan gaan ons vergesig nog verder: Ons sien wat Sagaria daardie nag gesien het: Daardie dag sal baie nasies hulle aan die Here verbind. Dit is nie net ’n vergesig nie, maar ook iets wat al waar geword het: met Pinksterdag. Toe die Heilige Gees uitgestort is, was daar nie mure om die stad, die kerk van die Here nie, want 3 000 op een dag het uit al die nasies gekom. En kort daarna nog  5 000, en toe het die boek Handelinge nie meer die massas uit Klein-Asië, Europa en ander dele van die wêreld getel nie. Die profesie van Sagaria 8:20-23 word nog elke dag vervul, want mense uit al die nasies kom en gryp ons geestelik aan die klere en sê: Ons wil saam met julle gaan, want God is by julle. Voel jy nou mense wat jou lewe en jou blydskap en geloof, hoop en liefde sien wat met hulle gesindheid sê: Ek sien God is by jou, ek wil ook saam met jou gaan? Is daar maats, kollegas, vriende of vreemdelinge wat jy figuurlik aan jou baadjiepante kan saamsleep na die stad sonder mure?

Dit is nie toevallig dat die stigter van hierdie gemeente eintlik na Suid-Afrika gekom het om die evangelie wyd te verkondig. In die gees van sy begin behoort hierdie gemeente die blye boodskap met energie uit te dra, tot eer van die Here.

Omdat God ’n muur van vuur om ons is, moet ons gemeente oopstaan na die wêreld. Ons moet vir baie in moeilike omstandighede ’n stem van hoop, voete van vaste geloof en hande van liefde wees. Want hoe meer na Christus as die middelpunt van ons lewe kom, hoe groter is die eer wat God kry, hoe meer skitter sy heerlikheid in die wêreld.

Slot🔗

Hoe lyk jou lewensvisie? Probeer die visie van die stad sonder mure inskakel by jou visie op die lewe. Dan sal jy verseker word dat jy God se oogappel is, waarvan Hyself ’n muur van vuur om jou is. Dan sal jy en jou gemeente oop staan na almal sodat God verheerlik kan word.