Sal Ons Geloof kinders hê?
Sal Ons Geloof kinders hê?
Nee, die opskrif is nie verkeerd nie.
“Sal ons kinders geloof hê?”. Dit is die normale vraag, en die vraag waarmee elke Christen-ouer hom/haar sal besig hou. Sonder enige twyfel ʼn belangrike en doodernstige vraag. Maar die bedoeling is om te vra of ons as ouer geslag daarin sal slaag om ons geloof oor te dra aan die volgende geslag. Die vraag kan gestel word met ander variasies wat ʼn ander klem na vore laat kom. Ons sou dus kon vra: “Sal ons geloof kinders hê?”. Dit is ʼn vraag wat vandag steeds meer in kulture gevra word wat eeue gelede ʼn Christelike karakter of invloed ondergaan het. M.a.w. sal daar ʼn volgende geslag wees wat enigsins nog plek het vir die Christelike geloof? Sal daar nog in die wêreld plek wees vir die Christelike geloof? Nog ʼn variasie op die betekenis hiervan kan die vraag wees of ons geloof van so ʼn aard is dat dit nie onvrugbaar is nie, m.a.w. dat dit dalk nie kinders kan voortbring nie. Is ons geloof van só ʼn aard dat dit perspektief gee op die volgende geslag om in ʼn nuwe tyd met nuwe en eie problematiek, in vertroue met die Here te lewe?
Die Here Verseker dat Ons Geloof Kinders sal Hê ⤒🔗
Dit is nie oordrewe om te sê dat die Ou Testament grootliks besig is met die kry van en veilig stel van ʼn erfgenaam. Gedurig weer was daar die stryd om van die Here ʼn nageslag te kry, wat verseker dat die huidige geslag nie tegelyk ook die laaste een sal wees nie. Dit is die hooftema van die hele vertelling oor Abraham en Sara. Later word dit selfs as metafoor gebruik om die Here se belofte vir ʼn magtelose verbondsvolk te verwoord (Jesaja 54:1-3) :
Jubel, onvrugbare, wat nie gebaar het nie!
Breek uit in gejubel en juig jy wat geen weë gehad het nie!
Want die kinders van die eensame is meer as die kinders van die getroude, sê die Here…
Want jy sal links en regs uitbreek en jou nageslag sal nasies in besit neem en verwoeste stede bevolk.
Meerdere gelowige ouers ken die pyn van kinders wat nie gelowig is nie. Hiervoor is daar geen simplistiese troos nie. Tog wil die Here ons primêr besig hou met die vraag of daar vir ons geloof kinders sal wees. Die belofte van Jesaja kom na ʼn volk wat uitsigloos in ballingskap gesit het. Hulle het geen vooruitsig gehad op uitkoms nie. Geen nuwe geslag wat die Here sal kan dien nie. Hulle het immers geen Jerusalem, geen tempel, geen Sion, geen priesterdiens gehad nie.
Vir hulle kom die belofte: “Julle geloof sál kinders hê!”. Die onvrugbares wat nie gebaar het nie, was vir elke Israeliet bekend – Sara, Rebekka, Ragel, Hanna. Maar nou was die hele geslag van die Israeliete onvrugbaar. Geen moontlikhede om ʼn toekomstige geslag te verseker nie. Geen hoop op uitkoms of ʼn gelowige volgende geslag nie! En tog is dit nou juis vir daardie geslag wat die Here ʼn geweldige perspektief wil kom oopmaak…gelowige kinders in die toekoms!
In die Nuwe Testament word presies hierdie selfde metafoor deur die apostel Paulus gebruik. Wanneer hy die wonder wil verwoord dat die evangelie vastrapplek onder die volke gekry het wat eers heidene was, dan gryp hy terug op presies hierdie woorde van Jesaja. Die geloof het kinders gekry, waar dit eers onmoontlik gelyk het dat daar ʼn gelowige nageslag sal wees. Maar die wonder het gebeur dat die onvrugbare gebaar het! Kinders is vir Abraham gebore uit die mense van Galasië en in Korinthe en Efese ens. (Galasiërs 4:27). Die eensame het meer kinders gekry as die een wat ʼn man gehad het … meer kinders is vir die geloof gegee uit die heidene as uit die Jodedom!
Dit is ʼn Belangrike Gebod … met ʼn Belofte←⤒🔗
Om te verseker dat ons geloof altyd kinders sal hê, het die Here vir ons die vyfde gebod gegee. Eer jou vader en jou moeder, dan sal daar in die land vir lank ʼn gelowige geslag wees. Die Here sal sy volk lank laat leef in die beloofde land! Dit is ’n belangrike gebod – dit het ʼn belofte.
Die belofte by hierdie gebod laat ons sien wat die Here se eerste bedoeling met hierdie gebod vir ons lewens is. Christus self, aan wie alle mag in hemel en op aarde gegee is, wil oor ons regeer. Met sy genade en liefde en koningskap. En daarvoor het Hy eerstens vir ons ouers gegee. En ander persone met gesag. Sodat Hy self steeds oor ons kan bly regeer. Dit het die Kategismus baie mooi raakgevat – ek moet selfs met die mense wat my onderrig in die Here geduld hê, want God wil my deur hulle regeer.
Kinders staan in die eerste plek onder die gesag van Christus. Hý wil deur pa en ma en ander gesagsdraers sý gesag oor ons uitoefen. In die vyfde gebod gaan dit nie oor die vraag wie is baas en wie is Klaas nie! Dit gaan oor wie die taak van die Here gekry het om te verseker dat die geloof kinders sal hê. En daarmee saam dus die houding wat ingeneem moet word deur elkeen wat in hierdie geloof verder gehelp word. Oud en jonk. In Efesiërs 1:21 lees ons van Christus wat bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy gaan sit aan die regterhand van die Vader. Hy is as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee (Efesiërs 1:22). Dit moet beskerm word deur die gehoorsaamheid aan die vyfde gebod. Dit is ’n gebod met ’n belofte. Nie alleen vir hierdie wêreld nie, maar ook die toekomstige (1:21).