Bron: Kompas. 6 bladsye.

Salf die siekes met olie: Moet ons dit vandag nog doen?

’n Predikant en ’n ouderling loop deur die gang van ’n stadshospitaal. Die predikant hou ’n Bybel in sy hand, die ouderling dra ’n botteltjie met spesiale olie. Nadat hulle by die ontvangstoonbank seker gemaak het van die regte kamernommer, gaan hulle die saal waar hulle pasiënt lê, binne. Met ’n hoë koors, die gevolg van ’n vreeslike infeksie wat nog steeds nie deur antibiotika gestop kon word nie, lyk dit of die pasiënt bewusteloos is. Met moeite kry hulle dit reg om hom wakker te maak. Vol vertroue vertel hulle die pasiënt dat hulle gekom het om hom in die Naam van die Here gesond te maak. Eers lees hulle uit die Bybel, hulle verhaal hoe Jesus en sy dissipels orals gegaan het, die siekes met olie gesalf het, vir hulle gebid het en hulle so van verskillende siektes genees het. Daarna bid hulle vurig tot die Here vir die pasiënt en salf hom met die spesiale olie wat hulle saam gebring het.

Dit is veronderstel om die pasiënt gesond te maak. Al was die antibiotika en die spesiale mediese sorg, saam met die gebede vir die pasiënt, nie suksesvol nie, sal dit wel werk, beloof hulle. God het so gesê. Lees maar Jakobus 5:13-15:

Is daar onder julle iemand wat ly? Laat hom bid. Is iemand opgeruimd? Laat hom psalmsing. Is daar iemand siek onder julle? Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het. En die gebed van die geloof sal die kranke red, en die Here sal hom oprig. Selfs as hy sonde gedoen het, sal dit hom vergewe word.

Werk dit? Hierdie teks is vandag in charismatiese kringe en in ander kerke die basis vir die salwing van siekes met spesiale olie en die gebed met die doel om hulle gesond te maak. Volgens hulle werk dit! Natuurlik pas dit in met die charismatiese liefde vir spesiale gawes van die Gees, soos geloofsgenesing. Hierdie gedeelte het selfs die bewysteks geword vir geloofsgenesing.

Ons staan afwysend teenoor geloofsgenesing. Maar die teks staan dan in die Bybel! Die Here het dit beveel. Dan moet die kerk mos glo en gehoorsaam? Tog salf ons nie die siekes met olie nie. Hoekom nie? Om dit te verstaan moet ons na die geskiedenis gaan kyk. Eers na die Middeleeue.

Die salwing van siekes of die laaste oliesel🔗

In die Middeleeue het die salwing van siekes met olie ’n sakrament geword, een van die sewe sakramente van die Roomse kerk. In 1493 het pous Eugenius IV van Florence dit as ’n sakrament erken. Dit het ’n kanaal geword waardeur God se genade na die sondaar kom. As hy/sy sondes gedoen het, sal dit vergewe word, soos wat Jakobus gesê het. Hierdie sakrament het uiteindelik net op die salwing gefokus. Dit was belangriker as die gebed uit geloof vir die sieke. Ja, hierdie sakramente het spesiale voordele gehad vir die ernstige siekes, vir die wat sterwend was as gevolg van verskillende siektes. Ons kan hulle terminaalsiek pasiënte noem. Priesters het die botteltjie met spesiale olie in siekekamers ingedra en na slagvelde gebring waar hulle die sterwendes kon vind. Nadat die sterwende met die olie gesalf is, is ’n formuliergebed opgesê.

Vir baie was dit ’n waardevolle sakrament. As ’n kanaal van genade kon hierdie sakrament jou sondes weg was net voordat jy sterf. Hulle het gedink dat dit ’n enorme hulpmiddel is. Jy kan dalk selfs die vlamme van die vaevuur daarmee vryspring! Wanneer enige familielid daarom aan ’n ernstige, terminale siekte gely het, is die priester onmiddellik ingeroep. Ja, hierdie sakrament onderstreep die sisteem van goeie werke wat die Roomse Kerk geleer het. In hierdie sisteem het sakramente opgetree as kanale vir God se genade vir sondaars. Nie die Woord nie, maar die sakramente staan sentraal in dié geloof.

Dit is dan ook geen wonder dat die Kerk van die Reformasie hierdie sakrament afgeskaf het nie. Geloof vind sy sekerheid in die beloftes van God. Daar is slegs een anker vir die lewendes en die sterwendes. Daar is net een troos in lewe en in sterwe. Jesus Christus wat gekruisig is, maar opgestaan het uit die dood! Vir die hervormers het hierdie salwingsolie, hierdie “laaste oliesel”, in die pad gestaan vir ’n persoonlike geloof in ons Here Jesus Christus. In plaas daarvan om in geloof op die kruis van Jesus te fokus, vestig die sieke sy of haar hoop op die priester met ’n botteltjie olie. Bygeloof! Verder staan daar in die teks in Jakobus:

“En die gebed van die geloof sal die kranke red, en die Here sal hom oprig.

Met ander woorde, hierdie teks is glad nie van toepassing op die sterwendes nie. Dit is van toepassing op ernstige siek pasiënte, wat deur die kragtige seën van die Here weer gesond word. Hierdie teks pas dus nie by hierdie “ekstra” sakrament nie.

Maar is hierdie veroordeling van die laaste rituele as bygeloof ’n oorreaksie? Gooi ons nie die kind saam met die badwater uit nie? Kan die salwing met olie in die Naam van die Here, saam met die gebed in geloof, nie die geloof versterk en selfs ’n siek gelowige weer gesond maak nie? Om hierdie woorde van Jakobus te verstaan, moet ons nog verder terug gaan in die verlede, heeltemal terug na die bediening van Jesus.

Die gebruik van olie in Jakobus se tyd🔗

Die gebruik van olie in Jakobus se tyd het verskil.1 Jy kon jouself met olie verfris. In daardie warm, droë Mediterreense klimaat het die son en die sand die vel gebak. Soms het olyfolie die vel verfris. Dit neem die brand weg. Dit was ook normaal om jouself met geparfumeerde olie te salf nadat jy ’n bad geneem het. Olie is ook gebruik op vreugdevolle geleenthede, soos byvoorbeeld maaltye of huwelike. ’n Gasheer het dikwels seker gemaak dat sy gaste geparfumeerde olie gekry het om hulleself mee te verkwik (Lukas 7:46).

Ons wil egter kyk na die medisinale gebruik van olie. Jakobus praat hier mos van ’n gelowige wat siek is. Medisyne, wat in ’n basis van olyfolie gemaak is, was gebruiklik. Neem die voorbeeld van die man in Jesus se gelykenis, die man wat van Jerusalem na Jerigo trek, die een wat deur rowers beroof, geslaan en as dood laat lê word. Die barmhartige Samaritaan het tog olie (met wyn) op die man se wonde gegooi? Dit sou help om die wonde te laat genees. Olie, gemaak van verskillende bronne (olywe, sesamsaad, laventel, ens.) is dikwels die basis van baie medisyne, selfs vandag nog. Ons gebruik vandag nog bloekomolie, teeboomolie, lewertraan of laventelolie.

Daar was ook ’n spesiale gebruik in die tabernakel/tempel waar olie dikwels saam met die spysoffers gevoeg is (Levitikus 2:1), of waar ’n spesiale salfolie heilige voorwerpe gewy het (soos die meubels in die tempel) en ook priesters ingeseën is (Eksodus 29:7,21). Een gebruik verdien om genoem te word. In Levitikus 14 word beskryf hoe ’n melaatse gereinig is. Saam met ’n paar rituele en offers, het die priester ’n log olie geneem en dit voor die aangesig van die Here gesprinkel. Dan moes die priester ’n bietjie olie op die regteroor van die geneesde melaatse smeer, asook op die duim van sy regterhand en op die groottoon van sy regtervoet. Die res van die olie is oor die hoof van die geneesde gegooi. Hierdie seremonie toon reiniging aan. Sosiaal en religieus uitgestoot as onrein, staan die geneesde melaatse nou gereinig, gereed om weer onder sy volk en in God se huis in te gaan. Ek noem dit, omdat baie verklaarders, ook gereformeerdes, Jakobus se bevel om olie by pasiënte te gebruik, opneem op ’n medisinale manier. Ek haal een van my vroeëre onderwysers aan:

Jakobus het geen towery oorweeg toe hy die gebruik van olie genoem het nie. Hy het ook nie verwys na die Rooms-Katolieke gebruik van die laaste oliesel nie. Hy het trouens nie eers geskryf oor seremoniële salwing nie. Die Griekse woord “salwing” (‘aleipho’), wat Jakobus hier gebruik, beteken nie seremoniële salwing nie. Die normale woord vir seremoniële salwing was ‘chrio’ (ons vind dit ook in die naam ‘Christus’ – die Gesalfde). Die woord wat Jakobus gebruik (‘aleipho’) beteken gewoonlik ‘om te vryf” of ‘aanwend’. Die woord ‘aleipho’ word gebruik om die persoonlike aanwending van salwe, rome en parfuums, wat normaalweg ’n oliebasis gehad het, te beskryf. Dit blyk dus dat dit wat Jakobus vereis die gebruik van die beste medisyne van die tyd is. Jakobus het eenvoudig gesê om olie (wat dikwels gebruik is as basis vir verskillende medisinale kruie) op die liggaam te smeer en te bid. Wat Jakobus hier voorstaan is die gebruik van geseënde en toegewyde medisyne. In hierdie gedeelte spoor hy aan om die siekes met medisyne te behandel saam met gebed. Die twee dinge moet gelyktydig gebruik word, die een sluit die ander nie uit nie. So, in plaas daarvan om geloofsgenesing te leer in plaas van die gebruik van medisyne, leer hierdie teks ons juis die teenoorgestelde. Maar wanneer ons dan medisyne gebruik moet dit saam met gebed gebruik word. Dit is hoekom Jakobus sê dat die gebed van die gelowige die siekes genees.2

So ’n verklaring vermy die charismatiese obsessie met die spesiale gawes van die Gees, soos geloofsgenesing. Dit onderstreep die legitimiteit van medisyne as ’n geskenk van God. Maar dit vra ook gebed en geloof wanneer sulke medisyne gebruik word. Ek gee nog ’n aanhaling van ’n gereformeerde verklaarder:

Persoonlik is ek na die lees van al die tekste oortuig dat die apostel in Jakobus 5 nie verniet die woord ‘aleiphein’ gebruik het nie. Hierdie woord verklaar presies wat ’n dokter doen: smeer olie aan ’n pasiënt. Miskien moet dit op hierdie manier vertaal word. Dit beteken dat Jakobus nie ’n spesiale geestelike betekenis aan die salwing met olie heg nie, maar hy verwys na die normale medisyne en die normale mediese behandelings.3

Bogenoemde is vir ons as gereformeerde gelowiges ’n aanvaarbare antwoord. As iemand ernstig siek is, moet ons die predikant (’n mede-ouderling) en ouderlinge inroep saam met die dokter. ’n Rukkie gelede toe ek uit Jakobus 5:13-15 gepreek het, en klem gelê het op die noodsaak daarvan om die predikant en ouderlinge in te roep, het twee jong pa’s in die kerk flou geval na die einde van die diens. ’n Ywerige suster het haar dadelik na die konsistorie gehaas en die predikant en die ouderlinge ingelig dat die twee manne op die vloer lê. Onmiddellike toepassing! Ek moes eers ’n besoek bring by die hospitaal voordat ek my koffie en koek kon gaan geniet. Inderdaad, kerkleiers behoort ’n wettige plek in die hospitaal te hê, net soveel as dokters! Daar moet respek wees vir hulle. Terwyl hulle by die sieke bid, moet die verpleegsters nie met bedpanne lawaai nie!

Tog bly die vraag of dit die regte verklaring is. Ons kan uiteindelik by dieselfde gevolgtrekking kom, maar ek wonder oor die wettigheid van die woordstudie in dié verklaring. In die volgende artikel meer daaroor.

Jesus se genesende bediening🔗

Die Evangelies verhaal nie net ons Here Jesus se prediking en onderwysende bediening nie. In Matteus 5-7 lees ons byvoorbeeld die Bergrede, waar Jesus met soveel outoriteit geleer en gepreek het dat almal verbaas was. Ons koester hierdie instruksies van ons hoofprofeet en onderwyser.

Maar Jesus het ook gekom met die krag en mag van God die Koning in die hemel. Daarom lees ons ook van tekens, kragte en wonders. Wonders van genesing! Die blindes kon sien; die kreupeles loop; koors verlaat diegene wat siek op hul bedde lê; selfs die dooies het opgestaan om te lewe, tot blydskap en verbasing van almal; bose geeste verlaat die wat hulle besit en oorweldig het. Al hierdie mense het gejubel en God geprys vir die wonders van genesing.

As ons ʼn ou, maar Bybelse gewoonte vir die genesing van siekes wil laat herleef, kan ons met ʼn sekere regverdigheid ondersoek of ons nie die uitdrywing van bose geeste wat die pasiënt met ernstige siektes en geestelike afwykings agterlaat, weer moet instel nie. Onlangs het daar ʼn boek verskyn, weereens in ʼn charismatiese lyn, wat juis hieroor gaan.4

Ons moet egter kyk of die Here hierdie uitsonderlike gawes van die Gees ook buite die bediening van die apostels en die eerste ouderlinge gegee het. Gereformeerde kerke het altyd geleer dat die Nuwe Testamentiese wonders, as tekens van die apostels (2 Korintiërs 12:12) getuig van die egtheid van God se werk en openbaring. Wonders het dus saamgeval met die groot verlossingswerk van Christus. Soos wat die kanon (die Bybel) afgesluit is, het die spesiale gawes van die Gees ook opgehou. Dit beteken nie dat daar vandag nie meer wonders kan gebeur nie, maar dit ontlont wel die idee dat die spesiale gawes van die Gees (1 Korintiërs 12) nog steeds ʼn gereelde kenmerk van die kerk vandag is of dat dit aan kerkleiers gegee word. Vir ons doel is daar een aspek van Jesus se genesende bediening wat baie belangrik is. In Markus 6 stuur Jesus die twaalf uit met die opdrag om te preek en te genees. Hy gee hulle die krag om te genees (Lukas 9:1), selfs die krag oor onreine geeste (Markus 6:7).

Ons lees in Markus 6:13: “en hulle het baie duiwels uitgedryf en baie siekes met olie gesalf en gesond gemaak.

Hierdie teks bring ons terug na Jakobus 5. Want ons lees hier dieselfde – salf die siekes met olie en die pasiënte word gesond. Vergelyk Skrif met Skrif!

Omdat die oes groot was en die arbeiders min, het Jesus nog sewentig uitgestuur met dieselfde bevel (Lukas 10:1-24). Ook hulle word beveel om die evangelie van bekering en geloof te verkondig, omdat die koninkryk van God naby gekom het, asook om die siekes te genees. Hulle het teruggekom, terwyl hulle roem oor die genesende krag van God, wat selfs duiwels kon uitdryf! Dit was dus nie net die twaalf apostels nie, maar ook hierdie sewentig wat die mag en krag van Jesus gekry het.

Terug na Jakobus 5:13-15🔗

Dit is vanselfsprekend hoekom ons Markus 6:13 noem waar die salwing met olie beveel word aan die wat uitgestuur word vir die genesing van siekes. Dieselfde word beveel in Jakobus 5:13-15. Kan ons hierdie identiteit bevestig? Ons glo dit is moontlik.

Eerstens is dit belangrik om daarop te let dat die brief van Jakobus waarskynlik die eerste gepubliseerde boek van die Nuwe Testament was. Dit dateer terug uit die tyd van die apostels en ouderlinge in Jerusalem, nog voor Paulus se eerste sendingreis.5 Dit is dus nog steeds in die apostels se tyd toe die Gees Jesus se wonderlike werk van genesing voortgesit het. Selfs die sewentig, van wie baie waarskynlik spesiale ouderlinge in die groot en groeiende metropolitaanse kerk was, het gedeel in die kragte van genesing.

Na die steniging van Stefanus het die groot kerk in Jerusalem (wat gegroei het van drie- na vyfduisend) uitgesprei as gevolg van die vervolging (Handelinge 8). Vervolging het egter nie die werk van Jesus gestop nie. Groot wonders van genesing het die prediking oor Jesus, wat gekruisig is en opgestaan het uit die dood, aangevul. Baie het geglo. Dit is in hierdie tyd dat Jakobus skryf oor die siek gelowiges tussen hulle, van die twaalf stamme wat verstrooi is (1:1). Laat hulle die ouderlinge van die kerk roep. Dit mag beteken dat hulle ver afstande moes reis om een van die spesiale ouderlinge of een van die apostels te bereik. Byvoorbeeld: wanneer Tabita in Joppe ernstig siek geword het en hulle hoor dat Petrus (ʼn mede-ouderling) daar naby was, het hulle hom ingeroep. Petrus het gekom, alhoewel Tabita alreeds dood was. Hy het neergekniel en gebid. Hy het na die liggaam gedraai en gesê: Tabita, staan op! En sy het! Hierdie wonder het baie mense laat glo in die evangelie. Ons glo dus dat hierdie bevel gekom het in die tyd dat die spesiale gawe van die Gees van Jesus nog steeds in werking was, selfs op die hoogtepunt was! Calvyn dink in dieselfde rigting. Maar wat dan van die woordstudie? Jakobus gebruik die woord ‘aleipho’ (invryf) en nie ‘chrio’ (salf) nie. Is daar so ʼn wye verskil van betekenis tussen die twee? In die Griekse vertaling van die Ou Testament (Septuagint) wat deur die vroeë kerk gebruik is, word ‘aleipho’ soms gebruik vir die seremoniële salwing in ʼn religieuse betekenis. Dit word gebruik in Genesis 31:13 wat praat van die salwing van ʼn pilaar by Bethel; in Eksodus 40:13 vir die salwing van Aäron en in Numeri 3:3 waar die seuns van Aäron, die gesalfde priesters genoem word. Dit is dus nie reg om te sê dat die woord nooit die betekenis dra nie. Dit gebeur selfs in belangrike tekste!

Net so belangrik soos bostaande, is die feit dat in Markus 6:13 waar Jesus dié wat uitgestuur word bevel gee om die siekes met olie te salf en te genees, ook die werkwoord ‘aleipho’ en nie ‘chrio’ gebruik word. As dit daar dus met ʼn heilige handeling verbind word, in die Naam van die Here, dan moet dieselfde geld vir die teks in Jakobus se brief. Want ons lees dat dit ʼn ernstige handeling is wat in die Naam van die Here verrig word. Salwing met olie, as ʼn simboliese handeling, wys dikwels na die krag van die Heilige Gees, soos in die geval waar Saul en Dawid as koning oor Israel gesalf is. Hier in Jakobus 5 simboliseer die olie ook die krag van die Gees van Jesus om te genees. In sy verklaring maak prof. L. Floor die volgende gevolgtrekking:

Sommiges sien in Jakobus 5:13-15 die klassieke bewys vir geloofsgenesing. Vir hulle spreek dit vanself dat Jakobus praat oor die siekes en nie oor die wat ʼn probleem in hulle geloof ervaar nie. Ander, wat sterk vermoed dat Jakobus se woorde oor genesing en gebed verkeerd gebruik word, is geneig om nie aan siek pasiënte te dink nie, maar aan mense wat swak is van gees of van geloof. Verder word die verklaring dat hierdie gedeelte van Jakobus se brief wel praat van genesing na gebed aanvaar, maar beperk tot die eerste periode van Christus se kerk. Die ouderlinge wat deur Jakobus op die voorgrond geplaas word is charismatiese manne wat nie vergelyk kan word met die ouderlinge van vandag nie. Watter verklaring ook al reg is, ʼn verpligte praktyk van geloofsgenesing deur gebed met as uitgangspunt dat “wie nie genees nie, het nie geloof nie” vind hier geen ondersteuning nie.

pp. 185-186

Ons wil liewers meer oortuigend afsluit, naamlik dat hierdie teks inderdaad verwys na die ouderlinge wat charismatiese gawes van genesing van die Here gekry het. Dit is hoekom genesing verseker was in hierdie gevalle.

Moet ons vandag nog steeds die siekes met olie salf? Ek glo nie. Dit was ʼn simboliese seremonie, ʼn verwysing na die krag van Jesus se Gees. Vandag gebruik ons medisyne, konvensioneles of alternatiewes, saam met ʼn leër mediese personeel, insluitende die des-kundiges. Tog is dit Jesus wat al hierdie middele moet seën. Die voortgaande norm is dus om te bid in Jesus se Naam vir genesing, en dit oor te laat in sy hande. Gebed in die konteks is baie belangrik. Terselfdertyd moet ons nie die kerkleiers vergeet nie. Al het hulle nie dieselfde charismatiese gawes van genesing nie, moet hulle nog steeds ingeroep word. Laat hulle bid vir die sieke, en laat hulle die Skrif open om te bemoedig, te troos en te vermaan indien nodig.

Belydenis van sondes🔗

Een aspek verdien nog aandag. Ja, ons het tereg gefokus op die noodsaak vir geloof en vir gebed van die kerkleiers wanneer iemand ernstig siek is. Ons moet glo dat God die siekte kan genees of tot ons beswil kan verander. Ons moet vra, soek en klop soos Jesus ons geleer het.

Maar wat van die ander aspek:

Selfs as hy sonde gedoen het, sal dit hom vergewe word.

Gee ons genoeg aandag hieraan? In Jesus se genesende bediening verwys Hy dikwels na die sondes van die siekes. Hy het nie net mag gehad om te genees nie, maar ook om sondes te vergewe. Dit blyk duidelik uit die genesing van die verlamde man (Markus 2:1-12). Waarom is dit uitgesluit uit die bediening van die apostels en spesiale ouderlinge van Jerusalem? Ook vandag kan verskillende siektes hulle wortels hê in ongebiegde sondes. O ja, die boek Job leer ons dat ons nie kan sê dat alle siektes ʼn gevolg is van spesifieke sondes nie. Dit moet vir ons almal duidelik wees. Jesus het dit duidelik gemaak vir die Jode wat geglo het dat sekere siektes die gevolg is van sekere sondes. Maar dit is ook duidelik dat in sekere gevalle sondes lei na siekte en selfs dood. Dink maar aan wat in Korinte gebeur het (1 Korintiërs 11:30-32).

Daarom het Jakobus, wat ons Here gevolg het, nie aanvaar dat die gelowige gebed van die ouderlinge, saam met die simboliese salwing met olie in God se Naam, voldoende was in alle gevalle nie. As die pasiënt sondes begaan het, dan moet hy bid vir vergifnis in Jesus se Naam. Sonde mag soms die wortel wees van sommige siektes of ʼn bydraende faktor. Predikante en ouderlinge moet altyd hierdie opsie oophou. Dit sou sondige verwaarlosing wees wanneer ʼn ouderling sou bid vir die genesing van ʼn dwelmverslaafde sonder om aandag te gee aan sy verlede en sy sondige verslawing. Sulke sondes moet voor God bely word, sodat Hy dit kan vergewe. Sommige sondes betrek ook ander persone.

Daarom, voeg Jakobus by, “bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die vurige gebed van ʼn regverdige het groot krag”.

Versoening is die uiteindelike doel. Dit bring verligting, verligting van spanning. Dit genees.

Endnotes🔗

  1. ^ The International Standard Bible Encyclopedia, Vol. IV, Eerdmans, Grand Rapids, 1939, 1974, pp. 2181-83, noem die volgende gebruike: 1) as a commodity of exhange, 2) as a cosmetic, 3) as a medicine, 4) as a food (replacement for butter, or for frying, for instance), 5) burning oil for a light, 6) in religious rites as in the OT, usually for anointing the tabernacle and its furnishings as well as the priests. 
  2. ^ P. 107-108 in Competent to Counsel, deur Jay E. Adams, Presbyterian and Reformed Publishing Co., 1970
  3. ^ M.C. Mulder, Ziekenzalving, opnieuw geboden? in Nader Bekeken, 3 Maart 2003, pp. 82-84.
  4. ^ M.J.  Paul  (ed.Geestelijke), Strijd: Demonie en Bevrijding in Christelijke Perspectief, Zoetermeer, 2002 soos geresenseer in Nader Bekeken, 3 Maart 2003 deur AN Hendriks, Naar een dienst van bevrijding?, pp. 85-88. 
  5. ^ Vir meer inligting sien: J van Bruggen, Ambten in de apostolische Kerk, Kok, Kampen, 1984, pp. 86-91 oor die spesiale oudstes in die kerk van Jerusalem, en oor die datering van Jakobus se brief. Dieselfde kan gelees word in L. Floor, Commentaar op het NT (Jakobus), Derde Serie, Kok, Kampen, 1992, pp. 14-17 oor die datering van Jakobus se brief.