Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Sekerheid in Uitverkiesing

Sekerheid in uitverkiesing🔗

Dit moes ’n vreugde vir Paulus, Silas en Timótheüs gewees het! Hulle het in Tessalonika begin preek en sommer dadelik vrugte op hulle werk gesien. Groot vrugte! Sommige Jode, ’n groot menigte van die godsdienstige Grieke en ’n groot aantal van die aansienlikste vroue het tot bekering gekom (Handelinge 17 : 4).

Groot vreugde, maar te­gelyk ook groot verdriet! Hoe bemoedigend die ver­blyf in Tessalonika vir Paulus-hulle ook al was, dit het maar kort geduur.

’n Maand - ses weke dalk. Maar meer tog nie. Soos dit maar altyd gaan, het dit in Tessalonika ook gegaan. Die evangelie van Jesus Christus het groot weerstande opgeroep by ongelowige Jode in stad. Dit het nie net die arrestasie van Paulus se gasheer Jason veroorsaak nie, maar ook die vlug van Paulus en sy metgeselle (Handelinge 17 : 6, 10) na Berea.

As Paulus dan nie weer daardie jong gemeentetjie kan uitkom nie, terwyl daar so baie is wat hy nog aan hulle moet vertel, doen hy maar die tweede beste. Hy skryf aan hulle twee briewe “om te vol­tooi wat aan julle geloof ontbreek” (3 :10).

Die wonderlike🔗

En dan ... die wonder­like! Paulus begin sy eer­ste brief met ’n dankseg­ging aan God oor die uit­verkiesing  van die gelo­wiges in Tessalonika! As jy dit lees, vra jy jouself af: Hoe kan Paulus dit doen? Hoe weet hy dat hulle uitverkies is? Hy het tog maar hoogstens ’n stuk of ses weke daar ge­werk? In ’n gemeentetjie wat hy van die grond af moes opbou? Is dit dan verantwoord om sommer dadelik sulke groot woor­de soos ‘uitverkiesing’ te gaan gebruik?

Paulus steur hom nie aan al hierdie vrae en be­sware nie. Onbekommerd skryf hy sy danksegging neer: “Ons dank God al­tyd oor julle almal omdat ons weet van julle verkiesing, broeders ...” (1 : 2, 4).

Maar dan moet ons ont­hou dat Paulus tussen die eerste en tweede deel van hierdie sin oor nóg iets skrywe. Dit gaan oor vrugte van genade waarin sprake is van groot akti­witeit: die werk van julle geloof, die arbeid van julle liefde en die lydsaamheid van julle hoop op ons Here Jesus Christus. Ons kan in die plek van lydsaamheid baie beter volharding lees. Waarom kan Paulus dus na skaars ses weke se evangelieverkondiging skryf dat die gelowiges in Tessalonika uitverkies is?

Omdat hy die vrugte van uitverkiesing sien: Die vrug van geloof as ant­woord van die mense op die verlossende genade van God. Die vrug van die beide wat altyd daar moet wees omdat geloof as aktiwiteit vermoeiend is, en nie kan standhou as dit nie gedurig deur die liefde on­dersteun word nie. Die vrug van die hoop wat op die wederkoms van ons Here Jesus Christus gerig is. Die geloofs-, liefde- en hoopaktiwiteite is dus vir almal sigbare feite waar­uit die uitverkiesing van die Tessalonicense afgelei kan word.

Die vraag is: Waar het die vrugte vandaan ge­kom? Dit lees ons in vers 5.

Navolgers of napraters🔗

Om sy verkiesing in die vrugte van geloof, liefde en hoop sigbaar te maak, het God Hom van Paulus se prediking bedien. Hy sê self dit het op vier verskil­lende maniere na die Tes­salonicense gekom. Deur die prediking van die Woord. Maar, sê Paulus, nie in woord alleen nie, ook in krag. En met krag word hier die Krag van God bedoel. Dit bewerk wat die evangelie verkon­dig. Dit is redding van mense en bevryding van afgode, sondes en sondemagte. Dit is ook ’n krag wat die mens in staat stel om God te dien.

Paulus skryf ook dat die evangelie na die Tessalo­nicense gekom het in die Heilige Gees. Die Gees wat aan die Woord, aan die prediking van die pre­diker verbind is.

Juis daarom kon die Woord in volle versekerd­heid na die Tessalonicense kom. Dit was immers die Woord wat deur die Heili­ge Gees versterk is, en wat gebring is deur predi­kers wat deur dieselfde Gees toegerus is. Daar kan geen twyfel wees nie! Paulus en sy metgeselle het gekom met ’n bood­skap wat werklik krag ge­had het en werklik seker­heid gebring het. Wat is nou die gevolge, die uit­werking van so ’n bood­skap?

Die Tessalonicense het navolgers van Paulus ge­word. Nie na-apers of na-praters nie, maar navol­gers. Hulle het hulle le­wenswyse verander vol­gens die voorbeeld van Paulus en sy helpers wat die evangelie aan hulle verkondig het. Hulle het hulle van die afgode tot God bekeer met die be­reidwilligheid om Hom te dien (vers 9), wat die doel van egte bekering is. Hulle het ook die triomferende Christus met sy van sonde vrysprekende mag uit die hemele verwag (vers 10). In al daardie dinge was hulle navolgers van Pau­lus, maar ook van die Here. Die feit dat hulle die evangelie in baie verdruk­king ontvang het en nog­tans staande gebly het in die geloof, was nie net ’n teken van God se werk nie, maar tegelyk ook die be­wys dat die Tessalonicen­se God se uitverkorenes was.

Hulle het van navolgers voorbeelde geword. Van hulle af het die Woord van die Here ook op ander plekke weerklink soos in Macedónië en Acháje.

Wat ’n pragtige Skrifge­deelte is dit. En ... van­dag nog net so waar as toe Paulus in Tessalonika was.

Voorbeelde vir ander🔗

God laat sy Woord nog altyd oor die wêreld gaan - in krag, in die Heilige Gees en in volle ver-      se­kerdheid. Die verkondi­ging van die Woord laat nog altyd vrugte van ge­loof, liefde en hoop ont­staan. So laat die Woord steeds dié blye sekerheid van hulle uitverkiesing in sondige menseharte groei. Dit maak van hulle navol­gers van ons Here Jesus Christus en voorbeelde vir ander.