Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Selfs Diere Dien die Koninkryk

Diere

God se beskikking oor gebeure in die lewe vorm lank reeds deel van die geloofsbelydenis van die Christen. Dink maar aan die uitspraak van die Kategismus (V/A 27) dat alle dinge nie by toeval nie maar uit sy vaderlike hand ons toekom. Daar was wel nog altyd mense wat dit, in meerdere of mindere mate, betwyfel het.

Deesdae word steeds meer besware gelug. Hieroor word soms gou gesê: God het wel met die groot en omvattende gebeure te doen, maar klein dingetjies in die lewens van gewone mense val eintlik buite sy bestek. Dit is natuurlik radikaal in stryd met die Bybelse getuienis, soos dat God bekend is met die getal hare op 'n mens se kop — en dit word as versekering gegee waarom mense nie moet bang wees nie!

Noukeurige lees van die Skrif en die deurdink daarvan vestig soms op verrassende wyse die aandag op bepaalde punte — en beklemtoon so weer die ou waarhede van die Belydenis. Kyk maar net mooi watter rol selfs diere in die openbaring vervul — en hoe dit blyk dat God selfs diere in sy plan gebruik, soms teen hulle aard in.

Die volk Israel het in Samuel se tyd grootliks teen die Here gesondig. Dink maar aan die seuns van Eli en die feit dat hulle die ark as 'n wapen in die stryd teen die Filistyne wou probeer gebruik. Hierdie ark was tog bedoel as aanduiding van die teenwoordigheid van die Here onder sy volk — soos wat die profeet later teken dat die magtige teenwoordigheid van die Here vóór die ballingskap uit die tempel en Jerusalem weggegaan het (Eseg. 10 en 11).

Dat die Here nie met Hom laat speel nie, is duidelik bewys deur die gevolg van die indra van die ark in Filistea. Let veral hierop:

  1. Die afgod Dagon val om en verloor selfs sy kop én sy hande, terwyl selfs die Filistyne erken dat die hand van God hulle tref (1 Sam. 5:6, 9, 11; 6:3) ... Allerlei siektes en dalk 'n muisplaag (1 Sam. 6:4) het hulle daar oorval, sodat hulle 'n plan moes maak om die ark uit Filistynse gebied te kry. Dis juis hierby wat die besondere rol van diere 'n beslissende faktor is.

    Die plan van die geraadpleegde priesters en waarsêers (hulle godsdienstige voorgangers) was om die natuur van koeie te gebruik as 'n aanwysing of hulle met die mag of hand van God te doen het. Koeie is as trekdiere voor die wa-met-die-ark ingespan en hulle kalwers in die kraal gehok — as toets om te kyk: gaan hulle na hulle kalwers omdraai of gaan hulle teen alle gewone verloop van sake in na Israel se gebied met die ark aanstryk? Die koeie het toe "onder protes" (bulk-bulk) weggestap.

    So sien die Filistyne dat God se hand hulle getref het. Opmerklik dat dit lyk asof die ark die "drywer" was en dat dit vir die heidene duidelik was dat die verloop nie toevallig was nie. Ewe onbewus het hulle dus 'n geleentheid geskep dat die Here se leiding blyk én erken word — en dat diere 'n belangrike rol in koninkrykswerk vervul.

    Nie lank na hierdie gebeure nie is daar nog 'n geleentheid waarby diere in die openbaringsweg gebruik word. Dit vind plaas met Israel se aandrang op 'n koning soos wat die ander nasies het — en wat in bepaalde opsigte 'n ontkenning van die koningskap van die Here oor sy volk Israel was.

    Hierdie man wat die Here vir sy volk aanwys, moet op 'n bepaalde maar onopvallende manier by die profeet Samuel in 'n ander deel van die land gebring word. En wat gebeur dan?

donkie

  1. Die ryk man Kis, uit die stam van Benjamin, se donkies raak op 'n keer sommer weg. Daarop stuur hy sy seun Saul en 'n slaaf om hulle te probeer opspoor. (Dalk is hierdie wegloop en soekraak van die donkies ook nog teen hulle natuur in!) Dit loop uit op 'n lang tog en dan wil Saul terug sodat Kis nie oor die mense bekommerd raak nie. Maar die slaaf reken hulle moet na die man van God (Samuel) wat hulle dalk kan help om die verlore donkies te kry.

    Intussen het die Here al 'n dag voor hulle koms die siener Samuel ingelig van 'n man uit Benjamin wat hom gaan opsoek. So bring verdwaal-donkies en 'n vroom slaaf vir Saul by Samuel om hom te kan salf as die koning wat die volk gevra het.

Laat dit duidelik wees: Niks is vir die grote God te klein of te onbelangrik — of te oorweldigend — nie. Soos Augustinus bely het: God sorg so vir elkeen van ons asof Hy vir hom alleen sorg. God het sy troon bokant die hemelkoepel. Hy word nie moeg nie, en sy insig is ondeurgrondelik (Jes. 40).