Bron: Kompas, 2010. 3 bladsye.

Sendingsgeskiedenis in Suid-Afrika

Die VGKSA is intensief betrokke by sendingwerk, maar gelukkig is dit nie hulle wat met sending in Suid-Afrika begin het nie. Suid-Afrika het ʼn ryk sendingsgeskiedenis, waarsonder die land nie sou gelyk het soos dit vandag lyk nie. In hierdie artikel gee ek in voëlvlug ʼn oorsig van drie en ʼn half eeu sending aan die suidpunt van Afrika.

Wat is Sending?🔗

Voor ʼn mens iets oor die geskiedenis van die sending in Suid-Afrika kan skryf, moet ʼn mens natuurlik weet wat sending is. Sendingwerk is op die bevel van die Here Jesus Christus gebaseer, wat ons byvoorbeeld in Matteus 28:18 lees: Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.

Die doel van sendingwerk kan in drie aspekte saamgevat word:

  • Bekering van die heidene (ongelowiges)
  • Planting van kerke
  • Verheerliking van God oor die hele aarde

Begin van Sending in Suid-Afrika🔗

Vir sover ons weet, het die Bybel die eerste keer in 1652 na Suid-Afrika gekom om te bly. Dit was toe Jan van Riebeeck in opdrag van die VOC voet aan wal gesit het in die Kaap. Dit wil egter nie sê dat sendingwerk toe begin het nie. Die VOC (Vereenigde Oostindische Compagnie) was die eerste Westerse Multi-National en hul grootste belang was besigheid en om geld te verdien. Hulle was nie geïnteresseerd in die redding van heidene in Afrika nie.

Daar is ʼn Nederlandssprekende gereformeerde kerk in die Kaap gestig om te voorsien in die geestelike behoeftes van die Europese koloniste. Sommige swartmense (Khoi-San) het in kontak gekom met die Bybel en die kerk deurdat hulle geleer is om te lees met behulp van die Bybel. Die eerste doel was egter nie hul bekering nie, maar hul beskawing, sodat hulle van diens kon wees met verskillende take in die kolonie. Verder was daar geen georganiseerde uitreiking na die swartmense met die Evangelie nie. Dit in teenstelling met die Nederlandse kolonie in Batavia, Oos-Indië (die huidige Indonesië), waar die Gereformeerde Kerke uit Nederland wel georganiseerde sendingwerk verrig het.

Die werklike begin van sendingwerk in Suid-Afrika dateer eers uit 1737 toe George Schmidt van die Morawiese Sendingsgenootskap uit Duitsland in die Kaap aangekom het.

In die agtiende eeu het daar oral in Europa sendingsgenootskappe ontstaan. Dit was in reaksie op die tydsgees van die Verligting of Rasionalisme, wat ʼn lewende geloof in die God van die Woord vervang het met vertroue op die mens en sy verstandelike vermoëns. Hierdie tydsgees het ʼn negatiewe invloed op die kerke in Europa gehad, met die gevolg dat daar by baie geen belangstelling was om die sendingsbevel van die Here Jesus daadwerklik op te volg nie. In die sendingsgenootskappe is veral klem gelê op die noodsaak van ʼn lewende persoonlike geloof en die bekering van heidene wat andersins op pad hel toe was.

Toe George Schmidt in die Kaap aankom, het hy ʼn sendingstasie in die Baviaanskloof gestig. Dit het later die naam Genadendal ontvang, en is ongeveer 80 km oos van Stellenbosch geleë. In daardie dae was dit ʼn wa-reis van omtrent drie dae.

George Schmidt is egter nie met ope arms in die Kaap ontvang nie. Hy was naamlik nie in diens van die Gereformeerde Kerk nie, en die VOC wou nie verskillende kerklike groeperings aan die Kaap hê nie. Ook was daar baie koloniste wat geglo het dit was ʼn onbegonne taak om die ‘Hottentotte’ te bekeer. Desnieteenstaande het hy met die werk begin, en hoewel die werk swaar was, het die Here in daardie eerste jare wel bekeerlinge geskenk.

George Schmidt is egter al hoe meer deur die twee bestaande kerke in Kaapstad en Stellenbosch teengewerk, veral toe bekend geword het dat hy die doop aan bekeerlinge bedien. Dit het daartoe gelei dat hy versoek is om die Kaap te verlaat. In 1744 is hy op ʼn skip terug Holland toe en het hy die res van sy lewe in Duitsland deurgebring.

Die eerste sewe jare sendingwerk was egter nie sonder vrug nie. Een van die eerste bekeerlinge was ʼn vrou vir wie George Schmidt by haar doop die naam Magdalena gegee het. Sy het ná Schmidt se vertrek vir die mense uit die Bybel, wat hy vir haar gegee het, bly voorlees.

Toe die sendingwerk na byna 50 jaar in 1793 weer hervat is, het die drie nuwe sendelinge Magdalena nog steeds daar gevind. Sy het intussen oud en blind geword, maar het nog steeds haar Bybel gehad, en haar dogters vir wie sy leer lees het, kon daaruit voorlees.

Die Groot Sendingseeu🔗

Die feit dat die sendingwerk hervat kon word, was te danke aan ʼn verandering in regeringsbeleid aan die Kaap. Voortaan is meerdere kerkgenootskappe in die Kaap toegelaat. Dit het ʼn geweldige instroming van sendingsgenootskappe in die 19de eeu tot gevolg gehad. So kon die Morawiese sendingsgenootskap sy werk in die Wes- en Oos-Kaap voortsit en uitbrei. Maar ook ander het gekom, soos die Rynse Sendingsgenootskap uit Duitsland, die Noorse Sendingsgenootskap uit Noorweë, die Paryse Sendingsgenootskap uit Frankryk, die Londense Sendingsgenootskap uit Brittanje, en so nog vele ander uit lande soos Nederland, Skotland, Denemarke, Swede, Switserland, Ierland, Amerika, ensovoorts. Die 19de eeu staan bekend as die Groot Sendingseeu. Sendingstasies is gestig, aanvanklik in die Kaap, maar dit het al hoe verder Noord en Oos uitgebrei. Voordat daar goud en diamante ontdek is in die helfte van die 19de eeu, was sendelinge waarskynlik die grootste groep Europeërs wat hul in donker Afrika kom vestig het. Daar was meer as 200 sendingstasies regoor die land. Sommige het uitgegroei tot groot nedersettings, soos Genadendal, wat aan die begin van die 19de eeu ná Kaapstad die tweede grootste dorp in die land was. Ander sendingstasies het op ʼn mislukking uitgeloop. So was die bekende trekkerdominee Erasmus Smit ʼn geskorste sendeling van die Londense Sendingsgenootskap. Hy het ʼn sendingstasie probeer oprig op die plaas Kookfontein (waar nou die Karoo Nasionale Park geleë is), maar dit het platgeval.

Behalwe vir die buitelandse sendingsgenootskappe is daar ook ʼn Suid-Afrikaanse Sendelingsgenootskap gestig, hoewel sy aktiwiteite maar klein was vergeleke met die res. Wel het daar in die loop van die jare meer samewerking gekom tussen die sendingsgenootskappe en van die plaaslike kerke. ʼn Mens sien ook dat swart bekeerlinge aanvanklik in die Gereformeerde gemeentes opgeneem is, maar in die loop van die 19de eeu het die gewoonte van aparte kerke vir blank en swart begin ontstaan.

Invloed van die Sendingstasies🔗

Die invloed van die sendingstasies was geweldig groot op Suid-Afrika se geskiedenis. Baie swartmense het tot bekering gekom, kerke is gestig, en die lig van die Evangelie het op baie plekke aan die donker suidpunt van Afrika begin skyn. Verder het die sendingstasies ook vir baie swartmense skoling en geletterdheid en ambagte bygebring. Dit het soms jaloersheid tot gevolg gehad by die omliggende (Vryburger) boere, wie se kinders ongeskoold was. Deur die jare was daar dikwels wrywing tussen die boere en die sendingstasies. Sendelinge het die boere opgeroep om hul slawe of arbeiders goed te behandel, en byvoorbeeld nie in wynrantsoene uit te betaal nie. Boere het die sendelinge egter beskuldig dat hulle hul arbeiders ‘steel’. Veral na die afskaffing van slawerny in die 19de eeu het baie slawe wat op die plase woonagtig was, verkies om op die sendingstasies te gaan woon. Tog was daar ook baie voorbeelde van positiewe samewerking, waar omliggende boere die Sondagse eredienste op sendingstasies besoek het, asook hul kinders na die skool aldaar gestuur het. Die sendingstasies het ook baie buite-egtelike kinders opgevang, wat die boere by hul slawe/arbeiders verwek het.

Bybelvertaling🔗

ʼn Groot taak vir die sendelinge was ook om die Bybel in die verskillende tale van die swartmense te vertaal. So is die Bybel in 1883 die eerste keer volledig in Zoeloe vertaal. Die eerste Noord-Sotho-vertaling van die Bybel is in 1904 voltooi te Botshabelo (tussen Middelburg en Groblersdal) deur die Berlynse Sendingsgenootskap. Die meeste swart volke in Suid-Afrika het dus al die Bybel in hul eie taal gehad voordat dit in 1933 deur Totius in Afrikaans vertaal is.

In die 20ste eeu het die Eerste en Tweede Wêreldoorloë ʼn groot invloed op die sendingstasies gehad, in die sin dat baie fondse tot dan uit Europa gekom het. Na die wêreldoorloë was die Europese lande egter te arm om daarmee voort te gaan. Mede hierdeur asook vanweë die verstedeliking in die tweede helfte van die 20ste eeu het die invloed van die sendingstasies drasties afgeneem.

Sending en Owerheid🔗

Deur die eeue was die verhouding tussen die sendingwerk en die owerheid nie altyd rooskleurig nie. In die 17de en 18de eeu is die sending as ʼn destabiliserende faktor beskou. In die 19de eeu was die Britse owerheid positief teenoor die sendingstasies, gesien die groot bydrae wat hulle gelewer het tot die ontwikkeling van die swart bevolking. Die sending-stasies het self ook voordeel getrek van die wet en orde en stabiliteit wat die koloniale owerhede aan die suidpunt van Afrika gebring het. Tog het die owerheid ook heeltyd probeer inmeng in sendingsake, byvoorbeeld met betrekking tot grondkwessies. Dieselfde kan gesê word oor die regerings in die Vrystaat en die ZAR. In die 20ste eeu het die apartheidsregering sedert 1948 ook die sendingwerk probeer reguleer. Net kerke wat van staatsweë erken is, is voortaan toegelaat om in die (beplande) tuislande sending te dryf en so die tuislandbeleid te ondersteun – soos byvoorbeeld die drie susterkerke. Ander kerkgenootskappe mog net in die townships evangeliseer, wat as tydelike onderkome vir die swartmense beskou is. Die geskiedenis het egter so verloop dat baie dele van die platteland ontvolk het en die townships al hoe groter geword het.

Wat Staan ons te Doen?🔗

Ook vandag is voortgaande sendingwerk in Suid-Afrika onontbeerlik. Hoewel 75% van die bevolking hulself as Christelik beskou, is dit by die meeste baie oppervlakkig en dikwels nog vermeng met die heidendom. Verder lyk dit of daar in die nuwe Suid-Afrika ʼn sterk terugkoms is van die ou heidense tradisionele Afrika-godsdienste. Ook vir die 21ste eeu geld Christus se sendingsopdrag om ongelowiges na geloof en bekering te lei, om kerke te plant, en om God te verheerlik in hierdie land.