Bron: Kompas, 2007. 5 bladsye.

Sendingsmetodiek: Die Volwasse Man as 'n Visie en Strategie

Inleiding🔗

Sending, soos ons dit vind in die groot opdrag van Matteus 28:19, is die Here se sending van boodskappers met sy evangelie van verlossing vir die nasies. Tog begin alles nie by die groot opdrag nie, want ons bely ten opsigte van die kerk dat die Seun van God uit die hele menslike geslag vir Hom ʼn gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is … van die begin van die wêreld af tot die einde toe vergader… (HK So. 21, vr. en antw. 54). Sending loop dus uit op kerkplanting. Die kerk is die draer van die blye evangelie en die opdrag om dissipels te maak, is nie vryblywend nie, maar die verantwoordelikheid is om almal te laat deel in die gemeenskap van die heiliges (HK So. 21, vr. en antw. 55). Die gemeenskap is dus met Christus, maar elke dissipel is verplig om sy gawes binne die kerk aan te wend.

God se Bedoeling: Die Nasies🔗

God Drie-enig het onder leiding van God die Vader die skepping goed gemaak. Hierdie skepping is egter vervloek as gevolg van die ongehoorsaamheid van Adam en Eva (Genesis 3:17). Tog het God nie die mens so veroordeel dat dit sy onmiddellike dood tot gevolg gehad het nie. Daar was nog steeds die opdrag van God aan die mens: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde” (Genesis 1:28). Dit is duidelik vanuit die skeppingsverhaal wat God se bedoeling met die aarde was, naamlik om dit te vul met mense en met nasies. Die Bybel beskryf vir ons hoe God dus handel met mense en met die nasies in die geskiedenis.

Adam en Eva se ongehoorsaamheid het ook meegebring dat God vyandskap gestel het tussen die vrou en haar saad en die slang en sy saad (Genesis 3:15). Hierdie vyandskap tussen die vrou en die slang is ʼn sleutelteks in die Skrif en dit het groot implikasies vir sendingwerk. Hierdie Woord van God rondom die saak van vyandskap raak die geskiedenis van die wêreld (1) waarin God se beloftes en oordele aan die mens en aan die nasies openbaar word en (2) waar God se beloftes oorgaan in sy groot dade van verlossing en van oordeel. Hierdie dade van God in die geskiedenis is derhalwe heilshistories, want dit gaan om die heil van God wat aan mense en aan nasies regoor die wêreld bedien moet word.

Ná Genesis 3:15 fokus die hele Bybel op die uitwerk van die beloftes van God en die Moederbelofte speel in hierdie verband ʼn groot rol. Ons sien hoe God in ʼn toenemende mate sy beloftes laat uitwerk in die geskiedenis, maar die stryd tussen die vrou se saad en die saad van die slang loop regdeur die Skrif. Gaandeweg openbaar God aan ons wie die groot Saad van die vrou is en hoe God sy beloftes deur hierdie Saad laat realiseer. Hierdie Saad is Christus as die Seun van God en in en deur Christus kom die nasies ook tot hulle reg, en wel deur middel van die kerk.

Christus se Opdrag aan Sy Kerk🔗

In Christus toon God die Vader aan ons dat sy beloftes van verlossing en oordeel aan die nasies waar geword het. Maar Christus se koms bied nie net verlossing nie. Christus het ook gekom om sy kerk wat Hy van die begin van die wêreld af vergader het, verder te laat uitbrei onder leiding van sy Woord en Gees.

Wanneer Christus op aarde is, roep Hy mense om Hom te volg: sy dissipels. Hy versamel hulle rondom Hom. Alhoewel baie mense Hom gevolg het, kies Hy twaalf uit as die binnekring met wie Hy baie nou saamwerk. Hierdie twaalf (later elf) word intensief deur Christus toegerus vir hulle dienswerk op aarde. Wanneer Christus die groot opdrag aan sy dissipels gee, sê Hy baie duidelik aan hulle: “… en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” Dit bring ons dus nie net by die saak van dissipelmaking uit nie, maar ook baie duidelik by die opdrag van lering en toerusting. Dit is by hierdie saak van lering en toerusting waarby hierdie artikel wil aansluit.

Die Uitdaging: ʼn Sendingsmetodiek🔗

Die kerk van Christus op aarde staan voor die uitdaging om op lang termyn regoor die aarde gemeentes (kerke) te stig. Hoe gemaak, is die vraag? In hierdie oorsig wil die sendeling enkele riglyne uitstip om genoemde uitdaging aan te spreek.

In die proses om gemeentes daar te stel, word daar voortdurend aan sekere vertrekpunte vasgehou. Die vertrekpunte word geneem vanuit die Bybel as die onfeilbare Woord van God en as die volkome leer van die saligheid. Daarby hou ons ook vas aan die leer soos dit ook in die Belydenisskrifte van die Gereformeerde Kerke uitgedruk word. Verder moet die proses ook ordelik verloop aan die hand van die Kerkorde van elke kerk.

Die Proses van Kerkplanting: Die Opbou van die Liggaam van Christus tot ʼn Volwasse Man🔗

Die apostel Paulus skryf in Efesiërs 4:11-13 soos volg:

En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus, totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ʼn volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus…

Soos ʼn volwasse man ten volle verantwoordelikheid kan en moet aanvaar vir sy eie lewe en ook vir diegene rondom hom (bv. sy gesin en familie), so moet die kerk as volwasse gemeente verantwoordelikheid vir homself en dié wat rondom hom is, kan aanvaar.

Uit hierdie Skrifgedeelte kan daar heelwat riglyne gehaal word vir die proses om gemeentes vir Christus op die been te bring. Die werkswyse (metodiek) is om ʼn visie vir die werk van kerkplanting daar te stel en om ʼn weg te vind (dit word hier die proses genoem) om hierdie visie te verwesenlik. Vervolgens word sekere elemente genoem vir die beplanningsproses en dit word verder uitgewerk en bespreek. Die beplanningsproses word hier die strategiese plan genoem. Om die proses van kerkplanting te rig, word daar dus gekyk na die volgende elemente binne die strategiese plan. Hierdie elemente waarna daar gekyk word, is:

  • die leuse

  • die visie

  • die missie

  • die doelstellings

  • enkele doelwitte

  • doelwitbeplanning (die aksiestappe)

  • en deurlopende evaluering.

Die Proses (vervolg): Die Leuse🔗

Om ʼn proses soos gemeentestigting of kerkplanting te rig, is dit altyd goed om die hele proses kort en kragtig saam te vat in ʼn leuse. Die leuse bevat jou ideaal. Dit dien soos ʼn slagspreuk. Dit is gebaseer op jou vertrekpunte en jou oortuiging. Vir hierdie proses word daar aangesluit by Efesiërs 4:11-13. Die leuse kan dan soos volg geformuleer word:

LEUSE: Groei tot ʼn volwasse man in Christus.

Om op die lang termyn tot kerkplanting te kom, moet daarna gestrewe word om die gemeente te begelei tot geloofsvolwassenheid. ʼn Gemeente wat volwasse is, is ʼn gemeente wat aan sekere norme voldoen, soos die aanvaarding van selfeienaarskap en selfverantwoordelikheid vir die goeie funksionering van die gemeente. Hierdie uitgangspunt is vervat in die leuse. Daar word uitgegaan van die veronderstelling dat, net soos ʼn volwasse man verantwoordelikheid kan aanvaar vir sy lewe, so moet ʼn gemeente van Christus dit ook kan doen. Daarom moet elke lidmaat kan groei tot ʼn volwasse man in Christus.

Die Proses (vervolg): Die Visie🔗

Die proses van gemeentestigting of kerkplanting moet ʼn duidelike visie en missie bevat. Die visie en missie is ʼn duidelike oortuiging, gegrond op die Woord van God, geïnspireer deur die Heilige Gees en bevestig deur medegelowiges. Hierdie oortuiging behels ʼn opdrag en ideaal waartoe die Here gelowiges individueel en as liggaam oproep om sy kerk en koninkryk mee te bou.

Die visie wat uit Efesiërs 4:11-13 geneem word, kan soos volg geformuleer word:

VISIE: Die kerk van Christus op aarde wil die heiliges (gelowiges) toerus vir hulle dienswerk binne die kerk van Christus, sodat almal kan kom tot die eenheid van die ware geloof en van die kennis van die Seun van God en dat hulle as volwasse lidmate kan groei tot die mate van die volle grootte van Christus.

Hierdie visie het as opdrag kerkplanting. Die ideaal is dus om ʼn kerk te plant, maar om dit te doen, moet daar volwasse lidmate wees. Die lidmate moet derhalwe stelselmatig toegerus word vir hulle taak. Hulle moet vanuit die eenheid van die ware geloof diensbaar wees binne die kerk. Daar moet hulle toeneem in geloof en kennis, sodat hulle as volwasse gemeente hul plek in die samelewing kan aanvaar, hulself kan uitleef as getuies teenoor die wêreld en ook hul plek kan volstaan binne hul kerkverband.

Die Proses (vervolg): Die Missie🔗

Die proses moet ook ʼn missie bevat wat nou aansluit by die geformuleerde visie. Die missie omskryf die visie verder en dit moet die duidelike oortuiging asook die opdrag en ideaal waartoe die Here gelowiges individueel en as liggaam oproep om sy kerk en koninkryk mee te bou, bevat.

Die missie wat op Efesiërs 4:11-13 gegrond is, word nou vanuit die tradisionele diensmodi of dienswerk van die kerk soos volg geformuleer:

MISSIE: Die kerk van Christus op aarde wil in sy sendingsroeping onder die leiding van die missionêre bedienaar die gelowiges toerus vanuit die Bybel, die Belydenisskrifte en die Kerkorde, sodat lidmate vir mekaar verantwoordelikheid kan aanvaar op die terrein van volgehoue Woordverkondiging (prediking) binne die gereelde eredienste (liturgie); die kerklike dienswerk vanuit die barmhartigheidsdiens (diakonaat); die geestelike sielsorg en herderlike sorg (pastoraat); die onderrig (lering) en toerusting (didache en kategese); die getuienislewering na buite (sending en evangelisasie); die gemeenskapsbeoefening van die gelowiges (koinonia); die selfeienaarskap deur eie beplanning en bestuur (kubernesis); die strewe na die eenheid met kerke van gemeenskaplike belydenis (ekumene); en die sosiale verantwoordelikheid binne die gemeenskap (sosialisering).

Met die leuse, visie en missie word daar slegs in breë die raamwerk daargestel waarbinne die proses van kerkplanting moet geskied. Dit is slegs wanneer hierdie ideaal in werking gestel word dat probleemstelling en oplossing op mekaar begin inwerk om te kom tot die verwesenliking van die ideaal. Daar word dan beweeg in die rigting van konkretisering. Om jou ideaal te konkretiseer, moet jy jou visie en missie in realistiese doelstellings kan formuleer. Jou doelstellings word nagejaag deur die bereiking van sekere doelwitte. Die doelwitte vra konkrete aksiestappe. Die proses moet deurlopend geëvalueer word om te kyk of die visie nog korrek nagestreef word en of dit nog realisties bereikbaar is.

Vervolgens word daar nou gekyk na die volgende stappe in die proses om die visie en missie ʼn werklikheid te maak.

Die Proses (vervolg): Die Doelstellings🔗

ʼn Doelstelling: dit is breed en algemeen en dit verduidelik God se doel met die kerk. Die daarstelling van elkeen van die diensterreine (diensmodi) van die kerk is doelstellings. Dit is die blywende aktiwiteite van die kerk wat as langtermynprojekte op die agenda van die kerk bly.

DOELSTELLINGS: Die kerk van Christus op aarde wil onder leiding van die missionêre bedienaar homself ten doel stel om saam met die gelowiges stelselmatig vanuit die Bybel, die Belydenisskrifte en die Kerkorde die verskillende diensmodi vir die volledige funksionering van die kerk daar stel.

Hierdie doelstellings is deurslaggewend vir enige gemeente wat volwasse in Christus wil wees. Met uitsondering van enkele diensmodi kan institutuering plaasvind as die wesenlike diensmodi daargestel is. Elkeen van hierdie diensmodi kan ook weer op hul beurt strategies aan die hand van ʼn proses benader word, byvoorbeeld: die gemeente het ʼn visie om te sorg vir goeie prediking.

Die Proses (vervolg): Die Doelwitte en Doelwitbeplanning🔗

ʼn DOELWIT: dit is ʼn konkrete aksie wat ʼn spesifieke aspek van ʼn doelstelling ten uitvoer bring. Dit moet realisties-bereikbaar wees, binne ʼn bepaalde tydskedule begin en voltooi kan word en aandui wie betrokke is. Dit moet meetbaar wees en geëvalueer kan word, met ander woorde dit moet aantoon wat bereik wil word.

DOELWITBEPLANNING behels op sy beurt weer die aksiestappe. Om die doelstellings te bereik, verg beplanning en bepaalde aksiestappe. Dit kan onder andere soos volg daar uitsien:

  • Wie is verantwoordelik?

  • Watter lidmate is betrokke?

  • Waar gaan dit plaasvind?

  • Wanneer begin dit en tot wanneer duur dit?

  • Hoe gaan dit aangebied word?

  • Watter materiaal is nodig en wat is die koste daaraan verbonde?

  • Hoe word die evaluering, verslaggewing en opvolgwerk gedoen?

Hierdie aksiestappe is van toepassing by die hele proses van kerkplanting. Daar moet by elkeen van hierdie doelstellings sekere doelwitte geformuleer word en hierdie doelwitte moet stap vir stap deurgevoer word.

Die Proses (vervolg): Die Deurlopende Evaluering🔗

Die proses van kerkplanting is ʼn deurlopende saak wat gemonitor moet word. Daar moet daarna gestreef word om die doelstellings te verwesenlik. Deurlopende evaluering stuur/rig ook die proses in dié sin dat dit toesien of daar nog op koers gebly word ten opsigte van dit wat die deelnemers aan die proses vir hulself uiteengesit het by die aanvang van die hele saak. Hierdie aspek van die proses kan gesien word in die lig van twee begrippe wat genoem word FASILITERING EN VISIONERING.

Fasilitering: dit is die begeleidingsproses wat die gemeente help om hulle bestaan te verstaan vanuit die Godgegewe roeping vir hulle (die gelowiges) as kerk op aarde. Konkreet beteken dit binne die bestek van hierdie opdrag om die visie deurlopend te begelei en om toe te sien dat alles op koers verloop.

Visionering is daardie aspek van die proses wat daarop gemik is om te verhoed dat die gemeente stagneer in die strewe na die verwesenliking van hulle visie. Dit is waar Moses voortdurend die volk moet herinner aan God se beloftes elke keer as hulle vasval en terugverlang na die vleispotte van Egipte. Visionering help die gemeente om gefokus te bly en om nie mismoedig te word in gevalle van terugslae en teleurstellings nie.

Die proses van kerkplanting is ʼn spanpoging van almal wat by die saak van kerkplanting betrokke is. Die hele proses moet egter nooit as iets op sigself gesien word nie, maar die doel daaragter is die opbou van die liggaam van Christus, dit is die gemeente. Dit gaan dus om die deeglike funksionering van die kerk as ʼn liggaam waarvan Christus die Hoof is.