Bron: Die Kerkblad. 7 bladsye.

Servet en Calvyn (1)

Noudat aanhangers van die “New Age Movement” so openlik hulle geloof in die goddelikheid van die mens propageer, is dit miskien gepas om weer te kyk na die manifestasie van dié geloof. Die bekendste propagandis van dié geloof was stellig Michel Servet, die man wat op 27 Oktober 1553 in Genève op die brandstapel gesterf het.

Miguel Servede is in 1511 in Villa­nueva, ’n dorpie in Spanje, gebore. Op vyfjarige ouderdom word hy ont­man, met die oog op ’n latere loop­baan as sopraan in die pouslike koor. Hy gaan egter na Toulouse, Frankryk, om in die regte te stu­deer. Daarna word hy sekretaris vir die kapelaan van Keiser Karel V, met Basel as vaste woonplek.

In Basel verkondig hy reeds sy onbybelse idees, tot groot ontstel­tenis van die Hervormer Oecolam­padius. Hy skryf daar sy eerste boek oor “die dwaalleer in verband met die Drie-eenheid van God”. Hy kry geen uitgewer vir sy boek nie, totdat ’n uitgewer in Hagenau, naby Straats­burg, dit wel uitgee. Die skrywer gaan vestig hom hierna in Straats­burg waar hy almal tot sy sienswyse wil bekeer. Hy val die hervormers aan oor hulle “valse leer”, en Mar­tin Bucer vra hom om die stad te verlaat.

Servet gaan terug na Basel, maar die stadsowerheid van daardie Protestantse stad eis dat hy die idees in sy boek weerlê, aangesien daar geen Bybelse grond vir so ’n leer bestaan nie. Hy skryf toe ’n nuwe boek, waarin hy die dinge in eerste boek terugtrek op grond daarvan dat dit nog onontwikkelde idees was, wat nog verder uitgebrei behoort te word. In wese dus geen weerlegging van die idees nie.

“Migael die aartsengel”🔗

Teen dié tyd het die Inkwisisie deeg­lik bewus geword van Servet se boeke, en sy arres is beveel. Hy vlug na Parys, waar hy ’n pos as dosent in wiskunde kry, onder die naam Michel de Villeneuve. Hy skryf ook in as student in die medisyne. Hy kan hom egter nie weerhou om met sy idees te spog nie. Hy was vas oortuig daarvan dat hy as Migael die aartsengel na die aarde gekom het, om die Kerk te hervorm. Mees­te studente het waarskynlik besef wie De Villeneuve werklik is, maar niemand het hom by die owerheid gaan aangee nie. Calvyn, wat toe reeds uit Parys moes vlug as gevolg van sy vermeende aandeel in die rektor Nicolas Cop se intreerede, het sy lewe gewaag om ’n afspraak met Servet na te kom om hom, soos Calvyn gestel het, vir Jesus Christus te wen. Servet het egter nie opge­daag nie.

Van Parys af verhuis Servet na Lyon. Hy skryf nou ’n boek oor die gebruik van mediese stroop, en hou hom ook besig met die Latynse ver­taling van Ptolemaeus se werk oor sterrekunde. Hy skryf selfs ook ’n boek oor die astrologie, wat deur die Mediese Fakulteit van Parys verbied word. Nou kry hy ’n pos as lyf­arts vir die aartsbiskop van Vienne, suid van Lyon. Hier werk hy aan die uitgawe van ’n Latynse Bybel.

Die aartsbiskop was ’n geswore vyand van Luther en die Refor­masie, maar dit het nie verhinder dat die werk van die hervormers Vienne bereik nie. Die hele Europa het van Calvyn geweet, ook dat hy in Genève as predikant gewerk het. Calvyn se Institusie was toe lankal verbied. Reeds in 1542 is eksemplare daarvan saam met Bybels en ander Protestantse leesstof in Parys ver­brand.

Die aartsbiskop het egter nie geweet dat sy lyfarts in korrespondensie begin tree het met die gehate predikante van Genève nie, en ook nie dat hy besig was om ’n derde boek oor die geloof te skryf nie. Na aanleiding van dié boek stel Servet vrae aan Calvyn en sy kollegas, Abel Poupin en Pierre Viret. Hy stuur sy briewe aan hulle deur die bemiddeling van ’n boekhandelaar in Lyon, ene Jean Frellon.

Korrespondensie tussen Servet en Calvyn🔗

Die vrae waarop Servet antwoorde verlang, is:

  1. Indien die gekruisigde Jesus wel die Seun van God was, watter soort Vader-Seunverhouding was dit?
  2. Is die koninkryk van God in die mens? Wanneer begin dit en wanneer is ’n mens wedergebore?
  3. Word geloof ook vir die doop vereis, soos vir die nagmaal, en waarom is die doop by die Nuwe Verbond betrek?

Calvyn het teruggeskryf en sy vrae beantwoord. Servet skryf weer en sê dat hy nie Calvyn se antwoorde aanvaar nie. Calvyn beantwoord dit breedvoeriger, en stuur ook ’n eksemplaar van sy Institusie aan Servet. Dié keer kom die Institusie terug, vol bekrap met Servet se eie vertolkings. Hy skryf ’n baie bele­digende brief aan Calvyn: “Ek het jou al dikwels gesê dat daardie wan­gedrog van ’n drietal wat jy beweer in God teenwoordig is, nie uit die Bybel bewys kan word nie. Jou bespotlike kennis is te wyte aan magiese betowering, en jou verde­diging daarvan is leuenagtig.”

Poupin kry dieselfde tipe brief. Calvyn skryf hierna aan Frellon en vra hom om nie weer briewe van ’n ‘sekere persoon’ aan hom te stuur nie.

Ontleen aan Griekse mite🔗

Servet soek nou ’n uitgewer vir sy boek, maar niemand wil met ’n tang daaraan vat nie. Dit bevat uitlatings soos dat die Christelike leer van die begin af vervals is - eers deur die kerkvaders, toe deur die Roomse Kerk, en nou deur die hervormers. In die boek sê hy dat die kosmos goddelik is. Die goddelikheid van die kosmos is ook in Jesus Christus. Alle dinge het ’n goddelike kern. Alle skepsels bevat ‘uitvloeiings’ van die goddelikheid. Hy beweer dat die Godheid in die duiwel inwoon; ja, dat die Godheid selfs in hout en klip teenwoordig is.

Hy verwerp die leer van die Drie­-eenheid, die erfsonde en die kinder­doop. Die leer van die Drie-eenheid is volgens hom ontleen aan die Griekse mite van die driekoppige hond Kerberos, en dit is ’n verderf­like filosofie. Die titel van sy boek is: “Die restitusie van die Christelike leer”. Hy het ook vir Calvyn ’n paar blaaie van die manuskrip gestuur.

Servet en Calvyn (II)🔗

Servet in die tronk🔗

In die tyd dat Servet ’n drukker vir, sy nuwe godslasterlike boek soek, vlug daar twee mans uit Genève, om straf op onsedelikheid te ontkom. Een van hulle is ’n drukker van be­roep. Hulle vestig hulle in Vienne (Frankryk), reg in Servet se kraal. Hy koop hulle om om sy boek uit te gee. Later bring ’n kolporteur van die boeke na Genève. Die owerheid beveel dat alle eksemplare ver­brand word.

Guillaume de Trie, ’n Franse edel­man wat met die dogter van Guil­laume Budé, Frans I se bibliotekaris getroud is, bevind hom ook in Genève as geloofsvlugteling. Hy het ’n neef in Vienne, ’n Rooms-Katoliek. De Trie stuur dadelik vir sy neef, ene Arneys, blaaie uit Servet se boek, met die verwyt dat die Room­se Kerk regsinnige Protestante ver­volg, maar sulke godslasteraars soos die skrywer van dié boek, in die boesem van die Kerk vertroetel.

Arneys aanvaar nie De Trie se be­wering nie. Hy eis bewys dat dit Ser­vet is wat die boek geskrywe het. De Trie het geen ander bewys nie as Servet se korrespondensie met die predikante van Genève. Calvyn wil nie die briewe prysgee nie, omdat hy soos hy sê geen handel met die sa­telliete van die  Pous wil voer nie. Buitendien het God hom die pen ge­gee om die stryd mee te stry, en nie die swaard nie.

Volgens De Trie het hy hom in ’n netelige posisie bevind; hy het iemand van ’n ernstige misdryf be­skuldig, waarvoor hy geen bewys kon vind nie. Sy eer was op die spel, het hy gesê. Hy laat Calvyn nie met rus nie, totdat Calvyn hom Servet se briewe laat kry, ’n daad waarvoor Calvyn nog steeds in die beskuldig­debank staan.

Servet in hegtenis geneem🔗

Die gevolg van Arneys se openba­ring, op grond van De Trie se be­wyse, was dat Servet deur die In­kwisisie in hegtenis geneem is. Ser­vet sweer op die Bybel dat sy naam Michel de Villeneuve is, dat hy ’n mediese arts is wat uit Navarre stam, destyds nog ’n onafhanklike vorstedom. Hy swyg oor sy vorige beroep wat hom deur Basel en Straatsburg geneem het asook oor die boeke wat hy geskrywe het, waarvoor die Inkwisisie hom reeds 22 jaar lank soek.

Toe hy die briewe getoon word wat hy aan Calvyn geskryf het, sê hy hy is nie seker of hy hulle ge­skrywe het nie. Maar indien dit wel hy was, en hy het iets gesê wat nie korrek is nie, sal hy hom by die uit­spraak van die heilige Moederkerk neerlê. Die volgende dag begin Ser­vet onder kruisverhoor te huil. Hy sal nou die waarheid vertel, kondig hy aan.

Dié briewe is ’n kwarteeu gelede geskrywe, sê hy. Hy het hom des­tyds in Duitsland bevind, en hy het toe ’n boek gelees wat deur ’n Span­jaard geskryf is, ene Servetus. Hy weet nie waarvandaan in Spanje die man gekom het nie, of waar hy hom in Duitsland bevind het nie. Hy het die boek nogal goed gevind, maar dit was omdat hy nog baie jonk was. Nogtans het hy besluit om aan Cal­vyn te skrywe en hom sekere vrae te stel, na aanleiding van die boek. Hy het onder die naam Servetus ge­skrywe, hoewel hy dit duidelik aan Calvyn gestel het dat hy nie Serve­tus is nie, dat hy net namens Ser­vetus die vrae stel.

Maar toe hy ontdek dat sy briewe Calvyn kwaad maak, het hy die kor­respondensie gestaak. Hy onderskryf die leer van die Kerk oor die kinderdoop. Wat die uitlatings oor die Drie-eenheid betref, dit was Ser­vetus se idees, nie syne nie.

Servet ontsnap🔗

Na die tweede kruisverhoor en terug in die gevangenis, kry hy klaarblyklik die plan om te ontsnap. Hy stuur sy bediende om geld te haal, en die volgende dag vra hy die sleutel van die tuin om die tronk. Die tronk­bewaarder het gaan druiwe oes, en hy het seker gemeen die gevangene sou nie uit die tuin kon ontsnap nie, te meer daar hy ’n bedrag geld ont­vang het vir die sleutel. Dit was glad nie moeilik vir Servet om oor die muur van die tuin te klim nie...

Nadat die Inkwisiteur moed opge­gee het om hom te vang, word hy in sy afwesigheid tot die brandstapel gevonnis, om “lewendig, oor ’n sta­dige vuur, te brand totdat sy lig­gaam as is”. Maar intussen, totdat hy gevang word, moet ’n beeltenis van hom saam met sy boeke ver­brand word. Dit is toe so uitgevoer.

Na sy ontsnapping sit Servet af Italië toe. Of hy besluit het Italië is nie veilig nie, sal ons nie weet nie. Na aanleiding van wat hy in sy verhoor in Genève kwytgeraak het, kan mens raai dat hy, gedryf deur groot­heidswaan, besluit het om die skry­wer van die “Institusie van die Christelike leer” in sy hoedanigheid van Skrifverklaarder, te gaan uit­daag en hom te konfronteer met sy “Restitusie van die Christelike leer”.

Servet in Genève🔗

Hy daag dus op in Genève, waar slegs een man hom voorheen geken het, te wete in Parys; en die man is Calvyn. Op ’n Sondagmiddag in Augustus 1553 gaan sit hy in die kerk waar die diens deur Calvyn gehou word. Wat sou ons gedoen het, as ’n godslasteraar langs ons in die kerk kom sit? Natuurlik niks! Maar vier en ’n halwe eeu gelede was dit abso­luut noodsaaklik om teen kettery te stry. Wat sou van die Reformasie tereg gekom het, as die hervormers kettery en godslastering oor die hoof gesien het?

Calvyn het in 'n preek gesê: “Ons is gewoonlik baie onwillig om ’n medemens te na te kom, wanneer dit om die keer van God gaan. Ons laat sondige dade toe, omdat ons nie graag iemand wil teëgaan nie. Ons swyg wanneer onreg gepleeg word, of wanneer God se Naam onteer en gelaster word, omdat ons nie ge­moeid wil wees in ’n saak wat ‘ons nie aangaan nie’. Ons verróer nie ’n vinger om iemand te red wat op die pad na verderf is nie”.

Dit is te begrype dat Calvyn Ser­vet nie kon ignoreer nie. Negentien jaar gelede het hy sy lewe gewaag om Servet “vir die Here te wen”. Hoe sou hy nou die man kon laat be­gaan? Daar was geen ander manier nie as dat hy voor die owerheid ge­daag word om sy kettery aan die kaak te stel. Calvyn het die ower­heid laat weet dat Servet in die kerk sit, en hy is daarna gevange ge­neem. Dit was die tweede groot mis­daad teenoor Servet, waarvoor Cal­vyn nooit vergewe sal word nie.

Servet en Calvyn (III)🔗

Servet in die Hof🔗

Die hofsaak teen Servet begin op 14 Augustus 1553. Die aanklagte wat teen hom bewys moes word, was:

  1. dat sy boeke onbybels en dus ket­ters was;
  2. dat hy, Servet, die skrywer van genoemde boeke was;
  3. dat hy die boeke geskrywe het met die doel om hulle te verkoop en sodoende sy ketterse leer te versprei;
  4. dat hy sy ketterse leer monde­lings of skriftelik oorgedra het aan Calvyn, Poupin en Viret; en
  5. dat kettery ’n misdaad is in die Heilige Romeinse Ryk.

Nou moet daar eers gelet word op die posisie wat Calvyn en sy kollegas in die republiek van Genève beklee het, en die staat van hervor­ming in Genève. Anders as in die geval van Bern, Basel en Straatsburg, het die oorgang tot die Refor­masie in Genève nie uit die volk voortgekom nie. Genève het in 1536 bloot om politieke redes Protestants geword.

Voorwaardes🔗

Dekades lank is die republiek deur rower- en moordbendes uit Savoje en die Waadland rondom die stad binnegeval en geplunder. Genève, wat baie arm was, en boonop deur onbekwame Savojaardse prins-bis­koppe geregeer is, kon nooit die ter­roriste weerstaan en verslaan nie. Bern, wat net soos al die ander state graag ’n vastrapplek in Genève wou kry, het in 1535 ’n leër gestuur om Genève van die terroriste te bevry. Teen ’n prys, natuurlik. Dit het Genève presies ’n eeu geneem om sy oorlogskuld aan Bern te vereffen. Daarbenewens het Bern ’n paar voorwaardes gestel, wat hulle nou­geset sou kontroleer:

  1. Genève sou aan Bern vrye toe­gang tot sy stadsgebied verleen;
  2. Genève sou geen verdrag met ’n ander staat sluit, sonder die ken­nis en goedkeuring van Bern nie; en
  3. Genève moes Protestants word.

Die derde voorwaarde was vir Genève ’n groot struikelblok. Dié stad was berug as die onsedelikste stad in Europa; en dit sê veel in ’n tyd waarin sedes nêrens hoog aan­geslaan is nie. As jy jou op een of ander wyse vergryp het, gaan jy maar net bieg en betaal ’n bedrag geld, groot of klein, na gelang van die omvang van jou misdaad.

Dit was nie Bern se eerste poging om Genève Protestants te laat word nie. Bern, wat self in 1529 die Refor­masie amptelik aanvaar het, het kort daarna rondreisende predikan­te aangestel om in die Waadland en in Genève te gaan preek. Dit was hoe Guillaume Farel met die stad kennis gemaak het. Farel en sy Waldense helper Antoine Saulnier, is deur die gevolmagtigde van die pous in Genève beledig en uit die stad gejaag. Dit was in 1532. Na Farel het Antoine Froment gekom. Hy het nie openlik gepreek nie; hy het inteendeel aangebied om die mense te leer lees en skryf. Saam met die lesse het hy hulle vertel van Jesus Christus, die enigste Verlos­ser. Meer en meer mense het na sy klasse gekom, mense wat hulle toe die naam ‘Vriende van die Evange­lie’ toegeëien het.

Farel kom ook weer terug na Genève, dié keer onder Bern se be­skerming. Die owerheid van Genève kan nie anders as om die ‘Vriende van die Evangelie’ toe te laat om ’n kerk te annekseer nie. Farel en sy ‘kollegas’ preek nou openlik, maar dit bly ook net by preek, sonder dat daar ware reformasie plaasvind.

Van onmin tot haat🔗

Dit is dié toestand wat heers, toe Calvyn in Julie 1536 deur Genève gereis het. Dit was skaars twee maande nadat Genève onder dwang van Bern amptelik die Reformasie aanvaar het. Nadat Calvyn deur Farel oorreed is om daar te bly en ’n kerk te stig, het hy uit die staan­spoor geen samewerking van die owerheid of van die oorgrote in­wonertal ontvang nie. Hulle het só min van Calvyn gedink dat hulle nie eers na sy naam en van verneem het nie, en nog minder daaraan gedink het om hom ’n traktement te laat toekom. Vir die owerheid, die Raad van Genève, was Calvyn maar net ‘die Fransman’. Maar dit, nl. Fran­se, was ook Farel, Froment en Saulnier, hoewel laasgenoemde twee uit Switserland en Piedmont onderskeidelik gekom het.

Onmin teen die ‘Franse’ predikan­te het toegeneem, totdat dit in haat omgesit het. Die Raad het almal beveel om kerk toe te gaan en nag­maal te gebruik. Vyande van die predikante het in die kerk gaan sit en hoes en voetestamp, sodat die predikers se stemme dikwels nie gehoor is nie. Hulle het op straat agter die predikante aangeloop en hulle geskel en gevloek, en die spot met hulle gedryf. Hulle het in groepe om die mans se huise gekoek en hulle haakbussers in die lug afge­skiet, met die waarskuwing dat die volgende skote dalk raak sal wees. En dan het hulle geskree: “Gaan weg, julle Franse honde!” Dat Calvyn die treitering as ‘duisend dode’ beskryf  het, is te begrype. Hy het ook nie oordryf nie.

Eindelik is Calvyn, Farel en die blinde predikant Elie Courauld uit die stad verban. Die rede was nie, soos die Raad verkondig het, omdat hulle nie Bern se voorskrifte in die kerkdiens wou navolg nie. Die ware rede was dat dié drie predikante geweier het om onboetvaardige son­daars tot die nagmaalstafel toe te laat. Daar was ’n groepie wat volge­hou het met hulle haatveldtog, en Calvyn en Farel het geweier om nagmaal onder dié omstandighede te bedien. Toe Bern die drie later onder begeleiding terugstuur na Genève, is hulle ingewag deur ’n vuurpeloton, en is hulle. gewaarsku dat ’n tweede peloton hulle by die stadspoort inwag.

Drie jaar later is Calvyn terugge­roep deur ’n Raad wat grotendeels uit ’n party bestaan het wat hulle die ‘Vriende van Farel’, t.w. die Guiller­mins, genoem het. Dit het geensins beteken dat Calvyn met ope arms ontvang is nie. Die oorgrote meer­derheid van die burgery was hom nog steeds vyandiggesind, en elke nuwe raadsverkiesing het sy aantal vyande van die Reformasie opge­lewer. Teen die tyd dat Servet op die toneel verskyn het, het die aggressie teen Calvyn seker sy hoogtepunt bereik.

’n Belegging🔗

Wat die Raad van Genève die graag­ste sou wou doen, was om stilletjies van Servet ontslae te raak, d.w.s. hulle sou hom graag wou sien die stad verlaat, sonder dat die buitewêreld hoef te geweet het dat hy Genève besoek het. Maar as die Roomse wêreld dit moes te hore kom, sou hulle met reg kon sê: “Kyk wat doen daardie Protestante van Genève. Hulle hou vol dat hulle Jesus Christus as hulle enigste Ver­losser aanvaar; en tog laat hulle ’n man skotvry, wat ontken dat Hy die Seun van God is.” Hulle besluit toe om aan die Inkwisiteur  Matthieu Ory te skrywe, en te vra wat die aanklag teen Servet is.

Ory antwoord: “Stuur hom na Vienne. Onmiddellik!” Dit was darem vir jou ’n belediging! Sou die Inkwisisie miskien dink dat die Raad van Genève onbekwaam is om ’n kettery te verhoor? Hulle vra Servet self of hy verkies om deur hulle verhoor te word en of hy liewer teruggestuur wil word na Vienne? Servet val op die vloer neer voor die raadslede en huil en smeek hulle om ‘enigiets met hom te doen’, solank hulle hom net nie aan die Inkwisisie uitlewer nie.

Toe volg die hofsaak, seker een van die belaglikste wat ooit gevoer is. Die beskuldigde, Servet, skree beledigings na die aanklaer, sonder dat hy tot orde geroep word. Dit word baie gou duidelik dat die eint­like beskuldigde Calvyn is. Som­mige van die raadslede gaan koop selfs die tronkbewaarder om om met Servet te gesels en hom die versekering te gee dat hy sy saak sal wen, aangesien die Raad aan sy kant is. Die Raad was net so gretig soos hy dat Calvyn en Poupin vervang word; trouens dat veral Cal­vyn uit die stad verban word.

Servet word by die dag vrypostiger. Hy noem Calvyn ’n moorde­naar, ’n misdadiger, ’n skurk sonder verstand, ’n leuenaar, ’n bespotlike dwerg, ’n blaffende hond. Hy sê Calvyn is Simon die towenaar van Samaria. Dié beskuldiging van Cal­vyn het Servet waarskynlik gemaak na aanleiding van die vroeë kerkvaders se geloof dat Simon homself ’n god geag het.

Die hofsaak🔗

Die Raad het die hofsaak so lank moontlik probeer uitrek. Om tyd te wen het hulle aan die Switserse Protestantse Kerke geskrywe en raad gevra. Al die kerke het geantwoord dat Servet se kettery gevaar­like en noodlottige gevolge sal hê vir die Kerk van Jesus Christus. Sy ket­tery moet uitgeroei word! Maar intussen groei Servet se vrypostigheid. Hy is daarvan oortuig dat die raad van Genève hom as oorwin­naar sal uitroep in hierdie hofsaak. Hulle sal hom erken as Migael die aartsengel, wat die kerk kom her­stel. Die feit dat Matthieu Ory weer eens geëis het dat Servet lewendig aan die Inkwisisie uitgelewer word, het Genève net meer vasbeslote gemaak om self oor die ketter se lot te beslis.

Vas oortuig daarvan dat Calvyn as die verloorder uit dié stryd gaan tree, skryf Servet ’n brief aan die Raad. Hy, op sy beurt, stel eise. Hy eis dat Calvyn in sy plek opgesluit word, en dat alles wat Calvyn besit, aan hom, Servet, toegewys word, om te vergoed vir die vernedering wat hy moet ly, en waarvan Calvyn die direkte oorsaak is. Calvyn was die verloorder, is nog steeds die verloorder, maar op ’n ander wyse as wat Servet onmiddellik verlang het.

Die Raad was teen dié tyd so vas­gevang in die web wat hulle vir Calvyn gespin het, dat hulle nie herwaarts of derwaarts kon besluit nie. Een ding het vasgestaan: laat hulle Servet vry, sal nie alleen die Roomse nie, maar ook die Prote­stantse wêreld hulle veroordeel en bespot. Ten spyte daarvan, gee  Ami Perrin, Calvyn se grootste vyand onder die raadslede, kennis van ’n voorstel dat Servet vrygelaat word. Sy voorstel word verwerp. ’n Ander voorstel word ter tafel gelê, dat die saak na die ‘Raad van Tweehon­derd’ verwys word. Sonder om ’n lang verduideliking te gee van dié raad se funksie, sou mens kon sê dat so ’n stap gelykstaande sou kon wees aan die verwysing van ’n saak deur die Hooggeregshof na die Appèlhof.

Die brandstapel🔗

Die dae gaan verby, en opeens word Servet tot die brandstapel gevonnis! Hierna het Calvyn sy kollegas bymekaar geroep en by die Raad gaan pleit dat Servet nie verbrand word nie. ’n Veel genadiger dood­vonnis sou onthoofding wees, ook ’n algemene gebruik destyds. Vir die Raad was dit egter ondenkbaar dat daar na die wens van die gehate Franse predikant geluister word. Wat hulle betref het, was hy eintlik die een wat in die beskuldigdebank gestaan het. Sal hulle nou aansien inboet, deur sy pleit om versagting te aanvaar? Ondenkbaar! Wat ge­skryf is, is geskryf, en Servet sterf op 27 Oktober 1553 op die brand­stapel in Genève.

Wat gebeur met die nagedagtenis van Calvyn? Hy dra nog steeds die skuld van Servet se verbranding! Na byna vier en ’n halwe eeu staan Calvyn nog steeds in die beskul­digdebank. Daar is seker nie ’n byvoeglike naamwoord om ’n slegte mens te beskryf, wat nog nie in ’n biografie gebruik is om Calvyn mee te beswadder nie. Dit het met Bolsec se biografie wat in 1577 verskyn het, begin, en dit lyk asof almal wat Calvyn verafsku het, sedertdien pro­beer het om Bolsec se leuens te ewe­naar.

Calvyn en Erasmus?🔗

Calvyn word soms met Erasmus vergelyk. Daar kan tog nie ooreen­komste tussen die twee manne wees nie? Erasmus, die Humanis, het in sy ivoortoring gesit en weliswaar die afgodiese gebruike van die ge­vestigde Kerk met vlymskerp spot aangeval, maar hy het nie die morele moed gehad om uit sy toring te klim, met die Roomse Kerk te breek en hom agter die Hervormers te skaar nie. Calvyn, daarenteen, het elke dag in die hitte van die stryd gestaan, terwyl hy die eer van God verdedig het.

Dit het nie beteken dat die mens vir Calvyn onbelangrik was nie: Sy deernis en begrip, sy mensliewend­heid, is herkenbaar in sy preke, sy briewe, kommentare en Institusie. Erasmus, vir wie die mens se in­herente goedheid so belangrik was, het nie oor soveel menslikheid be­skik as Calvyn nie. Calvyn se vaste oortuiging dat die mens uit homself tot niks goeds in staat is nie, het hom nie verhinder om in sy preke, en selfs op sy sterfbed, mense te maan om mekaar lief te hê en te respek­teer nie. In sy preek oor Efésiërs 5 sê hy bv.: “ ... Ons durf nie die ge­ringste mens wat lewe, verag nie, want daardeur onteer ons God, aan­gesien God alle mense na sy beeld geskep het.”

Miskien is die sleutel tot die voortdurende bekladding van Cal­vyn se nagedagtenis in sy eie woor­de te vind: “Daar is niks wat die menslike gemoed meer streel as vleiery nie. Die mens glo so maklik dat sy begaafdheid van hoë rang is. In elke eeu kry die persoon wat die voortreflikheid van die menslike natuur die hoogste lof toeswaai, ook die grootste toejuiging ...” (Verw. Inst. 2,1,2).