Bron: Kompas, 2003. 3 bladsye.

Siekebesoek

Reëlmatig word daar siekebesoeke gebring. So behoort dit binne die gemeenskap van die heiliges te wees. God het ons immers geleer om mekaar se laste te dra. “As een lid ly, ly al die lede saam” (1 Korintiërs 12:26). Dit maak nie saak hoe dikwels jy sulke besoeke al gebring het nie, daar is elke keer weer ’n sekere verleentheid. Hoe moet ek die sieke benader? Wat moet ek sê? Nie een situasie is dieselfde as die ander nie. Mense ervaar siekte verskillend en reageer ook verskillend. Daar is swaarmoediges en blymoediges. Siekes wat opstandig is en siekes wat dit lydelik aanvaar. Aan die siekbed staan jy soms voor baie moeilike vrae, pynlike vrae. Wat moet jy maak? Dis nie sonder rede nie dat ds. JJ Arnold, ’n ervare pastor, sy boek oor siekebesoek die titel gee: “Wie is hier niet verlegen?” Dit is daarom met skroom dat ek dit waag om oor siekebesoek te skryf. Ek besef dat ek self op hierdie gebied nog baie te kort skiet.

Voorbereiding🔗

Dit is nie moontlik om die siekebesoek tot in besonderhede voor te berei nie. So ’n uitgewerkte plan sou ’n werklike ontmoeting met die sieke in die pad kan staan. As ek alles wat ek gaan sê van te vore bepaal het, dan kan dit die gesprek domineer waardeur die sieke nie werklik die ruimte kry om hom te uit nie. Bowendien verloop die gesprek dikwels anders as wat ons verwag het. Die situasie wat jy vandag aantref kan heeltemal anders wees as die situasie van ’n paar dae gelede. Die vorige keer het dit miskien gelyk asof die sieke sy siekte blymoedig gedra het, terwyl hy nou skielik opstandig kan wees.

Tog is ’n goeie voorbereiding op die besoek baie belangrik. Probeer om van te vore die omstandighede van die pasiënt in beeld te kry en jou dit in te leef. Watter impak het die siekte op die sieke en sy gesin? Jy wil die persoon ontmoet waar hy is en van daaruit met hom praat oor die dinge wat in daardie situasie vir hom belangrik is.

Dit is goed om ook eerlik te kyk na jou eie motiewe vir die besoek. Waarom gaan jy by die sieke op besoek? Is dit omdat jy jouself daartoe verplig voel? Omdat jy jou gewete wil ontlas? Omdat jy goed oor jouself wil voel en ’n dankie wil ontvang? Omdat jy medelyde met die sieke het? Omdat die sieke jou graag wil sien? Omdat jy lief vir die sieke is en hom wil help om sy siekte in geloof te verwerk? Die houding waarmee jy na die sieke toegaan sal grotendeels die verloop van die besoek bepaal. Indien ek meer op myself gerig is as op die sieke, dan sal die sieke nie werklik gehelp word nie. God vra van ons dat ons mekaar deur die liefde dien. En liefde soek nie sy eie belang nie, maar die van die naaste. Ook al kan dit gebeur dat verkeerde motiewe aanvanklik ’n rol speel, moet ons uiteindelik tog deur die liefde gedryf word. Eers dan kan ons werklik die sieke dien. Bewaak daarom jou hart.

Die Regte Tyd🔗

Die liefde hou rekening met die sieke, ook in die kies van ’n tyd om die sieke te besoek. Belangrik is nie of dit my pas nie, maar of dit die pasiënt pas. Die pasiënt het meestal vaste tye waarop hy moet eet en rus. Moenie hom daarin steur nie. Of hy voel hom te siek om mense te ontvang. Of hy het reeds ’n paar mense op besoek gehad en is nou te moeg om nog iemand te ontvang. Of hy het op die oomblik ander mense op besoek waarby hy liefs nie gesteur wil word nie. Waar liefde heers daar is ek nie verbaas, laat staan beledig, wanneer ek hoor dat ’n besoek nou nie geleë kom nie. Indien die pasiënt in die hospitaal lê is dit belangrik om rekening te hou met die tye waarop die huisgenote en intieme vriende daar op besoek is. Die eie man, vrou of kinders het maar ’n beperkte tyd waarop hulle bymekaar kan wees en wil moontlik nie daarin gesteur word nie. Meestal is dit verstandig om eers by die familie te peil of ʼn besoek waardeer word en wat die beste tyd is.

By die voorbereiding tot die besoek behoort ook dat jy ons getroue Verbondsgod eers ken en liefhê. Wanneer ek ’n pasiënt opsoek het ek nie net met ’n mens te make nie. Ek het ook en allereers met ons God te make, ons Skepper en Verlosser. Sonder Hom is daar geen werklike uitsig nie en bly ons steek in ’n geslote sirkel. Dan word alles uit, deur en tot die mens. ’n Arm menslike besigheid. Daarom moet ons eers na God luister. Luister na wat Hy van Homself sê, wat Hy van die mens, van sonde, siekte en van verlossing sê. Daarom skryf ds. Arnold: “Om goeie siekebesoek te doen, is Skrifondersoek ’n eerste vereiste, en troue kerkgang.” Jy moet jou God ken. Met Hom rekening hou en met Hom op besoek gaan. Eers dan kan jy die sieke werklik help.

Dan ken jy ook jou grense as siekebesoeker. Ons weet nie waarom die een so swaar getref word en die ander nie. Maar ons weet wel volgens die Skrifte dat God, ons Verbondsgod, regeer. Ons weet ook dat alles, ook gesondheid en siekte, nie per toeval nie, maar uit sy vaderhand ons toekom (antw. 27, HK). Verstaan ons alles? Nee! Maar ons bly dit vir onsself sê en probeer dit ook vir mekaar te sê:

Op Hom vertrou ek so dat ek nie daaraan twyfel dat Hy my met alles wat vir liggaam en siel nodig is, sal versorg nie. Hy sal ook al die kwaad wat Hy in hierdie jammerdal oor my beskik, tot my beswil verander, omdat Hy dit as ’n almagtige God kan en ook as ’n getroue Vader wil doen.antw. 26, HK

En as die sieke weer so ’n groot teleurstelling moet verwerk? Of as deur ’n menslike fout die pasiënt die dood in die oë staar? Ook dan hou ons vol dat hierdie goeie God “alle dinge volgens sy heilige wil so bestuur en regeer dat in hierdie wêreld niks sonder sy beskikking gebeur nie…” “Ons is tevrede daarmee dat ons leerlinge van Christus is om slegs te leer ken wat Hy aan ons in sy Woord openbaar, sonder om die grense daarvan te oorskry” (art 13, NGB). Gewapen met hierdie geloofskennis hoef ons nie radeloos te wees wanneer ons op siekebesoek gaan nie. Ons kan mekaar help.

Op Besoek🔗

Wanneer ek op besoek gaan moet ek goed besef dat ek as ’n gesonde mens by ’n sieke op besoek gaan. Daarom moet ek nie myself in die besoek uitleef nie, byvoorbeeld deur baie en lang te praat oor my eie situasie nie. In liefde soek ek nie my eie belange nie, maar juis die van die sieke. Ek probeer my in sy situasie inleef en met hom rekening te hou. Informeer versigtig na sy situasie. Dit kan vir die pasiënt pynlik wees om te moet erken dat dit nie so goed gaan nie. Indien ons opregte belangstelling wys sal die sieke hom miskien uit. Dis belangrik dat hy hom kan uit. Maar moenie dit probeer forseer nie. As hy min wil praat, reg so! Wil hy baie vertel, reg so! Moet hom nie lastig val nie. Die sieke moet ’n klankbord hê. Deur noukeurig te luister, verstaan jy meer en meer wat vir die ander van belang is.

As jy nie kan luister nie, dan kan jy veel skade doen en die sieke eensaam maak. Om te luister is die eerste vereiste vir ’n goeie besoek. Luister aandagtig met jou ore en met jou hart. Ook wanneer jy dinge vir die soveelste keer moet hoor. Probeer agterkom waarom die persoon die dinge noem. Daar is siekes wat hul gebrek aan vertroue, hul angs, hul sorg nie openlik kan of durf uitspreek nie. ’n Goeie luisteraar het maar ’n halwe woord nodig. ’n Verskuilde verwysing laat ons soms verstaan hoe die sieke werklik voel.

Troos🔗

Nadat ons goed geluister het, gaan ons op ons beurt ook praat. Ons wil die sieke bystaan, help, troos. Maar om te troos is moeilik. Daar is siekes wat ons beter kan troos as ons hulle! Probeer jou maar indink: daar lê ek nou, heeltemal uit my werk, uit die gewone lewe weggeruk, miskien vir altyd. Dan het ek waarskynlik nie baie woorde om te sê nie. In ieder geval geen maklike of goedkoop woorde nie. Maar wat van die evangelie dan? Is dit nie ’n unieke geleentheid om die evangelie te laat hoor nie? Weet ons seker dat die evangelie wat ons nou wil bring hier op sy plek is? Het ons die persoon wel goed verstaan? Gelukkig is daar Iemand in die hemel wat die sieke wel heeltemal begryp. Dit mag ons in ons verleentheid ook rustig vir die pasiënt noem. Die Here Christus begryp ons beter as wat ons onsself begryp. “Deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy die help wat versoek word” (Hebreërs 2:18).

Want ons het nie ’n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelyde kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.Hebreërs 4:15

Waar die situasie dit toelaat is dit ook goed om met die sieke ook oor die gewone daaglikse lewe en bedrywigheid te praat. Vertel rustig wat aangaan in die kerk en samelewing. Die wêreld van die sieke kan soms baie klein en eng word, ingesluit soos hy is binne die vier mure van sy kamer. Dis dan goed dat die vensters so te sê weer oopgegooi word en die pasiënt weer gaan besef dat hy deel is van kerk en samelewing. So kan die sieke na vermoë nog meeleef met God se kinders en hom bly inset vir God se groot saak in hierdie wêreld. Onderskat nie die waarde van die meelewing en gebed van die sieke nie!

Die arts dr JH van den Berg het destyds ’n mooi boek geskryf oor die “Psychologie van het ziekbed”. Daarin gee hy ook ’n aantal raadgewinge vir die siekebesoekers wat ek graag wil deurgee:

  • Tree normaal op.

  • Wys dat jy tyd het.

  • Gaan sit.

  • Moenie vergeet dat die sieke siek is nie.

  • Moenie te gou gewoond raak aan die siekwees van die sieke nie.

  • Moenie antipatie wys teenoor die liggaam van die sieke nie.

  • Moenie die erns van die siekte probeer vermy in die gesprek nie.

  • Moenie met ander oor die sieke of die siekte praat terwyl hy/sy daarby is nie.

Konklusie🔗

Ons doen ons siekebesoeke. Die een keer loop dit lekker. Ons kon iets vir mekaar beteken. Soms gebeur dit dat die blymoedige sieke die onsekere besoeker opbeur. ’n Ander keer bly die besoek onbevredigend. Dit lyk asof ons nie werklik mekaar bereik het nie. Soms het moeilike vrae na vore gekom. Miskien het ons in die vrae bly steek. Soms het ons byna geen woorde gewissel nie. In ieder geval nie baie belangrike woorde nie. Miskien het net saam gehuil. Het die besoek wel sin gehad? Laat ons die waarde van die ‘klein’ dinge nie onderskat nie. Sou God nie bly wees as een lid na die ander omsien nie? As die sieke belangstelling ondervind? As vier oë mekaar ontmoet? As die pasiënt hoor dat iemand aan hom dink en vir hom bid? Verag nie die dag van die klein dinge nie. Onderskat nie die werk van die Trooster nie.