Bron: Kompas, 2002. 4 bladsye.

Siekte en die Gelowige Hantering Daarvan

Die Wag op ʼn Diagnose🔗

Gesondheid wat nie is wat dit moet wees nie, bring onrus mee. Siekte laat jou uitgelewer voel aan omstandighede buite jou beheer. Jy ontdek dat jou liggaam maar broos en breekbaar is. Die wagtydperk voordat ’n diagnose gemaak word; ons kan dit ook die wagkamertyd noem, is ’n baie moeilike tyd. Die wagkamer skyn dikwels ’n afwagkamer te wees – net asof jy ’n afspraak met ’n laksman het. Wat makeer my? Wat gaan die uitslag van die toetse wees? Dit is vrae wat jy jouself afvra. Daar word gesê dat dit baie erger is om nie te weet nie as om uiteindelik ’n diagnose te ontvang. Jy weet nog nie wat jou makeer nie; dus kan jy moeilik met iemand oor jou siekte praat. Om hierdie rede kan jy dikwels oneindig eensaam voel. In hierdie tyd kan jy as gelowige daaraan vashou dat die almagtige God self teenwoordig is. Waar God is, hoef jy nie vir vreemdes bang te wees nie. Hy, die Almagtige is steeds in beheer. Jy is veilig in sy hande. Gryp hierdie wete vas, nie net vir jouself nie, maar ook sodat jy ander in die wagkamertyd kan help met hulle vrees en spanning.

Wanneer die wagtydperk uitgerek word, omdat daar bv. gewag word op die uitslae van toetse, word jou geloof werklik beproef. Die onsekerheid kan groot twyfel meebring. Enigiets wat in hierdie tyd gebeur, wil jou sommer omkrap. So byvoorbeeld kan die geringste pyn jou beangs laat voel, of ’n onskuldige opmerking wat iemand maak, laat jou wonder. As gelowige moet jy leer om die beste te maak van hierdie wagtydperk. Gebruik die moeilike omstandighede om weer ’n keer te besin oor vrae soos:

  • Hoe sien jou verhouding met God daar uit?

  • Hoe ernstig neem jy God op sy woord?

  • Glo jy werklik in die vervulling van sy beloftes?

  • Hoe klink jou getuienis in die wêreld – veral in die omstandighede waarin jy is?

Memoriseer Psalm 112:7 en maak dit jou eie: Hy (die regverdige) vrees nie vir slegte tyding nie; sy hart is gerus, vol vertroue op die Here.

Ja, dit is ook nie so maklik as wat dit klink nie, maar nou is jou kans om vas te hou aan jou verbondenheid met die lewende en almagtige God. Gryp hierdie geleentheid met albei hande aan! Geloof is nie ’n towerformule wat alles maar net deur die spreek van ’n paar woorde regstel nie, maar as kind van God weet jy verseker dat: My tye is in u hand (Psalm 31:16). Ons lewenspad op aarde verloop beslis nie altyd na ons sin nie, maar ons kan weet dat God se goedertierenheid is tot in ewigheid (Psalm 138:8).

Hospitalisasie🔗

Die uitslae is bekend. Die diagnose word gemaak. Dikwels is dit nou nodig dat die siek persoon gehospitaliseer word. Heel waarskynlik het jy tot nou toe nog probeer ontken dat jy siek is, maar nou laat veral die vreemdheid van die hospitaal jou nie een oomblik toe om te vergeet dat jy tog wel iets makeer nie. Ook die behandeling is iets waarteen jy wil skop. Jy weet dis tot jou beswil, maar dit laat jou absoluut magteloos voel. Geen mens wil so geheel en al van ander afhanklik wees nie. Tog is dit een van die eerste lesse wat die sieke moet leer – dat jy juis afhanklik is. Hierdie les word makliker wanneer jy erken dat jy in die eerste én laaste plek van die Here afhanklik is. Gee jou siek liggaam aan Hom oor om te gebruik tot sy eer. Dan word die dokters en die verpleegpersoneel God se medewerkers; weliswaar God se hande. Al is alles in die hospitaal vreemd en al voel jy oor baie dinge onseker, die Here is die bekende Faktor. By Hom is jy veilig.

Koop die Tyd Uit🔗

Siekte laat jou voel dat daar dalk nie veel tyd vir jou oor is nie. Dit tref jou ewe skielik dat jy nie kan aandring op meer tyd nie. Nee, tyd is ’n genadegawe uit God se hand. Siekte kan jou laat besin of jy dié gawe verantwoordelik genoeg benut. Miskien is daar selfs verwyt oor verspeelde kanse en ’n gevoel van mislukking. Jy kom dalk agter dat jy maar ver tekort skiet wat betref die opdrag in Efesiërs 5:16 nl. koop die tyd uit. Dié besef hoef jou egter nie heeltemal mismoedig te laat nie, want by God is daar altyd ’n nuwe begin. Miskien was die siekte juis nodig vir jou om te besef dat tyd kosbaar is.

Waarvoor moet jy die tyd uitkoop? Om die Here se Naam te verheerlik! Dit is jou roeping as Christen.

Maak dit een van die grootste uitdagings van jou siekte, sodat ander sal kan sien dat die Here ’n werklikheid in jou lewe is. Leef só met jou siekte saam dat dit vir ander mense tot seën en inspirasie is. Dan het jy die tyd uitgekoop en het die lewe nie by jou verbygegaan nie!

Siekte Bring Spanning Mee🔗

Die spanning wat siekte meebring, is nie gewone alledaagse spanning nie. Dit raak jou hele wese. Jy begin selfs buite jou aard op te tree, want siekte raak nie net jou liggaam nie – ook jou gees word aangeval. Christene word nie vrygeskeld van spanning nie. Allermins! Gelowiges het juis dikwels t.o.v. hulle siekte ’n verkeerde geloofsverwagting. Hulle bid, maar dit lyk of gebed niks help nie. Dit maak hulle verward en in hulself en in God teleurgesteld. In hierdie tyd moet jy jou juis nie afsonder van ander gelowiges nie. God wil juis ander gebruik om jou te vertroos. Iets wat baie belangrik is: moenie op jou gevoel staatmaak nie.

Siekte krap ’n mens se gevoelslewe heeltemal om. Nee, neem net eenvoudig vir God op sy woord. Begin om die beloftes van God in sy Woord vir jouself toe te eien. Skryf dit neer, herinner God daaraan en gló dit. Dit is nie maar net gewone trooswoorde waarmee jy jouself besig hou nie. Nee, dit is die lewende woord van God self! Jy is dus met God self besig.

Mettertyd vind jy dat jou spanning opklaar – jou omstandighede het nie verander nie, maar God het deur sy Heilige Gees jou Trooster geword. Hy het in werklikheid jou las op Hom geneem. Jou binneste kom tot bedaring wanneer jy besef dat Exodus 14:14 ook vir jou bedoel is: Die Here sal vir julle stry, en julle moet stil wees.

Die Waarom-Vrae🔗

Siekte bring ’n mens by al die waarom-vrae. Waarom ek? Waarom kon dit nie anders gewees het nie? Dit kan selfs vrae wek oor die bestaan van God en sy regverdigheid. Dit kan tot ongeloof aanleiding gee en veroorsaak dat die sieke sy bestaan as ’n noodlot ervaar en God as ’n tiran of sadis sien.

Dit bring ons by die verhaal van Job. Hoewel hy ook later moedeloos geraak het en self ook waarom-vrae gestel het, het hy sy aanvanklike geloofsperspektief enduit behou. Luister na hierdie verbysterende geloofsbelydenis:

Die Here het gegee, en die Here het geneem: die Naam van die Here sy geloofd! Job 1:21

en ook : Die goeie sou ons van God aanneem, en nie ook die slegte aanneem nie?Job 2:10

Hierdie onvoorwaardelike erkenning van God se heerskappy en almag word Job se reddingsboot op die stormsee van sy omstandighede. Job het nie verstaan wat met hom gebeur nie, maar hy het nie daarom vir God verloën nie. Dit was ook nie asof hy maar net sy lot so sonder teëpraat aanvaar het nie. Nee, uiteindelik, nog voordat sy omstandighede verander het, kon Job tot hierdie vreugdevolle slotsom kom: Niks kan my van God se liefde skei nie! Dit is belangrik om daarop te let dat Job nooit enige verklaring van God kry vir die raaisel van sy lyding nie. Wanneer siekte oor ons pad kom, moet ons net soos Job, onverskrokke daaraan vashou dat niks ons kan skei van die liefde van God nie.

Hierdie wete bring dan ook uiteindelik berusting en die sieke ontdek soos Asaf: o God, u weg is in heiligheid. Wie is ’n groot God soos God? U is die God wat wonders doen; (Psalm 77:14, 15). Om op hierdie manier te berus, impliseer eintlik ’n daaglikse oorwinning. ’n Oorwinning wat nie deur ’n maksimum Goddelike seën bepaal word nie en ook nie deur enige minimum verhinder word nie, maar behaal word deur alléén aan God vas te hou. Dit is ’n terapeutiese proses vanaf verharding na vernuwing; vanaf aanklag na lof.

Langdurige Siekte Lei tot Eensaamheid🔗

Soos jou siekte sloer, raak jy al hoe meer en meer afgesonder. Mense kom nog kuier, maar die besoeke word al hoe korter. Natuurlik waardeer jy dit, maar jou grootste behoefte is om weer soos ander mense te wees en nie vasgeketting aan jou siekbed nie. Daarom verlang jy na iemand wat jou nie sal sien as ’n sieke nie, maar as ’n persoon met gewone, alledaagse verlangens en begeertes. Vir hierdie persoon wil jy vertel hoe jy verlang om net ’n bietjie te kan werskaf in jou tuin of om langs die see te gaan stap of selfs te gaan loop in ’n besige inkopiesentrum. Mense verstaan nie jou behoeftes nie. Daarom moet jy dit vir hulle sê en so jou afhanklikheid erken. In 1 Korintiërs 12:25, 26 sê Paulus dan ook baie duidelik dat ons almal deel van een liggaam is waarvan die verskillende lede mekaar nodig het en mekaar moet bystaan. Deur te sê: “Ek het jou nodig” gee jy aan ’n ander gelowige die geleentheid om ook sy/haar roeping as lid van die een liggaam uit te leef.

Luister hoe beskryf Leo Tolstoi die beleweniswêreld van die sieke in sy boek “Die dood van Iwan Iljitsj”: …die grootste pyniging van alles vir Iwan Iljitsj (was) dat niemand so jammer was vir hom soos hy wou gehad het dat hulle vir hom moes wees nie, …hy wou gehad het dat iemand vir hom soos ’n siek kind moes jammer wees. Hy wou hê dat hulle hom moes liefkoos, soen, ’n bietjie huil oor hom, soos ’n mens kinders liefkoos en vertroos. Die mense naaste aan Iwan Iljitsj het nie sy behoeftes verstaan nie. Hy het dit heel moontlik nie gedeel nie. Laat ons dié rondom ons siekbed toe om ’n stukkie menslikheid en barmhartigheid deur te gee en sodoende God te verteenwoordig? Laat ons hulle toe om ’n naaste te word vir iemand in nood?

Siekte en Depressie🔗

Die sieke kom weldra agter dat beterskap of agteruitgang nie slegs gemeet kan word aan pyn of koors of bloeddruk nie. Jou gemoedstoestand dra ook baie by tot herstel al dan nie. Langdurige siekte kan jou moeg en moedeloos maak en dit kan lei tot depressie. Dit voel vir jou of jy in ’n put beland het waaruit daar geen uitkomkans is nie en waarin jy ook nie meer vir God kan vind nie. Wanneer jy besef dat jy in so ’n put beland het, moet jy regtig sonder om te huiwer hulp inroep. Gaan praat betyds met ’n ander gelowige wie jy kan vertrou en wat ook oor die nodige kennis beskik. Die Here wil graag so ’n persoon gebruik om jou uit te help uit die put uit. Sê ook vir die Here nie net hoe jy voel nie, maar ook hoe jy graag wil voel. Dan word Psalm 40:2, 3 vir jou waar.

Hy (die Here) het Hom na my toe neergebuig en my hulpgeroep gehoor; en Hy het my uit die kuil van vernietiging, uit die modderige slyk opgetrek en my voete op ’n rots gestel.

Siekte Veroorsaak Bekommernis🔗

Tydens ’n siektetoestand bly bekommernis ook nie weg nie. Hoe gaan hierdie siekte my toekoms beïnvloed? Sal ek nog dieselfde lewenskwaliteit kan handhaaf? Sal ek nog my werk kan doen? Wat van al my ander verantwoordelikhede? So gaan dit aan en aan. Heeltyd weet jy dat bekommernis niks aan enigiets kan verander nie, maar jy sukkel om vry te raak daarvan. Daar is net een raad. Besin oor elke bekommernis en besluit of daar enigiets is wat jy daaraan kan doen. As jy bv. bekommerd is oor jou huismense, moet jy iemand naby jou in jou vertroue neem en jou gesin aan dié persoon se sorg toevertrou.

Met die dinge waaraan jy regtig niks kan doen nie, moet jy die uitstekende raad van Psalm 37:5 volg: Laat jou weg aan die Here oor en vertrou op Hom, en Hy sál dit uitvoer; en ook: Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. (Filippense 4:6). Eers wanneer jy nie net verstandelik instem met hierdie waarheid nie, maar jou lewe oorgee aan God en sy beloftes, dan word vers 7 vir jou waar: En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.

Die Pyn van Siekte🔗

Langdurige pyn kan uiteindelik ’n mens se gees knak. Jy alleen moet daarteen stry. Niemand anders weet werklik hoe dit is nie. Dit is vir joú wat die nag voel asof dit nooit verby sal gaan nie. Jou stryd is nie slegs teen die intensiteit van die pyn nie, maar ook word jy gedurig daaraan herinner dat jou liggaam “stukkend” is. Pyn laat jou maar te goed besef dat jy nie beheer oor jou liggaam het nie. Saam met Asaf kla jy: My stem is tot God en ek roep; …Op die dag van my benoudheid soek ek die Here; snags bly my hand uitgestrek sonder om moeg te word; my siel weier om getroos te word. (Psalm 77:2, 3). Het God jou dan vergeet? Nee, stellig nie! Hoor wat sê CS Lewis:

God whispers to us in our pleasures, speaks in our conscience, but shouts in our pains; suffering is his megaphone to rouse a deaf world.

Langdurige pyn vereis dat jy sal leer hoe om oomblik vir oomblik met God te wandel. Soos wat die pyn wat aan jou vreet knaend en nimmereindigend is, so moet jy knaend en hardnekkig vashou aan die Here. Dit is geloof wat vir die mens tevergeefs lyk, maar wanneer jy jou hande in afhanklikheid na God uitstrek, ontdek jy dat God besig is om jou te dra. Dan kan die siek persoon saam met die psalmdigter sê: Al beswyk my vlees en my hart – God is die rots van my hart en my deel tot in ewigheid… Dit is vir my goed om naby God te wees; in die Here Here het ek my toevlug gestel. (Psalm 73:26, 28).

My Hoop in Siekte🔗

Siekte moet ons saam met die Psalmdigter laat sê: …u goedertierenheid is beter as die lewe (Psalm 63:4). Wat word hiermee bedoel? Vir God is ons lewe so kosbaar dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat ons die ewige lewe kan hê. Om die ewige lewe te besit is ’n waarborg dat die lewe nie deur tyd aan bande gelê kan word nie en nie van ’n gesonde liggaam afhanklik is nie. Nou kry die woord “hoop” ook ’n nuwe betekenis. Wanneer die sieke uit pure moedeloosheid vra: Is daar nog hoop vir my?, dan kom die antwoord dadelik My hoop is op U (o Here) (Psalm 39:8). Sodra God ’n mens se hoop is, word hoop van alle onsekerheid gestroop. Met jou oë op die Here gerig, is jou toekoms belowend. Want jou toekoms is vol van God se wonderlike beloftes. Dit is hierna wat Viktor Frankl verwys het toe hy gesê het …healthy living, is living with an eye to the future.

Uiteindelik en opsommend moet ons dan sê:

  • Wie die krisis van die lyding van siekte vanuit die geloof en die hoop benader, sal dit as ’n geleentheid beskou om meer van Gods liefde, genade en barmhartigheid te ontdek.

  • Die wete dat God in sy verbondstrou in beheer is, help die lydende om rekening te hou met die misterie en onverklaarbaarheid van lyding.

  • Lyding stroop die gelowige van alle bykomstighede. Mensgemaakte krukke val weg, sodat die mens op die ou end net aan God vashou met die wete: God hou my vas.

  • Lyding kan wel die kwantiteit van lewe inkort, maar die kwaliteit daarvan verdiep. Lyding word ’n geleentheid tot getuienis. Dit leer ons verantwoordelikheid teenoor die lewe.

  • Lyding is ’n louteringsproses en opvoedingsmaatreël binne die vermanende greep van ’n liefdevolle Vader. Lyding word ’n stuk chirurgie vir die mens se selfsugtige bestaan met sy suksesobsessie. Gedurende lyding kan die gelowige kom tot selfondersoek en skuldbelydenis.

  • Lyding bring geestelike groei. In gemeenskap met die lyding van Christus, ontwikkel daar geloofsvolwassenheid.

  • Lyding maak die mens meer diensbaar vir God en die medemens. Lyding verskerp die mens se aanvoeling vir doelgerigtheid en kan tot drastiese koerswysiginge in sy bestaan aanleiding gee.

In kort dan SIEKTE IS ’n UITDAGING OM TE LEWE!

Bronne:🔗

  1. Louw, DJ: Siekepastoraat
  2. Louw, DJ: Sin in lyding
  3. Müller, BA: Skrifgebruik in die pastoraat
  4. Smit, J: Siekte – ’n uitdaging om te lewe
  5. Van Niekerk, EA: Nie soos mense sonder hoop nie