Bron: Kompas, 2006. 3 bladsye.

Skool en Geloofsopvoeding

Wat verwag Gelowige Ouers van ʼn Christelike Skool?🔗

Vir die meeste gereformeerde ouers is die verband tussen geloofsopvoeding in die gesin en by die skool belangrik. Maar wat verwag gelowige ouers van ʼn Christelike skool?

Baie ouers gaan uit van ʼn feitlik hermeties geslote driehoek gesin-kerk-skool. Die geloofsopvoeding moet binne hierdie driehoek plaasvind. Die kinders leer die kerk ken deur middel van die weeklikse eredienste, kategese en jeugvereniging. Hierdie werk staan onder opsig en tug van die kerkraad. Die harmonie tussen gesin en kerk blyk oor die algemeen bevredigend te wees.

By die skool (ook as dit ʼn kerkgebonde skool is) is die beheer deur die ouers of die kerkraad baie minder of selfs afwesig. Die gevolg is dat ouers kritiese vrae begin stel en aandring op absolute integrasie tussen gesin en skool betreffende oortuigings en gedrag. Ander ouers sal hulself juis afsydig hou van die skool: laat hulle daar tog onderwys gee, dan sal die gesin hom besig hou met die sake van geloof en lewe.

Dit lyk asof hierdie twee standpunte teenoor mekaar staan. Dit is egter uiteenlopende uitwerkings van dieselfde basiese instelling: ouers wil hul kinders beskerm teen ongeloof en laat opgroei tot geloof. Hulle voel hul in sekere mate deur die skool bedreig en wil hierdie bedreiging te bowe kom, hetsy deur die skool in te sluit in die driehoek van gesin, kerk en skool, hetsy deur die skool juis daarbuite te plaas.

Sorg vir God se Jeug🔗

God se kinders het hul beskermengele, wat in direkte kontak met die hemelse Vader staan. Daarom sê ons Heiland: “Pas op dat julle nie een van hierdie kleintjies verag nie”. Hierdie waarskuwing volg op die konkrete aansporing om geen struikelblokke op die pad van die kleintjies te plaas nie. Die struikelblokke moet wel kom, maar wee die mens deur wie die struikelblokke kom! (Matteus 18:6-10).

Die uitwerking van dié gebod is vir ouers heeltemal anders as vir die kerk of die skool. Ouers het ʼn integrale opvoedingsopdrag en ʼn besondere gesag. Skole het slegs ʼn onderwysopdrag. Tog geld vir die Christenonderwyser ook in sy of haar werk: “Pas op dat julle nie een van hierdie kleintjies verag nie”. Aan ʼn Christelike skool sal die onderwys op so ʼn manier gegee moet word dat ʼn mens bedag is op die waarde van die teer en nog kwesbare geloof wat God in die kinders van gelowige ouers werk. Hierdie geloof moet deur Christelike kennis van die skepping verdiep en versterk word.

Dan hoef die skool nie noodwendig ʼn verlengstuk van die geloofsopvoeding deur die gesin en die kerk te wees nie. Die skool kom vanuit ʼn ander rigting en met ʼn totaal ander opdrag. Van ʼn Christelike skool mag egter verwag word dat hulle bedag is op ʼn ongehinderde groei in die geloof. Die skool, met sy eie opdrag, mag die kind, wat moet opgroei en moet sterk word in die geloof, nie in die pad staan nie. En aangesien daar deesdae baie struikelblokke vir die kinders van God op hul pad geplaas word, moet die skool ook daarop bedag wees om dié struikelblokke soveel as moontlik te verwyder. Daarom is hy verantwoordelik vir die goeie sorg wat, ook by die oordrag van kennis, bestee moet word aan die opbou van ware Christelike kennis.

Tieners en Hul Dinge🔗

Die leeftydsgroep van 12–18 jaar is van besondere belang. Dit is die hoërskoolstadium van die kind met sy spesifieke uitdagings. Dit is ʼn groeifase waarin die jongeling met wyse hand begelei moet word om te verseker dat hy/sy nie ontspoor nie. Vanweë dié groei is die beskerming baie belangrik. Beskerming beteken egter nie dat die kind versmoor in ʼn afgeslote ruimte nie. Neem die kind altyd ernstig op, ook al weet ʼn mens dat ʼn belangrike deel van sy houding en vrae na ʼn paar jaar sal verander. Die kind moet groei deurdat ons hom help en na hom luister. Waak daarteen om die jongeres te vermaan met geykte gereformeerde aanhalings. Ook al het die ouers self geen behoefte daaraan om die verworwe kennis te verantwoord nie: die jongeres word die beste beskerm deur juis dié verantwoording (na vermoë) deur te gee. Dit geld by die skool vir die onderwyser, maar ook by die huis vir die ouers.

Mense sê soms: laat die skool ons kinders daarop voorberei om selfstandig en weerbaar as jong Christene in die samelewing te kan staan. Maar dan word vergeet dat die skool ʼn onderwysinstituut is en ook dat dit nie beroepsgerigte onderwys gee nie. Juis die gesin staan midde-in die samelewing en is ʼn leerskool vir die regte lewenshouding. Hoe word in die gesinne gepraat oor werk, oor bevordering, oor nie-Christelike kollegas, oor geldbesteding? En word die praktyk van ouers en gesin bewus daardeur gestempel?

Baie jongmense wat kerkgebonde skole (bv. ʼn gereformeerde skool) bygewoon het, is later verbaas dat wêreldse mense so aangenaam kan wees en dat dit glad nie so sleg is in die samelewing as wat hulle verwag het nie. As ʼn reaksie hierop raak hulle onoplettend. Tog kan die skool in hierdie opsig nie so ʼn groot bydrae lewer nie. Onderwysers kan daarop let dat hulle nie ʼn swart-wit beeld van die wêreld gee nie en dat hulle goed onderskei tussen persone en ideologieë. Dit is egter minstens so belangrik dat die gesin nie die indruk wek dat die norme en waardes wat op skool aangeleer word, sonder meer ʼn aanduiding is van die grense wat deur die maatskaplike lewe loop nie. Ouers kan deur hul omgang met ander mense van beter weet en behoort dan ook hul kinders deur middel van gesprekke beter voor te lig.

Die onderwysers behoort ʼn eg Christelike visie vir die onderskeie vakgebiede te ontwikkel. Dit is ʼn taak wat die besture ook bo-aan hul prioriteitslys moet plaas. Dit kos dikwels baie tyd om nuwe onderwysers aan te stel, maar dit is nog meer die tyd en aandag werd om daarvoor te sorg dat die jong onderwyser nie losgelaat word nie, maar hulp kry (sowel ekstern as intern) vir die religieuse integrasie van sy of haar studie, wat dikwels plaasvind aan ʼn nie-Christelike universiteit of onderwyskollege.

Etiese Diversiteit🔗

Dit gebeur soms dat ouers die skool of die onderwysers as te “modern” of juis te “outyds” beskou. Ook kan daar tussen onderwysers onderling ʼn groot diversiteit in die beoordeling van etiese sake wees. Wat nou gemaak? Onderwysers is nie verlengstukke van die ouers nie en andersom is die ouers nie die speelbal van die onderwysers nie. Hulle is nie aan mekaar onderworpe nie, maar saam aan Christus. Hulle is, elkeen op sy eie manier, verantwoordelik vir die beskerming van die kind wat aan hul sorg toevertrou is. Dit is van groot belang dat hierdie gesamentlike onderwerping en opdrag ook steeds bewus beleef word. In gesamentlike gebed, in die oop gesprek met mekaar oor ons hoop en ons geloof. Het die bestuur genoeg kennis van hierdie sake? Of is dit so dat die onderwysers hulself afsydig hou van ledevergaderings en die bestuurslede op ʼn redelik groot afstand die inhoudelike skoolgebeure waarneem? As daar tussen die onderwysers onderling nouliks sprake van ʼn verbondenheid in die geloofsfeer sou wees, kan daar van die skoolsfeer vir die kinders nie soveel verwag word nie.

Hier het ons nou die mees gevoelige en daarom die mees genoemde aspekte van die onderwys. Dit alles het regstreeks te make met die doel van die skool en die roeping van die ouers. Daarom moet hier met goeie oorlegpleging baie sorgvuldig te werk gegaan word. In die “skoolatmosfeer” kom eintlik alles bymekaar.

Die ouers moet aktief bewus bly van hul eie geloofsroeping en dus ook van hul betrokkenheid by die skool. In die eerste plek moet hierdie bewustheid gevoed word via die prediking. Aan die ander kant kan die skool egter ook ondersteunend besig wees deur van tyd tot tyd d.m.v. voorligting en op oueraande die doelstellings van die skool bewus aan die orde te stel. Dit sou baie gevaarlik wees wanneer dit as vanselfsprekend beskou word dat gelowige ouers hul kind na ʼn Christelike skool stuur. Dit is ʼn opdrag van sodanige skool om toekomstige ouers bewus te maak van die belang van onderwys wat die geloofsopvoeding by die huis ondersteun.

Die skool moet oopstaan vir vrae van die ouers. Vanaf die vraag hoekom die pouses nie korter of langer kan wees nie, tot die vraag hoekom “mnr. Van der Merwe” in die klas bespreek word. Vanaf die vraag of die Nuwe Bybelvertaling in die klas gebruik mag word, tot die vraag na die behoud van oueraande.

Ten Slotte🔗

Die gemeenskaplike doel (nl. die eer van Christus deur die opvoeding en beskerming van die kinders van gelowiges) vereis voortdurende oorlegpleging tussen die ouers en die skool. Dit is onmoontlik om die verantwoordelikhede wat hier lê, te delegeer binne ʼn aantal formele strukture. Uiteindelik is die skool en die ouers so Christelik soos die hart en lewe van vaders, moeders en onderwysers. Daarom moet ouers en skole in hul totaliteit gedra word deur ʼn voortdurende gebed om die vervulling met die Heilige Gees. Slegs die Gees kan ons lei tot die doel van God se eer. En slegs deur die Gees van Christus kan die skool en die ouers van nut wees vir die kinders van die gelowiges.