Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Slegs die één kerk

Die gewone massa lidmate van die kerke, die algemene kerkvolk, is voortdurend die prooi van ’n verkeerde teologie en ’n vals studeerkamergeleerdheid oor die eenvoudige vraag: Wat is die kerk? Die verwarring onder kerkleiers is so ontsettend groot en die opvattings soos wat dit in die persmedia en TV- en radiokommen­tare na vore tree is so oorbluffend uiteenlopend! Geen wonder dat ook hierdie onsekerheid kerkloosheid en selfs kerkveragting onder ons volk in die hand werk.

Begrippe soos algemene kerk en plaaslike kerk, sigbare en onsigbare kerk, kerk as instituut en kerk as organisme, strydende kerk en triomferende kerk, pluri­formiteit van die kerk (= een kerk met baie vorme) en nog meer sulke onderskeidings, is vir baie lidmate dikwels verwarrend en selfs misleidend.

Al hierdie terme en formuleringe oor die kerk word nie deur die Bybel gegee nie! Die saak miskien wel, maar ook nie altyd duidelik nie. In teologiese klaskamers word daaroor gepraat en studente bestudeer dit. Maar dit is juis goed om te weet dat die Gereformeerde Belydenis­skrifte (omdat dit “in alles met die Woord van God ooreenkom” vgl. ondertekeningsformulier vir ampsdraers), ook nie hierdie verwarrende begrippe hanteer nie.

Is daar dan verskillende soorte kerke? Die kerk as dit of die kerk as dát? Kom ons kyk baie kortliks hierna:

Wat is dan die belydenis oor die kerk?🔗

Die Gereformeerde Belydenisskrifte praat nêrens van verskillende kerke nie, maar slegs van die één “heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges” (12 Artikels).

As die Heidelbergse Kategismus hierdie geloofstuk wat ons elke Sondag in die erediens bely, verklaar, dan praat hy ook nie van verskillende gemeentes nie, maar van die een “gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is” (Sondag 21).

Net so spreek art. 27 van die Nederlandse Geloofs­belydenis nie van verskillende kerke nie, maar van die “enige katolieke of algemene kerk, ’n heilige vergade­ring van almal wat waarlik in Christus glo ...”

In art. 28 (NGB) word van dieselfde kerk gepraat as daar gesê word dat “daarbuite geen saligheid is nie”, en juis daarom “almal verplig (is) om daarby aan te sluit en hulle daarmee te verenig om die eenheid van die kerk te bewaar deur hulle almal as lede van een en die­selfde liggaam - aan sy leer en tug te onderwerp.”

Het ons dit goed gesien? Dit is “een en dieselfde lig­gaam”.

Art. 28 gaan verder deur te sê dat dit die “plig van alle gelowiges (is) ... om hulle by dié vergadering aan te sluit, waar God dit ook al gevestig het ”. (Alle kursiverings deur die redakteur.)

Een van die belangrikste waarhede🔗

Hier kom ons nou by een van die belangrikste waarhede van ons belydenis oor die kerk: Dieselfde “heilige, algemene Christelike kerk” (12 Artikels), dieselfde heilige “vergadering van almal wat waarlik in Christus glo” (art 27 NGB), word deur God op verskillende plekke gevestig (art. 28 NGB).

Die “een en dieselfde liggaam” (art. 28), kan op baie plekke in die wêreld gesien word in - Suid-Afrika, in Kenia, in Nederland, in die VSA, in Japan, ens. Hierdie kerk is dus nie onsigbaar nie, maar onoorsienbaar. Let op ons woordgebruik: nie onsigbaar nie, maar onoorsien­baar. Is die mensdom onsigbaar as ek bv. in ’n saal vol mense slegs ’n baie klein gedeelte van die mensdom kan sien? Nee, ek kan nie die hele mensdom sien nie, maar slegs ’n klein gedeeltetjie dit is onoorsienbaar, maar nie onsigbaar nie. So is dit ook met dieselfde algemene kerk wat ek op bepaalde plekke kan sien “waar God dit ook al gevestig het” (art. 28).

Die ware en valse kerk en die kerkregering🔗

In art. 29 NGB gaan die Belydenis voort deur te waarsku teen die valse kerk. Die enigste “ander kerk” is die valse kerk en, so sê die artikel: “hierdie twee kerke kan maklik uitgeken en van mekaar onderskei word”. Dit kan gedoen word deur drie merktekens: die suiwer predi­king van die Woord, die suiwer bediening van die sakramente en die suiwer handhawing van die kerklike tug.

Met art. 30 NGB word bely hoe hierdie een kerk “ooreenkomstig die geestelike bestuurswyse wat ons Here ons in sy Woord geleer het”, ingestel en geïnstitueer behoort te wees... Hier bely ons hoe die enigste Hoof van die kerk, Jesus Christus, sy kerk op aarde regeer.

In art. 31 en 32 word die organisasie, die uitoefening van die ampte (dienste), die orde en die tug van hierdie een kerk wat op verskillende plekke gevestig is, gereël.

En die sinodes?🔗

Opmerklik, die Belydenisskrifte praat nêrens van ’n sinode nie. Ook nie van ’n klassis of ’n partikuliere sinode nie. Natuurlik beteken dit nie dat die saak verkeerd is nie. Maar heel eenvoudig: ’n Sinode is nie die kerk nie; dit is ’n vergadering van kerke (gemeentes), “waar God dit ook al gevestig het” (art. 28. NGB).

Hierdie kerke vergader op grond van hulle gemeen­skaplike belydenis volgens die Woord van God. Hulle is een in leer, diens en tug en daaroor het hulle ’n af­spraak met mekaar. Op grond van hierdie gemeenskap­like belydenis het hulle ook ooreengekom dat hulle nooit oor mekaar sal baasspeel nie. Alreeds in die eerste twee artikels van die Franse Kerkorde van 1559 het die Gereformeerde kerke hierdie beginsel beklemtoon en vandag staan dit in art. 84 van die GKSA se Kerkorde:

“Geen kerk mag oor ander kerke, geen bedienaar van die Woord oor ander bedienaars van die Woord, geen ouderling oor ander ouderlinge en geen diaken oor ander diakens enige heerskappy voer nie.”

Geen superkerke, geen hiërargie (ampsoorheersing), geen pouse, geen ‘bestuurder’- ampsdraers of geen sinode het ooit ’n heerskappy-posisie oor Christus se kudde nie. Dit is onbybels. As ons daaraan begin toegee, dan is ons nie meer getrou aan die Gereformeerde belydenis nie. Dan weet ons ook nie meer mooi wat die kerk is nie.

Wie God as Vader het, het die kerk as moeder. Só het Calvyn dit aan ons geleer. Só het die kerkvader Augus­tinus dit aan ons geleer. Só het die kerkvader Ciprianus dit aan ons geleer.

Maar die belangrikste van alles: Ons bely dit nie omdat Calvyn en Augustinus en Adrianus dit aan ons geleer het nie, maar omdat ons dit weet op grond van die Hei­lige Skrif self in Galasiërs 4 vers 26: “Jerusalem daarbo, moeder van ons almal”. Calvyn die Hervormer en die kerkvaders het dit maar net in die kerkgeskiedenis bevestig.