4 bladsye.

Sondag 11 Heidelbergse Kategismus

Lees: 1 Johannes 5:1-21🔗

Toeneem in gemeenskap met Jesus Christus🔗

Ons sluit die viering van die nagmaal af met 'n gebed. 'n Gebed vir die toekoms. Nie vir die verre toekoms nie, maar 'n gebed vir ons lewe van elke dag vir die res van ons lewe. Die nagmaal wil ons nie êrens in die verlede laat nie. Maar dit wil ons juis laat verder gaan in geloof. Daarom eindig ons die nagmaal met die gebed: Ons bid ... dat die VRUG van hierdie nagmaal sal wees dat ons daagliks toeneem in ware geloof en in die gemeenskap met Christus. Is dit nie die dankbaarheid wat die Here van ons vra nie? Toename in die ware geloof en toename in die gemeenskap met ons Here Jesus Christus. Ons moet nouer met Hom saamleef. Nie 'n verkrampte lewe nie, maar meer intiem met ons Verlosser.

Die doel van die nagmaal is dat ons sal toeneem in ons liefde vir die Here wat ons Verlosser is. Want die nagmaal het ons weer laat sien presies dit waaroor Sondag 11 van die Heidelbergse Kategismus handel. Die Seun van God word "Jesus" genoem, omdat Hy ons van al ons sondes verlos en by niemand anders enige saligheid te soek is nie. Dit sien ons telkens aan die nagmaalstafel. Hierin moet ons die groot liefde van die Here vir ons sien. Ons hoef buiten Christus, buiten ons Here Jesus, niks en niemand anders te soek nie. Ons lewe hoef geen komplekse saak te wees wanneer ons wil leef uit God se genade nie. Dit is eenvoudig: alles is in Christus. Alles! Buiten Hom hoef ons niks te gaan soek nie. Want hierdie Jesus het vir ons gegee wat niemand anders vir ons òf KAN òf WIL doen nie. Wanneer ons dit verstaan, sal ons Hom ook werklik leer liefkry en meer en meer toeneem in gemeenskap met en in liefde vir Hom. Dit is wat ons bid in die gebed van die nagmaalformulier. Laat ons daagliks toeneem in gemeenskap met hierdie Jesus. Toeneem in liefde vir Hom en daarmee ook in liefde vir mekaar. Elkeen wat geloof het in Jesus Christus, dus elkeen wat uit God gebore is, so skryf Johannes, sal God liefhê.

Jesus — Redder🔗

Die Naam van Jesus, wat Redder beteken, wil ons eintlik laat besin oor die vraag: "Hoe staan ons teenoor ons Verlosser?" Want Jesus beteken Redder. Redder van ons sonde. Jesus is die Redder van sy volk se sonde. Nie van vreemdelinge nie, maar van sy volk se sonde. Ons kan nie anders as om te kom by die vraag hoe ons teenoor Jesus staan nie. Vir eeue lank het mense 'n doodsvrees vir Jesus gehad. Dink maar aan Maarten Luther wat 'n doodsvrees vir Jesus gehad het, want hy het gehoor van die geregtigheid van Jesus Christus; die geregtigheid van God, wat in Christus aan ons geopenbaar is. Dit het hom bang gemaak en weggedryf van Jesus, want hy het gedink: Jesus kom om my te veroordeel. Hierdie Jesus is vir my 'n bedreiging. En dan, wat het gebeur? Maarten Luther, soos talle ander gelowiges in die Middeleeue, het hulle troos en toegang tot God gaan soek by Maria of ander sogenaamde heiliges. Dat Jesus God se geregtigheid vir ons is, was vir Luther geen troos nie. Jesus was nie Een by Wie 'n mens troos en veiligheid en beskerming gekry het nie, so het hulle gedink.

Op allerlei maniere, by ander mense, by skepsels, het mense troos en beskerming teen Jesus gesoek. Jesus Christus is voorgestel as Een van Wie weggevlug moes word, vir Wie jy bang moes wees. Wat 'n geweldige verdraaiing van Wie Jesus werklik is en vir ons wil wees. Niemand anders as juis Hy is ons Verlosser, die Verlosser van sy volk, nie! Jesus is juis die Een wat vol van genade en waarheid is. Nie Maria, die sagmoedige vrouefiguur nie, maar Jesus Christus is die Een by Wie ons veiligheid teen al die aanklagte en aanvalle en magte van die satan kan kry. Ons hoef nie van Hom af weg te vlug nie. Die uitnodiging is juis om na Hom toe te kom.

Uit die besef van God se heiligheid teenoor ons onheiligheid, dink mense ook soms dat Jesus vir ons ontoeganklik is. Mense dink dat ons nie uit ons eie sommer na Jesus kan gaan nie. En dit is natuurlik ook waar dat ons nie sommer op grond van ons eie verdienste voor die Here God mag kom nie. Uit onsself het ons geen toegang tot die Vader en tot Christus nie. Maar die Here God laat ons nie daar nie. Hy gee juis self sy eie Seun, Jesus, om ons Verlosser te wees. Ons Middelaar, sodat ons deur Jesus na die Vader mag kom. Jesus is dus nie bedoel as Een vir Wie ons in verskrikking moet leef nie. Hy wat wel die Regter oor die wêreld is, is ons Verlosser. Hy, die Regter, wat ook oor my sal oordeel in die oordeelsdag, is danksy God ook my Verlosser. Waarom is ons so bang as die Here Jesus, wat die oordeel gaan uitspreek, ook my Verlosser is? Elkeen wat in Hom glo, hoef daarom nie bang te wees nie. Soos Johannes in sy evangelie skryf, is Hy juis die deur waardeur die skape kan en mag en moet gaan. Hy is die deur wat wyd oopstaan. Soos die Hallelujalied ons leer: "Ek sien 'n poort wyd ope staan ..." Wat ons ook al verder van die lied mag dink, dit is waar van Jesus: Ek sien 'n poort wyd oop staan. Hy is die deur, waardeur die skape kan in- en uitgaan, kan weiding vind.

Ons kan ons verlossing by niemand anders gaan soek nie. Hy wat die Seun het, het alles, hy het die lewe, skryf Johannes in sy brief. Ons hoef buiten of naas Hom niks en niemand meer te soek nie. In die Nederlandse Geloofsbelydenis, artikel 26, waar bely word dat Jesus Christus ons Voorspraak is, bely ons dat daar niemand anders in die hemel of op die aarde is wat groter liefde vir ons het as Jesus Christus nie. Wie het vir ons groter liefde? Ons ouers, ons man of vrou, ons onderwysers of predikant? Nee, dit is alles so gebrekkig. Niemand het vir ons groter liefde as Jesus nie, bely ons. Daarom sal ons na Hom toe gaan. Ons moet daarom vrymoedigheid hê teenoor hierdie Jesus. Waarom sou ons dan ons troos by enigiemand anders gaan soek? Hy het in onmiskenbare taal sy liefde vir ons verklaar en dit onmiskenbaar bewys deur sy dood en opstanding. Hierdie liefde van Hom vir ons is nie wispelturig nie, maar dit is onverganklik en onveranderlik. Hy het ons nie liefgehad nadat ons bewyse van liefde vir Hom getoon het nie. Nee, Hy het ons eerste liefgehad, toe ons nog in vyandskap vir Hom geleef het, skryf Johannes. Hy het Homself vir ons gegee, toe ons nog in volle opstand teen Hom was. Want Hy is Jesus, wat ons van ons sonde verlos, van ons vyandskap teen Hom!

Ons vrymoedigheid teenoor Hom🔗

Laat ons vervolgens let op ons vrymoedigheid teenoor Hom, wat ons kan en moet hê. Ons kan daarom alle vrymoedigheid hê om in Jesus se Naam na die Vader te gaan. Want die Heidelbergse Kategismus waarsku ons tereg dat ons ook selfs nie 'n gedeelte van ons saligheid in onsself moet probeer soek nie. So dikwels dink ons dat ons nog met ons eie vroomheid onsself eers "ontvanklik" vir die genade van die Here moet maak. Ons moet onsself eers voorberei en gereedmaak om na Jesus toe te gaan. Dit is 'n manier om te ontken dat Jesus 'n volkome Verlosser is.

Dikwels wonder van die jongmense in ons gemeente wanneer en of hulle belydenis van geloof kan doen. Dan hoor ons die opreg bedoelde opmerking op 'n sekere tyd, dat hulle dink dat hulle nou "gereed" sal wees om belydenis van hulle geloof af te lê. 'n Geweldige aarseling om op Christus te vertrou. Asof ons eers vrymoedigheid kry om op Jesus te vertrou, nadat ons "sover" gebring is. Hoever moet ons dan gebring word voordat ons op die Here Jesus gaan vertrou, voordat ons Hom nie meer as 'n bedreiging sien nie? Dit klink heel vroom om so te praat, maar dit is niks minder as 'n belediging vir Jesus, ons Verlosser, nie! Die Here Jesus het nie gekom om halfvroom of halfgereed mense te red nie. As Jesus nie my alles is nie, bely ons in Sondag 11, maak ek van Hom 'n halwe Verlosser. Hy het gekom om sondaars te red. God spreek goddeloses vry; nie half geregverdigde mense nie, maar sondaars.

Daarom sê die Heidelbergse Kategismus dit so mooi: "Slegs een van twee dinge is immers moontlik: òf Jesus is nie 'n volkome Verlosser nie, òf dié wat hierdie Verlosser met 'n ware geloof aanneem, het in Hom ALLES wat vir hulle saligheid nodig is". Jesus het as goeie Herder gekom om te soek en te vind die wat verlore is. Die gesondes het geen geneesheer nodig nie. Jesus is òf die enigste weg tot die Vader, òf Hy is geen weg nie! Onder die hemel het God geen ander Naam gegee, so leer die apostels ons in Handelinge, waardeur daar vir ons verlossing moontlik is nie, as die Naam Jesus.

Iets van die toekoms?🔗

Is dit iets van nou? Of is dit iets van die toekoms? Kan ons nou reeds so oor Jesus praat, dat Hy vir my 'n volkome Verlosser is? Durf ons dit doen? Al is daar ook in ons lewens nog sondes? Of sal ons eendag saam met die vier en twintig ouderlinge om die troon van die Lam staan en dan pas volkome op Hom hoop? Die wonder van die evangelie is juis dat die verlossing nie iets net van die toekoms is nie. Dit is iets nou reeds vir ons! Hy wat die Seun het, skryf Johannes, het die lewe. Nou. Deur Hom kan daar nou reeds vrede tussen my en God wees. Verlossing is nie net vir mense wat sterf nie. Jesus as Verlosser is nie Iemand wat jy so 'n bietjie op die kantlyn kan skuif omdat jy dalk nog te jonk is nie. Hy kom nie pas in my lewe ter sprake wanneer ek in die belydenis-katkisasieklas is nie.

Doen julle as kinders sonde? Natuurlik! Na wie moet julle anders vlug vir vergifnis van sondes as na Jesus?! Hy is 'n volkome Verlosser. As jy by Hom is, ook as jongmens, sal jy niks kortkom vir jou verlossing nie. Waarom dan gedurig so onseker wees of ek ook een van die Here se uitverkorenes is? God het teenoor ons getuig en deur sy Gees gesê dat die ewige lewe in sy Seun is. Neem ons die getuienis van mense aan en ons glo God nie as Hy dit getuig nie? Sal ons mense glo en ons glo God nie? Dit is waarvoor Johannes pleit in hoofstuk 5 van sy eerste brief. As jy die Seun het, sê die Gees van God, het jy die lewe. Hoe jonk, hoe oud, hoe swak jy ook al mag wees.

Hierdie Jesus laat geen ander naas Hom toe nie. Hy is 'n jaloerse Verlosser. Daarom moet ons onsself afvra  of Hy vir ons die lewe is. Soos wat Paulus kon sê dat die lewe vir hom Christus was. En dan is dit wel 'n moeilike vraag, maar hier word nie gevra wat jy alles vir Hom doen nie. As die vraag gevra word of Hy vir jou alles is, dan is die vraag presies dit: wat is Hy alles vir jou! Nie: wat het jy alles vir Hom gedoen nie. Het jy Hom lief as die Een wat vir jou 'n volkome Verlosser is? Dit is die vraag. Nie wat jy vir Hom gedoen het nie. Daarom is hierdie verlossing van God iets vir nou.

My hele lewe🔗

Hierdie verlossing raak my hele lewe. Wat beteken dit dat Jesus die Verlosser van my sondes is? Dat ek weer 'n keer vergifnis van sonde kan kry as ek daarom vra? Kom ek bloot na Hom wanneer my skuldige gewete vir my te veel word? Ons gaan nou daarop let dat die Here Jesus Verlosser is van my hele lewe. Ons sou baie maklik kon dink: Jesus red my wel van my sonde, maar wat van die ongeneeslike siekte wat ek het? Of die geweldige kwellinge met my kinders of oor my ouers? Wat van ons finansiële kommer in die gesin? As Jesus dan so 'n volkome Verlosser is, wat gemaak met al my lyding, my swaarkry, my teëspoed in die lewe? Wat van al die moeilikhede in ons lewens?

Hier moet ons nie vergeet nie, dat al ons swaarkry die gevolg van ons sonde is. Die sonde werk deur in ons hele lewe, soos suurdeeg wat 'n hele brood deurtrek. Ons is nie klaar met sonde as iets wat ver van ons bly staan nie, iets waarvoor ons by geleenthede vergifnis vra nie. Ons sondes beïnvloed ons sit en ons opstaan. Dit beïnvloed alles wat ons doen, alles wat ons is! Dit beïnvloed verhoudinge tussen mans en hulle vroue. Dit raak die lewe van ouers met hul kinders. Dink net aan God se woorde aan Adam na die sondeval. Oor jou vrou, wat as hulp bedoel is, gaan jy probeer heers. Van jou vrou 'n vloerlap maak, eerder as 'n hulp wat by jou pas. Een wat net vir jou persoonlike gerief bestaan. Die sonde gaan jou verhouding met jou vrou probeer beïnvloed. Oppas! Wees wakker! Soos God vir Kaïn sê: die sonde lê en loer vir jou. En Eva sal ook nie van die sonde loskom nie; sy sal eweveel probeer om die posisie van die hoof van die huishouding in te neem, oor haar man te heers. Sy gaan probeer om die broek in die huis te dra.

Dit alles is die gevolg van ons sonde. Droogtes en oorstromings, oorloë en die dood. Siektes, katastrofes en ekonomiese mislukkings. En nou, waar laat dit ons? Nou is die wonder van Jesus Christus juis, so het ons bely, dat Hy die volkome Verlosser is, dat Hy die sonde nie maar oppervlakkig aanspreek nie. Hy gaan die sonde met "wortel en tak" uitroei, sodat daar uiteindelik geen traan en siekte en pyn en lyding en mislukking meer sal wees nie. En die manier waarop Hy daarmee met ons begin, is deur ons sondes te vergewe. Dit is God se manier om te begin. Die feit dat ons mag weet ons leef nie meer onder die toorn van God nie, dat my sondes nou vergewe is en dat wat ook al met my in die lewe gebeur, dit nie God se ewige straf oor my is nie, maar dat dit na my kom uit die liefdevolle Vaderhand van my versoenende hemelse Vader. Dit het ons tog bely in Sondag 10 van die Heidelbergse Kategismus. Ons kan, soos die apostel Paulus in Romeine 5:1 sê, geregverdig in vrede met God lewe, wetende ons sondes deur Christus vergewe is. Ons hele lewe mag nou 'n lewe van vrede wees. God het nie die hele tyd met my as 't ware 'n appeltjie te skil nie. Vergifnis van ons sonde beteken: ons mag werklik in vrede met God lewe, deur Jesus Christus.

Maar die sonde word ook nie net daar gelaat nie. Jesus kom gee ook as Verlosser dat ons nie meer sonde doen nie. Dit skryf Johannes ook in sy brief. Hulle wat glo in die Seun van God, sondig nie meer nie. Ons word losgemaak van die heerskappy van die sonde oor ons lewe. Die sonde heers nie meer oor my nie. In die kerk van Jesus Christus lewe ons nie meer elkeen vir homself nie. Ons word daarvan vrygemaak. Ons leer om te leef vir God en ons naaste deur God se genade en Christus se vryspraak. Dit is juis deur die evangelie van die verlossing van ons sonde wat aan ons verkondig word, dat ek die krag kry om die sonde te oorwin; dit is deur die geloof. Ons word verander tot nuwe mense. Die Here Jesus verlos my van my hoogmoed, van losbandigheid, van onvergewensgesindheid teenoor mense, van agterdog. Sonder Jesus is geen verlossing hiervan moontlik nie. Maar met Jesus in my lewe is daar ook geen plek meer vir die heerskappy van hierdie sondes nie. Hy is 'n volkome Verlosser. As Verlosser het Hy gekom om alles nuut te maak, om ook ons te vernuwe deur sy Gees, sodat ons ook onder 'n nuwe hemel en op 'n nuwe aarde vir ewig mag woon!