5 bladsye.

Sondag 12 - Vraag 32: Heidelbergse Kategismus

Lees Romeine 12:1-21

persoon op bankie🔗

'n Eer om Christen Genoem te word🔗

Ons het in die vorige preek in die besonder aandag gegee aan die eerste deel van hierdie Sondagsafdeling. Waarom word Jesus ook "Christus", wat "Gesalfde" beteken, genoem? In die besonder het ons gesien dat Jesus die Christus genoem word omdat Hy deur die Vader tot 'n baie spesifieke taak aangestel is en ook met die Heilige Gees gesalf is tot ons hoogste Profeet en Leraar, ons enigste Hoëpriester en ons ewige Koning wat ons met sy Woord en Gees regeer en ons by die verlossing wat Jesus vir ons verwerf het, ook nog beskerm en bewaar. Die Here Jesus Christus is nie 'n Verlosser wat sommer uit die niet verskyn as Redder uit ons nood nie, wat Homself kom aanbied en sê: "Hier is Ek, Ek gaan vir jou 'n Verlosser wees" nie. Nee, Hy is deur die God met Wie ons versoen moet word, self aangestel om ons te verlos, sodat ons sekerheid kan hê dat daar by hierdie Jesus verlossing is. God het Hom self aangewys.

Vir sommiges kan dit klink asof dit alles so "formeel" is. En tog is dit juis vir ons die wonderlike troos om na die Vader te kan gaan in die Naam van Jesus, wetende dat die Een in wie se Naam ons om vergifnis bid, ook die Een is wat deur die Vader self bestem en aangestel is vir daardie taak. Jesus is nie 'n indringer wat ons dalk mislei nie. Dit kan nie gebeur dat ons by die Vader kom in Jesus se Naam en dan uitvind dat ons steeds geen toegang tot God se genadetroon het nie. Jesus is gewaarmerk dat ons werklik deur Hom verlos kan word. Hy het die waarmerk op Hom dat Hy werklik aangestel is deur God en vir ons gegee is. Dit het ons baie duidelik gesien toe Jesus gedoop is in die Jordaan: toe gaan die hemel vir Hom oop en die Gees daal op Hom neer. Jesus word gesalf; nie deur die Gees nie, maar met die Gees. En die Vader se stem word gehoor: "Dit is my geliefde Seun in wie Ek 'n welbehae het" (Matteus 3:17). Na Hom kan en moet julle luister. Almal moet daarvan kennis neem. Hy het die waarmerk, die stempel wat op Hom afgedruk word, die salwing met die Gees. Hy is die Messias, die ware Verlosser. Niemand het die Gees nog ooit so ontvang soos Jesus nie.

As ons Christus so leer ken het, weet ons ook wat 'n geweldige eer dit is om Christen genoem te word. Die vraag in die Heidelbergse Kategismus waarop ons vandag gaan let, begin so: "Waarom word jy 'n Christen genoem?" Die aangrypende antwoord is: "Omdat ek deur die geloof 'n lid van Christus is en daardeur deel aan sy salwing het." Aan Hom, wat met die Gees gesalf is, het ek deel gekry. In Handelinge 11:26 lees ons dat die dissipels van Jesus in Antiochíë vir die eerste keer "Christene" genoem is. Heel waarskynlik was dit as 'n skelnaam bedoel: hulle is hierdie mense wat volgelinge is van die man met die geweldige pretensie, van Jesus wat aanspraak daarop gemaak het dat Hy God se Gesalfde is. Hulle wat in Jesus glo as God se Gesalfde word self ook "Christene" genoem. Dit wat in Antiochíë waarskynlik as 'n belediging bedoel was, word vir ons 'n geweldige eer. Ons mag trots wees daarop! Want uit die Skrif leer ons dat ons deur die geloof lid van Christus is en deel het aan sy salwing — wat 'n voorreg! Ons is deel van Hom! Ons word vernoem na Hom wat ons Verlosser is en ter wille van ons verlossing gesalf is met die Gees. Dit is vir ons 'n erenaam. Dit is die eerste punt waarop ons gelet het.

kruik

Aan God Gewy🔗

In die tweede plek gaan ons daarop let dat ons as Christene aan God gewy is. Ons is afgesonder vir God. Ons kan baie maklik daarin verval om oor Jesus se liefde vir ons te dink as 'n "vrye" liefde. Daarop het ons in die vorige preek kortliks gelet. 'n Liefde wat op niemand spesifiek gerig is nie en daarom 'n soort "algemene" liefde is vir alles en almal. Daarom lees ons ook dikwels op die plakkers wat ons op motors sien: "Glimlag, Jesus het jou lief". Dit is baie naby aan lastering. Dit is egter geen ware liefde nie. Dit maak die liefde van Christus los van die spesifieke taak wat Hy gehad het. Sy spesifieke roeping om sy liefde te kom bewys vir hulle wat die Vader aan Hom gegee het. Aan sy kinders. Jesus se liefde is baie besonder gerig. Soos die liefde van 'n bruidegom vir sy bruid. Wanneer Jesus byvoorbeeld in Johannes 17 bid, dan bid Hy tot die Vader vir hulle wat die Vader aan Hom gegee het. Hy bid nie vir die wêreld nie. Maar vir hulle wat die Vader aan Hom uit die wêreld as bruid gegee het. "Ek bid vir hulle waaroor U My as Christus aangestel het. Vir hulle tree Ek in by U, vir hulle tree Ek op as Hoëpriester." Sien u, die liefde van Christus is die liefde van 'n Gesalfde. Dit is gerig op iemand spesifiek. Hy is deur die Vader as Bruidegom vir ons afgesonder. Maar ewe goed is ons nou, wanneer ons Christene genoem word, vir Christus afgesonder as bruid. Ons liefde is ook nie 'n vrye liefde nie, sodat ons vir onsself 'n verlosser kan uitkies nie. Hy wat deur die Vader aan ons gegee is, Hom neem ons in liefde aan as ons Verlosser. Ons is aan Hom gewy, eenkant gesit vir Hom. Vir Hom afgesonder, vir niemand anders nie. Daarom is ons liefde ook spesifiek, gerig op Christus, die Een wat God vir ons uitgewys het, van Wie Hy gesê het: "Dit is Hy; daar is jou Bruidegom."

Hiervandaan kom die opvallende titel waarmee die apostel Paulus byna al sy briewe begin. Hy skryf telkens aan die gemeentes as "geroepe heiliges", soos hy ook in die brief aan die Romeine doen in hoofstuk 1. Hy skryf: "...geroepenes van Jesus Christus – aan al die geliefdes van God, geroepe heiliges wat in Rome is..." Die gemeente word aangespreek in sy geheel, nie net sekere uitverkorenes binne die gemeente nie. Hulle is aan Christus gewy en het deel aan Christus se salwing. Waar sien ons dit duideliker voorgestel as juis met die wondergebeure van Pinksterdag? Dan word die Gees op die gemeente van Jerusalem uitgestort deur Christus wat opgevaar het na die hemel. Hy, wat ons Hoëpriester in die hemel is, ons Profeet; Hy stort nou sy Gees uit op sy kerk. Hy gee dieselfde salwing waarmee Hy gesalf is, nou vir ons. Die gemeente is nou geroep, hulle is heilig, hulle is afgesonder vir hierdie Bruidegom. Let wel, ook in hierdie geval is die gemeente gesalf nie deur die Gees nie, maar met die Gees. Ons word met die Gees gesalf om daarmee te wys dat ons aan Christus behoort, aan Hom toegewy is deur die Vader. Op hierdie manier kom lê Christus beslag op die gesalfde gemeente. Julle is eenkant gesit as bruid van Christus. Dit is wat die naam "Christen" beteken. Julle is geroepe heiliges. Net soos wat die volk Israel in die Ou Testament 'n heilige volk van die Here genoem is. So is die gemeente vandag die heilige volk van God.

Maar wat het dit met ons geloofslewe te doen? Wanneer ons ons salwing leer ken, dan verstaan ons wat ons roeping is en dan eers begin ons God se genade verstaan. Neem maar die eenvoudige skaapherder Dawid wat deur Samuel gesalf word tot koning oor Israel. Dawid het nie die koningskap opgeëis nie. Maar deur sy salwing, deurdat hy aangewys word as koning, begin hy ook as koning van Israel te leef. God het hom aangewys en gesê: "Dawid, jy wat 'n eenvoudige skaapherder is, jy is nou koning oor Israel." Die teken is die salwing wat God oor hom uitstort deur die profeet Samuel. Dawid gaan nou ook leef as koning. Deur die salwing word die geloof bewerk. As die Here my gesalf het deur sy Gees, my geroep het om aan Hom te behoort, dan kan ek ook werklik glo. En as Hy my as 'n heilige geroep het, dan moet ek ook 'n heilige wees. Ek moet word waartoe God my roep. Daar lê die krag van die evangelie. So word die gemeente wat in Christus glo, gesalf met die Heilige Gees. Die gemeente is dan ook geroepe heiliges. Die geloof word deur die roeping bewerk en omhels dan ook God se beloftes van genade. Dan kan ons ook, want as God ons roep, kan ons in geloof ons roeping aanvaar. Dan hoef ek nie te wonder of ek in Christus mag glo nie; ek het nou 'n roeping om in Hom te glo. Op hierdie manier werk God die geloof. Daarom word die evangelie aan ons as gemeente verkondig. Dit is die bekendmaking van God se roeping. En as God roep, wie sal nie tot geloof lewend gemaak word nie? Alleen hulle wat hul teen die genade van die Here verhard. Dit is wat weer beslag op ons lewe moet lê: 'n insig, 'n verstaan en 'n geloof in die roeping waarmee God ons as Christene geroep het. Ons het 'n roeping, en ons moet dan ook 'n roepingsbewussyn ontwikkel in hierdie gemeente.

bruid

Dit is wat die magtige herlewing van ware geloof in die tyd van die Groot Reformasie in die 16de eeu gebring het. Die Reformatore het weer die gemeente van die Here as geroepe heiliges gesien. Maarten Luther ontdek weer die "priesteramp van alle gelowiges". Dis nie 'n priesterdom van priesters wat bo die gemeente staan nie. Hy sien weer die priesterskap, die roeping, die amp van die gelowiges om hulle roeping gehoorsaam te wees. Die gelowige mag glo. Hy wat deur God se genade deel is van die gemeente, mag weer gaan glo. Hy is nie afhanklik van mense wat die genade bedien nie. Hy hoef alleen maar te luister na God wat praat. Die gemeente is nie maar 'n toevallige versameling van luisteraars na die evangelie nie. Paulus rig sy briewe aan "geroepe heiliges". Die gemeente van die Here is met die Gees gesalf tot die amp van gelowige. Dit bring vir ons die geweldige betekenis van die kinderdoop na vore, wat weer ontdek is in die tyd van die Reformasie. Paulus noem daarom ook die kinders van gelowiges "heilig". Waarom is hulle heilig? Ook die kinders is gedoop in die Naam van die Vader, van die Seun en van die Gees. Hierdie kinders word geroep om aan God te behoort. Daarom mag elke jongmens in die gemeente, hoe jonk ook al, weet dat God 'n roeping vir jou gegee het. Jy is gesalf met die Gees van God en daarom het jy 'n geweldige roeping om na te kom; die roeping om in Christus te glo, om aan Hom te behoort en om as 'n koning, 'n priester en 'n profeet onder Jesus te gaan leef. Die Gees het kom beslag lê op elkeen in die gemeente, in dié sin dat daar vir ons 'n roeping gegee is. Nou mag ons glo, want wie kan ooit glo sonder dat hy weet dat God vir hom 'n genadige Vader is. As dit nie so is nie, word ons geloof altyd gesien as my deel wat ek moet bydra tot my verlossing.

As ons 'n roeping het, waarom sal ons nog twyfel of ons 'n kind van God mag wees? Ons moet wel ons roeping ernstig opneem, 'n roepingsbewussyn hê, want dit is wat die naam "Christen" beteken. Ek is gesalf, ek mag deel hê aan die salwing van Christus, daarom mag ek uit die geloof in Hom leef. Ek mag en ek moet. Dit is 'n roeping. Daarom is geloof om my roeping wat ek ontvang het, in gehoorsaamheid te aanvaar. As ons geroepe heiliges is, moet ons nou ook en mag ons nou ook soos heiliges gaan lewe. As ons ons roeping, ons salwing deur die Gees nie verstaan nie, dan begryp ons nie die betekenis van God se verbond met ons nie. Dan bring God se verbond ons tot passiwiteit. Dan sit ons en wag totdat God nou maar doen wat Hy moet doen. Dit is 'n belediging vir God. Maar as ons as Christene die roeping aanvaar waartoe ons geroep is, dan laat dit ons lewe as konings, profete en priesters. Dan leef ons uit die salwing waaraan ons deel het, omdat ons dan in die geloof verbind is met Christus wat vir my gesalf is. "Roeping" beteken dan ook dat ek nie aan myself behoort nie, maar aan die Here. Hy wat aan die Here gewy is, kan nie meer vir homself leef nie. Maar jy leef dan vir Hom wat jou geroep het uit die duisternis na sy wonderbare lig. Dit is wat dit beteken om aan die salwing van Christus deel te hê.

Aan ons geloof gaan altyd ons roeping vooraf. As God ons gesalf het tot die amp van die gelowige, dan kan ek ook in die geloof die roeping aanvaar. Ek kan my as 't ware daaraan oorgee. Dit is die vrymoedigheid wat ons in die geloof kan hê. Deur die geloof kan ons beslag gaan lê op dit wat vir ons beloof word. Soos Dawid wat begin leef het soos 'n koning nadat hy gesalf is tot koning van Israel. As die Here my gesalf het om Christen te wees, dan gaan ek ook nou soos 'n Christen lewe. Dit wat ek in Christus het, gaan die Gees nou ook heel werklik in my lewe gestalte laat kry. Ek word daarom deur die genade van God elke dag meer en meer wat ek in Christus reeds is. 'n Heilige, afgesonder vir en gewy aan God. Nie omdat ek dit gekies het nie, maar omdat God gekies het. Omdat God geroep en afgesonder het, omdat God my gewy en met sy Gees gesalf het. Wie sal hierteen in opstand kom en God se wyding ontwy? Wie sal God se heiliging ontheilig? Wie sal God se roeping nie aanvaar nie, as God so 'n roeping gegee het, gemeente? Wie sal die genade nie wil aanvaar nie? Aan God gewy as Christen, gaan ek nou ook meer en meer as Christen lewe uit die genade wat my gegee word.

So kan ek as Christen elke môre weer begin by my roeping. Ek begin nie by my eie swakhede en mislukkings nie. Ek begin by die geweldige hoë naam wat my gegee is – "Christen". Ek mag 'n Christen wees! My hele lewe moet daarom aan God gewy wees. En dan kan ek ook as Christen gaan lewe. Want die Gees wat my salf tot kind van God, is ook die Een wat aan my al die nodige gawes uitdeel.

gebreekte takkie

Ons kry hier eintlik 'n pragtige beeld. Deur die geloof is ek 'n lid van Christus. Ek is by Hom ingeënt. Soos 'n takkie wat afgebreek het en sekerlik gedoem was om brandhout te word. Hierdie takkie mag weer ingeënt word by Christus, die lewende boom, sodat ek uit sy wortels weer mag leef. Sodat ek deel mag hê aan sy salwing. Sodat daardie tak wat ingeënt is, weer vrug kan gaan dra. Ek het deel aan Christus se salwing!

Ons Redelike Godsdiens🔗

Nou gaan ons in die laaste plek let op wat ons redelike godsdiens is. Waaruit bestaan ons godsdiens? Wanneer ons nou in die geloof ons roeping aanvaar, sal ons ook die gawes ontvang wat nodig is om ons roeping uit te voer. Soos wat Dawid die bekwaammaking ontvang het deur sy roeping as koning in geloof te aanvaar, selfs toe daar nog 'n ander koning op die troon regeer het. In geloof het Dawid sy salwing as koning aanvaar, ten spyte van alles wat hy rondom hom sien. Hy sien 'n despoot op die troon — Saul! Geloof moet altyd eers die roeping aanvaar en dan kan ook tegelyk deur die geloof verwag word dat God alles sal gee wat ons nodig het om daardie roeping te aanvaar. Saam met die geloof kom al die gawes. Soos wat Christus 'n eie taak en roeping as Gesalfde vir ons gehad het, word ons ook nou geroep om te lewe as Christene.

As gemeente van die Here is ons vir Hom heilig. Daarom kan Paulus die gemeente in Rome dan ook in hoofstuk 12 oproep: "Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer - dit is julle redelike godsdiens". Dit is waaroor dit gaan in julle godsdiens. As julle dan die geweldige roeping ontvang het, stel julle dan nou beskikbaar as 'n offer. Ons moet nie aan hierdie wêreld gelykvormig word nie. Maar ons moet verander word deur die vernuwing van ons gemoed. Aanvaar julle roeping, moenie soos die wêreld wees nie. Wees soos heiliges! Ons moet weer besef wat dit beteken om ons roeping in geloof te aanvaar. Dan sal ons ook werklik kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.

Nou kan ons ook verstaan wat dit beteken dat ons gesalf is tot profeet, priester en koning. As Profeet word ek geroep om sy Naam te bely. As profeet sal ek self in die eerste plek gelowig en gehoorsaam luister na God se Woord. Want as Christen het ek nou weer geleer om nie meer van myself te dink as wat ek behoort te dink nie. Ek het veral geleer as profeet om na my groot Profeet en Leraar te luister. Hierdie Leraar Jesus het aan ons God se verborge raad en wil oor ons verlossing volkome kom bekend maak. Hier sal ek as profeet noukeurig na Jesus wil luister. My verlustig in elke woord van genade wat Hy vir my te sê het. Nie wag op een of ander ingewing wat my van God gegee moet word nie. Ek sal luister na Christus wat na my toe kom in die prediking, wat die evangelie na my toe bring. Vir elkeen volgens die maat van die geloof. Wanneer ek twyfel oor my verlossing, sal ek luister na Christus wat my God se verborge raad volmaak kom bekend maak het. Ek hoef buite Christus niks te soek nie. Ek sal nie gedurig in twyfel gaan leef oor my verlossing, terwyl ek nie wil luister na die verkondiging van die evangelie en dit nie ernstig wil opneem nie. Want hy wat as profeet met die mond sy geloof gaan bely, luister na Christus sodat hy met die hart kan glo tot verlossing. Dan gaan ek die salwing wat ek ontvang het, nie verontagsaam en sekerheid op 'n ander plek as by Christus soek nie. En dan kan ons ook soos kinders begin praat van hierdie liefde van ons Vader vir ons as profete. Nie gedwonge nie. Maar wanneer ek my roeping as profeet aanvaar het, kom die bekwaammaking as gawe van God. Wanneer ek my roeping aanvaar, sal ek my nie meer skaam om Christen te wees en vir ander daarvan te getuig nie.

As Priesters gaan ons dan ook ons hele lewe as dankoffer aan die Here wy. Ons stel ons liggame as lewende en heilige en God welgevallige offers aan die Here. Ek kan nou weer wees waarvoor die Here my as mens aanvanklik gemaak het. Om in hierdie skepping te leef en my hele lewe een groot dankbaarheidsoffer aan die Here te laat wees. Hierin lê ook geen swaarmoedige opgawe vir ons nie. Hy wat weet dat sy sondes hom vergewe is ter wille van Christus se volmaakte offer, gaan elke nuwe oggend weer krag van die Vader vra om te lewe tot sy eer. Vir my sal die lewe nou Christus wees en die sterwe wins.

hande en boom

Maar in die laaste plek is ons ook nog Konings. Ons kan as kinders van die Here oor die hele skepping van God regeer as onderkonings. En dit kan ons doen met 'n vry gewete. Ek kan die stryd aansê teen die sonde, die duiwel en sy diensknegte. Want ons het deel aan die salwing van Christus wat as Koning regeer oor die aarde en die heelal. Ons mag weet dat geen dood of magte of engele of siekte of swakheid my kan skei van die liefde van God wat daar in Christus is nie. Ons gaan daarom as Christene ook in hierdie land ons roeping op ons neem om die koningskap van Christus te verkondig. In die vorming van 'n skoolvereniging vir Christelike of Gereformeerde onderwys. En ons gaan as gelowiges 'n politieke party stig wat die koningskap van Christus in hierdie land uitdra. Dit is ons roeping. Ons kyk nie na ons getalle, hoe min ons is nie. Maar ons het 'n roeping en is van die geloof oortuig dat die wêreld daarvan sal kennis neem as ons getuig van die koningskap van Christus, ook in hierdie wêreld. Sodat teen die rewolusie in ons land ook weer die evangelie gehoor kan word as enigste verweer. Die evangelie waardeur elkeen sy amp voor God getrou sal uitoefen. Mag die Here ons daartoe help!