Sondag 13: Heidelbergse Kategismus
Sondag 13: Heidelbergse Kategismus
Lees 1 Johannes 4:1-21
⤒🔗
Kyk wat 'n Liefde!←⤒🔗
Johannes word in hierdie brief van hom oor een saak opgewonde. Ons mag kinders van die lewende God genoem word! In 1 Johannes 3:1 lees ons dit as 'n uitroep. Wat 'n voorreg! Dit is 'n bewys van God se liefde vir ons. Die rede waarom die wêreld ons nooit kan verstaan nie, is juis omdat hulle hierdie God wat sondaars sy kinders noem, nie ken nie. En die groot wonder is dat ons nie eers êrens in die verre toekoms kinders van God sal word nie. "Geliefdes," skryf Johannes (1 Johannes 3:2), "nou is ons kinders van God". Dit is wel nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie. Met ander woorde: die volle heerlikheid van wat ons sal wees, is nog nie geopenbaar nie. Maar ons weet dat ons reeds kinders van God is. Watter heerlikheid vir die kinders van God nog in die toekoms lê, weet ons nou nie alles nie. Maar dat ons kinders is, het geweldige betekenis vir ons lewe nou. Daarom het Johannes dit so oor en oor beklemtoon in hierdie brief. Geliefdes, ons is nou kinders. Dit is nie iets wat ons eers in die toekoms gaan kry nie.
Ons staan nie vir 'n oomblik hier verleë terwyl ons wel 'n heerlike toekoms verwag nie. Almal wat vir Jesus aangeneem het (Johannes 1:12), het van God die reg ontvang om kinders van God te word — elkeen wat in Jesus glo. Daar hoef by ons geen onsekerheid te wees nie. Want hier is nie sprake van ons verdienste nie. Wel van God se onuitspreeklike liefde. En wat is geloof anders as dat ons hierdie liefde van God tot ons leer ken en geglo het, sê Johannes in 1 Johannes 4:16. Wat is geloof anders as om God se liefde te ken en in geloof te aanvaar. Ons mag kinders van God genoem word! Die Gees van God getuig in ons harte dat ons kinders van God is. Hy getuig self saam met ons gees dat ons kinders van God is, lees ons in Romeine 8:16. Ons het nie 'n gees van slawerny ontvang nie, maar die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: "Abba, Vader!" (Romeine 8:15). Dit is die liefde van God wat ons in die eerste plek moet raaksien.
Eniggebore Seun?←⤒🔗
Maar is Jesus dan die eniggebore Seun? Is ons nie ook kinders nie? Juis omdat ons glo in die geweldige liefde van God, dat ons sy kinders genoem kan word, daarom is vraag 33 van die Heidelbergse Kategismus so aktueel. Verstaan u nou die dringendheid van hierdie vraag? "Waarom word Christus die eniggebore seun van God genoem?" Ons is tog ook kinders van God? Hierdie is nie 'n vraag van twyfel nie, asof Christus deur sy "Seunskap" ons kindskap sou bedreig nie, vir ons 'n gevaar inhou nie. Nee, ons mag weet dat ons kinders van God is, maar watter genade-voordeel is daar dan vir ons daarin dat Jesus die "eniggebore Seun van God" is? Wat beteken dit vir ons geloof dat Hy die "ewige natuurlike" Seun van God is? God het tog seker ook hierin vir ons 'n geweldige rykdom geskenk? Waarom word Hy so genoem?
Want ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand kom gee het om die waaragtige God te ken in al sy genade en liefde (1 Johannes 5:20). "Hy wat die Seun het, het die lewe" (1 Johannes 5:12). Hierdie "Eniggeborene" kan ons daarom alles wat vir ons nodig is, leer oor God en ons verlossing. In Hom kan ons die liefde wat God vir ons het, leer ken. En ons kan glo as ons Hom ken! (1 Johannes 4:16). Want wie wat die liefde van God nog nie leer ken het nie, kan glo?! Daarom is hierdie eniggebore Seun vir ons gegee, dat ons die liefde kan ken en kan glo. As ons die liefde nie ken nie, kan ons nie glo nie. Want waar die liefde nie is nie, waar die vrees nog is, daar bly die straf, die oordeel; daar is die geloof nie. Maar as ons sy liefde ken, dan is die geloof daar en die straf uitgesluit. Dit skryf Johannes in hoofstuk 3.
Net Christus is God se Natuurlike Seun←⤒🔗
Wanneer ons sê dat Christus God se natuurlike Seun is, dan beteken dit dat Jesus dieselfde natuur as die Vader het. Jesus is, soos ons bely in die Geloofsbelydenis van Nicéa, "God uit God, lig uit lig, waaragtige God uit waaragtige God, gebore, nie gemaak nie, een in wese met die Vader." Hy is die natuurlike Seun van God, Hy het dieselfde natuur. Ons leer hierin God se liefde vir ons ken deurdat Hy nie maar "iets" vir ons gegee het nie. Wanneer God ons kom red, gee Hy Homself vir ons! Dink daaroor na! Dit is die liefde van God vir ons. God kom gee Homself vir ons in sy eniggebore Seun. Dit is wat die rykdom hiervan is, dat ons bely: Jesus is die eniggebore, natuurlike Seun van God. Hy wat self God is, kom om vir ons te betaal. God kom gee nie vir ons net geskenke nie; sy liefde kom nie na vore in geskenke wat Hy ons gee nie. Hy gee Homself, sodat Hy in die bewys van sy liefde vir ons, ons liefde kan kom wen. Hy oorweldig ons met sy liefde. "Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het" (1 Johannes 4:9). Dit is die bewys van God se liefde. God self word vir ons gegee.
Net Christus is die ewige natuurlike Seun van God. Het dit enigiets met ons verlossing te doen? Ja, alles! Die ewige lewe wat God ons wil gee, is in Homself, in sy Seun wat God vir ons gegee het (1 Johannes 5:11). Daarom dat Johannes in sy eerste brief soveel daarvan maak dat hy wat die Seun het, het die lewe, maar hy wat die Seun nie het nie, het nie die lewe nie. Jesus is die waaragtige God en tegelyk die ewige lewe. Hierdie twee kan nie van mekaar geskei word nie. Wanneer God ons van ons sondes wil red, kom Hy self om ons Verlosser te wees. Hy stuur nie maar 'n afgevaardigde om alles goed en reg te kom maak nie. God kom self. Dit is met hierdie liefde, dat Hy ons liefde wil wen. Soos wat niks geskape is sonder die Seun van God nie (Johannes 1), so kan niks herstel word sonder Hom nie. God het alle dinge deur sy Seun geskape. Hy is immers God se ewige Seun. In die begin was die Woord en die Woord was by God en die Woord was God. Voor die skepping was hierdie Seun van God reeds daar. Hy was aan die boesem van die Vader (Johannes 1:18). Alle dinge het deur Hom ontstaan en daar is niks wat nie deur Hom ontstaan het nie. Soos wat God met ons besig was toe Hy ons gemaak het, so kom Hy nou in sy Seun na ons toe en maak ons nuut in die bewys van sy liefde.
Ons is dus wel ook kinders van God, maar Jesus is totaal anders as ons. Hy is die Seun van die Vader wat ons kan kom vertel van sy liefde vir ons. Deur Hom as Seun kan ons God se liefde leer ken. Alle "godsdiens" los van geloof in hierdie Jesus wat die ewige, eniggebore Seun van God is, wat self God is, is niks anders as dorre, droë moralisme nie. Dit kom niks verder as mense se beste pogings om hulself te probeer red nie. Want die lewe wat God ons wil gee, is in die Seun. Hierin lê die rede waarom die vroeë kerk soveel daarvan gemaak het om te stry vir die belydenis van Christus se ewige Seunskap. Dit is nie maar 'n klomp hooggeleerde teoloë wat hulle intelligensie probeer tentoonstel nie. Dit is 'n stryd om die bewaring van die bewys van God se liefde. As die Christus nie self God was en is nie, is daar vir ons geen verlossing moontlik nie. Die ontsettende liefde van die Vader vir ons word juis hierin so glashelder. So lief het Hy ons gehad, dat Hy sy eniggebore Seun nie gespaar het nie. Hy het juis Hom gegee sodat ons kan lewe.
Ons is Kinders om Sy Ontwil←⤒🔗
Daarom gaan ons vervolgens daarop let dat ons kinders is om sy ontwil. Ons kan nooit uitvind, nooit sekerheid kry, dat ons kinders van God is, voordat ons Jesus Christus nie as die eniggebore Seun van God leer ken het nie. Want so bely ons ook: ons is kinders om sy ontwil. Wanneer ons gelowig let op Christus wat deur die Vader vir ons gegee is, sodat ons kinders kan word, dan kan ons glo. Die groot stryd van die geloof kom altyd na vore by die vraag hoe ek kan weet dat ek ook behoort tot hulle wat God ter wille van Christus aangeneem het as kinders. Ons sien maar alte dikwels so min by onsself wat die trekke vertoon van kinders van God, wat die beeld het van die Vader. Ons lyk dikwels so min na ons Vader. Ons sit gedurig weer met die vraag: hoe kan ons weet dat ons kinders is?
Dan vergeet ons wat eerste moet gebeur: nie dat ons verander moet word na God se beeld en dat ons by onsself al die veranderinge kan opmerk en dan daaruit die gevolgtrekking maak dat ek 'n kind is nie. Wat eerste is, is dat ons deur die geloof moet leer van die aanneming tot kinders in Christus. Deur die geloof. En deur die geloof kom ons dan tot die veranderings, sodat ons die beeld van God wys. Daardie beeld kom in ons tot gestalte slegs wanneer ons glo. Nie wanneer ons vooraf probeer leef soos God se kinders nie. Dan verval ons in wettisisme. Dit is soos wanneer 'n kind uit die gesin A probeer leef soos 'n kind uit die gesin B en sê: "Ek moet 'n B word." Nee, jy moet eers weet dat jy uit daardie gesin kom en dan leef jy soos hulle. So leer ons ons kindskap van God en dan, uit geloof, leef ons as kinders van daardie Gesin.
Maar nêrens vind ek my naam in die Bybel opgeskryf, sodat ek kan weet dat ek ook aangeneem is as kind nie?! Inderdaad nie, maar die Skrif vestig altyd heel eerste ons aandag op Christus. Christus wat deur die Vader gegee is, terwyl Hy God se eniggebore Seun was. Kyk na Hom! Ons leer daarom God se liefde ken wat ons weer as sy kinders wil aanneem. En dit is juis wanneer ons gelowig sien dat God in Christus weer sondaars aanneem tot sy kinders, dat dit ons aan die hart gryp. Eers durf ek dalk nie myself sien as een van hulle wat deur God ter wille van Christus aangeneem word nie. En tog, vir wie anders het Hy gekom as vir 'n sondaar soos ek? Wie anders wil Hy 'n kind maak? Hy het nie gekom vir die gesondes nie. Maar vir die siekes wat sterwend is in hul sonde, soos u en ek.
Deur hierdie groot gawe van die Vader, sy eniggebore Seun, dring Hy Homself aan ons op en sê: "Ek wil jou Vader wees, jy mag my kind wees." Ons mag dan besef dat ons Christus nie durf afwys nie. So kom ons deur geloof in Christus as gawe van God se liefde, tot sekerheid dat ook ons erfgename van die ewige lewe is. Johannes skryf sy brief met die een groot doel — dat ons kan weet dat ons die ewige lewe het. Ek wil hê dat julle moet weet dat julle kindskap betekenis het vir nou. Nie vir die toekoms alleen nie. Daar wag nog 'n geweldige heerlikheid, maar julle kindskap moet nou al betekenis hê. Dit het ek aan julle geskrywe, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het en kan glo in die Naam van die Seun van God (1 Johannes 5:13). Die geloof dat ons kinders mag wees, is 'n krag van God vir ons lewe nou. Vanuit geloof in Christus en vanuit die plek wat God ons gegee het in sy verbondsvolk, kom ons tot die sekerheid van ons verlossing. As God my deel gemaak het van sy verbondsvolk, as Hy my gekies het om deel te wees van sy gemeente, waarom sal ek nog langer twyfel of ek ook 'n kind van God is? Dit is mos alles ter wille van Christus dat ook ek 'n kind van God genoem mag word.
En hierdeur word ook ons hele lewe verander na die beeld van ons Vader. Want ons weet dat die sonde geen vat meer het nie op elkeen wat op hierdie manier uit die Vader gebore is. Hy wat uit God gebore is, bewaar homself (1 Johannes 5:18). As ons nie seker kan wees van ons kindskap nie, is dit natuurlik ook sinneloos om te probeer leef soos 'n kind van God. As 'n kind veilig voel deurdat hy weet dat hy as kind in 'n gesin in liefde aanvaar is, dan gaan leef hy ook soos iemand wat deel is van daardie huishouding. Aan almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word. Aangenome kinders, maar nie minderwaardige kinders nie! Want ons is kinders gemaak deur geloof in God se eniggebore, ewige natuurlike Seun, wat God ons in sy liefde gegee het. Daarom is daar niks minderwaardigs daaraan om 'n aangenome kind van God te wees nie.
Ons Here←⤒🔗
Maar ons bely ook in Sondag 13 dat hierdie eniggebore Seun van God ons Here is. Wat beteken dit dat Christus ook ons Here is? Ek mag weet dat ek, noudat ek as sy kind aangeneem is, aan Hom behoort. Ek is sy eiendom. Hy is my Here; Hy het my gekoop. Om iemand anders se eiendom te wees, klink nie altyd vir ons ewe aantreklik nie. Maar let op wat hier bedoel word. Ons is vrygekoop sodat ons nie langer met ons liggaam en siel onder die heerskappy van die duiwel sal wees nie, nie langer sy slawe sal wees nie, maar sodat ons Jesus as Here kan hê. Wat 'n bevryding, wat 'n ereposisie, wat 'n gawe! Wat 'n heerlike voorreg om dus eiendom van die Here te wees! Dink maar aan die posisie wat Israel in Egipte gehad het as slawe van die Egiptenaars. Maar die Here kom na die Farao met die bevel: laat my seun trek! Jy is nie heer oor my volk nie; Ek is Here oor my seun Israel. Laat my seun trek! Is dit 'n bedreiging, 'n las wat op Israel gelê word? Dit is bevryding uit slawerny! Israel word hier deur die Here sy seun genoem. Die Farao moet weet dat die verbondsvolk van die Here sy kinders is. Hulle behoort aan Hom. Hy is hulle Here. Nie Farao nie.
Maar dit is geen magspel wat die Here met die satan speel nie. Dit is nie maar eenvoudig 'n verskuiwing van die mag van satan na God toe, sodat Hy ons kan manipuleer en misbruik en ons weer slawe is nie. Want wat gebeur wanneer die Here ons Here word? Hy word dit wanneer Hy ons koop met sy kosbare bloed, bely ons hier in Sondag 13. Hy word ons Here wanneer Hy Homself vir ons gegee het tot in die dood. Wanneer Hy ons Here word, is dit juis 'n bewys van sy liefde vir ons. Die Here wil, omdat Hy ons Here is, oor ons regeer met sy Goddelike liefde. So maklik dink ons dat daar vryheid is buite die kerk, weg van die Here. Die Here se heerskappy oor ons is tog so 'n groot las. Waarom sou ek Vrydag nog na die katkisasieklas kom terwyl my vriende vir my wag dat ons die aand op ons eie manier kan gaan deurbring? Maar dit is die bedrog van die duiwel, dat hy ons wil laat dink dat daar vryheid bestaan waar ons weg kan kom van die lewe van God se gemeente. Die satan is 'n groot uitbuiter. Hy gebruik mense vir sy doel, om uitvoering te gee aan sy duistere planne. Natuurlik gaan hy niemand laat voel dat hulle slawe is nie.
Maar elkeen wat glo, kan weet dat die Here ons gelukkig daarvan verlos het. Hy het ons vrygekoop. Nie om my te misbruik nie. Dit het Hom 'n prys gekos. Ons is gekoop met sy kosbare bloed. Uit sy groot liefde vir ons. Daar is nie met silwer en goud betaal nie. Hy kom gee ons sy lewe aan die kruis. Hy wil nie van ons kom offers vra nie. Hy gee Homself vir ons as offer. Hy wil nie dat ons vir Hom sal bloedsweet nie; dit het Hy vir ons gedoen in Getsémané en aan die kruis.
Ons Here se heerskappy oor ons is daarom duidelik 'n genadeheerskappy. Ons as sy kinders kan by hierdie Here juis veilig voel. Dis nie 'n teenstelling om die Christus as ons Here te hê en om tegelyk ook deur Hom kind van God te word nie. Die liefde vir ons wat ons in die Seun leer ken het, dryf juis alle vrees na buite (1 Johannes 4:18). Ons het Hom lief as ons Here, want Hy het ons eerste liefgehad. Ons is nie maar dooie besittings vir Hom nie. Maar die vraag is daarom juis ook of jy die ewige Seun van God, wat jou verlos en gekoop het met sy kosbare bloed, ook nou as 'n lewende dienskneg dien as Here.
Want hierdie Jesus wat Christus is, word in die besonder Here genoem nadat Hy opgevaar het na die hemel en gaan sit het aan die regterhand van die Vader as Here. As Here regeer Hy oor alle magte en kragte. Dit is veral as die Een wat opgestaan het uit die dood, dat Jesus geken word as Here. Hy is nou die Here van die here. Elke skepsel sal die knie voor Hom buig en erken dat Hy Here is. Ons mag dit deur die geloof nou reeds gewillig doen. Daarom bely ons hier: as ons sy kinders is, is Hy ons Here. Daarom het sy verlossing vir ons nou reeds geweldige betekenis vir ons hele lewe. Hy is ons Here. Baie erken Hom nog nie as Here nie, baie wat teen Hom in opstand kom, omdat hulle nie weet wat 'n rykdom dit is om 'n kind van die lewende God genoem te word nie. Wanneer Hy kom om te oordeel, doen Hy dit as Here. Nou verkondig ons reeds sy Heerskappy. Jesus is Here. En daarom sien ons met groot verlange uit na die volle openbaring van sy heerskappy oor die hele wêreld.