4 bladsye.

Sondag 15: Heidelbergse Kategismus

Lees 1 Petrus 3:8-22

Die Hoop wat daar In Ons is🔗

Wie van ons ken nie lyding van een of ander aard in ons lewens nie? Dit kan wees van die kleinste teleurstellings in ons lewens tot die grootste werklike verlies. Of selfs lyding in my woon- of werkplek, omdat ek as Christen konsekwent aan my geloof wil lewe. Die hele brief 1 Petrus is vol van sulke lyding wat 'n gelowige kan ken. In hoofstuk 2 word die gelowige diensknegte aangemoedig om gehoorsaam te wees aan hul werkgewers. Nie net aan die wat hulle goed behandel nie, maar ook aan die wat sleg doen. Dit staan in 'n skrille kontras met die moderne rewolusiegees van die vakbondlewe van werknemers!

Aan die gelowige diensknegte word geskryf dat dit deel van hulle roeping as Christene is om soms te ly, selfs wanneer hulle as werkers goed doen. In die derde hoofstuk word geskryf van die lyding wat daar kan wees in 'n huisgesin. Gelowige mans word opgeroep om verstandig met hul vroue saam te leef. Dit kan 'n lyding wees as 'n gelowige man in gehoorsaamheid aan die Here wil leef en hy het 'n ongelowige of onverstandige vrou. Dit veroorsaak werklik lyding. 'n Dwase vrou kan dit onhoudbaar vir 'n man in 'n huishouding maak. Dit word deur Petrus as deel van ons Christelike lyding beskryf. Of wat van die situasie waar gelowige vroue met ongelowige mans getroud is? En sulke situasies het nogal voorgekom in vroeë gemeentes. Deur die aanhoor van die evangelie word soms net die vrou gelowig, nie die man nie. Dan vra God nie van die vrou om van die ongelowige te skei nie. Nee, sy sal die lyding dan moet dra soos dit pas by 'n Christenvrou. Sy sal in daardie huwelik so moet gaan leef, dat sy haar man probeer wen vir Christus sonder veel woorde, deur haar voorbeeld. In 1 Petrus 3:1 sê Petrus: "Vroue, nou moet julle aan hierdie mans onderdanig wees, sodat julle deur die manier waarop julle leef, sonder woorde, julle mans kan wen vir die Here."

Dit is geen troos wat ons soms die een gelowige vir die ander hoor sê dat ons lyding tog nie so erg is nie, want daar is altyd iemand anders wat meer ly. Dit is goedkoop troos en oppervlakkige niksseggendheid. Dit is geen troos vanuit die geloof nie. Daar is nie net sommige gelowiges wat ly nie. Paulus skryf aan Timótheüs dat elke gelowige wat godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, vervolg sal word; hy sal ly. In hoofstuk drie wat ons gelees het, word die hele lewe van 'n gelowige voorgestel onder die perspektief van die lyding. Daarom volg hier die vermaning: "Vergeld geen kwaad met kwaad of skeldwoorde met skeldwoorde nie, maar seën inteendeel, omdat julle weet dat julle hiertoe geroep is, sodat julle seën kan beërwe." (1 Petrus 3:9). Daarin lê reeds lyding, wanneer ons nie kwaad met kwaad beantwoord nie. Wanneer my kwaad aangedoen word en iemand my 'n skelwoord toesnou, dan is dit juis hier waar ons geloof gestalte moet kry. Want juis in hierdie omstandighede word ons opgeroep om rekenskap af te lê van die hoop wat daar in ons is. En wat is hierdie "hoop" waarna Petrus dan verwys? Waarom antwoord 'n gelowige in so 'n omstandigheid waar hy kwaad aangedoen word, nie terug nie? Dit kan alleen gebeur deur die vaste geloof in Christus wat as Regverdige gely het vir die onregverdiges. Daar kom ons geloof in die lyding van Christus na vore. Glo ons werklik in Christus wat vir ons gely het? Dit sal uitkom in die manier waarop ons reageer as mense ons kwaad aandoen. As mense maar 'n skewe woord vir ons sê en ons antwoord net so terug, sê ons dan: "Dit is maar my persoonlikheid, my manier van reageer" of: "Ek het in daardie soort huis grootgeword, dit pas maar by ons om kwaad te reageer as iemand anders vurig geraak het". Nee, wees bereid om verantwoording af te lê van die hoop wat daar in julle is teenoor elkeen wat dit van julle eis. Juis in hierdie omstandighede, waar ons onder druk geplaas word, kom Christus se lyding vir ons ook in ons lewe tot gestalte.

Tydens Sy Hele Lewe op Aarde🔗

Laat ons nou ook let op die lyding van Christus tydens sy hele lewe op aarde. Jesus het nie maar  soos enigeen van ons gely nie. 'n Mens sou selfs met reg kon sê dat daar baie mense is wat heelwat meer fisiese pyn en lyding in hulle lewe verduur as wat Christus in sy lewe verduur het. Maar dan is hul lyding nog steeds nie met Christus se lyding te vergelyk nie. Jesus se lyding is meer as net sy lyding die laaste paar dae of ure net voor of tydens sy kruisiging. Christus ly vanaf sy geboorte. Hy ly toe daar vir Hom geen plek in die herberg was nie en sy ouers reeds met Hom as baba na Egipte moes vlug omdat Herodes daarop uit was om Hom te vermoor.

Sy lyding gaan daarom nie oor die laaste dae van sy lewe nie. Sy hele lewe was bestem vir lyding. Maar sy lyding oortref nie ons lyding daarin dat dit dalk langer geduur het as ons lyding nie. Ons lyding is miskien vir 'n periode in ons lewe; Christus s'n was vir sy hele lewe. Want ook ander mense kan van geboorte af aan die swaarste liggaamlike of geestelike lyding moet dra sonder dat daar verligting kom tot hulle sterfdag. Maar dan mag hulle weet dat dit nie is waarvoor hulle in die wêreld gekom het nie. Dit is nie waarvoor hulle geskape is nie. Christus se lyding was sy lewensdoel. Hy het as Regverdige kom ly vir ons, die onregverdiges. Dit was nie 'n "lot" wat Jesus getref het nie, maar dit was sy lewensroeping wat Hy op Hom geneem het.

Hoe swaar ons ook al as gelowiges kan ly, nooit hoef ons te sê of selfs te dink dat ons van God verlate is en geskei van die liefde van die Vader nie. Inteendeel. Al ons lyding gebruik die Here telkens maar weer om ons nader aan Hom as liefdevolle Vader te bring. Dit mag ons as gelowiges weet. Deur die swaarkry wat die Here in ons lewe bring, wil Hy ons in sy liefde altyd maar weer nader trek. Hy tugtig immers die wat Hy liefhet.

Maar by Jesus was dit anders. Wanneer Jesus ly, dan dra Hy die toorn van God teen die hele menslike geslag. Sy lyding beteken dat Hy uiteindelik roep: "My God, my God, waarom het U My verlaat?" Dit hoef ons nooit uit te roep nie, geeneen van ons nie. Christus het werklik ter wille van ons in die hande van die toornige God geval. Die Vader het sy toorn oor al ons sondes oor Jesus uitgestort. God se oordeel oor my en oor u sonde kom op Hom. Dit kan nooit van ons eie lyding gesê word nie. Wanneer Jesus aan die kruishout hang, dan dra Hy ook die vloek van die sonde ten volle op Hom. Daarom is dit ook nie toevallig dat Jesus juis aan 'n kruis sterf nie. Die ergste daarvan is ook nie die pynlike en wrede manier waarop iemand aan 'n kruishout sterf nie. God wil nie by ons simpatie vir Jesus opwek deur die geweldige lyding aan die kruis nie. Christus het nie ons medelye nodig nie. Ons het Hom nodig, sy medelye, wanneer Hy Hom vir ons gee. Die mees verskriklike van die dood van Christus aan die kruis is nie die wonde nie. Daarom plaas die Bybel self geen kollig daarop nie. Nee, dit is dat God self in sy Woord sê dat elkeen wat aan 'n houtpaal sterf, vervloek is deur God.

Iemand wat aan 'n houtpaal hang, is letterlik nie meer welkom op aarde nie. Op die aarde is daar vir so iemand geen plek meer oor nie. Hy word deur die mense verwerp. In die woonplek van die mense is daar vir hom geen woning meer nie. En in die hemel is daar ook vir die persoon nie 'n tuiste nie. Tussen hemel en aarde hang Hy — van God en van mense verlate — vervloek. Dit was die geweldige van Jesus se dood aan die houtkruis. Nie die wonde en die bloed nie, maar die vloek van God wat oor ons sondes moes gekom het, wat op Hom gekom het. Dat Hy tussen hemel en aarde gehang het ter wille van ons. Die Vader stort alleen maar sy toorn oor Hom uit. En dan dra Hy dit as een wat werklik self sonder sonde was. Hy hang daar as 'n regverdige, 'n sondelose persoon.

Van die Hele Menslike Geslag🔗

En dan ly Hy deur die sondes van die hele menslike geslag te dra. Dit bely ons in hierdie Sondagsafdeling van die Heidelbergse Kategismus. Natuurlik beteken dit nie dat alle mense dus gered word nie. Daar is egter in die versoeningsoffer van Jesus geen gebrek nie. Dit is meer as genoeg vir elkeen. Ons hoef nooit op die sendingveld of in die wêreld waar ons leef, spaarsaam te wees met die uitnodiging om na Christus te kom nie. Roep hulle; gaan uit op die strate; dwing hulle om in te kom. Sê: "Kom, daar is vergifnis vir elkeen wat glo. Daar is nie beperkings nie. Kom in!" Ook hoef nie een van ons ooit te vrees dat ons sondes dalk te veel is, asof Christus nie 'n groot genoeg versoening vir ons sondes sou kon doen nie. Nooit sal ons gekonfronteer word met 'n te hoë "rekening" by ons hemelse Vader nie. Ek hoef nie te dink my sondes is te veel nie. Hy het die hele menslike geslag se sondes gedra. Christus se versoeningsoffer is meer as genoeg om die sondes van die hele wêreld te versoen. Hier pas geen valse "beskeidenheid" by ons nie. Die uitnodiging klink: "Kom koop, sonder geld, wyn en melk"! Soveel as wat jy nodig sou hê! 'n Oorvloed! Daar is geen gebrek by Hom nie. U skuldbrief kan nooit te groot wees nie. Maar daar hou dit nie op nie.

Sonder Skuld voor Pilatus🔗

Is dit sommer nuuskierigheid om te vra na die belang van die veroordeling van Jesus onder Pilatus? Nee, Pilatus speel as aardse regter 'n baie belangrike rol. Pilatus doen veral twee dinge wat met u en my verlossing te doen het. Hy bepaal amptelik dat daar geen skuld in Jesus is nie. Hy het Hom ondersoek en gesê: "Ek vind geen skuld in hierdie man nie." (Lukas 23:4). En Pilatus is die regter. Dit word in die Kategismus met klem gesê. En tereg. Hy is die regter deur God aangestel. Daardie regter sê: geen skuld in Jesus nie. En uiteindelik veroordeel hy Hom tog. Hy sterf dus onskuldig. Hierin word veral duidelik dat Christus nie maar as een of ander jammerlike persoon onskuldig gesterf het nie, maar dat Hy in ons plek gesterf het. Petrus skryf daaroor in sy eerste brief (1 Petrus 2:24): "(Hy) wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe." Hy het ons sondes gedra! Pilatus is ook geen bang heiden wat Jesus onskuldig verklaar nie. Pilatus is 'n wettige regter en het sy mag van God verkry. Daaroor getuig Jesus self wanneer Hy deur Pilatus gedreig word dat hy mag het om Jesus te kruisig en mag het om Hom los te laat: "U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie." (Johannes 19:11). Jesus erken Pilatus as 'n wettige regter. Hy was op aarde die persoon wat namens God die oordeel uitspreek. Dit kom so pragtig uit in die belydenis van Sondag 15 van die Kategismus. Hy was 'n owerheidspersoon wat deur God self aangestel is om die oordeel oor Hom uit te spreek. Dit is 'n gesag wat aan hom toegeken is. Hy het daardie amp as regter gekry. Daarom plaas die Heidelbergse Kategismus tereg soveel klem op die veroordeling deur die regter Pontius Pilatus. Daar spreek God sy oordeel oor ons sondes uit. Onskuldig, maar sterf!

Ons Bevry van God se Oordeel🔗

Laat ons in die laaste plek nog daarop let dat Christus ons op hierdie manier van God se oordeel bevry. Waarom hierdie oordeel oor 'n onskuldige? Sodat ons daardeur bevry word van die streng oordeel van God wat oor ons moes kom. Niemand kan nou nog beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God nie. As God ons regverdig verklaar, wie sal ons dan nog veroordeel? Wie sal ons nou nog kan skei van die liefde van God, wat in hierdie Christus is, nadat God Hom onskuldig in ons plek veroordeel het? As God nie meer veroordeel nie, wie sal nog veroordeel? Elkeen wat glo, mag weet dat hy nooit meer ter wille van sy sondes veroordeel sal word deur God nie. Nie nou nie en ook nie in die oordeelsdag nie. My sonde is reeds veroordeel in Christus tweeduisend jaar gelede. Die vloek van God het reeds oor my sonde gekom. Nie eers meer die dood kan skeiding tussen die Here en my bring nie.

Hierdie lyding van Christus gee ons die troos in ons lyding nou. Wanneer mense vir ons kwaad word, sal ons nie meer met woede reageer nie. Wanneer ons uitgeskel word, sal ons nie terugskel nie. Wanneer ons dit van dag tot dag nog moeilik het om as Christene te leef, dan verdink ons nie meer die Here van onregverdigheid nie. Ook nie dat Hy besig is om ons te veroordeel oor ons sonde nie. God se toorn is gedra. Dan moet ons met geduld ly deur goed te doen, wanneer die wil van God dit vra (1 Petrus 3:17). As ons kwaad doen en ly, kry ons ons regverdige straf. Dit sê Petrus uitdruklik vir die diensknegte: as jy kwaad doen, moet jy jou straf dra. Moet dan nie dink dat God onregverdig is nie. Maar as jy goed doen en ly, bly geduldig. Want Christus, die Regverdige, het eenmaal gely vir ons onregverdiges. Christus het gely om ons tot God te bring (1 Petrus 3:18). Laat ons daarom nie wees soos die ongehoorsames in die dae van Noag wat hulle verhard het teen God in hulle ongehoorsaamheid nie. God het met baie lankmoedigheid gewag in die dae van Noag, maar daar was by hulle geen bekering nie, alleen verharding. En God het uiteindelik sy toorn oor hulle uitgestort deur hulle van die aarde af weg te vee deur die sondvloed, die vloed van die groot water. Uiteindelik het Hy net Noag en sy gesin gered. Hy het die lyding geduldig verduur, omdat hy gehoop het op God wat regverdig oordeel. Daarom was daar vir hom en sy huis verlossing.

En nou, sê Petrus, nou red die teëbeeld van daardie uitwissing van daardie water, dit is die doop, ons. Want daardie water, die doop, spreek nie van oordeel nie, maar van redding en vergifnis, sodat ons nie hoef te twyfel of Christus ook vir my gely het nie. Die teëbeeld van God se oordeel getuig nou van God se genade en lankmoedigheid, ook met my en my gesin. Sodat ons, terwyl ons ly, nie ons harte teen die Here verhard nie, maar ons ons siele kan toevertrou aan die Regverdige, wat vir die onregverdiges gely het.