4 bladsye.

Sondag 16 Heidelbergse Kategismus

Lees: Romeine 6:1-23🔗

Was dit werklik nodig dat Jesus aan die kruis moes sterf? Was dit nie genoeg dat Hy, terwyl Hy aan die kruis gehang het, die toorn van God oor ons sonde gedra het nie? Hy sê tog reeds voordat Hy sterf: "Dit is volbring." Dit is afgehandel; Ek het klaar betaal. Waarom moet Jesus dan nog sterf? Wat het Hy wat die Lewende is, met die dood te doen? Die dood is tog die betaling wat iemand kry vir sy sonde — die loon vir die sonde is die dood — en Jesus was sonder sonde.

Maar juis hier kom die geweldige troos. Jesus was natuurlik sonder sonde van sy eie, dit leer die Woord van die Here ons. Maar Hy was tydens sy lewe op aarde nooit sonder ons sonde nie. Daarom moes Hy sterf. En Hy moes die helse lyding verdra. Uiteindelik moes Hy selfs begrawe word. Want die loon vir die sonde is die dood. Maar die genadegawe wat die Here vir ons en ons kinders wil gee, is die ewige lewe in Christus Jesus, ons Here.

Die genadegawe van sy helse lyding🔗

Ons sien in die eerste plek die genadegawe van sy helse lyding. Was die werk van Christus nog nie voltooi toe Hy aan die kruis uitgeroep het: "Dit is volbring" nie? Wanneer Hy sterf, gee Hy sy gees oor in die hande van sy Vader (Lukas 23:46). En dan nie om nog gepynig te word nie, maar sodat Jesus by die Vader kan wees in sy dood. Jesus gaan dan nie op 'n hellevaart nie. Hy het net daarvoor ook vir die moordenaar aan die kruis belowe dat hy nog daardie dag saam met Hom in die paradys sal wees. Nie in die hel nie, maar in die hemel.

Na Christus se dood is daar vir Hom geen verdere pyniging en straf nie. Die straf is ten volle aan die kruis gedra — alles is volbring. En dit kon alleen so wees, omdat Jesus reeds aan die kruis gely het op 'n manier wat ons nie in woorde kan beskryf nie. Hy het die helse angs, smarte en verskrikking veral aan die kruis gedra. Let wel daarop dat die Kategismus ook pertinent sê: "deur sy hele lewe maar veral aan die kruis". Nie uitsluitlik aan die kruis nie. Hy het sy hele lewe die helse smart gedra. Die Heidelbergse Kategismus verduidelik dus baie goed dat Jesus nie na sy dood eers nog in die hel kom nie. Die helse lyding was sy hele lewe lank. Aan die kruis was dit op sy ergste. Daarom dat dit aan die kruis daarop uitloop dat Jesus uitroep: "My God, my God, waarom het U My verlaat?" Dit is omdat Christus daar werklik hang as Een wat finaal vir ons vervloek is.

Dit was die loon vir ons sonde. Maar daardeur het die Here nou vir ons 'n genadegawe voorberei — Hy wil vir ons die lewe gee. Nie sommer net dat ons nog mag asemhaal nie. Maar die lewe wat ons kry, is 'n lewe wat ons het omdat ons glo in Jesus. Die helse pyn en lyding en hartseer word deur Jesus vir sy kinders tot 'n einde gebring. Want Hy het die hel en die duiwel oorwin. Daarom mag en durf ons as Christene nooit sê dat ons lewe op aarde hel is nie. Want dit is nie, ook al voel dit soms vir ons so. Ons kan juis in ons swaarste aanvegtinge, in ons grootste stryd op aarde, die grootste sekerheid hê dat Jesus my van die helse benoudheid en pyn verlos het. Ek is vry daarvan, ek het nooit "hel" op aarde nie. Danksy Christus. Ek mag volkome getroos wees dat, wat ek ervaar, nie die helse straf van God is nie.

Jesus het dit eens en vir altyd in my plek gedra. En daarvan getuig ons doop ook. Want die doop wil sê dat ons saam met Christus begrawe is deur die doop in sy dood. Die doop wil wys dat ons deel het aan Christus se dood. Paulus sê in Romeine 6 dat dit is asof ons self die dood gesterf het wat Christus gesterf het. Die doop wil ons dit duidelik laat sien. Geen pyn en lyding wat ons ook al in hierdie lewe ervaar wil die Here vir ons meer gee as daardie straf wat Jesus gehad het nie. Elkeen van ons het 'n beker om te drink, ook 'n beker van lyding, maar die beker met die bitterheid van die helse lyding is eenmaal klaar gedrink. Ons kan dit ook so sê dat die beker wat die gif in gehad het, wat die dood veroorsaak het, klaar gedrink is. En watter beker ons ook al moet drink, daar is geen dodelike gif meer in nie. Dit is altyd 'n beker van verkwikking, van versterking, van aanmoediging in die geloof; al is dit deur lyding en swaarkry, dit bly 'n beker van verkwikking. Is dit nie 'n geweldige troos vir ons as gelowige ouers nie? Wat ook al die pyn en lyding mag wees wat julle saam met julle kinders beleef, ons mag weet dat die Here ons lewe begeer en nie ons dood nie. Ons mag en moet in geloof ons toevlug tot die Here ons Verlosser neem en Hom dank dat Hy die beker met die helse smart gedrink het. Hoe kan ons kortstondige en dikwels so oppervlakkige lyding ooit vergelyk word met wat Hy vir ons gedra het? Dit is die genadegawe van sy dood.

Die genadegawe van sy graf🔗

Maar daar is ook die genadegawe van sy graf. Wanneer Jesus as opgestane Here aan Johannes op Patmos verskyn, maak Hy Homself bekend as die Een wat dood was en nou leef. Vir Jesus was dit dus van wesenlike belang om te verklaar dat Hy dood was. Anders kon Hy net gesê het: "Kyk, Ek leef!" So asof net dít belangrik was. Waarom? Waarom is dit so belangrik? Die Kategismus som dit so op: Ter wille van die geregtigheid en waarheid van God kon dit nie anders nie as dat Jesus ook met sy dood vir ons sonde betaal. Die Woord van die Here eis dat as jy sondig, moet jy ook sterf. En dit bedoel die Here. Ons moet eintlik sterf. En ook ons kinders. Ons verdien die dood. Ook ons klein kindertjies wat nog maar onlangs gedoop is. God se waarheid eis dit.

Maar nou het ons gesterf saam met Jesus toe Hy in ons plek nie alleen die helse smart gedra het nie, maar ook gesterf het. Toe Hy gesterf het, was dit asof ons gesterf het en daarom mag ons nog lewe. Is dit nie 'n wonderlike boodskap vir ons kinders nie? Ons is saam met Christus deur die doop in sy dood begrawe. Die Here sê vir ons dat dit is asof ons self gesterf het as straf op ons sonde. Ons word nie gered deurdat die Here sy eie Woord nie meer ernstig opneem nie. So asof Hy wel gesê het dat die siel wat sondig, sal sterwe, maar dat dit nou verlede tyd is. Laat ons 'n toekoms ingaan waar Ek vergeet wat Ek gesê het. Nee, sê die Here, aan my Woord sal daar voldoen moet word. Selfs Jesus as Seun van God ontkom nie aan die dood nie, want Hy moet eerder sterf as wat die Here sy Woord onbetroubaar maak.

Wanneer Johannes sy openbaring van Jesus op Patmos kry, dan is dit 'n trooswoord wat vir die kerk gegee word in 'n tyd van geweldige lyding en verdrukking. Christus kom na Johannes toe om die kerk te vertroos. Hoe kan die kerk vertroos word? Hoe kan die kerk nog soveel sekerder weet dat die trooswoorde wat Jesus deur Johannes vir die kerk in die laaste dae wil gee, vas en seker is? Kyk, dit kom van die Een wat dood was en nou lewe! God se Woord, sy Woord wat Hy van die begin af gegee het, is vas en seker, onveranderlik, deur al die eeue heen. Hy was dood. Hy moes sterf. God se Woord het stand gehou tot in die graf van Jesus. Johannes moes daarom die kerk gaan troos met die Woord van God.

Daarom kan ons ook vandag so seker weet dat die Here dit bedoel as Hy sê dat Christus vir ons sonde gesterf en betaal het aan die kruis. Die Here bedoel dit dat Hy ons wil verlos van die straf op ons sonde. En ook ons kinders. Moenie nog twyfel, nog wonder of dit werklik so ernstig deur God bedoel is nie. Die Woord wat na ons toe kom, is van die Een wat dood was en wat leef! God se Woord is werklik betroubaar. As Christus eerder gesterf het as wat die Here een woord wat Hy gespreek het, ligtelik sou opneem, sal ons dan nie nou ook verlos word deur die evangelie nie? As God ons sondes versoen het deur die dood van sy Seun toe ons nog vyande was, hoeveel te meer sal ons deur Hom gered word noudat Hy lewe! (Romeine 5:9 e.v.). Daarom maak Jesus Homself ook bekend as die Een wat dood was en nou lewe.

As sy Woord vir ons vasgestaan het onder die wet waarin daar loon is, wat sê: "Die een wat sondig, moet sterwe", hoeveel te meer betroubaar is God se Woord wanneer Hy vir ons 'n genadegawe sonder verdienste gee! "Want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade" (Romeine 6:14). Dit beteken nie dat die wet nie meer vandag geld nie, maar dat ons leef uit God se genade wat seker is; so vas selfs as die wet, wat die dood van ons Here Jesus aan die kruis gekos het, geëis het en God sy Seun gegee het. En nou leef Hy, maar Hy was dood. Nou is ons onder die genade; God wil 'n genadegawe vir ons gee. As sy Woord vas gestaan het toe ons nog vyande was, sal dit nie nou nog soveel meer die moeite werd wees om in geloof te aanvaar, nou dat Christus klaar vir ons sonde betaal het nie? Met hierdie evangelie maak ons ons kinders groot. Uit hierdie evangelie moet elkeen van ons elke dag lewe. Christus het gesterf sodat ons kan lewe. Ons lewe moet 'n lewe wees van blydskap, dankbaarheid, geloof en heiligheid.

Die genadegawe van die nuwe lewe🔗

In die laaste plek gaan ons nou let op die genadegawe van die nuwe lewe. Wat is die nuwe lewe? Selfs die Kategismus vra (vraag 42) waarom ons dan nou nog moet sterf, as Christus werklik vir ons gesterf het. Wat is die evangelie dan werd as ons ook nog moet sterf? Al is die antwoord van die Kategismus baie kort, gee dit vir ons die kern waaroor dit gaan. Ons weet dat ons dood nie 'n betaling vir ons sonde is nie. Ons dood het niks te doen met die loon wat die wet eis nie. Hoe kan ons dit sê? Ons almal moet tog nog doodgaan? O nee! Ons sal dit, dat ons almal moet doodgaan, alleen maar kan sê as ons nie werklik ons Here Jesus enige oomblik uit die hemel verwag nie.

Ons weet van die probleem wat die gemeente in Tessalonika gehad het, van hulle bekommernis oor die broeders en susters wat reeds gesterf het. Sou ons hulle nie voor wees as Christus moet kom terwyl ons lewe nie? Wat word dan van hulle (1 Tessalonisense 4:13 e.v.) as Jesus nou moet kom en ons gaan onmiddellik opvaar, Hom tegemoet? Waar gaan die broeders en susters wat reeds gesterf het, dan wees? vra hulle. Hulle het verwag dat Jesus elke oomblik kan kom, en dat hulle nie almal gaan sterf nie. Ons sal ook nie almal sterf nie. Die dood is geen noodlot wat op elkeen van ons wag nie. Veel minder nog is dit 'n straf. By die wederkoms van Jesus sal daar duisende en dalk miljoene van sy kinders nog op aarde lewe. En dan sal hulle nie sterf nie. Hulle sal verander word, ja. In een oomblik word hulle verander! En dit is net moontlik omdat die dood geen straf meer is nie.

En tog sterf baie gelowiges ook. Ja, ons sal voortgaan om te sterf tot op die dag van Jesus se wederkoms. Waarom? En dit is 'n werklike vraag by ons. Vra ons dit nie soveel te meer as ons iemand, vir wie ons baie lief was, aan die dood moes afstaan nie? Waarom moet ons dan nog sterwe? Want, laat ons eerlik wees, ons het tog steeds 'n vrees vir die dood. Ons is almal bang om te sterf. Die dood bly vir ons 'n vyand. En tog, dit moet ons sien, is die "angel van die dood" weg. Die dood hou vir ons geen verskrikking in nie. Die dood hou geen oorwinning meer oor ons in nie. Christus het die mag van die dood oorwin.

Die grootste mag van die dood is die sonde. En hierdie mag is oorwin. Ons mag daarom weet dat as Christus vir ons gesterf het, ons dan saam met Hom 'n nuwe lewe kan leef. Nou reeds! Nou al kan ons leef sonder angs vir die dood; nie asof dit nog 'n straf is en die einde vir ons wag nie. Christus se dood het betekenis vir die manier waarop ons nou lewe. Sy offer het betekenis vir die daaglikse praktyk van ons lewens.

As ons saam met Christus gesterf het, sê Paulus, met ander woorde as Hy vir ons gesterf het, dan is ons mos nou dood — dood vir die sonde. En daar lê die mag van die dood. Ons kan nie en mag nie nou meer die sonde doen nie. Vir ons moet dit daarom vasstaan — ons is dood vir die sonde. Is hier nie 'n groot teenstelling met die manier waarop ons dikwels leef en ons kinders opvoed nie? Ons sê baie maklik en ons troos onsself hiermee dat ons tog moet onthou dat ons steeds almal sondaars is, en daaruit vind ons 'n verklaring vir die sonde wat ons steeds doen. Maar dit mag nooit ons vertrekpunt wees nie! Dit is heidens om so te dink! Ons mag nie so dink nie!

Moenie julleself lewend vir die sonde reken en sê: "Ag, ons is tog almal sondaars" nie. Nee, reken julleself dood vir die sonde! As ons saam met Christus gesterf het, glo ons, sê Paulus, en sal ons ook saam met Hom lewe. Ook al sien en ervaar ons dit nie altyd nie. Uit die geloof leef ons, nie uit die ervaring van ons stryd teen die sonde nie. 'n Nuwe lewe. Die lewe wat ons nou leef, leef ons vir God. Daarom is Paulus se gevolgtrekking: "So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here" (Romeine 6:11). Dit is die betekenis van Christus se dood vir die praktyk van elke dag. Daarom kry ons die opdrag dat die sonde in ons sterflike liggame nie meer mag heers nie. Ons mag onsself nie tot beskikking van die sonde stel nie. Ons moet ons stel tot beskikking van God, tot diens aan God. Dit is ons vertekpunt, ons uitgangspunt. Dit is geloof! Alles daarbuite is heidens, ongeloof en loop uit op die dood, op die ewige dood.

Ons is nie meer onder die wet nie, maar onder die genade (Romeine 6:14). Die wet sê: "Die siel wat sondig moet sterf". Ons is nie meer daaronder nie, want Christus het klaar vir ons gesterf. Ons is onder die genade — die Here gee ons as genadegawe die nuwe lewe in Christus Jesus ons Here. Ons nuwe lewe is nie volgens verdienste nie, maar volgens die genade — dit is 'n gawe. Daarom kan ons onsself diensbaar stel aan die Here om nou 'n nuwe lewe te lei. Is hier nie weer eens 'n geweldige aanmoediging vir ons kinders en vir ons wat gedoop is in die Naam van die drie-enige God nie? Ons is verenig met Christus in sy dood deur die doop. Sal ons nie waarlik heilig lewe nie? Geen verskoning van "ons is nog sondaars" nie. Natuurlik ontken ons nie dat die sonde in ons nog lewend is nie. Maar reken julleself dood vir die sonde. Dit is die vertekpunt vir die geloof. Die sondige begeertes kan oor ons nie meer heers nie.