Sondag 18: Heidelbergse Kategismus
Sondag 18: Heidelbergse Kategismus
Lees Openbaring 12
⤒🔗
Wat en Waar is die Hemel?←⤒🔗
Die eerste vraag wat ons moet besig hou is: wat en waar is die hemel? Dit is opvallend dat die boek Openbaring baie dinge met beelde verkondig. Ook hier in hoofstuk 12. Jesus se hemelvaart word hier voorgestel as 'n "wegruk van die kind wat gebore is uit die vrou". Hy word weggeruk na God en sy troon. Jesus, wat gebore is as ons Middelaar hier op aarde, word weer in die hemel opgeneem. Dit is beeldende taal. Maar beteken dit dat die hemel ook maar net 'n "beeld" is? Baie mense dink so. Asof die hemel 'n beeld is vir die ideale en drome van mense. Mense se drome oor 'n mooi toekoms, waar ons kan ontvlug van alle probleme waarmee die harde werklikheid ons op aarde konfronteer. Die hemel sou dan 'n plek wees waarheen ons kan vlug van die werklikheid. Die hemel word dan geen spesifieke plek nie, maar dit beskryf eerder 'n toestand waarna ons verlang – 'n toestand van vrede, geen oorloë, geen hartseer, geen siekte en pyn meer nie. 'n Soort "Utopia" waarna ons altyd verlang, maar nooit op aarde kan kry nie. Dit glo ons egter nie.
Die hemel is volgens die Woord van die Here deel van God se skepping. Om die waarheid te sê, ons lees in die heel eerste vers van die Bybel reeds daarvan. In die begin het God die hemel en die aarde gemaak. Dan word in die res van Genesis 1 die skepping van die aarde beskryf. God het ook die hemel gemaak. Dit is dus 'n deel van die skepping. Ons lees nie wat presies daarin is en hoe dit daar lyk, waar dit is en wanneer dit gemaak is nie. Na die beskrywing van die ses skeppingsdae word alles weer netjies bymekaargebring, wanneer ons hoor: "So is dan voltooi die hemel en die aarde met hulle ganse leërmag" (Genesis 2:1). Die aarde met alles daarop, die hemel met alles daarin, is deur God voltooi. God het dit alles gemaak!
Die Here God het vir die mens 'n paradys gemaak om in te woon. En God wou vir Adam en Eva laat weet dat Hy by hulle wil woon en wees. Daarom het God ook 'n onsigbare wêreld gemaak. Die hemel met al sy engele. En daar is God se troon, terwyl die aarde die voetbank van God se voete is. Hemel en aarde kon in volmaakte harmonie met mekaar leef. God se hele skepping, hemel en aarde, was saam op pad na 'n heerlike toekoms.
Engele aan die Oostekant van die Tuin←⤒🔗
Adam en Eva het egter gesondig en dit het God se hele skepping beïnvloed. Ook die hemel. Terwyl God voor die sondeval vanaf die hemel in die tuin na Adam gekom het, gebeur dit nou nie meer op dieselfde manier nie. Hemel en aarde word geskei van mekaar. Die tuin waar Adam gewoon het en waar God hom ontmoet het, word afgesluit van die hemel. Engele word aan die oostekant van die tuin geplaas, met 'n swaard wat vlam en flikker. Hulle bewaak die toegang tot die boom van die lewe. Adam, daar is vir jou nie meer lewe nie. Daar is nie meer 'n moontlikheid vir die mens om naby God te kom nie. Die hemel het 'n plek geword waar daar toegang vir die satan is om God se kinders aan te kla. Die hemel het 'n bedreiging vir die mens geword. Daar kom alleen maar oordeel vanuit en aanklagte in die hemel.
Die Tabernakel←⤒🔗
Het God dit daarby gelaat? Ons gaan nou vervolgens let op die tabernakel by God se volk. Gelukkig vir Adam en Eva, en ook vir ons, het die Here dit nie daarby gelaat nie. Jakob kry reeds by Bet-el 'n visioen van die Here waarin hy die hemel geopen sien. Hy sien die Here self bo-aan 'n leer staan wat tot op die aarde strek. En op die leer is daar engele wat van bo na onder beweeg. Dan kom gee die Here weer vir hom die belofte dat die aarde waarop hy lê, aan hom en sy nageslag sal behoort. Die Here sal hier weer 'n tuin, 'n paradys, gee soos vir Adam om in te woon. Hier sal weer 'n land wees wat oorloop van melk en heuning. Waar God se kinders weer kan leef. 'n Land waar weer eenheid sal wees. Die hemel sal nie altyd geslote bly nie. "Ek open weer die hemel vir my volk, Jakob!" Daarom word daardie plek dan ook genoem "Bet-el". Want waarlik, sê Jakob, hier was dit soos die huis van God; die poort van die hemel gaan weer oop. Hier kom God weer woon. Hy wil naby sy kinders wees. Die hemel bly nie vir altyd toe nie; die hemel gaan weer oop.
Wanneer die Here later sy volk uitlei uit Egipte na die beloofde land, die land wat oorloop van melk en heuning, kom ontmoet Hy sy volk in die woestyn, en daal Hy op die berg neer. Hy wil werklik ook weer by hulle kom woning maak. As bewys van sy genade wys die Here dan vir Moses op die berg dat Hy weer met hulle wil praat vanuit die hemel (Eksodus 20:22). "Kyk, my volk, julle was self getuies daarvan dat Ek nou weer met julle gepraat het vanuit die hemel." En Moses staan in verwondering voor God. God praat uit die hemel! Dit is nie iets om voor te vrees nie, maar 'n geweldige bewys van genade. Die hemel praat weer met die aarde! Op die berg Sinaï kom gee die Here dan vir Moses 'n afbeelding van die hemel. Moses kon weer opklim tot by God. Hy sien die heerlikheid van die Here op die berg. En Moses kry die opdrag om vir die Here 'n woning te maak tussen sy volk (Eksodus 25:8). Die tabernakel sou 'n aardse afbeelding wees van die Here se hemelse woning.
Daaroor is baie te sê. Dit hou 'n geweldige rykdom en bemoediging in vir ons geloof, juis in die lig van Christus se hemelvaart. Maar ons moet veral daarop let dat daar steeds in die tabernakel, waar God sy woning gemaak het, skeiding gemaak word tussen God se troonkamer, die allerheiligste, en die heilige van die tabernakel. Op die voorhangsel word engele geborduur. Israel moet weet dat hulle steeds die boom van die lewe bewaak. Ook die ander gordyne, die mure van die tabernakel, is oortrek met engele, maar in besonder die voorhangsel, wat die troonkamer van die Here skei van sy volk. Al is Hy by hulle, die engele beskerm sy heerlikheid. Dit was hoe die Here in die Ou Testament na sy volk gekom het. Die engele was die beskermers van die hemelse heerlikheid van die Here; net soos wat die engele in die paradys die toegang na die boom van die lewe vir Adam afgesluit het. Die boom van die lewe is nie sonder meer toeganklik vir die mens nie. Net so is die ark van versoening nie sonder meer toeganklik vir die volk nie. Die hemel kan as ’t ware weer op 'n skrefie oopgemaak word, wanneer die hoëpriester namens die volk van die Here een maal in die jaar daar mag ingaan met die offerbloed. Dan mag hy wel daar inkom met die bloed van versoening, sodat die volk kan weet: die hemel sal weer vir ons oopgaan. Daar is vir ons versoening, weer een lewe met God.
Geopende Hemel←⤒🔗
Die dood van die Here Jesus het weer die hemel vir ons oopgemaak. Wanneer Hy sterf, dan skeur die voorhangsel oop van bo na onder. Dit wat die hemel en die aarde van mekaar geskei het, word tot niet gemaak – die skuld van ons, sondaars, word betaal. Nadat Jesus opgestaan het uit die dood, vaar Hy daarom ook voor die oë van sy dissipels op na die hemel. Die hemel is nie meer vir ons afgesluit nie. Hy kan met 'n menslike liggaam weer in die hemel kom. Daar is plek in die hemel vir 'n mens. Hy vaar op met sy menslike liggaam. Die Kategismus gee nogal op 'n mooi manier hieraan uitdrukking. Daar staan byvoorbeeld nie dat Jesus "opgevaar het na die hemel" nie. Christus is voor die oë van sy dissipels na die hemel opgeneem. Die hemel ontvang Jesus. Hy word opgeneem as ons Middelaar. Hy word opgeneem ter wille van ONS. Die hemel is nie meer 'n bedreiging vir ons nie. In die hemel is daar nou plek selfs vir ons as sondaars!
Sien u, die Here Jesus laat ons nie alleen wanneer Hy na die hemel gaan nie. Daar gebeur geweldige dinge wat vir ons ten goede is. Kyk maar weer na Openbaring 12. Nadat die Seun weggeruk is na die hemel, word die vrou in die woestyn bewaar in 'n plek wat God vir haar gereed gemaak het. Daar ontstaan dan ook oorlog in die hemel, beskryf Johannes vir ons. Migael en sy engele voer oorlog teen die draak en sy engele. Die satan en sy engele word uit die hemel neergewerp en daar was nie meer vir hulle plek in die hemel nie. Wat 'n aangrypende boodskap hou dit vir ons in. Sedert Christus se hemelvaart is daar geen aanklaer van die kinders van God in die hemel meer nie. Die satan is oorwin en uitgeskop uit die hemel. Dit is nou nie meer 'n plek waar beskuldig word nie, maar waar ons verdedig word, waar ons ontvang word. Sedert Christus se hemelvaart het ons nou in die plek van 'n aanklaer 'n Advokaat, Een wat vir ons saak pleit. Een wat vir ons intree. Dit is die rykdom van Christus se hemelvaart. Die allerheiligste het vir ons oopgegaan.
Christus sit Sy Werk Voort in die Hemel←⤒🔗
Daarom sit Christus sy werk nou voort in die hemel. Wanneer Christus opvaar na die hemel, word Hy nie skielik iemand wat ver van ons af is nie; Hy word nie vir ons 'n vreemdeling nie. Hy word nie nou "vergoddelik" nie. Dis nie asof sy liggaam weer vreemd word vir ons nie. Hy gaan nie in 'n droomwêreld wat niks met ons lewe te doen het nie. Hy is juis nou met ons menslike liggaam daar, totdat hemel en aarde volledig in harmonie met mekaar gaan lewe. En dan sal Hy ook vir ewig met sy menslike liggaam daar bly as Lam van God; vir ons, vir ewig. Christus bly daar totdat Hy terugkom om reg te spreek oor die lewendes en die dooies. Die hemel is vir ons nou juis nie 'n "bedreiging" nie. As kinders van die Here vrees ons daarom ook nie die dag van sy terugkoms nie. Dis nie asof ons dan 'n vreemdeling moet gaan ontmoet nie. Nee, Hy kom terug as ons Middelaar, sê die Kategismus so pragtig. Ons Advokaat, wat nou in die hemel is, kom om reg te spreek op die aarde, maar nie as ons vyand nie.
Christus Werk vir Ons in die Hemel←⤒🔗
Ons moet baie duidelik bly vashou dat Christus vir ons werk in die hemel. Hy is in die hemel in die eerste plek ons Voorspraak by die Vader. En Christus sal deur die Vader gehoor word. Want Hy het reg om verhoor te word. Hy verdien dit deur sy volmaakte offer. Wanneer ons nou tot die Vader bid, dan mag ons weet dat die Vader nie meer toornig oor ons is nie. Wanneer ons bid om vergifnis, dan sal die Vader ons hoor ter wille van Christus wat nou in die hemel vir ons pleit. Wanneer dit vir my voel asof ek alleen is en totaal van God verlate is, dan mag ek weet dat ek kan bid om God se nabyheid en ook werklik verhoor sal word. Jesus was immers aan die kruis verlaat, sodat ons nooit weer verlaat sal word nie. Sien u die dankbaarheid wat Hy in ons werk deur sy hemelvaart?
Ons Here Jesus Christus, so lees ons in Openbaring 5, is in die hemel en het die boekrol van God in sy hand. Hy is die Een wat met sy hemelvaart ook regeer oor die geskiedenis van die wêreld. Hy bepaal wat gebeur. Dit beteken nie noodwendig dat geen teëspoed op my pad sal kom nie, dat ons dit nie moeilik sal hê nie. Maar ons mag weet dit is ons Advokaat wat die boekrol in sy hand het. Dit is ons Advokaat wat dinge met ons laat gebeur, wat ons ons werk laat verloor, wat toelaat dat daar 'n ongeneeslike siekte is, dat die dood in my familie kom. Dit is nie toeval nie! Hy is in die hemel ter wille van sy kinders – sy kerk. Hy lei en stuur die wêreldgeskiedenis na 'n volmaakte einde waarin die nuwe hemel en die nuwe aarde volmaak een sal wees. Dit wat met ons op aarde gebeur, staan nie los van wat Christus in die hemel vir ons doen nie. Daarom bely ons ook dat Christus wel met sy menslike natuur in die hemel is, maar met sy Godheid en majesteit by ons is. Hy is besig met ons, met die geskiedenis, en as die Almagtige ontvou Hy dit. Hy regeer alles vanuit die hemel, ter wille van mense soos u en ek, sy verbondsvolk. Hy beskerm ons, sodat ons volmaak saam met Hom sal wees in die nuwe hemel. Met sy Godheid, majesteit, genade en Gees verlaat Hy ons nooit nie. Dit is Hy wat hemel en aarde uiteindelik weer sal verenig, wanneer die nuwe hemel op die nuwe aarde sal neerdaal en ons volkome by Hom sal wees. Dit is Christus wat seker maak dat die geskiedenis van God met hemel en aarde sy volmaakte doel sal bereik. Wat 'n geweldige troos vir ons. Waarom is ons so besorg oor alles wat elke dag met ons gebeur? Glo u dat Jesus opgevaar het na die hemel? Leef dan vertroos uit die geloof. God is met sy almag by ons. Ons lewe as kinders van God kan daarom nooit los gaan staan van God se genade nie. Wat ook al u sorg is, bring dit na Hom wat in die hemel vir u pleit.
←⤒🔗
Die Twee Waarborge of Pande←⤒🔗
Laat ons vervolgens let op die twee waarborge, die twee pande wat Jesus vir ons gee. In Jesus se bekende gebed in Johannes 17 bid Hy tot die Vader: "Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees" (Johannes 17:24). Christus wil ons by Hom hê. Hy het daarom ook opgevaar na die hemel om vir ons plek gereed te gaan maak. In die Kategismus lees ons so pragtig dat ons ons menslike natuur in die hemel het as 'n betroubare waarborg dat Hy ons na Hom sal neem. Soos 'n bruidegom vir sy bruid 'n ring gee om haar te verseker van sy liefde, so gee die Here Jesus, wanneer Hy weggaan, vir ons 'n pand om te sê: "Kyk hierna en weet Ek is lief vir jou. Kyk hierna en weet ons sal vir ewig bymekaar wees." Hoe mag ons dit weet? Deur die getuienis van die apostels van Christus, wat gesien het hoe Hy met ons menslike liggaam na die hemel vertrek het. Ook my menslike liggaam sal daar wees. Hy het dit beloof.
Daarom het hierdie waarborg 'n geweldige betekenis vir hoe ek hier op aarde besig is. Ons kan nou weet dat alles waarmee ek hier op aarde gelowig besig is, voorbereiding is vir my opneming in die hemel by Jesus. Niks wat ek in geloof hier op aarde doen, is nutteloos nie. My werk, wat dit ook al mag wees, is nie verniet nie. En dan bedoel ons nie alleen ons sogenaamde "kerkwerk" nie. Nie alleen my gaan na die erediens of na die Bybelkring of vereniging nie. Nie alleen my kollekte aan die diakonie of die sending nie. Ons sorg hier op aarde in al die werk wat ons doen, is 'n gereedmaak om saam met Jesus in die hemel te woon. Sy werk op aarde het die gevolg dat Hy my menslike lewe saam met Hom sal opneem in die hemel. En dan mag ek besig wees in my fabriek of agter 'n lessenaar of agter 'n stoof of in die tuin of besig om my ondankbare kinders se beddens op te maak. Met dit alles is ek besig om gereed te maak om saam met Jesus in die hemel te wees.
Daar is geen teenstelling tussen "besig wees met Jesus" en my daaglikse werk nie. Maar laat ons dan werk vanuit ons geloof in die hemelvaart van Jesus Christus! Dit sal dan ook ons manier van werk 'n spesifieke kleur gee. Ons sal besig wees soos 'n verloofde meisie wat haar huishouding gereed maak sodat sy met haar bruidegom vir altyd saam kan wees. En as sy besig is om haar huishouding gereed te maak, is sy besig vir hom, uit liefde vir hom. So word ons daaglikse werk gekleur deur Christus se hemelvaart. Soos wat twee getroudes aan mekaar ringe gee as waarborg van mekaar se liefde, het Christus ons menslike liggaam in die hemel as waarborg dat ons saam met Hom sal wees.
Die Gees as Waarborg←⤒🔗
Ons het nie net in die hemel 'n waarborg nie, maar ook hier op aarde. Hy het na sy hemelvaart sy Gees as waarborg na ons gestuur. As Bruidegom gee Hy ons ook 'n pand hier op aarde. Deur hierdie Gees se krag kan ons nou soek wat daar bo is. Nie wat op aarde is nie, maar wat deur die genade van God op die nuwe aarde sal neerdaal.
En wanneer ons swak is, wanneer dit voel asof ons nie kan leef uit die geloof in Christus se hemelvaart nie, kan ons nou deur die Gees bid in ons swakhede: "Here, sterk my, gee my krag om vol te hou, om nie moedeloos te word nie." Die Gees kom self ons swakhede te hulp en bid met onuitspreeklike versugtinge. En, bowenal, bid ons deur die Gees: "Kom, Here Jesus, kom gou, sodat ons ewig saam met U kan wees waar U is."