4 bladsye.

Sondag 19: Heidelbergse Kategismus

Lees Openbaring 20

sonsopkoms🔗

Uitsien na ons Koning se Koms🔗

Wie van ons voel onsself getroos deur Christus se wederkoms om te kom oordeel? Dit klink tog waarskynlik vir die meeste van ons 'n bietjie vreemd, om met Christus se koms as Regter nou getroos te word. Ons weet wel dat Jesus weer terugkom. Soos 'n dief in die nag, heel skielik, onverwags. En nou is die groot vraag: is dit iets waarna ek uitsien? Kyk ek daarna uit met  groot, gespanne verwagting? Ek is bevrees dat daar by die meeste van ons nie so 'n verlange na daardie dag is nie. Veral by baie jongmense nie! Wie wil in elk geval oor die wederkoms en oor die oordeel praat as ons jong kinders doop? Hier lê 'n lewe van verwagting vir hulle voor. Maar juis ook vir hulle is die wederkoms van Christus so relevant.

Wat is die verwagting wat doopouers vir hulle kinders gaan leer? Wat moet hulle verwag in hierdie lewe? Gaan hulle leer dat Christus se wederkoms 'n rol in hul lewe speel? Sal hulle leer om daarvoor te bid: "Kom, Here Jesus, kom gou!"? Of gaan ons kinders bang wees vir daardie dag? In die plek van verlange na daardie dag is daar by ons dikwels eerder vrees en angs en onbeskryflike onsekerheid – wat wag vir my? Lees ons nie in die Nederlandse Geloofsbelydenis, artikel 37, dat ons met Christus se koms "rekenskap moet gee van elke ligsinnige woord wat ons gesê het" nie? Dit maak ons bang! Wat bly by ons dan nog oor van blydskap en verlange na daardie dag? Sal my werke staande kan bly? Of ons kan voel dat ons nog so baie te doen het voor daardie dag, daarom kan dit maar eerder uitgestel word. Of ons is bang dat ons in daardie laaste oordeelsdag baie van ons geliefdes nie daar sal sien nie. Dat dit dalk sal blyk dat ons kinders wat al gesterf het, of ons ouers of ander in die gemeente, tog nie werklik kinders van God was nie. Dan bring die gedagte van die wederkoms 'n stuk vrees by ons, 'n onsekerheid.

Dit kan sommer baie maklik die lewe tussen nou en die koms van Christus heel beangstigend maak. Natuurlik hoef die wederkoms van Christus geen bedreiging vir die gelowige te wees nie. Ons gaan nog daarop let. Maar daar is ook vir die kinders van die Here veral geweldige troos in die Koningskap van Christus in die tyd tussen sy hemelvaart en sy wederkoms. Dit hoef nie beangstigend te wees nie. Christus heers as Koning, as Hoof van sy kerk. Daarvoor moet ons duidelik oog hê. Want daarmee begin Sondag 19. Christus het na die hemel opgevaar, sodat Hy Homself daar as die Hoof van sy kerk kan betoon, deur wie die Vader alles regeer, ter wille van sy kerk. Hier lê geweldige troos en verwagting vir ons en ons kinders! Want Christus kom in die doop na ons en sê: "Ek wil ook jou Koning wees, my kind. Ook vir jou wil Ek regeer met 'n genade-heerskappy."

Die Duisendjarige Ryk🔗

Laat ons nou gaan let op die duisendjarige ryk van Christus se heerskappy. Wanneer ons hoor van Christus se hemelvaart, dan voel ons sommer maklik aan onsself oorgelaat hier op aarde. Hoe moet ons staande bly om van elke woord en daad verantwoording af te lê by sy wederkoms? Maar dit is nie waarna ons moet kyk nie. Want die Woord van die Here leer juis vir ons dat, wanneer Christus opvaar na die hemel, Hy aan die regterhand van die Vader gaan sit. Dit beteken nie die hemel is vir Christus 'n soort van "aftree-oord" as Verlosser nie, dat Hy nou as ’t ware klaar gewerk het op aarde, gaan sit het daar bo in die hemel en dan terugkom met 'n verskriklike oordeel oor alle mense. Nee, vanaf die regterhand van die Vader regeer Christus juis nou die hele geskiedenis van die wêreld, as Hoof van sy gemeente. Hy regeer alles! En ons regeer saam met Hom as konings en priesters.

wêreld en mense

In heel aangrypende, beeldende taal lees ons daarvan in Openbaring 20. Wanneer Christus opvaar na die hemel, dan regeer hulle wat onthoof is oor die getuienis van Christus en oor die Woord van God, dan regeer hulle wat die dier nie aanbid het nie. Dit moet vir ons geen vreemde gedagte wees dat die gelowiges, dat ons, nou saam met Christus regeer nie. Dit is tog waarvoor die mens aanvanklik gemaak is. Die hemel is vir die mens bedoel om daar saam met God te regeer as konings oor sy hele skepping. God het ons gemaak om konings te wees. Adam en Eva is as koning en koningin geskape. Maar Adam het gesondig en dit het vir hom en sy nageslag onmoontlik geword om selfs in die hemel te kom. Nog minder om te regeer!

Maar ons moet baie duidelik sien dat dit wel is waarvoor God ons gemaak het. In die woorde van Psalm 8 hoor ons dit: "Wat is die mens dat U aan hom dink ... U het hom 'n weinig minder gemaak as 'n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon. U laat hom heers oor die werke van u hande; U het alles onder sy voete gestel: skape en beeste, dié almal, en ook die diere van die veld, die voëls van die hemel en die visse van die see. O HERE, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde!" Dit is waarna Hy weer met ons op pad is.

En dan lees ons verder in Hebreërs 2, waar Psalm 8 aangehaal word, dat die Here ons laat regeer, nie net oor die diere nie, maar selfs oor die engele van die hemel. Dit is waarvoor God die mens gemaak het. Om as onderkonings en -koninginne, onder God alleen, te regeer. Adam het misluk. Daarom noem Hebreërs 2 dat ons nou nog nie hierdie heerlikheid vir ons en ons kinders sien nie. Want wat sien ons van hierdie heerlikheid? Konings, mense wat regeer in hierdie wêreld? Is ons op die oomblik aansienlikes hier op aarde? Nee, sê die skrywer van die Hebreërbrief, maar ons sien wel Christus aan die regterhand van die Vader. Daar regeer Hy, en Hy is ons Hoof. Ons sien nog nie ons koningskap nie, maar ons sien Christus! Ons sien Hom wat met eer en heerlikheid gekroon is. Hierby sluit die beeld van Openbaring 20 aan as genoem word dat aan die wat op die trone gaan sit het, wat hulle nie aan die dier onderwerp het nie, nou selfs die oordeel gegee is. Wanneer Christus gaan sit aan die regterhand van die Vader, dan regeer ons wat in Christus glo, saam met Hom, duisend jaar lank, die hele tydperk van Christus se hemelvaart tot sy wederkoms. Hy is immers daar ter wille van ons. Hy is in die hemel "as die Hoof van sy Christelike kerk", stel die Heidelbergse Kategismus dit. Deur Hom regeer die Vader nou alles. En as lidmate van Christus, as gelowiges in Christus, regeer ons saam met Hom.

Hy Regeer nou Reeds🔗

Ons gaan nou daarop let dat Hy nou reeds regeer! Hierdie koninkryk van Christus is nie iets vir die toekoms nie. Hy regeer nou reeds, en ons saam met Hom. In die eerste twee verse van Openbaring 20 beskryf die beeld wat daar vir ons gegee word, dit aangrypend. 'n Engel van die Here word nou van die hemel, van die troon van Christus af, gestuur met die sleutel van die afgrond en 'n groot ketting in sy hand. Hy gryp die draak, dit is die slang, die satan, wat die koning en koningin, Adam en Eva, verlei het, en hy bind hom duisend jaar lank. Hy werp hom in die put en verseël die afgrond, sodat die nageslag van Adam en Eva, die gelowiges, saam met Christus op die troon kan sit en regeer. Vandaar die duisendjarige ryk van Christus. Die vyand en teëstander van Christus word beteuel tot en met sy wederkoms. En dan kom die oordeel vir satan. Christus is die Een wat beskik oor die sleutel van die afgrond, nie die duiwel nie! Die heerskappy van Christus het nou reeds gekom. Ons hoef nie daarvoor te wag nie.

Hierdie Christus is nou die Een wat as Hoof regeer oor ons lewe, oor sy gemeente, oor u en my. En oor ons kinders. Hy is ons Hoof! Dit beteken nie dat die satan ons nie gaan aanval nie. Ons lees in Openbaring 20 van die geweldige aanslag van die magte van die satan, van die Gog en die Magog wat die satan versamel om die stad van God aan te val. Oor die breedte van die aarde kom hulle om die stad van God en van die heiliges te omsingel. Die kerk word as ’t ware beleër. U moet daarom nie, as u deel is van die gemeente van Christus, verwag dat die magte van die satan u nie gaan aanval nie. Die satan mag gebind wees, maar dit beteken nie dat hy nie werksaam is nie. Maar wanneer hierdie magte rondom die stad van God versamel om aan te val, dan stuur God vuur uit die hemel. "Vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verslind" (Openbaring 20:9). Christus regeer oor hierdie magte as Hoof van sy kerk, en die magte van satan sal ons nie oorweldig nie.

vuur

Wat 'n geweldige evangelie het ons om aan ons kinders te vertel! Vertel aan hulle dat die satan hulle gaan aanval, dat hy rondom die gemeente kom om aan te val. Maar vertel julle kinders ook dat God vuur uit die hemel stuur om die satan en sy magte te verteer. Dat Hy regeer! Hy sal vir ons stry en ons die oorwinning gee. Wat 'n stryd om te stry! Wat 'n heerlike oorwinning om te behaal! Kom, leef as kind van God met hoop en verwagting, want Hy is ons Hoof en ons mag saam met Christus regeer. Waarvoor sal ons dan nog bang wees?

Hoof van Sy Kerk🔗

Vir wie is dit te sien, dit waarvan ons gepraat het? Nee, dit is nie vir ons om te sien nie, maar vir ons en ons kinders om te glo! Christus se heerskappy is alleen te bewys vir elkeen wat glo! Maar meer nog. Christus se heerskappy, sy Koningskap, werk juis daar waar mense gaan glo. Dit is onmoontlik om sonder Christus se heerskappy te glo. Niemand kan glo nie, tensy Christus met sy koningskap gekom en die mag van die satan oorweldig het. Ons lees in die Doopsformulier: niemand kan in die ryk van Christus kom nie, tensy ons weer gebore word. Tensy ons bevry word uit die mag van die satan. Wanneer mense in Christus glo, word die heerskappy gesien. Hy oorwin die mag van die satan, want wie kan glo sonder dat die mag van die satan in ons lewe deur Christus verbreek word? Ons moet Christus se heerskappy nie soek in oorwinnings vir die ACDP in die verkiesing nie! Of in die afskaffing van die aborsie-wetgewing nie. Of in die beëindiging van moord en misdaad in ons land nie. Maar daar waar mense uit geloof in Christus gaan lewe, daar regeer Christus.

Want Hy regeer as Hoof van sy kerk. En hierin sien ons ook dat sy heerskappy nie iets van die toekoms alleen is nie. Want geloof is iets heel konkreets in ons lewens, wat nou ons lewe raak en dit nou verander. Wat my elke-dag-se-optrede bepaal en invul. In die manier waarop ek besig is in die gesin. In my werk. En in die manier waarop ek leef en werk in die samelewing. Die Here roep ons om te leef as 'n koninklike priesterdom. Ons moet nie as gelowiges in die wêreld leef asof ons vreemde verskynsels op die aarde is nie, asof die wêreld eintlik gemaak is vir die ongelowiges. Dit is nie u wat vreemd moet voel in die land nie, maar die ongelowige. Hy wat hom verset teen die Koningskap van Christus, hý is die vreemdeling! Moenie so 'n ekskuus-tog-dat-ek-lewe-houding hê nie. Moenie by die werk as ’t ware om verskoning vra omdat jy 'n Christen is en ook 'n plek in Suid-Afrika het nie. Ons is nie die vreemdelinge nie, maar hulle wat Christus se heerskappy nie erken nie. Ons is konings en priesters, want Christus, ons Hoof, sit op die troon en ons sal saam met Hom regter wees oor almal in Suid-Afrika wat nie in Hom wil glo nie. Wanneer die Here vir Israel kies as sy volk, dan sê Hy dat Hy hulle gekies het uit al die volke om vir Hom 'n koninklike priesterdom en 'n heilige volk te wees. Want die hele aarde behoort aan Hom (Eksodus 19:5, 6).

Leef daarom bewustelik as Christen. "Die aarde behoort aan ons Here en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon" (Psalm 24:1). Ons het daarom 'n roeping in hierdie land om die weg te wys terug na God en sy heerskappy. 'n Genade-heerskappy in en deur Christus aan die regterhand van die Vader as Hoof van sy kerk! Daarom begin die weg terug na God wanneer ons mense sal terugroep na die kerk van Christus. Die kerk, waarvan Hy die Hoof is. Hoe kan ons in die samelewing as Christene gaan leef, terwyl ons nie eers op Sondae in die kerk daarvoor toegerus word nie? Daar waar ons nie toegerus word om as koninklike priesterdom te werk nie, daar is die kerk van Christus nie. Word ons kinders gebore in 'n tyd waarin dit moeilik is om as Christen te lewe? Ja. Maar wat 'n evangelie het ons nie om as ouers, en ook grootouers, aan hulle te verkondig nie! Deur die doop kom gee Christus ook aan die kinders van gelowiges 'n plek in sy kerk waarvan Hy die Hoof is, deur wie Hy alles regeer. Sal ons dan bang wees vir ons kinders se opvoeding in hierdie tyd? Sal ons met angs daaraan dink dat ons nog kinders sal hê en moet grootmaak in hierdie wêreld? Laat hulle leer leef in onderworpenheid aan Hom.

kerkvensters

Ons Christus het mag oor alle dinge. Wie of wat is daar wat nie aan Hom onderworpe is nie? Die groot vraag is natuurlik of ons leef uit daardie geloof. Ons het as mense van die begin af die roeping om oor die aarde te heers, dit te onderwerp. Wanneer ek nou elke dag my werk gaan doen vanuit die geloof in Christus se Koningsheerskappy, dan kom sy koninkryk daar. Dan word sy heerskappy daar duidelik. In die gewone daaglikse dinge van elke dag. Maar as konings en priesters word ons ook geroep: wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde. Sal ons nog kinders hê, nou, in hierdie moeilike tyd, waarin die Gog en die Magog laer trek om die stad van God? Ja! Want God het gesê: Ek seën juis daar! Ek gee my seën vir julle; wees daarom vrugbaar, vermeerder, vul die aarde. Dit is ons roeping, om vandag konings en priesters te wees op hierdie aarde as kinders van God. Ons kan nou weer lewe onder die seën van die Here, omdat Hy ons weer konings gemaak het, soos Adam en Eva van die begin af bedoel was om te wees. Die Here gee sy seën deur 'n kind te gee waar dit onmoontlik gelyk het dat dit sou kon gebeur. Selfs daar kom Christus, toon sy heerskappy en gee kinders, sodat ons kan regeer. Wat 'n geweldige oproep is daar nie in Christus se Koningskap dat ons ook met groot verwagting van die seën van die Here kinders sal hê nie. Hy regeer en Hy sal seën. Hy regeer oor die vrug van die aarde en die vrug van ons liggaam.

Met Gespanne Verwagting🔗

Is daar nou by ons 'n gespanne verwagting vir die koms van Christus? Ja, want nou, in die lig van dit alles, kry die gespanne uitsien na Christus se koms, nuwe betekenis, nie waar nie? Elke woord en daad van my kan Hy kom oordeel, en ek is nie bang nie, want ek leef vandag as Christen, as kind van God, vanuit die geloof in Christus. Hy regeer oor die magte van die hel en het die mag om my te bewaar tot op die laaste dag. Ek leef nie uit eie krag nie, dit durf ek nie doen nie. Met gespanne verwagting, met reikhalsende verlange, sien ek nou daarna uit dat Hy sal kom. Want gelukkig is hulle wat saam met Christus regeer, wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie. Die tweede dood is die veroordeling van die Here wanneer Hy weer kom om oor lewendes en dooies te oordeel.

In alle droefheid en vervolging wat ek van dag tot dag op aarde as Christen mag beleef, verwag ek die Een wat regeer, om te kom as Regter. Hy wat kom oordeel is nie vir my 'n vreemde nie. Hy wat Regter is, Christus, is tegelyk Koning van sy kerk. Hy is die Een wat Homself vantevore in my plek voor die regbank van God gestel het. Hy kom om Regter te wees. Om my te veroordeel nadat Hy in my plek veroordeel is? Nee, Hy kom om my vry te spreek, my voor die hele skepping regverdig te verklaar. Dan kan hulle weet dat ek, as 'n eenvoudige gelowige, weer koning is saam met Christus. Dat ek saam met Hom mag regeer en saam met Hom sal veroordeel, hulle wat in ongeloof leef. Daarom is die oproep, dat ons juis in die lig van Christus se Koningsheerskappy en van sy koms as Regter, gelowig gaan leef; gaan leef as kind van God. Hy het al my vervloekinge op Hom geneem. Daar is geen veroordeling meer vir die wat in Christus Jesus is nie. Sy koms is waarlik iets om na uit te sien. Met gespanne verwagting.

Maar meer nog. Hy sal dan al my en sy vyande in die ewige verdoemenis werp en Hy sal my saam met die uitverkorenes na Hom in die hemelse blydskap en heerlikheid neem. Ek verwag dit, want ek glo dat Hy as Koning die mag het om my tot dan te bewaar. Met groot verlange bly ons daarom bid: Kom Here Jesus, kom gou! Maranáta!