5 bladsye.

Sondag 2: Heidelbergse Kategismus

Lees Romeine 3:9-20

Kennis van die Sonde🔗

Wat is die oorsprong van die sonde? Hoe kon dit ooit gebeur dat daar in God se volmaakte skepping opstand teen God in die hemel kon kom? Nêrens word die oorsprong van die sonde in die Skrif verklaar nie en tog is die hele Skrif vol daarvan, en praat dit met groot klem van die kennis van ons eie sonde. Ons word selfs opgeroep om ons sonde te ken en ons sonde te bely. Ons bely ook dat ons nie ons eie verlossing kan ken en werklik getroos daaruit kan lewe, sonder om ons eie sonde te ken nie. Dit beteken nie dat dit altyd vir ons maklik is om ons sonde te ken nie. Al is die hele Woord van die Here vol daarvan, bly dit 'n moeilike saak. Om die waarheid te sê, daar is niks moeiliker as juis om die waarheid oor ons sonde te leer ken nie. En dit is waaroor dit gaan in Sondag 2 van die Kategismus: die waarheid oor ons sonde. In die hele proses van die Waarheids- en Versoeningskommissie, wat die afgelope drie jaar verhore gehou het, het dit meer as ooit duidelik geword hoe moeilik dit is om die waarheid oor ons sonde te erken.

Elkeen wat voor die Waarheids- en Versoeningskommissie om amnestie kom aansoek doen het, het dit gedoen met die verskoning dat die waarheid oor hulle sonde gesoek moet word in die druk van 'n politieke situasie wat hulle daartoe aanleiding gegee het. Dit moet dan die fondament vorm vir amnestie. Dit sien ons as 'n illustrasie, as 'n voorbeeld, van hoe misleidend die sonde is. Die sonde probeer juis voorkom dat ons dit sal ken. Wanneer ons erken dat ons sondig is, beteken dit nog nie dat ons die waarheid oor ons sonde bely en erken het nie. Laat ons dus baie duidelik wees oor die kennis van ons sonde. Daarom kan ons ons sonde slegs ken uit die wet van God. Uit die wet wat ons leer dat ek die Here my God moet liefhê met my hele hart, met my hele siel, met al my krag, en my naaste soos myself. Daar leer ek die waarheid van my sonde ken. En dit kan slegs Christus my leer. Want dit noem die Kategismus dan ook uitdruklik: dit is Christus wat hierdie wet vir ons leer. Dit is Christus wat my hierdie sonde laat verstaan, leer ken, wanneer Hy met sy wet na ons toe kom. Sonder Christus kan ons nie ons sonde ken nie, en kan ek dus ook nie die waarheid, die werklikheid oor my sonde ken nie. Ek kan nie my sonde ken, sonder dat ek ook werklik Christus as Verlosser deur die geloof in God se Woord ken nie.

Ware Sondebesef?🔗

Laat ons nou kyk na wat 'n ware sondebesef is. En dan kan ons gelyk vir onsself vra of ons as gemeente 'n ware sondebesef het. Het "sondebesef" by ons nie reeds begin verwater tot 'n blote erkenning dat ons tog wel almal sondaars is nie? Alles wat ons doen is ook nie heeltemal so goed nie, want ons is wel nie van die wêreld nie, maar ons is tog in hierdie wêreld en daarom moet ons leef en leer leef met die werklikheid dat ons almal sondaars is; en vanweë die werklikheid dat ons in hierdie wêreld lewe, moet ons as ’t ware noodwendig ook in sonde leef. En dan leer ons om met hierdie gedagte saam te leef. Is dit 'n ware sondebesef?

Die Woord van die Here leer ons iets heel anders, iets wat totaal hiermee verskil. Die Woord leer ons dat ons van nature geneig is om God en ons naaste te haat — is dit iets waarmee ons maar kan saamleef? Is dit iets waaraan ons gewoond kan raak, om elke dag daarmee te leef, met die werklike wete dat ek God haat? Kan ek gewoond raak aan die gedagte dat dit so is? Daarom is dit so belangrik dat ons leer om ons eie belydenis in Sondag 2 ernstig op te neem. Want dit is 'n belydenis wat ons hele lewe behoort te raak. Kennis van ons sonde kom nie maar uit ons eie hart op nie. Ons sal nie soos die Fariseër met dank mag verklaar dat ek uit my eie hart weet en die Here dan daarvoor dank dat ek tog nie is soos die sondige tollenaar hier langs my nie. Ons leer nie ons sonde werklik en opreg ken wanneer ons onsself vergelyk met ander mense binne of buite die gemeente nie. Ek leer my sonde nie opreg ken wanneer ek myself vergelyk met die broeder of suster wat op die rand van die gemeente leef nie. Dan voel ons gemaklik oor ons eie sonde.

Maar die Here leer ons nie ons sonde ken deur dit te vergelyk met ander mense binne of buite die kerk nie. Die Here leer ons om te luister na sy volmaakte Woord. Daar leer ons ons sonde ken, want ware sondekennis is deel van ons geloof — dit beteken dat dit alleen op die Woord van die Here gebou kan word. Nie vanuit my eie gedagtes of ervaring van neerslagtigheid, gevoelens van minderwaardigheid oor my voorkoms, of sosiale stand nie. Dit is nie sondebesef nie. Dit is slegs as ons in die lig van die Woord gaan staan dat ons die sonde sien vir wat dit is. Hieroor gaan vraag en antwoord 3: "Waaruit ken jy jou sonde en ellende?"

Sondebesef is nie maar net 'n mislike gevoel dat ek 'n mislukking is nie. Dit is ook nie die erkenning dat ons maar almal sondaars is nie. Ware sondekennis kry ons wanneer ons in geloof gaan luister na die hele Woord van die Here. Na die tien gebooie. Maar ook na die gebod van liefde. En deur te luister na die res van die Woord van God. Want waar sien ons ons sonde duideliker as juis wanneer die Woord van die Here ons leer van Christus se lyding en sterwe op Golgota waar Jesus aan die kruis vir ons sonde betaal het?! Sien ons nie daar hoe ellendig ons sonde is nie? Ek leer dus uit die hele Woord van God my sonde ken en verstaan. Ons leer ons sonde ken as opstand teen God. In die kruis van Christus leer ons sonde ken as iets wat so ver kan gaan dat dit Jesus as die Verlosser van my sonde kan verwerp en weier om met God versoen te word. Soos die volk Israel in die tyd van Christus op aarde. Daar leer ek sonde in sy ware karakter ken: opstand teen God. Weiering om my aan sy genade te onderwerp. 'n Vasklou aan my sonde asof dit my laaste besitting is. "Neem mijn zonde van mij niet weg", soos die Nederlandse digter Marsman sê. Dit is my besitting. Daar sien ons wat die ware aard van die sonde is. Weiering om na Christus te kom vir vergifnis, ook van my sonde.

Daar is Niemand Regverdig Nie🔗

Nou leer die Woord van die Here ons in die derde plek dat niemand regverdig is nie. Ons leer ook ons sonde ken in die briewe van Paulus wanneer Hy skryf dat daar niemand voor God regverdig is nie. Daar is niemand verstandig nie. Daar is niemand wat God soek nie. Daar is niemand wat goed doen nie. Almal se kele is soos 'n oop graf. Die gif van adders is onder ons lippe.

Ons sou maklik kon sê dat dit miskien 'n bietjie erg is, 'n bietjie oordrewe van die apostel Paulus, maar is dit? Is dit regtig oordrewe? Waar kom dit vandaan dat mense in die gemeente hulle nie met ander wil versoen nie? Vanwaar kom dit? Waar kom dit vandaan dat mense in die gemeente vuil woorde gebruik? Wat is die oorsprong van die gebrek aan liefde wat daar dikwels is? Dit kom tog uit ons eie harte, so leer die Woord ons. God se Woord laat ons ons sonde verstaan. Vrouens laat nie ongebore babas in hul moederskoot doodmaak omdat hulle in 'n huis grootgeword het met te veel kinders nie. Niemand word 'n rassis omdat hy as kind verloor het in 'n rugbywedstryd teen iemand van 'n ander ras nie. Dit kom voort uit 'n hart vol moord en haat. So leer God se Woord ons. Dit is nie my omstandighede, nie my politieke situasie waarin ek grootgeword het, of my ouerhuis, wat my 'n sondaar maak nie. Ek leer nie sonde deur 'n voorbeeld wat vir my gestel word nie. As ek my sonde wil leer ken, moet ek dit sien in die lig van God se Woord. En dit kom voort uit my eie hart!

Dit geld nie alleen van onbekeerdes nie. Juis ons as gelowiges moet ons eie sonde ken. Om sondaar te wees wat niks anders as die dood verdien nie, is geen fase in ons lewe wat ons "ontgroei" en êrens agter ons gelaat het nadat ons tot geloof gekom het nie. Inteendeel — as ek werklik wil leef uit die troos van die evangelie, moes ek nie alleen gister my sonde besef het nie, maar ook vandag vanuit die Woord bely en glo dat ek skuld het voor God. Dat ek nie verdien om 'n kind van God te wees nie; dat my keel 'n oop graf is, dat onder my tong die gif van 'n adder sit. Anders is ons nie eerlik besig met God se Woord nie. Dit sit in my bloed om te sondig. Ons moet dit erken, dit sit in ons. Nie in die ander nie, nie in die mense daar ver nie, nie in verskriklike sondaars nie, dit is ons! Ons moet teenoor die Here bely dat ons ook nie doen wat Hy kom vra wanneer Hy van ons eis: "Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand" nie. Ek het werklik nie gedoen wat Hy van my gevra het nie. Ek verdien werklik nie om 'n kind van God genoem te word nie. Here, ek erken dat as U my gaan oorlaat aan myself, as U my nie vashou en bewaar nie, sal ek ook vandag nog erger sondes doen as die ergste sondes wat ek my in my gedagtes kan voorstel.

Werklik? Dink maar aan Dawid se val. Koning van Israel, en hy val met Bátseba. En Petrus wat in dapperheid staan en hom skaam vir sy Verlosser. Spreek dit van liefde vir die Here met sy hele hart en met sy hele siel en met al sy krag? Nee, en tog het dit nie weggeneem dat hy tegelyk Christus werklik liefgehad het nie. Na sy opstanding verskyn die Here Jesus aan sy dissipels by die see van Tibérias. Daar vra hy vir Petrus drie maal: "Petrus, Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief, meer as hulle hier?" En Petrus kon eerlik, as gelowige, antwoord: "Here, U weet alles, U weet dat ek U liefhet" (Johannes 21:15-17). Jesus bevraagteken nie hier Petrus se liefde nie. Jesus herinner hom nie aan die sondes wat hy gedoen het nie. Hierdie drievoudige vraag na sy liefde is nie maar 'n herinnering aan sy sondes uit die verlede nie. Nee, dit is 'n oproep om te gaan leef uit daardie liefde vir Christus. Petrus, as jy My liefhet, laat my lammers wei, pas my skape op. Volg nou vir My, gaan leef dan ook nou as herder uit die versoening wat daar in my bloed is. Daarom die opdrag: "Volg My" (Johannes 21:19).

Sondekennis Ontmoedigend?🔗

Is hierdie sondekennis ontmoedigend vir ons? Is dit nie neerdrukkend nie, maak dit ons nie heeltemal passief nie? Maak die besef van die erns van ons sonde ons nie onwillig om God te dien nie? Werk dit nie 'n bietjie verlammend op ons entoesiasme, op ons gewilligheid in nie? Moet ons nie die uitdrukking gebruik wat die wêreld se filosofie gebruik nie en sê: Laat ons tog 'n positiewe uitkyk op die wêreld hê; kom nou, laat ons positief wees. Dit is juis wanneer ons ons sonde ken, dat ons weet dat die sonde 'n geweldige krag in onsself is waarteen ons nie uit onsself sal kan staande bly nie. As ons daarom die Here wil dien en staande bly, dan moet ons eerlik wees oor ons sonde. Dit hoef ons nie te ontmoedig nie, maar dit moet ons wel versigtig maak. Dit gaan ons versigtig maak met die wete dat ons nie met sonde kan speel en dink dat ons nie daarin sal val nie. Wanneer ons ons sonde uit die wet van die Here leer ken het, sal ons juis leer om min van onsself te verwag, maar wel alles van God, sodat Hy deur ons geëer sal word, en dit is tog die heerlikheid van die diens aan God. Dat God die eer mag kry, is dit ontmoedigend vir u? Om God te dien, om Hom te dien vanuit die besef van u sonde. Vanuit die besef dat u niks goeds kan doen tensy Hy u vashou nie. Is dit vir u 'n oneer, 'n ontmoediging? Gaan ons God alleen dien wanneer ons aan die einde van die dag eer ontvang vir ons diens aan God?

Teleurstellings kom vir hulle wat dink dat hulle sondes nie so erg is nie. Dink byvoorbeeld aan ouers wat geweldige verwagtings van hulle kinders het. Hulle dink dat hulle kinders nie so sondig is nie en dan, wanneer hulle kinders wel sondig en verkeerde dinge doen, word hulle verwyt met geweldige verwyte: "My kind, ek het dit tog nie van jou verwag nie. Jy wat in so 'n huis opgegroei het." Is dit 'n aanmoediging vir 'n kind? Juis nie. Die Bybel begin egter deur ons ons eie en ons kinders se sonde te leer ken. Die Christen-ouer bring in geloof sy kind na die doopvont, met die vernederende erkenning dat ook sy kinders vol sonde is, net soos hyself. Maar tegelykertyd met die groot verwagting van God se geweldige genade wat aan sulke kinders en ouers wonderlike beloftes van genade gemaak het. En wanneer die kind dan sondig, dan verwonder hy hom nie oor sy kind se sonde deur te sê: "Ek het dit nie van jou verwag nie. Jy het my geweldig teleurgestel." Nee, as ons leer leef vanuit die ware kennis van ons sonde, dan leer ons nie om ons te verwonder oor die sonde van ons kinders nie, maar dan leer ons om in verwondering te staan oor die goeie van God se genade wat daar in ons kinders se lewens sigbaar word. Kyk, hoe het Hy hulle verander; kyk, wat 'n vrug gee Hy in hulle lewe dat hierdie kinders hier mag sit, dat ook my kind belydenis van geloof kon afgelê het of dit binnekort kan doen; dat ook my kind uit homself al sy Bybel begin lees het, dat my kind al begin bid het. Dan verwonder ek my nie oor sy sonde nie. Sien u, vanuit 'n ware kennis van my en my kinders se sonde, kan ons juis uit verwagting begin lewe en nie vanuit teleurstellings nie. Dan leer ons ook om op die regte manier met mekaar om te gaan in die gemeente. Wanneer iemand swaar gesondig het, snak ons nie almal na ons asems met die beskuldigende "Ek het nooit gedink hy/sy sal dit doen nie en het dit nie van hom/haar verwag nie!", asof ons dan afstand neem van hom/haar nie; nee, dan verbly ons ons oor die wonder dat die Here vir daardie broeder en suster plek gegee het saam met so ’n groot sondaar soos ek in die gemeente. Dan verbly ek my oor die wonder dat die Here ook vir daardie broeder of suster, net soos vir my, sy of haar sondes wil vergewe. Dit is die verwondering wat ons moet leer ken; dat daardie broeder of suster nie lankal die Naam van die Here vervloek het en weggeloop het van die verkondiging van sy Woord af nie.

Verstaan u hoe 'n ware sondebesef ons laat leef as gemeente? 'n Ware sondebesef laat ons die heerlikheid van God se genade sien vir wat dit werklik is. Dit is 'n redding van sondaars. Nie pseudo-sondaars, mense wat die voorkoms het om sondaars te wees nie, maar mense wat dit is.

Dit het 'n geweldige betekenis vir die opvoeding van ons kinders. Hulle wat die diepte van hulle eie sonde gepeil het vanuit die Woord van die Here, murmureer die minste oor hulle kinders. Mense met humanistiese of onbybelse ideale het altyd hul mond vol oor die slegtheid van die opkomende geslag. Die Woord leer ons egter die diepte van ons eie sonde ken, maar praat dan van daaruit oor die onuitspreeklike goedheid van God se genade oor ons en ons kinders. Hierdie ware kennis van ons sonde het 'n geweldige betekenis vir die manier waarop ons omgaan met kinders van buite en binne ons gemeente in die Gereformeerde Laerskool. Ons het nie die verwagting dat ons eie kinders beter gaan wees as kinders van buite die gemeente nie. Ons kinders is net so in sonde ontvang en gebore. Van albei is die slegte alleen te verwag, as God hulle aan hulleself oorlaat. Maar as ons besig is met verbonds¬onderrig, mag ons die beste van God verwag vir daardie verbonds¬kinders, ongeag wie hulle is. Daarom mag ons voortgaan en daarin kan ons die onderwysers aanmoedig om alleen maar te werk vanuit God se Woord in die opvoeding van kinders.

Wet van Liefde🔗

Laat ons nou nog laastens let op die wet van God se liefde. Kan ons dus, nadat ons alles gehoor het wat ons nou gehoor het, ons sonde uit die wet van die Here leer ken, sonder om dit te doen vanuit geloof in God se genade en sonder om dit te doen vanuit die kennis van sy liefde vir ons? Baie mense is oortuig dat die wet van die Here met alle geweld aan ons verkondig moet word, sodat ons kan leer om dan van die wet na Christus te vlug, en dan, wanneer mense by Christus is, dan laat ons die wet daar agter, dan vlug ons weg van die wet na Christus toe. En dit is juis dán wanneer ons losbandigheid kry. Dit is dán wanneer ons 'n miskenning kry van die krag van God se Wet. Maar dit is juis die verkeerde voorstelling.

Ons moet nooit van die Wet van die Here wegvlug nie. Dit is juis 'n wet wat van ons eis dat ons die Here sal liefhê met ons hele hart en ons hele siel en al ons kragte. Dit is nie 'n wet om van weg te vlug nie. Dit is 'n wet wat ek leer verstaan juis vanuit God se genade vir my. As ons ons sonde uit die wet leer ken het, sal dit alleen moontlik wees deur tegelyk ook te buig voor God se genade. Elke besef van sonde wat ons weghou van Christus in sy genade en liefde en vergifnis, is 'n valse sondebesef. Dit het die skyn van vroomheid, wanneer ek sogenaamd vanuit die wet diep onder die indruk van my sonde staan, maar is vol hoogmoed en opstandigheid teen die Here deur nie te vlug na Christus vir vergifnis van hierdie sondes nie. Die vrome in die Woord van die Here is nie die een wat sy sonde sit en betreur, maar nie na Christus wil kom nie. Die vrome waarvan die Bybel ons leer, is die een wat juis vanuit 'n diepe besef van sy sonde, Christus omhels as die vervulling van die wet van God.

Die Heidelbergse Kategismus maak daarom 'n punt daarvan om ons aandag daarop te vestig dat die Een wat vir ons die wet leer waaruit ons ons sonde leer ken, niemand anders is as Christus self nie. As jy jou sonde nog nie van Christus, wat met sy volmaakte wet na jou toe kom, leer ken het nie, het jy 'n valse kennis van jou sonde. En daarom sal jy ook geen liefde vir die wet kan hê nie.

Van waar is al die weerstand teen die wet van die Here anders as die ontkenning dat die wet Christus se Wet is!? Hy wat sy sonde reg leer ken het, sal saam met Psalm 119 uitroep dat hy die wet van die Here liefhet. Die wet van die Here, wat my my sonde leer ken het, is vir my kosbaarder as goud, ja as fyn goud.