4 bladsye.

Sondag 21 - Vrae 55 en 56: Heidelbergse Kategismus

Lees Efesiërs 4:1-16

In die vorige preek het ons veral vanuit Openbaring 7 gesien dat daar buite die kerk van Christus geen verlossing is nie. In Galasiërs 4 noem die apostel Paulus die kerk van Christus "ons moeder". Sonder haar kan ek nie leef as Christen nie. Nie omdat ek leef vir die kerk nie. Maar omdat Christus my in sy gemeente, juis in sy gemeente, my deel kom gee aan al sy skatte en gawes. In die kerk skenk die Gees my die wedergeboorte; wanneer ek in die geloof luister na die verkondiging van die evangelie. Ons het geleer om lief te word vir die kerk van Christus, omdat Hy dáár is.

Christus is daar en daar hoor ek sy stem. Daar gee Hy my sy troupand — sy tekens wat my verseker van sy liefde: die doop en die nagmaal. Daar is ook die ander mense wat aan Hom behoort en Hom dien. Saam met hulle het ek deel aan Christus. Almal saam en elkeen afsonderlik. Hy wil my sy skatte en gawes nie los van die ander gelowiges uitdeel nie. Hy doen dit juis deur hulle, en daar in die gemeenskap van die heiliges wil Hy ook vir my gebruik. Dit is wat ons glo oor die gemeenskap van die heiliges. Dit word so ryklik aan ons voorgestel in Efesiërs 4. Die kerk van Christus waar ons saam as sy liggaam saamgevoeg is en saamverbind is en saam opgroei in Hom wat die Hoof is van sy liggaam — dit is Christus. In die gemeente van Christus groei ons saam in Hom; ons groei deur sy skatte en gawes, en ons groei deur mekaar gewillig te dien.

Ons Groei deur Sy Skatte en Gawes🔗

Christus se kerk is een. Dit sê ons nie omdat ons rondom ons kyk en net een groot verband van Christelike kerke rondom ons sien wat in 'n hartlike eenheid en harmonie met mekaar leef nie. Want dit is nie wat ons sien nie. Ons glo in die eenheid van die kerk omdat ons in die Skrif lees dat die kerk een liggaam is. Een Gees woon in die hele kerk van Christus. Ons het een Here; een geloof en doop; een God en Vader van almal. In die kerk ontmoet ons die mense wat saam met ons deel het aan Christus en aan al sy gawes; ons het deel aan een vergifnis, aan een doop, aan een God en Vader, aan een Gees. Ons kan nie verby of bloot naas hulle lewe nie. Ons leef met hulle. Dit is een liggaam, verenig deur al hierdie gawes en skatte van Christus. In NGB Artikel 28 bely ons dat ons ons van die vergadering van die kerk van Christus nie afsydig mag hou nie. Daarom word ons dan ook hier in Efesiërs 4 deur Paulus vermaan om onsself ernstig daarvoor in te span om die eenheid van die geloof te bewaar. Die eenheid van die gemeenskap van die heiliges.

Maar wat en wie is hierdie gemeenskap van die heiliges? Die gemeente daar in Éfese word reeds aan die begin van die brief aangespreek as "die heiliges wat in Éfese is". Wat beteken dit? Hulle is "die gelowiges in Christus Jesus" (Efesiërs 1:1). Heiliges is mense wat weet dat hulle vir al hulle verlossing afhanklik is van die skatte en gawes van Christus. Dit is hulle wat in geloof vashou aan Christus. Dit is hulle wat deur die Vader verkies is voor die grondlegging van die wêreld. Mense wat hulle verlossing het in die bloed van die Geliefde van God (Efesiërs 1:6-7). Mense wat vergifnis gekry het en elke dag steeds weer kry vir hulle misdade, na die rykdom van God se genade.

Dit is mense wat vroeër dood was in hulle sondes (vgl. Efesiërs 2:1-3). Wat ook vroeër geleef het volgens die verloop van die wêreld, volgens die mag van die satan oor sy diensknegte; mense wat vroeër geloop het agter elke begeerte van hul harte en sondige vlees aan; mense wat van nature kinders van die toorn was. Maar dit is ook mense wat uit genade gered is. Deur die krag van Christus se opstanding uit die dood. Deur die geloof. Dit is 'n gawe van God; dit is nie uit onsself nie. Dit is mense wat die lewe ontvang het as 'n geskenk. Nou sien u wat die gemeenskap van die heiliges is; dit is almal mense wat saam deur God lewend gemaak is uit hulle sondedood. Almal saam lewend gemaak!

Maar daarvoor, om lewend gemaak te word, hoef ek tog sekerlik nie in die kerk te wees nie? Word my sondes my nie ook vergewe wanneer ek by die huis op my knieë buig en my sondes bely nie? Dit gaan tog immers oor die geloof in Christus? En tog is dit opvallend dat Paulus in Efesiërs 3 vir die gelowiges in Éfese bid dat Christus in hulle harte sal woon en dat hulle saam met al die ander heiliges ten volle sal begryp wat die breedte en lengte en hoogte en diepte is en die liefde van Christus sal ken wat die kennis oortref, sodat hulle vervul kan word tot die volheid van God (Efesiërs 3:17 e.v.). Sien u, die genade van God is nie te ken los van die ander gelowiges nie. Dit is altyd: saam met al die heiliges.

Dit beteken nie dat God nie op een of ander soewereine manier iemand anders kan red nie. Natuurlik kan dit gebeur, maar dit is nie die weg wat God vir ons aanwys nie. Die weg wat Hy ons wys is om sy genade te leer ken saam met al die heiliges. Dit is die pad waarop u en ek moet wees. Hy wat wegbly uit die kerk en homself eenkant hou, sny homself af van die liefde van Christus. Daardie liefde word verstaan, word leer ken, saam met al die ander heiliges. Dit is die pad van gehoorsaamheid. Dit is die gemeenskap van die heiliges. Ons glo dat dit die weg van God is om ons te red saam met die ander heiliges. Hy wat hierdie band skeur, skeur Christus. So ernstig is dit! Hy wat die gemeenskap met die gelowiges skeur, verskeur Christus.

Wat verstaan jy onder die gemeenskap van die heiliges? Eerstens, en hier haal ek die woord van die Kategismus aan, wat dit so mooi opsom: "Ten eerste dat die gelowiges, almal saam en elkeen afsonderlik, as lede met die Here Christus gemeenskap en aan al sy skatte en gawes deel het." Ons is saam aan Christus gebind. Elkeen afsonderlik ook. Maar dit is nou juis teen hierdie agtergrond van Paulus se gebed vir die Efésiërs om saam met die ander gelowiges te gaan soek na die hoogte en diepte, lengte en breedte van die liefde van Christus; dat hy hulle nou in hoofstuk 4 oproep om die band van die eenheid in die gemeente te bewaar.  Wil ons die diepte van die liefde van God leer ken, dan moet ons een wees in die gemeente en moet ek my plek in die gemeente inneem. Sien u, gemeenskap van die heiliges beteken nie dat ons 'n gesellige klomp mense bymekaar is nie. Die Engelse woord wat so hoogmode is om hierdie gemeenskap aan te dui, is "fellowship". As mense gesellig bymekaar gekuier het met 'n koppie koffie of dalk 'n glasie wyn en 'n oop Bybel, dan sê hulle: "Nou het ons 'fellowship' gehad". Dit staan nou pa vir die gedagte dat die gemeente in die eerste plek 'n gesellige groep mense bymekaar moet wees.

Maar ek hoop dat u nou reeds aanvoel dat die gemeenskap van die heiliges nie 'n sterk sosiale gemeenskap is nie. Indien dit die geval was, was sommige mense in die gemeente altyd weer uitgesluit. Daar is mense wat nie by my sosiale of kultuurgroep inpas nie, of wat nie by my ekonomiese klas behoort nie, dus hulle word uitgesluit. Maar die gemeente lê nie in daardie kategorieë nie; dit lê daarin dat ons saam deel het aan Jesus. Soms gebeur dit selfs dat mense in die gemeente begin sê dat hulle meer van die gemeenskap van die gelowiges ervaar met mense buite die kerk as met die eie broeders en susters in die gemeente. Indien dit die geval is, is daar groot fout en moet dit reggestel word. Maar dit mag ook wees dat mense soveel klem laat val op onderlinge sosiale meelewing met mekaar, dat die werklike betekenis van die gemeenskap van die heiliges totaal skeefgetrek word; dat mense dink dat hulle buitekant meer 'n plek het, wanneer hulle voel dat hulle binne die gemeente sosiaal 'n bietjie afgeskeep word. "Niemand vra wat met my en in my gesin gebeur nie, hoe dit in my familie gaan." Dan funksioneer die gemeenskap van die heiliges ewe skielik nie. Dit is nie gemeenskap van die heiliges nie.

Gemeenskap van die heiliges beteken dat elkeen van ons saam met mekaar en elkeen afsonderlik 'n geloofsband het met Christus. Gemeenskap van die gelowiges is die gesamentlike ryk wees aan die skatte en gawes van Christus wat Hy uitdeel. Saam geniet van dieselfde Woordverkondiging, van dieselfde doop, dieselfde nagmaal, saam deel hê en vervul wees met die Gees van God, saam dieselfde Here dien en dieselfde geloof hê. Nie elkeen sy eie opinie hê oor wat ons moet navolg nie, nee! Dieselfde geloof! Dit gaan hier oor dieselfde band wat ons almal in gemeen het. En daardie "in gemeen het" is die gemeenskap van die heiliges. Dit is ook die band met ons Verlosser en Here. Dít moet die band wees wat ons bind. Nie ons kultuur wat ons in gemeen het, of ons belangstellings, ons gewoontes of ons tradisies nie.

Wat presies is dit wat ons in gemeen het? Die Kategismus noem dit heel pragtig "skatte en gawes". By die skatte kan ons in die eerste plek dink aan die wonder van die vergifnis van ons sondes. Dit is wat ons bely in Sondag 21. Dit is die groot skat wat dan ook genoem word in vraag en antwoord 56: Wat glo jy saam met al die ander gelowiges van die vergifnis van jou sondes? Ek glo dat, op grond van die volmaakte werk van Christus, God nooit meer aan al my sondes en ook my sondige aard waarteen ek my lewe lank moet stry, wil dink nie. Sien u, daar is die skat wat ons in gemeen het: die vergifnis van die sondes. Laat ons met mekaar daaroor praat en bly wees en besig wees. God dink nie meer aan my sondes nie.

Raak ons daaroor nog opgewonde as ons bymekaar is? Bind dit ons nog aan mekaar? Hierdie skat maak ryk! Uit genade wil Hy aan my die geregtigheid van Christus skenk, sodat ek nooit meer in die oordeel van God sal kom nie. En hierdie skat word nou juis aan my uitgedeel in die kerk. Nêrens anders nie. Aan ons almal saam. Tydens die erediens. Wanneer ek en die ander gelowiges saam gegroet word: Genade en vrede vir julle! Gemeenskap in die geloof. Ons mag saam die evangelie hoor. Ons mag saam na ons huise gestuur word met die seën van die Here. Saam mag ons groei in die kennis van die Seun van God. Saam mag ons deel in die een Gees. Ons mag saam deel hê aan dieselfde doop. Die een se doop vertel nie 'n groter verhaal as dié van die ander nie. Die Woord wil nie vir die een meer sê as vir die ander nie. Dieselfde evangelie word aan almal gebring. Dit is ons gemeenskaplike besit.

Hier in die kerk van Christus is geen aansien van die persoon nie. Hier is arbeider en werkgewer, arm en ryk, man en vrou ... almal saam een in Christus. Nie een van 'n groot grys massa nie, maar saam ryk met Christus se skatte.

En om te wys dat ons nie 'n groot grys massa is soos in 'n kommunistiese samelewing nie, gee Hy ons nie net skatte nie, maar ook gawes. Want in sy kerk deel Hy ook nog gawes uit waarmee ons mekaar kan gaan dien. 'n Geweldige verskeidenheid daarvan! Hy wat opgevaar het na die hemel, deel vandaar gawes uit vir elkeen van ons in ons nood (Efesiërs 4:10 e.v.). Hy het gegee: apostels, profete, herders en leraars. Nog meer word genoem in 1 Korinthiërs 12. Gawes waarmee ons mekaar elke dag kan dien. Gawes waarmee ons nie op mekaar jaloers gaan word nie, want die Here self deel uit volgens die mate van Christus volgens sy genade (Efesiërs 4:7). Dit is ook nie gawes waarin ons gaan roem nie, maar gawes wat ons gekry het om mekaar mee te gaan dien. So kry ons ouderlinge en diakens. Almal kry nie by geleentheid 'n beurt om ouderling of diaken te wees nie. Nee, ons let op die gawes wat die Here God gegee het. Dit gaan nie per beurt nie, maar dit gaan hieroor: kan hy op die plek die Here dien, het hy die gawe daarvoor. Ons kry mense wat uitstekende organiseerders is. Nog ander weet by uitnemendheid hoe om ander te versorg. Die een het baie vrye tyd waarmee die ander grootliks gedien kan word. Sommiges het meer finansiële middele en kan in hierdie opsig grootliks tot hulp wees. En die gawe by uitnemendheid, wat die apostel Paulus noem ... die liefde. Daarvoor moet ons ons almal beywer, dat ons mekaar in liefde kan dien. In die gemeenskap van die geloof maak die Here ons ryk: skatte van vergifnis, van geregtigheid in Christus, maar ook gawes. Sien u nou, dat daar buite die kerk geen verlossing is nie? Wat kry ons buite op die straat? Is daar gawes uitgedeel, is die Heilige Gees daar uitgestort? Nee! Die Heilige Gees is uitgestort op sy kerk. Daar deel Hy sy gawes uit en daar moet én mag ek my plek gaan inneem, as ek leef vanuit Christus.

Ons Groei deur Mekaar Gewillig te Dien🔗

Nou noem die Kategismus nog 'n aspek van die gemeenskap van die heiliges. Die feit dat ons elkeen verplig is om sy gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander gelowiges aan te wend. Ek ontvang van die ander, maar ek gaan ook diens bewys. Die verpligting is eweveel 'n belangrike aspek van die heiliges. Want waarvoor gee die Here vir ons die rykdom van gawes in sy gemeente? Dit is sodat die heiliges elkeen vir sy dienswerk toegerus kan wees, tot opbou van die liggaam van Christus (Efesiërs 4:12). Gawes is nie iets wat ek kry om 'n ander mee uit te daag of oor 'n ander te gaan heers nie. Dit is nie iets waarmee ek gaan spog nie. Nee, wanneer ek leer leef het uit die skatte van Christus se genade en vergifnis, dan besef ek dat sy gawes wat ek mog ontvang, nie daar is vir my eie verheerliking nie, maar vir die broeders en susters, vir die opbou van die gemeente, om die broeders en susters op die skatte te gaan wys. Ons moet in die gemeenskap van die gelowiges gaan groei in die eenheid van die geloof. Groei tot 'n volwassene in die geloof. Groei tot die volwasse grootte van Christus (Efesiërs 4:13b).

Vanuit die gemeenskap van die geloof gaan ek leer om nie te sit en wag om versorg en bedien te word in die gemeente nie. Maar as ek die genade van die Here leer ken het, dan bring dit my in beweging om ander te gaan dien, tot nut van die ander. Die gawes is gegee om mekaar te dien om te groei in Christus! Dit is die doel van al die gawes. Gawes wat my help om uit die rykdom van Christus se skatte te gaan lewe. Gawes, sodat ons nie meer kinders sou wees in die geloof wat soos golwe heen en weer geslinger word deur elke vorm van lering nie. Die gawes word aan ons gegee om ryker te word, om beter gekonsentreerd te wees op die skatte van Christus! So sal ons, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus. Uit Hom is die hele liggaam goed saamgevoeg. Elkeen het sy plek in die gemeente gekry sodat ons mekaar kan help om op te groei in Christus. Is dit waarvoor ons met mekaar gemeenskap het? Is dit waarvoor ons ons gawes in hierdie gemeente en in die kerk van Christus in Suid Afrika aanwend? Daarom moet ons in die gemeente wees en nie sommer aan die kant rondhang nie. In die midde van die gemeente moet ek my plek inneem!

Sien u waarom niemand hom ooit eenkant van die gemeente van Christus kan hou of binne die gemeente aan die kant kan gaan staan nie? Ons het mekaar nodig om op te groei in Christus. Ontken ons dit, is ons in stryd met die Hoof van die kerk, wat dit so bepaal het. Selfs al sou regeerders van lande wette maak wat ons verbied om as gelowiges saam te leef, dan sal ons, so bely ons in NGB Artikel 28, nogtans ten spyte van daardie wette die gemeenskap van die gelowiges gaan soek. Selfs sal ons eerder die vervolging en lyding in die oë kyk, as om ons rug te draai op die gemeenskap van die heiliges. Want juis binne die kerk van Christus word ons van dwalinge bewaar (Efesiërs 4:14-15). In die gemeente hou ons die waarheid van Christus aan mekaar voor. Ons help mekaar om by Christus en sy skatte en gawes te bly.

Dan gaan ons baie van mekaar verdra en vergewe. Ons glo immers in die vergewing van die sondes. Maar daar waar Christus en sy evangelie nie meer aanvaar word en nie meer gehoor wil word nie, daar begin die gemeenskap van die geloof in die gedrang kom. Want daar het ek geen plek, geen taak en geen funksie meer nie. Daarom moet ons ook ons gawes gebruik om die ander tereg te wys, reg te help. In alle nederigheid en sagmoedigheid en lankmoedigheid (Efesiërs 4:1-2). Dit terwyl ons mekaar gedurig wys op Christus ons Hoof in Wie ons saam een roeping het. Een geloof en een doop; een Gees en een hoop waaruit ons almal saam in gemeenskap mag leef, in een geloof en in liefde.