5 bladsye.

Sondag 22: Heidelbergse Kategismus

Lees Eksodus 3; Lukas 20:27-40

begrafplaas🔗

Die Dood is Onontwykbaar🔗

Die dood gaan nie by een van ons se deur verby nie. Elkeen van ons moet sterwe indien Christus nie terugkom binne die volgende 100 jaar nie. Van die jongste tot die oudste in die gemeente. Dikwels is ons nie bereid om van of oor die dood te praat nie, veral nie voor kinders nie. En die gevolg hiervan is dikwels dat ons so leef en ons kinders ook so opvoed asof hierdie lewe alles is, asof daar nie 'n lewe na die dood is nie. Laat ons vandag leef, alles geniet, doen wat ons kan. Laat ons onsself uitleef terwyl ons die kans daarvoor het. En dan dink ons dat dit vreugde is, broeders en susters. Maar dit is juis wanneer ons ook gaan lewe met die besef van die werklikheid van die ewige lewe, dat ons nou reeds die begin van die ewige vreugde smaak! Ons kan die ewige vreugde nou al geniet as ons oë oopgaan vir die perspektief van die ewige toekoms. Wanneer ons besin oor die lewe hierna, gaan dit ons nie morbiede en vreugdelose mense maak nie. Ons gaan nie ons kinders se ore toestop wanneer daar oor die dood gepraat word nie, so asof hulle nie daarvan mag hoor nie, anders sou hulle dalk vergeet om vreugdevol te wees. Die sig op ons toekoms bepaal tog ook nou reeds watter vreugde ons nou gaan smaak en die manier waarop ons vandag en môre lewe, juis ook in moeilike omstandighede.

Die dood bly egter vir ons in 'n groot mate 'n geheimenis. Mense sterf en ons sien hulle nooit weer nie. Nie een kom terug om ons te vertel hoe dit daar was nie – al is daar talle mense wat vandag aanspraak maak op sulke doodservarings na 'n skyndood; hoe hulle die lewe daar anderkant gesien en gesmaak het. In die Skrif self lees ons nêrens van enigiemand wat ooit uit die dood teruggekeer het om te kom vertel hoe dit aan die ander kant was nie. Van Jesus se vriend Lasarus wat vir vier dae (!) in die graf was voordat Jesus hom opgewek het, hoor ons geen enkele woord oor die lewe anderkant die dood nie. In die gelykenis van die ryk man en Lasarus ('n ander Lasarus!) wil die ryk man, nadat hy gesterf het, hê dat iemand uit die dood gestuur word om sy broers te gaan waarsku (Lukas 16:27 e.v.). Maar nee, God praat tog met hulle deur sy Woord; hulle het Moses en die profete. As hulle dié nie wil glo nie, sal hulle in elk geval nie luister na iemand wat uit die dood opgestaan het nie. God praat met ons oor die lewe hierna vanuit sy Woord. Luister na Moses en die profete oor die lewe na die dood – en dit is wat ons ook vandag nog moet doen.

Die God van die Lewendes – Nie van die Dooies Nie🔗

Daarom gaan ons nou in die eerste plek let op wat Moses en die profete ons leer. Dit is dat ons God die God van die lewendes is, en nie van die dooies nie. Ons geloof in die opstanding van ons liggame en in die ewige lewe begin nie by allerlei gedagtes oor hoe dit hierna gaan wees nie. Dit begin by ons geloof in God. Die Sadduseërs het ontken dat daar 'n opstanding van die liggaam is. Met 'n belaglike verhaal oor 'n vrou wat met sewe mans getroud was (Lukas 20:27-40), kom hulle na die Here Jesus toe. Hulle vra Jesus dan aan watter man sy nou gaan behoort na die opstanding uit die dood. Eintlik probeer hulle so om twyfel te saai in die geloof in die opstanding van die liggaam. Maar die opstanding en die ewige lewe kan nie uit ons lewe van vandag weggedruk word nie. Want dit gaan in die ewige lewe oor hierdie een groot saak: oor die werklikheid van 'n mens se gemeenskap met die almagtige ewige God. 'n Mens, 'n nietige mens, kan nou en sal ook vir ewig gemeenskap met die lewende God hê. Die ewige lewe staan nie in skrille kontras met ons lewe van vandag nie. Ons dink soms: dan kom daar iets totaal anders; dan gaan ons nie meer werk nie; al die slegte dinge verdwyn. Tog sê die Bybel vir ons dat die lewe hierna in beginsel 'n voortsetting is van ons lewe nou en hier. Daarom is die vraag oor die ewige lewe in die eerste plek die vraag of ek werklik kan sê dat ek met God gemeenskap het. Kan ons as mense vandag werklik sê dat ek God ken, dat ek Hom liefhet? Ek mag weet dat Hy my liefhet, dat ek met Hom kan praat en Hy met my. As ek iets van hierdie werklikheid in my lewe ken, as ek iets hiervan in my hart ervaar, dan sal ek weet wat die ewige lewe behels. Dan verstaan ons wat die Heidelbergse Kategismus bedoel dat ek nou alreeds die begin van die ewige vreugde in my hart ervaar. Want die ewige lewe gaan hieroor: dat ek na hierdie lewe die volkome vreugde daarvan sal ken om met God gemeenskap te hê! Dit is waaroor dit gaan.

hart bakstene

Ons kan nie vandag slegs iets weet van die ewige lewe nie — ons kan vandag iets daarvan ervaar, sê die Kategismus. Nou reeds ervaar ek in my hart die begin van die ewige vreugde! Vandag reeds! Daarom is dit so belangrik dat ek deur die geloof kan weet en ervaar dat ek die ewige lewe het. Ek gaan nie eendag die ewige lewe kry nie. Óf ek het dit nou, óf ek het nie nou die ewige lewe nie. Want, wat is die ewige lewe? "En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het." (Johannes 17:3). Dit is die ewige lewe! Ek kan nou reeds die begin van die ewige vreugde proe, omdat ek nou reeds kan en mag glo in Jesus wat my die Vader leer ken, omdat ek nou reeds gemeenskap met die Vader mag hê. Dit is die lewe! Ons geloof in die ewige lewe begin by die vraag of ons glo in die God van Abraham, Isak en Jakob. Glo ek in hierdie God, wat onveranderlik en vir ewig en altyd trou is? Glo ek in Hom? Dit is die antwoord, waarmee die Here Jesus die vraag van die Sadduseërs beantwoord het. Glo julle in die God, wat 'n God is van lewendes, nie van dooies nie! Daar word nie van Abraham, Isak en Jakob gepraat asof hulle nie meer bestaan nie. Hierdie God het nie dooie diensknegte nie. Sy diensknegte leef vir Hom (Lukas 20:28), al het hulle gesterf. Is dit nie wat Jesus ook vir Martha sê nie? "Wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe." (Johannes 11:25). Glo u dit? God het met hulle gemeenskap, nou! En daardie God, wat van daardie tyd af tot vandag toe dieselfde is, wil vir jou die ewige lewe gee.

Maar ken ons die gemeenskap met Hom? Daarom is die vraag by ons geloof in die ewige lewe: glo u in Christus? Hoe werklik is u geloof in Christus? Hoe werklik is u liefde vir God? Hoe 'n groot realiteit is u gebedslewe en u daaglikse omgang met God? So werklik sal u geloof in die ewige lewe wees. Die ewige lewe is 'n voortsetting van hierdie lewe. Dieselfde God wat u vandag asem gee om te lewe, wat u die genade gee om in Hom te glo en sy kind te mag wees, dit is ook Hy wat vir ewig met u wil lewe. Soos wat die Gees van God ons vandag laat glo en vreugde gee omdat ons kinders van God mag wees; soos wat die Gees ons nou opwek tot 'n nuwe lewe met God, net so sal die Gees van God ons uit die dood opwek en vir ewig in gemeenskap met God laat lewe. Want ons geloof in die ewige lewe is afhanklik van ons geloof in die Heilige Gees. Dit is die werk van die Gees om ons uit die dood weer lewend te maak. Soos wat die Gees ons nou 'n lewe gee, so sal die Gees ons vir altyd in gemeenskap met God laat leef, deurdat die Gees vir ewig in en by ons sal wees. Hy laat ons nie in die duister oor ons toekoms nie, maar ook nie in die toekoms nie.

Dit is My Naam vir Ewig (Eksodus 3:15b)🔗

In die tweede plek gaan ons nou daarop let dat God se Naam vir ewig is. Die Here sê aan Moses wanneer Hy aan hom verskyn in die brandende doringbos: "Dit is my Naam vir ewig: EK IS WAT EK IS." Natuurlik sal ons baie vrae oor die toekoms hê wat altyd onbeantwoord bly, tenminste tot ons opgestaan het uit die dood. Maar nuuskierigheid oor die toekoms sal nou net by ons teleurstellings bring. Die Here wil ons geloof gee in sy Naam wat vir ewig en altyd dieselfde is. Die Here wil nie hê dat ons nuuskierig moet gaan delf in wat in hierdie of in die volgende jaar gaan gebeur nie, of dat ons presies sal wil weet hoe dit in die nuwe Jerusalem gaan wees nie. Die Here wil hê dat ons moet sien dat Hy altyd dieselfde is. Dat ons by Hom veilig is en by Hom wil wees. Dit is wat die God van Israel vir Moses kom sê wanneer Hy hom ontmoet in die brandende bos in die woestyn: "Ek is die God van Abraham, van Isak en van Jakob. EK IS WAT EK IS het my gestuur", moes Moses aan die volk van Israel sê. Trek uit Egipte uit met 'n hoop op die toekoms, met die verwagting dat julle die beloofde land gaan ontvang. Meer nog. Hy moes sê dat die Here die God van hul vaders, van Abraham, van Isak en van Jakob, hom gestuur het. "Soos my verbond met julle vir ewig is, so is my Naam vir ewig en dit is my gedenknaam van geslag tot geslag." Tot in die ewige lewe. Hy is onveranderlik in sy trou. Die volk van die Here kon met volle sekerheid die toekoms ingaan. Want Hy is gister, vandag en môre dieselfde – Hy wat sy beloftes aan Abraham gehou het, sal ook u nie laat vaar nie – nie nou of hierna nie. Dit is die geloof in die ewige lewe. Hy bly getrou!

Paulus sê dat Christus vir hom die lewe is en die sterwe wins. Die lewe bestaan vir my daaruit, dat ek gemeenskap het met God deur Christus. Waarom? Want sy hele lewe is gerig op Christus en in die lewe hierna sal hy ononderbroke by Christus wees –dit is die ewige lewe. Om God te ken, die God van Abraham, Isak en Jakob. En dan kan ek nou reeds, te midde van baie verdrukkinge, van swaarkry, die begin van die ewige vreugde in my hart ervaar. Christus is my lewe. Dink maar aan die verdrukking van Israel in slawerny in Egipte. Die Here gee hulle in die verdrukking die geweldige hoop op die toekoms. Hy kom gee hulle daar in hulle slawerny die begin van die ewige vreugde. Hulle proe en ervaar dit. Moses wat in die paleis van die Farao kon gaan bly het, wat as 'n prins daar kon geleef het, kies dan eerder om die smaad van die volk van God op hom te neem. Hy wil verder deel wees van Israel, want hy het hoop op die ewige lewe. Hy sal eerder met die volk uit Egipte en in 'n barre woestyn intrek, omdat hy 'n verwagting vir die toekoms het. Daarvoor sal hy ook in die woestyn allerlei verdrukkinge deurgaan. Want vir hom was God die lewe en die sterwe wins. Eerder sterf met die volk van God as dit moet, as om die gemeenskap van God te verloor deur nie saam met die volk die woestyn in te trek nie. Dan het hy vir ewig die gemeenskap met die God van Abraham, Isak en Jakob. Dan sal hy vir ewig by God wees. Wat meer kan hy verlang. Daarom: geduld in verdrukking. Proe die ewige lewe, geniet dit!

Hoeveel Christen-martelare het nie al met vreugde vir hul geloof gesterf nie, omdat hulle die begin van die ewige vreugde in hulle harte ervaar het. En hulle het verlang na die vreugde wat geen oog gesien en geen oor gehoor en in die hart van geen mens opgekom het om dit te bedink nie. Hulle het so daarna verlang dat hulle bereid was om daarvoor te sterf. Hulle wou die gemeenskap met God nie opgee nie. Hulle kon in vreugde sterf, nie omdat hulle 'n ryk verbeelding oor die toekoms gehad het nie, nie omdat hulle hul allerlei mooi dinge oor die toekoms kon voorstel nie; want die harde werklikheid was te groot wanneer hulle op brandstapels gestaan het of die galgtou om hul nek gehad het. Hulle het egter met 'n vaste geloof bly vashou aan die God van Abraham, Isak en Jakob. Die God van die lewendes, nie van die dooies nie. Watter mag het die dood dan oor ons? Want God, met Wie ons nou gemeenskap mag hê, het mag oor die dood. Hy kan lewe oor die dood gebied, sodat ons God vir ewig kan prys.

Die vraag waarvoor ons vandag staan, is die vraag of die lewe vir ons Christus is. Of is ons harte verpand aan ons vakansies, hier of in die buiteland; is ons harte verloor op ons sakebelange, ons motors, mans, vrouens of ons gesinslewe? Smaak u die begin van die ewige vreugde nou reeds in u hart? Ervaar u dit? Of moet ons gedurig plesier soek in nog 'n vakansie, wat die voriges oortref; of 'n groter salaris, wat die vorige na niks laat lyk nie, sodat ek meer vreugde kan hê en my kinders in die lewe kan gee wat hulle plesier verskaf? Die ewige lewe is 'n lewe vir altyd met Christus. Waarom sou ons dan sê dat ons die ewige lewe begeer, as Christus nou vir ons 'n verleentheid is? As ons hoogste goed nou nie die gemeenskap met God is nie? Waarom praat ons dan nog oor die ewige lewe? Want in die ewige lewe sal ons vir ewig met God gemeenskap hê!  Dit sal die hoogtepunt, die lewe wees! Waarom sou ons nog oor die ewige lewe praat as Christus se kerk vir ons iets is om ons oor te skaam? Ek sal mos in die ewige lewe saam met sy kerk vir ewig by Christus wees om Hom te loof en te prys. Of dink ons dat ons vir ons 'n blink toekoms kan verseker los van Christus? 'n Toekoms met die magtiges in die samelewing en die ekonomie? Lewe met Christus in alles, dan kan jy met vreugde die toekoms tegemoet gaan. En dan kan jy ook werklik nou jou huwelik geniet. En jou vakansie. En dan kan jou loopbaan jou vreugde gee. As Christus vir jou die lewe is!

sterre

Die Sterwe Wins🔗

Watter troos gee die opstanding van die vlees dan nou vir jou? 'n Gelowige wat sterf, mag weet dat hy onmiddellik na sy dood tot Christus opgeneem word, sodat hy met Hom gemeenskap kan hê. Dit is die troos van die opstanding van die liggaam. Ek gaan onmiddellik by Hom wees, en geen oomblik van Hom geskei wees nie. Die gemeenskap met God gaan eenvoudig voort. Paulus sê selfs dat die sterwe vir hom wins is. Hy verlang om heen te gaan en by Christus te wees. Dan kan hy Christus van aangesig tot aangesig sien. Dit wat hy nou hier op aarde reeds geniet, kan sonder ophou voortgesit word in die hemel – die lewe met Christus! Dit is wat die Heilige Gees ook in elkeen van ons se harte wil laat brand – 'n verlange om by Christus te wees. Want hier is nog soveel wat ons harte so maklik van die Here weglei – daar sal ons die Here sien in al sy heerlikheid en begeerlikheid, en sal ons niks anders begeer nie.

En tog lees ons nie in Filippense dat Paulus begeer om te sterf nie – hy begeer om by Christus te wees, ja! Maar die dood bly vir hom en ons die laaste vyand. Die dood is iets wat verslind moet word in die oorwinning deur die opstanding uit die dood. Die dood het 'n angel wat vir ons geweldige pyn veroorsaak. Dink maar hoeveel hartseer daar is by die dood van 'n geliefde. Die angel van die dood slaan toe! Die dood is in geen omstandighede mooi nie. Selfs al het ons die gebruik om so te praat van iemand wat op hoë ouderdom in alle rus in 'n bed sterf. Wat is mooi daaraan? Dit is verskriklik! Dit is iets wat vertrap en tot niet gemaak moet word. Daar is nie blomme te strooi oor die dood nie. Die dood sny bande af van gemeenskap tussen ouers en kinders; tussen mans en vroue; tussen broeders en susters in die gemeente. Mense wat God saamgevoeg het, word deur die dood geskei. Gesprekke word onmoontlik en bewyse van liefde word iets van die verlede. 'n Liggaam wat gemaak is om God te verheerlik, vergaan tot stof.

En tog is dit vir die gelowige nie die einde nie. Omdat Christus gesterf en opgestaan het, mag ek weet dat ek by my dood onmiddellik by Christus sal wees. In Openbaring 20:5 word die dood van die kinders van God selfs die eerste opstanding genoem. So magteloos is die dood oor die kinders van God. Hulle “staan onmiddellik op” om met hul siel by Christus te wees. Soos wat die arm Lasarus in die gelykenis gesterf het en onmiddellik deur die engele na die hemel geneem is.

Wat 'n heerlike vertroosting wanneer ons hier 'n geliefde verloor. Hy of sy mag nou die ewige vreugde smaak op 'n veel heerliker manier as wat ons dit nou reeds proe. En wanneer ons ouer word en ons liggame word afgetakel en ons weet die dood lê op die loer vir ons – dan mag ek weet dat dit in die lewe hierna vir ons veel heerliker is, omdat die engele van God wag om my te neem na die boesem van Abraham, sodat ek kan wees by die God van Abraham, Isak en Jakob. Hy is onveranderlik vir ewig. En as die satan in al sy wreedheid my teen die einde van my lewe nog aan my ewige saligheid laat twyfel, dan mag ek vertroos word met die feit dat ek ook gedoop is in die Naam van die God wat die lewende God is van die Ou Testament tot in alle ewigheid en wat vir Moses gesê het: EK IS WAT EK IS. Hy wat vir u so 'n verlustiging in u lewe was, is vir ewig dieselfde. Hy is begaan oor die lot van sy volk – ook in die dood. Hy wat vir Farao gesê het: “Laat my volk trek!”, sal u nie oorlaat aan die mag van die dood nie – Hy sal u bevry uit die mag van hierdie laaste vyand. Sy gedenknaam is vir ewig dieselfde.

blom op graf

Aan Christus Gelykvormig🔗

Maar ook hierdie liggaam van my sal nog deur die krag van Christus opgewek word; dit sal met my siel verenig word in die uiteindelike opstanding uit die dood en aan Christus se verheerlikte liggaam gelykvormig gemaak word. Liggame wat afgebreek is tot stof, word weer verheerlik. Daarom gaan ons as gelowiges so noukeurig om met die liggaam van iemand wat sterf. Met groot hartseer en droefheid gaan ons na die graf om 'n verganklike liggaam te saai. Ons veras nie 'n liggaam soos die heidene nie. Soos wat 'n saad in die grond ontkiem, moet die liggaam ontbind word, sodat daar 'n nuwe onverganklike liggaam kan opstaan. Deur die krag van die Gees van God. Want die begraafplaas sluit nie die Gees van God uit nie.

Ons liggame wat tempels van die Gees van God is, sal deur die Gees nuut gemaak word in die dag van die tweede opstanding. Liggame wat nou deurtrek is met kanker en pyn en siekte, word dan opgewek as verheerlikte liggame. En dan kan ons vir ewig wees by Hom wat ons so liefgehad het en wat sy liefde tot in ewigheid vir ons wil bewys. Dan kan ons as gemeente van God in die nuwe Jerusalem vergader en die boom van die lewe sal vir ons liggame tot genesing wees. Daar sal geen vervloeking meer wees nie – ons sal die wonde van Christus sien wat vir ons genees; en in alle heerlikheid sal ons Hom dien – en Hy sal vir ons wins wees tot in ewigheid!