4 bladsye.

Sondag 23 Heidelbergse Kategismus

Lees: Lukas 18:1-17🔗

Selfregverdiging🔗

In 1 Korintiërs 4:3 en 4 lees ons hierdie veelseggende woorde van die apostel Paulus: "Maar vir my beteken dit baie min of ek deur julle of deur 'n menslike regbank beoordeel word; ja, ek beoordeel myself nie eens nie, want ek is my van geen ding bewus nie. Daardeur is ek egter nie geregverdig nie; maar Hy wat my beoordeel, is die Here." Die apostel wil hiermee nie probeer sê dat hy weinig omgee wat ander van hom dink of oor hom te sê het nie. Hy wil nie ontken dat 'n goeie naam beter is as goeie olie nie. Sy reputasie as apostel was hier in 1 Korinthiërs immers op die spel! Hy kom ontbloot hier egter wat so diepliggend in elkeen van ons lê in alles wat ons sê, doen en dink. Daar is daardie gedurige behaag van mense. Die begeerte om deur mense geregverdig te word. Om van mense te hoor dat ons aanvaarbaar is. Ons moet ook nie maak asof ons nie daardeur geraak word nie. Selfs die mees ongeërgde persoon, die mens wat die pretensie het dat hy nie omgee wat ander mense van hom dink nie, gee uiteindelik wel om wat mense dink van die soort motor waarin hy ry, die huis waarin hy woon en die manier waarop hy leef of nie leef nie.

En selfs al sou ons uiteindelik kon loskom van die opinies van mense oor onsself, dan sit daar iets diepers in ons gewortel, ons eie gedagtes oor onsself. Selfregverdiging. Ons het wel elkeen 'n goed uitgewerkte opinie oor onsself. Maar Paulus sê: Ek beoordeel nie eens myself nie. En wanneer ons nie 'n goeie opinie oor onsself het nie, dan word ons oorval deur 'n slegte dunk van onsself. Selfveroordeling. En juis daardeur probeer mense hulself aan die slaap sus. Baie dink dat deur 'n slegte beeld van myself te handhaaf, toon ek 'n diepe sondebesef vir God. Niks is verder van die waarheid nie!

Paulus se bedoeling met hierdie gedeelte is juis om ons te wys dat ons opinies oor onsself onbetroubaar en misleidend is. Hy verklaar dat hy van geen ding bewus is wat hy gedoen het om Apollos of Petrus in die skadu te probeer stel in die gemeente in Korinthe, sodat daar 'n party vir Paulus kon ontstaan nie. Daar het partyskappe in die gemeente ontstaan: die een is vir Paulus, die ander vir Apollos, weer 'n ander vir Petrus. Maar nou sê Paulus: Ek is my van geen ding bewus wat ek gedoen het om aanleiding te gee tot die ontstaan van partyskappe in die gemeente nie. Nogtans, al is ek my van niks bewus nie, tog beoordeel ek nie myself nie. Selfs al is hy oortuig dat dit alleen maar liefde vir die gemeente is wat hom gedryf het, nogtans beteken dit nie dat hy daardeur geregverdig is nie. Hy wat oordeel is die Here. Dikwels is ons oortuig ons doen iets wat reg is, want ons voel nie dat ons gewete ons veroordeel nie. Die getuienis van ons gewete is egter uiters bedrieglik. Daar is Een wat groter is as ons gewete. God self!

En dit bring ons onmiddellik by die hartklop van die betekenis van Sondag 23 — die regverdiging deur die geloof alleen.

God regverdig🔗

Ons gaan nou in die eerste plek daarop let dat dit God is, wat regverdig. God regverdig, nie 'n mens nie. Die vraag word hier in Sondag 23 gevra: Wat is die betekenis van ons geloof? Wat baat dit jou dat jy dit alles, wat ons in die Apostoliese Geloofsbelydenis bely, glo? Watter nut het dit vir jou dat jy 'n gelowige is? Maak dit van jou 'n beter mens as jou buurman? Het jy meer aansien in die samelewing of 'n belangriker posisie in die kerk daardeur gekry? Vir die meeste van ons het ons geloof nie ons beursies dikker laat word nie. In só baie gevalle het dit selfs beteken dat ons as gevolg van ons geloof 'n moontlike welvarendheid moes opsê. Siektes en teëspoed verdwyn nie skielik uit ons lewe nie. Selfs nadat daar gebid is vir iemand wat siek is, kan dié broeder of suster nog worstel met die siekte en selfs sterf. Nou wat baat dit ons dan?

Ek mag deur die geloof weet dat ek voor God geregverdig en 'n erfgenaam van die ewige lewe is. Dit is wat dit my baat. Ek mag weet deur wat ek glo wat God van my sê en wat Hy oor my dink. Ons kan daarop reageer en sê: Is dit al? Nee, dit is nie al nie — dit is alles. Om te weet, nie wat my buurman of die broeders en susters in die gemeente van my dink nie, of ook hoe ek myself beoordeel nie (want ons het maar 'n heel misleidende opinie), maar wat God oor my te sê het. Dit is alles. Die nut van my geloof is dat ek voor God regverdig gereken word. God sê vir my as sondaar: Jy is 'n sondaar, maar Ek sê vir jou: jy is my kind. Jou sondes is vergewe. Jou gewete kla jou aan, maar Ek sê: jy behoort aan My. Dit bepaal my hele lewe. Ek mag deur die geloof weet dat ek by God weer aanvaar word, op grond van die geregtigheid van Christus, van wat Hy vir my volbring het. Geen sondaar kan voor God lewe vir solank as wat God hom sy sondes toereken nie. Daarom sê God vir ons in die evangelie wat Hy van ons dink.

Laat ons weer luister na die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar. Baie mense dink dat die Fariseërs hierin gefouteer het, naamlik dat hulle gedink het hulle goeie werke sou genoeg wees om hulle staande te hou in die oordeel van die Here. Dit is egter baie oppervlakkig en nie die groot probleem by hierdie Fariseër in die gelykenis nie. Die probleem hier is: gaan dit oor die oordeel van God, of oor dié van die mens met sy of haar gedagtes. Hier gaan dit oor die vraag aan wie die reg toekom om te oordeel oor onsself. En dan blyk dit Wie daardie reg het: God alleen, deur sy Woord.

Baie van ons dink dat ons gelukkig nie in dieselfde strik as die Fariseër trap nie, want ons maak tog nie staat op ons vroom lewe nie. Dan identifiseer ons baie maklik met die tollenaar. Ons spreek onsself dikwels vry deur te sê: Ek is maar alte goed bewus van my sondes; ek is gelukkig nie soos die Fariseërs nie. Maar dan maak ek presies dieselfde fout as die Fariseër. Hy het nie na God geluister nie. Ek kan met die grootste sondebesef ook dieselfde fout maak. Die vraag is of ek na God alleen wil luister wanneer dit daaroor gaan hoe God oor my dink. Wil ek van Hom alleen hoor hoe Hy teenoor my staan? Ek mag dalk dink dat alles tussen my en God goed is, terwyl intussen alles in werklikheid anders is. Ons oersonde is juis dat ons oor onsself wil oordeel. Sal ons, of sal God oor ons beslis? Dit is die sonde wat Adam en Eva gepleeg het. Hulle het gesê: Ons sal beslis. En nou is die wonder van Sondag 23 dat dit ons teruglei na die Woord van die Here. Die nut van die geloof is nou dat ek daardeur luister na die oordeel van God. Ek het geleer om my oordeel te onderwerp aan die oordeel van God. Die regverdiging uit die geloof beteken dat ek my onderwerp aan wat God van my sê. Die geloof maak alles van die mens se kant stil en gee dat ons weer wil luister na God alleen.

Met die oog hierop het Jesus die gelykenis vertel — daar was sommige wat oor hulself 'n goeie oordeel uitgespreek en ander verag, veroordeel, het. Die Fariseër het by homself gebid: "O God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie — rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek verkry." Die logiese gevolgtrekking is: vir U is ek geregverdig. Daar is niks fout met die “regverdige” lewe van die Fariseër nie. Daarop spreek Christus hom ook nie aan nie. Maar die Fariseërs wou nie luister nie; die tollenaars wel; hulle het graag na Hom geluister. Wie is hierdie “ander mense” waarvan die Fariseër praat? Dit is hulle wat nie hulleself regverdig nie.

Kyk maar na die tollenaar. Hy wou nie eers sy oë opslaan na die hemel nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: "O God, wees my, sondaar, genadig!" Geen oordeel oor homself anders as 'n veroordeling van sy eie sondes nie. En dan kom die vraag van die Here Jesus: Wie is die een wat geregverdig na sy huis gaan? Die een wat homself vryspreek of die tollenaar? Jesus vertel hierdie gelykenis omdat daar mense was wat sy lering verwerp het. Hulle het dit nie nodig gevind om na Hom te luister nie, na wat God deur Hom, deur Jesus Christus, vir hulle gesê het nie. Dit was vir hulle irrelevant, nie ter sake nie. O, hulle het gevas en tiendes gegee, maar na Jesus het hulle nie geluister nie. Na alles wat hulle aangedra het, was hulle tevrede en het hulle hulself geregverdig.

Die tollenaar het géén selfverheffing nie. Hy verneder homself voor God. Hy word verhoog. Deur God. Deur Jesus wat die tollenaar in sy gelykenis geregverdig huis toe stuur! Nie die Fariseër nie. Nou is die vraag vir ons: het u al geluister na wat God oor u te sê het? Weet u wat God se oordeel oor u is? Nie wat my gewete vir my sê nie. My gewete wat my miskien sus en sê: My lewe is tog nie so erg soos iemand anders s'n nie. Aan die ander kant kan u gewete u gedurig aankla en herinner aan u sondes en sê: Jy, wil jy sê dat jy 'n kind van God is? Dit is hier nie ter sprake nie. Of is dit by u 'n geval van erkenning dat ek sondaar is en verder my beste doen en hoop vir die beste aan die einde? Dit is nie geloof nie. Dit is heidense fatalisme en 'n belediging vir God wat met sy Woord week na week na u kom in sy evangelie om te sê wat Hy van ons dink.

Die oordeel van die Here oor die gelowiges is: "Ek vind in hom geen skuld nie; gaan vry." Dit beteken nie dat ons skielik beter mense geword het nie. Maar hier mag ons hoor: "Jou sondes is vergewe". En dit gee vrede tussen God en ons, as dit in geloof ontvang word. Elkeen wat deur die geloof geregverdig is, het vrede met God (Romeine 5:1). Daar is geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. Maar my sonde, my gewete, kla my aan. Daar is geen veroordeling nie! As God só vir ons is, wie en wat kan dan teen ons wees? Dan mag ons omstandighede en ons gemoedstoestand en ons gevoelens wissel van die een dag op die volgende. Maar die lewe uit die geloof is nie 'n lewe uit my gevoelens en my gemoedstoestand nie. Dit is 'n lewe uit God se oordeel in die evangelie oor my, en dit word nie verander van die een dag op die ander nie. Want wat God oor ons oordeel, lê vas in sy evangelie. Nie vas aan die krag van my geloof of my heiligheid of die tempo van my geestelike groei nie. Dit lê vas in wat Christus vir my gedoen het. God kan my vryspreek, want Christus het vir my sondes betaal. Nie sodat ek kan sondig en die genade meer kan word nie; maar sodat ek mag hoor en glo en weet dat God my weer aanvaar as 'n regverdige kind in sy huis en koninkryk. Dit is genade!

Die gewete kla steeds aan🔗

Hoe mag ons voor God regverdig wees? Só dat, al kla my gewete my aan dat ek teen al God se gebooie swaar gesondig het, ek deur die geloof mag deel in al Christus se geregtigheid en heiligheid — dit word alles vir my geskenk. Jou gewete het jou nog gedurig te vertel dat jy nie alleen swaar gesondig het nie, maar dat jy steeds tot alle kwaad geneig is. Jy wil miskien die goeie, maar die kwaad is gedurig met jou.

Is ek dan nou geregverdig voor God as ek maar geluiddempers op my gewete gaan plaas, sodat dit afgestomp raak en my nie meer so erg aankla nie? Moet ons dan maar net ons gewete stil kry? Moet ek nou maar eenmaal aanvaar dat ek 'n sondaar is en daarmee vrede begin maak? Mag God ons verhoed dat só 'n gedagte by ons opkom. Dit wat ons as ons gewete beskryf, is dikwels niks minder nie as die Heilige Gees wat met die Woord diep in ons harte kom werk; en sal ons dan nou die Gees die swye oplê? 'n Ware geloof ontken nooit die aanklagte wat daar van my gewete is nie. Soos die tollenaar, so moet ons die erns van ons sonde voor die Here bely. Ons moet leer erken dat as ons gewete ons oortuig, God is nog groter as ons gewete! Ons mag nie die erns van God se oordeel oor ons sondes ontken nie. Laat ons bly erken dat as God sou veroordeel, dit niks minder as reg sou wees nie. Oppervlakkige geestelike lewe kom waar ons nie meer van God begeer dat Hy ons sal vryspreek van ons skuld by Hom nie.

Maar nou is die mooie dat God elke gelowige sonder enige verdienste van ons kant, uit genade, alles wat Christus vir ons gedoen het, kom skenk. Hy reken dit vir ons toe asof ek nooit sonde gehad of gedoen het nie. Asof ek self al die gehoorsaamheid volbring het, wat Christus gedoen het. Dit is hoe God na ons kyk. Sien u die nut van die geloof? God hou nie meer rekening met ons sondes wanneer Hy ons regverdig nie. In daardie regverdiging hou Hy alleen maar rekening met wat Christus gedoen het.

Daarom kan ons, soos die apostel Paulus in die brief aan die Romeine getuig, glo dat God die goddelose regverdig. Ons het swaar teen al God se gebooie gesondig. Christus het vir hierdie skuld betaal. Ons het geeneen van God se gebooie onderhou nie. Christus het in ons plek die wet volmaak nagekom. Alles wat Hy gedoen het, was in gehoorsaamheid aan die Vader. Ons is nog gedurig geneig tot alle kwaad. Christus het geen bedrog in Hom gehad nie en word gekruisig as Een in Wie daar geen skuld was nie. Daaruit mag ons nou gaan lewe. Ons hoef niks by te voeg nie. Christus se werk het nie aanvulling van ons kant nodig nie. Nee, uit die geloof kan ons nou gaan lewe! Met vrymoedigheid, met blymoedigheid, kan ons gaan leef as kinders van God.

Slegs deur die geloof?🔗

Word ons slegs deur die geloof geregverdig? Hoe kan ons sê dat ons slegs deur die geloof geregverdig word? As ons dit enigsins wil verstaan, moet ons baie mooi let op waar en hoe die regverdiging aan ons gegee word. God skenk ons die geregtigheid van Christus in die evangelie. Dit is in God se beloftes. God spreek vry so dikwels as wat die evangelie verkondig word. Wanneer God vir ons kom sê: "Ek sal vir jou 'n God wees en jy sal vir My 'n kind wees." En hierdie evangelie, wat wil u daarby voeg? Hierdie evangelie word verkondig om geglo te word. Ek kry alleen die voordeel van hierdie evangelie vir sover ek die beloftes met 'n gelowige hart aanneem. So bely ons in Sondag 23. En hoe kom dit na u toe? Nie deur een of ander mistieke ontmoeting met Christus of met God die Vader nie. Dit kom na ons toe wanneer die evangelie gepredik word. God het aan Abraham die belofte van die lewe met God gemaak. "Ek sal vir jou 'n God wees!" Abraham kon daar niks byvoeg nie. Die vader van al die gelowiges wys ons hoe God die goddelose regverdig verklaar. Abraham het God geglo en dit is hom tot geregtigheid gereken.

As ons hier beklemtoon dat ons slegs deur die geloof geregverdig word, dan is dit omdat Christus se geregtigheid ons s'n word, slegs deur die Woord van God alleen. Deur die geloof alleen beteken: deur die Woord van God alleen. Dit is dus geloof alleen, omdat dit God alleen is wat kan sê wat Hy oor ons dink. God se seën kom na ons deur sy Gees wat dit na ons bring in die Woord alleen. Ons moet dus na God wil luister. In Lukas 18:15, na die gelykenis, het die vaders (hulle — manlik!) die klein kindertjies na Hom gebring, sodat Jesus hulle kon aanraak en hulle sy seën gee. Die dissipels bestraf die vaders, maar Jesus wil dat die kindertjies na Hom toe kom. Want aan sulkes behoort die koninkryk. Elkeen wat die koninkryk van God nie soos hierdie kindertjies ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie. Word hier verwys na die geloof van die kindertjies? Nee! Die woord wat hier in Lukas 18 gebruik word, is duidelik die woord vir suigelinge, vir pap babas, wat aangedra word na Jesus. Wat is die boodskap hier? Hulle kon die genade van God alleen ontvang deur die Woord van Christus aan hulle. Of ons ontvang die koninkryk van God as 'n genade-geskenk deur die geloof, of ons verval in eiegeregtigheid.

Ons geloof is daarom geen werk met 'n verdienste van ons kant nie. Ons geloof is 'n genadegawe van God. Die Heilige Gees werk dit in ons harte wanneer ons luister na wat God oor ons te sê het. Hy doen dit in die besonder in die prediking, maar ook op katkisasie, by die jeugvereniging, en in my binnekamer, en as ons saam die Bybel lees aan tafel by die huis. Hierdeur word ons geregverdig — wanneer ons die getuienis van God die Heilige Gees deur die geloof in ons harte het. Dit is die gawe van God wat die geloof in ons harte werk deur die evangelie wat aan ons gebring word. Hoe intens behoort ons dan nie te luister na die lees en verkondiging van God se Woord nie. As ons enigsins belangstel in wat die almagtige God, die Skepper van hemel en aarde, oor my dink en sê. Want so dikwels as ons die Woord hoor en glo, mag ons deur die geloof weet dat ek voor God geregverdig is en dat ook ek 'n erfgenaam van die ewige lewe is.