5 bladsye.

Sondag 26 Heidelbergse Kategismus

Lees: Markus 16:9-20; NGB Artikel 34🔗

Vir stompsinniges en swakkes🔗

In die vorige preek het ons antwoord gegee op die vraag waar ons geloof in Christus vandaan kom, sodat al sy skatte ons s'n kan word. As dit so is dat ons slegs deur geloof deel kan kry aan al Christus se skatte en rykdomme, dan sou dit 'n verskriklike lot wees as ons dan self vir ons eie geloof moes sorg. Die genade van God is juis dat Hy ook die geloof vir ons gee as genadegeskenk. 'n Geskenk wat die Heilige Gees in ons werk. Uit genade is ons gered, deur die geloof — en hierdie geloof is 'n gawe van God (Efesiërs 2:8); God die Heilige Gees werk dit in ons, deurdat ons die evangelie hoor.

Die Heilige Gees laat ons deur die prediking van sy Woord hoor dat God ons al ons sondes vergewe, dat Hy ons skoon was in die bloed van Jesus. Maar nou gaan ons sien dat die Here in sy Vaderlike goedheid met ons nog verder gaan, Hom na ons neerbuig, om ons in ons swakheid te help. Net soos ek gevoel het: waar kry ek die geloof vandaan, sodat ek in Jesus kan glo en gered word, so wonder ons ook dikwels: hoe kan ek volhard in die geloof en hoe kan ek weet dat dit werklik ook vir my is? Want selfs as ons die evangelie hoor, dan is dit asof ons ons ore nie kan glo nie. Kan dit waar wees? Is dit werklik ook vir my bedoel? Is dit werklik waar dat ek 'n kind van God mag wees? En met hierdie "stompsinnigheid en swakheid" van ons wil ons goeie God en Vader altyd rekening hou (NGB, Artikel. 33) in die bediening van die evangelie. Die Heilige Gees gebruik hier in die kerk nie alleen die prediking om ons geloof te gee nie. Hy gebruik ook "tekens van sy goedheid en genade teenoor ons". Hiermee wil die Gees van God ons geloof, wat Hy deur die prediking gee, gedurig voed en dit in stand hou.

Dit wat die Heilige Gees ons laat hoor deur die preek, wil Hy ons ook laat sien. En nog meer as dit: deur die tekens wat Hy nou wil gee, gee Hy ons 'n waarborgmerk, as 't ware 'n stempel van God, wat sê: "My Woord is waaragtig. Hier is my stempel wat ek kom afdruk." Soos wat 'n koning in antieke tye gedoen het, wanneer hy 'n brief geskryf en dit verseël het deur sy koninklike stempel daarop af te druk om daarmee te sê: "Dit wat in hierdie brief staan, is waarlik van my." So gebruik God twee stempels in die erediens om ons 'n teken te gee. "Kyk, my kinders, wat Ek julle laat hoor, wat Ek julle laat lees in my Woord, dit kan julle glo en dit moet julle glo, want my koninklike stempel is daarop. Dit is alles eg en betroubaar. Want Ek sê so en wat Ek sê, is waar." Dit laat God ons in sy goedheid sien. Wanneer die Here met sy genade in Christus deur die prediking na ons toe kom, tree ons dikwels geweldig vreemd op. Dit wat bedoel is om ons uit ons sondedood wakker te maak, laat ons eenvoudig aan ons verbygaan. God kom nie met sy evangelie, met sy genade na ons toe met die woorde: "Ja, dit is vir sondaars, maar jy moet onthou dat jou sondes dalk tog te groot is om vergifnis te kry. Ja, jy mag die evangelie hoor, maar dan moet jy nog eers iets vir My doen" nie. God laat nooit sy evangelie vir ons verkondig met 'n "ja, maar" nie. En tog is dit hoe ons reageer op God se genade as Hy sy evangelie aan ons laat verkondig: "Ja, maar dit is bedoel vir mense wat nie so swaar soos ek gesondig het nie." Of: "Ja, maar dit is vir ouer mense wat aan die einde van hulle lewe gekom het en wat begin voorberei vir die dood." Of ons as volwassenes mag dalk dink: "Ja, maar dit is vir kinders bedoel, want hulle kan tog, volgens ons, so roekeloos wees. Mag hulle dit maar hoor en glo!" Of ook: "Dit is vir groter sondaars as ek bedoel; ek het dit tog nie nodig nie." Al die "ja, maars" wat ons kan opwerp teen die evangelie, dit is wat die Nederlandse Geloofsbelydenis ons "stompsinnigheid" noem, ons "swakheid", omdat ons die evangelie nie wil aanvaar nie.

In die doop wil die Heilige Gees ons met ons eie oë laat sien wat Hy bedoel: dít is hoe Ek vir jou is; dít is wat Ek vir jou doen. Daarom word elkeen se naam met die doop persoonlik genoem. Ons doop is nie 'n naamgee-seremonie nie. Dit is nie 'n geleentheid waar aan ons kindjie sy naam gegee word nie. So dikwels dink ons dit. Dit is tog so pragtig as die volle name daar genoem word, byvoorbeeld van Oupa of Ouma, wat oorgedra word aan die kind. Pragtig sentimenteel is dit. En tog is dit nie waarom die naam genoem word nie. God wil die naam van die persoon noem sodat hy mag weet dat dit vir hom bedoel is. Daarom, as jy die evangelie hoor, luister en spits jou ore. Moenie dat dit aan jou verbygaan terwyl jy stompsinnig luister nie. Weg met alle twyfels en voorwaardes aan jou kant!

Die tema van die preek is: die hemel is verbind aan aardse water.

Die Here hou Hom aan sy Woord🔗

Ek hoop dat u opgelet het dat een gedagte al ons belydenisskrifte deurtrek wanneer die doop en die nagmaal ter sprake kom. Dít is die gedagte wat voorop gestel word in die belydenisskrifte, naamlik die Goddelike instelling van die doop en die nagmaal. Die doop is 'n Goddelike teken. As die doop vir ons enige betekenis wil hê, moet ons weet Wie se teken dit is, Wie se stempel dit is wat ons gebruik wanneer daar gedoop word. En ook later wanneer ons nagmaal vier. Want laat ons maar eerlik wees, rondom die doopvont is daar baie ongeloof en bygeloof, juis omdat mense nie aandag gee aan die Gewer van die teken nie. Want wie sien ons by 'n doopgeleentheid? Die persoon wat gedoop word, die doopouers, die familie, die gemeente en die predikant wat die doop bedien. Nou is die vraag: Wie is nou eintlik aan die woord by die doop? Wie se teken is dit? Is dit 'n teken van die persoon wat gedoop word, om iets oor homself te sê? Of is dit 'n manier waarop die ouers kom sê dat hulle 'n belofte aan die Here kom maak? Dalk klink die mees aanvaarbare nog, dat die predikant die doop bedien, want hy gee namens die gemeente en die kerkraad 'n teken van die kerk aan die kind of volwassene wat gedoop word.

As enige van die bogenoemde waar sou wees, sou dit geen teken wees wat enigiets met ons geloof te doen het nie. Dan sou die doop ook geen krag gehad het om ons lewens te verander nie. Laat ons heel eerlik die vraag beantwoord of ons doop al ons lewe verander het. Dan moet ons vir onsself vra: "Wat is my oortuiging? Wie se teken is my doop? Beïnvloed my doop my lewe elke dag? Hoe gereeld speel my eie doop 'n rol in my lewe?" Die Woord van die Here wil ons leer dat die doop 'n teken van God is. Daarvoor het die Kategismus duidelik oog. Christus het hierdie waterbad ingestel. Christus het daarby 'n geweldige belofte gemaak. Daarvan lees ons in Matteus 28:19 en Markus 16:16.

Net voor Christus se hemelvaart stel Hy die doop in. Hy stuur sy dissipels die hele wêreld in: "verkondig die evangelie aan die ganse mensdom" (Markus 16:15). Dit is hulle enigste instrument waarmee hulle die wêreld kan ingaan — die evangelie. Dit moet alles doen wat in die wêreld gedoen moet word om gered te word. Geloof in die evangelie is al wat mense red. En Hy gee daarby 'n teken dat Hy Homself aan hierdie evangelie verbind. Dat Hy, wat nou na die hemel gaan opvaar, Hom vanuit die hemel bind aan 'n heel eenvoudige teken. 'n Teken van water. Vir die wat glo, volg daar ook ander tekens wat wys dat hierdie boodskap wat deur die apostels verkondig sal word, van God kom — die apostels het in die Naam van Christus duiwels uitgedryf; hulle het met tale gespreek; as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle niks kwaad aandoen nie. En oral waar die evangelie deur die apostels verkondig is, het hierdie tekens gevolg om die gelowiges te bemoedig, want Christus het saamgewerk vanuit die hemel (Markus 16:20). Hierdie wonders het die werk van die apostels vergesel om te wys dat die evangelie waar is. Die wat op aarde deur die geloof aan die evangelie en die doop gebind is, sal gered word (Markus 16:16). Want in die evangelie en doop hoor en sien ons dat God ons genadig wil wees. Wat in die evangelie gehoor word, mag in die doop gesien word: dat God werklik niks meer van ons vra nie as geloof alleen. Want hy wat glo, sal gered word. Hierdie saak word in die belydenisskrifte so beklemtoon, sodat die doop onderskei kon word van die klomp tekens (sewe sakramente) wat die Roomse kerk het. Allerlei tekens waaraan 'n klomp bygeloof verbind is, is deur die kerk ingestel en het mense bygelowig gemaak. Daar is die laaste oliesel — vandag word dit nog gebruik net voordat iemand sterf; dan moet die kerk kom om die genade oor te dra en hierdie persoon te verseker dat die kerk hom sal vashou, dat daar verlossing vir hom is. Die oorbieg is ingestel, en die huwelik as tekens van genade van die kerk. Maar in die doop het ons nie met 'n teken van die kerk nie, maar met 'n Goddelike teken te doen. Gewone water — daar is niks heiligs aan die water nie — maar God kom gebruik hierdie water om sy Woord vir ons duidelik te maak en ons te kom verseker dat die belofte van sy genade ook werklik bedoel is vir die een wat gedoop word. Ons het nie Jordaanwater nodig om mee gedoop te word nie — dit is bygeloof. Maar ons het wel nodig om by die doop te luister na wat God daarmee vir ons sê!

Wat wil God vir ons sê? Die Here God wil ons by die doop kom verseker dat die enige offer van Christus aan die kruis ook vir my bedoel is. Ek hoef nie daaraan te twyfel nie en ek mag die roeping om in Christus te glo, nie van my wegskuif nie. Christus kom na my met sy bloed en Gees om my te was van die onreinheid van my siel, my sonde, net so seker as wat die water die onreinheid van my liggaam afwas. Dit is wat Christus vir my wil sê. Sal my doop dan nog soos 'n nuttelose versiering deel wees van my lewe? Of sal ek my veel eerder gedurig in my swaarste beproewing en twyfel hierop beroep? Ek is gedoop! Christus het Hom uit vrye genade aan my verbind!

Vader, Seun en Heilige Gees🔗

Dit is God Drie-enig wat Hom aan ons verbind. Wanneer Christus die doop instel, beveel Hy sy dissipels om te doop in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Dit beteken veel meer as net dat 'n predikant nie op eie gesag doop nie, met ander woorde, dit beteken dat wanneer die predikant doop, hy moet optree as gestuurde van die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Om in die Naam van die drie-enige God gedoop te wees, beteken dat hierdie God my deel gemaak het van sy kerk wat Hy self afsonder van die res van die wêreld, om heeltemal sy eiendom te wees (NGB Artikel 33). Ek behoort heeltemal aan Hom, die drie-enige God. Hy kom gee ons sy merkteken, sy eiendomsmerk. Soos wat 'n bees gebrandmerk word met die eiendomsmerk van die boer, kan ons sê die bees is gebrandmerk "in die naam van die boer". Die boer se naam is as 't ware daarop afgedruk. So is die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees op ons afgedruk, soos 'n stempel op ons gesit.

So het ons in die doop die merkteken gekry van en is ons gedoop in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Hy het met hierdie mense wat Hy laat doop het, 'n ewige verbond kom oprig. Hy het Homself aan ons in sy genade en liefde en sorg kom verbind, sodat ons sy eiendomsvolk kan wees. Ons behoort aan Hom, maar gelyk is ons dan ook erfgename van die testament van die Een wat sy testament en verbond vir ons kom gee het, waarvan hierdie doop 'n teken en seël is. Vir tyd en ewigheid is daar vir ons oorvloed in die testament beloof, sodat ons vry voor God kan leef. Die Vader het beloof om ons as sy kinders aan te neem. En as sy kinders, sal Hy ons versorg met alles wat ons nodig het en goed is, en alles wat tot ons nadeel sal strek, dit sal Hy van ons afweer. Dit hoef nie alleen lyding en siekte te wees nie, maar dit mag selfs rykdom wees wat Hy van ons wil weghou, omdat dit vir ons nie goed sal wees nie. Dit mag wees dat Hy oorvloed en voorspoed van ons wegweer, sodat ons uit sy genade kan leef.

Die Seun beloof ons dat Hy ons in sy bloed was en skoonmaak van al ons sondes. Kortom — die doop wil ons verseker van die vergifnis van ons sondes in Jesus se Naam. Al ons sondes. En dit kan nogal 'n swaar rekening wees! Wat 'n troos is dit dan nie as ek my swaar las wat ek saam met my dra, kan neerlê by die kruis van Christus nie! Stel u voor hoe Pelgrim in "Die Pelgrim se Reis" van John Bunyan by die kruis kom en sy sak met swaar skuld wat hy so lank saam met hom gedra het, kon neerlê. Hoe heerlik was dit nie om die verligting te voel en die sak met die skuld teen die heuwel te sien afrol, verder en verder weg! Vry! En dit is wat Christus ons in die doop beloof het. Hy het die las van ons kom wegneem, sodat ons die pad verder vry kan gaan. Sodat ons sondes nie voortdurend op ons druk nie, sodat dit nie 'n las is wat ons elke oomblik in die lewe hoef saam te neem nie. Los die las by Christus! Hoe oud ek ook al geword het, die belofte van Christus bly steeds staan. Dalk het ek sewentig jaar oud geword en nog nooit verstaan wat dit beteken om met die vergifnis van Christus te leef nie. Dan mag ek nou verseker weet: die doop is 'n teken van die ewige verbond met God. Dan mag ek my ook op sewentigjarige ouderdom beroep op God se genade. Maar dit is ook 'n teken wat vir 'n klein kind bedoel is, en ook as jongmens mag ek my daarop beroep dat ek gedoop is in die Naam van Christus. Hoe jonk ek ook mag wees. Die Seun het beloof dat Hy jou sal skoon was. Neem dit in geloof aan. Weet verseker dat Hy vergeef.

Die Heilige Gees verseker ons dat Hy in ons wil woon en dat Hy aan ons sal uitdeel wat Christus ons beloof het. Ek hoef nie in eie krag aan God te probeer vashou nie. Ons gebruik soms die uitdrukking: "Ek het weer 'n boodskap gehoor waaraan ek my kan optrek uit my sondes in die week wat voorlê." Nee, u hoef uself nie op te trek nie, want die Gees beloof dat Hy in u kom woon, en Hy sal u optel. Hy sal dit doen. Glo daarom in Hom. Wanneer ek moet stry teen die mag van die sonde, dan kan ek weet dat die Gees in my woon om my te help teen die oormag van die sonde. Die Heilige Gees kom besprinkel my "inwendig in ons hart" (NGB Artikel 33) met die bloed van Christus. Hy kom reinig my gewete. Ek hoef myself nie te oortuig dat my sonde tog nie so erg is of dalk dat my sonde vergewe is nie. Nee! Die gewete wat ons aankla, word stilgemaak deur die getuienis van die Gees in my hart dat ek 'n kind van God is. Die Gees sal met die Woord van God getuig dat my sondes vergewe is. Dit is wat die Gees in die doop beloof. Deur die krag van die Gees kan ek wat sondaar is, uitroep: "Abba, Vader!" Deur eie krag sal ek dit nooit kan doen nie.

Sien u die vryheid wat God ons deur die doop wil gee? Juis omdat God Homself op hierdie manier aan my verbind, aan my wie se naam by die doop genoem is, word dit nou ook werklik vir my moontlik om weer te leef in nuwe gehoorsaamheid aan sy Woord. Gedra deur sy genade, kan ek nou ook weer die ligte laste wat Hy op my lê, dra. Want as ek só aan Hom behoort, dan vra Hy ook dat ek anders sal leef as hulle wat nie aan Hom behoort nie. Hy roep ons juis in die doop tot 'n nuwe lewe. Hy verplig ons tot 'n nuwe gehoorsaamheid, soos die doopformulier dit noem. Ons moet nou hierdie God, Vader, Seun en Heilige Gees, werklik vertrou met ons hele hart. Ek moet nou so gaan leef dat dit duidelik blyk dat ek nie staatmaak op myself om gered te word nie. Laat dit duidelik word in jou lewe. Daarom moet ek Hom liefhê met my hele siel, my hele verstand en met al my krag. Ek moet stry teen my sondige natuur wat my gedurig weer wil laat leef soos 'n ongelowige. Maar stry dan in die krag van die Gees! Ek moet oorvloedig wees in goeie werke, sodat die Naam van my hemelse Vader geëer en geprys kan word. Die wette van die Here moet vir my wees soos soet heuning, omdat die Here sy wette juis vir sy verbondsvolk gegee het, en ek moet my verlustig in die gemeenskap van hulle vir wie God ook deel van sy volk gemaak het.

Nuttig vir ons hele lewe🔗

Ons doop is nuttig vir ons hele lewe. In die Nederlandse Geloofsbelydenis, artikel 34, staan so mooi dat die doop nie alleen nuttig is "solank die water op ons is en ons dit ontvang nie, maar ook vir ons hele lewe". Die doop is juis vir ons 'n teken dat ons 'n ewige verbond met God het. God se verbond word nie tot niet gemaak deur ons sondes nie. My doop word nie kragteloos wanneer ek gesondig het nie. Verstaan u waarom die Roomse Kerk sewe sakramente het? Ja, dit begin by die doop, maar wat gebeur? Die doop word, so glo hulle, tot niet gemaak die oomblik dat ons sondig, en daarom moet die kerk weer 'n nuwe sakrament instel om onmiddellik die doop te vervang. Jy is op hierdie skip van die doop, maar die oomblik wat jy sondig, is daar 'n gat in die skip se romp onder die waterlyn. Hierdie skip gaan sink en dan moet jy oorgaan op 'n ander skip, sodat jy daarmee kan vlug na die nuwe sakrament, om daarmee verder te gaan. Dan is die doop iets waarmee jy nooit kan leef nie. Ons bely egter vanuit die Woord van die Here dat die doop vasstaan vir ons hele lewe. En daarom moet ek elke dag met my doop werk. Die doopformulier stel dit as 'n aanmoediging dat wanneer ons soms uit swakheid in sondes val, ons dan nie in die sonde moet bly lê nie. Dan moet ek kan sê: "Al het ek geval, al sit ek in duisternis, die Here is 'n lig vir my; Hy is my verlossing."

Die doop is nie iets wat uitgestal word op die doopdag met al die familielede en daarna in 'n donker foto-album toegemaak word nie. Jou doop word aan jou bedien in die midde van die gemeente van die Here, sodat jy gedurende jou hele lewe gedurig kan en moet weet waar die Here jou 'n plek gegee het en waarom jy daardie plek het. As ek daarom opgroei en die vriende wat ek op skool gekry het, my wil wegtrek van die Woord van die Here, dan wil my doop my kom herinner waar my plek is. In die erediens, waar die Here sy genade uitdeel. Daar wil Christus my hê. Waar sy Woord regeer. Daar moet ek saam met die ander die Here aanbid. Ek is geroep om aan die Here te behoort in vryheid en nie om verslaaf te wees aan my eie sondige begeertes nie. Dan weet ek dat die Gees my 'n nuwe mens wil maak en kan ek nie langer in my sondes bly leef nie.

En wanneer my sondes te veel word en ek niks anders hoor as die aanklagte van die satan nie, dan moet ek weet dat ek gedoop is en dat daar werklik vir my vergifnis is. Soos die verlore seun sal ek dalk moet erken dat ek alles verkwansel het en niks verdien nie. Maar dan mag ek ook weet dat ek God mag aanspreek as Vader en mag gaan sê: "Vader, ek het teen die hemel, teen U gesondig. Ek verdien nie om u kind genoem te word nie. Maar ek kom terug as u kind." Met jou doop mag jy met die skat van God se belofte van genade, van liefde en vergifnis, wat God self in jou hande gelê het, terugkom na die Here. Juis met hierdie belofte van God self. Jy mag na God vlug teen die aanklagte van jou gewete, die aanvalle van die wêreld en van die satan, wetende dat "die Heer wat van geen wankel weet nie, sal nimmer sy verbond vergeet nie" (Psalm 105:5). "Ja, Gods weg is goedheid, klaarheid, en sy werk altyd getrou, vir wie wandel in sy waarheid en op sy beloftes bou" (Psalm 25:5). Daarom mag ons vanuit die sekerheid wat die Here ons deur sy doop wil gee, ook gaan nagmaal vier. Dan hoef ons alleen maar vir onsself 'n antwoord te gee op hierdie een vraag: "Glo ek hierdie belofte wat God vir my verseël in die doop?" Glo ek dit? En as ek dit werklik glo, dan mag ek ook saam met Christus aan die nagmaalstafel kom sit en saam met Hom bly wees en feesvier. Ook al kla my gewete my aan. Dan mag ek luister na die getuienis van die Gees van God.