5 bladsye.

Sondag 3 Heidelbergse Kategismus

Lees: Genesis 1🔗

Dit was alles baie goed🔗

Kan ons die wet van God ten volle nakom? Ons het reeds bely dat ons glo dat ons dit nie kan doen nie, omdat ons van nature geneig is om God en ons naaste te haat. So het ons geëindig met Sondag 2 van die Heidelbergse Kategismus. Van nature. Beteken dit nou dat God ons dus verkeerd gemaak het? As God ons so gemaak het, waarom dan die skuld op ons laai? Het God ons met so 'n sondige natuur gemaak? Is dit nie eintlik God se skuld dat die wêreld so vol haat en vyandskap en vernietiging is nie? Is die geweldige armoede, geweld en oorloë van ons tyd en land dan nie op God se rekening te plaas nie?

Ons sou selfs met die vraag kan worstel of die mens werklik so sleg is. Onlangs het ek weer gehoor hoe mense daarvoor pleit dat die mens self eintlik nie so sondig is nie. Mense doen wel slegte dade, maar ons moet die sonde los van die persoon verstaan. Die onskuldige manier waarop ons dit formuleer, is dan soos volg: "God haat wel die sonde, maar nie die sondaar nie." Maar die verskriklike van die sonde is juis nie dat daar sonde in die wêreld is nie, maar dat dit gedoen word deur 'n mens. Dat daar in die mens 'n wortel is wat sleg geword het. Die verskriklike is dat daar sonde gedoen word deur 'n mens wat nie aanvanklik so deur God geskep is nie. 'n Mens wat werklik goed deur God gemaak is; volmaak, sondeloos. Deur daardie mense, deur u en my, word heel spesifieke sondes gedoen. Ons kan ons sondes nie van onsself losmaak nie.

Maar so was dit nie aan die begin nie. Op die sesde dag het God gesê: "Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee ..." (Genesis 1:26). En nadat God alles gemaak het, so het ons gelees in Genesis 1, het Hy alles gesien en gesê dat dit alles baie goed was. Sy werk was volmaak, sonder enige gebrek. Maar ná die sesde en die sewende dag het die agste en die negende dag gevolg ... Ons kan wel met geweldig baie vrae oor die ellende in die wêreld na God toe kom, maar uiteindelik wil die Woord van die Here ons kom troos met die wete dat God alles aanvanklik volmaak geskep het.

Waarom vestig die Here weer ons aandag daarop dat Hy alles volmaak gemaak het? Is dit sodat ons met droomgedagtes oor 'n utopie hier op aarde weer aan die werk gesit kan word; dat ons sal werk vir 'n weer volmaakte aarde? Moet ons hier sit met gedagtes en verlange na 'n verlore verlede? Nee, die Here wil ons juis kom troos wanneer Hy ons wys op die feit dat Hy alles volmaak gemaak het. Met dié wete dat ons by hierdie Vader van ons, vir Wie ons mag ken deur Jesus Christus, veilig kan wees. God word nie bedreig deur 'n onvolmaakte skepping waarin Hy ons losgelaat het nie. Ja, ons sou dit selfs nog erger kan sê: ons is nie maar net mense op 'n onvolmaakte aarde, vir wie God hier op aarde kom vind het en Homself toe aan ons kom bekend gemaak het as ons Vader nie. Nee, Hy het alles volmaak gemaak, alles goed gemaak, en toe die mens op aarde geplaas. En omdat God juis alles so volmaak gemaak het, kan ons die verwagting hê, juis ook in die belydenis van al ons ellende en sonde, dat Hy ook die krag en die mag het om alles weer goed te maak. Hy is almagtig. Hy kan ook alles weer herstel. Hy sal vir ons 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde gee waarop geregtigheid woon. Hy self sal ons herstel. Hy is almagtig! Hy kan ons ook deur sy Heilige Gees, wat in die dag van God se skepping oor die waters geswewe het, weer laat gebore word; Hy laat ons weer gebore word uit ons geweldige ellende.

Sien u die verwagting wat God vir ons kom gee vanuit die kennis van sy volmaakte skepping? Hy kom maak verwagtings by ons wakker, want God het ons nie kom vind as onvolmaakte skepsels in 'n onvolmaakte wêreld nie. Op hierdie manier word daar nogal in die ou Griekse wêreld gepraat oor die sonde — die sonde word dan deel van die tragiek van die lewe van die mens. Maar die sonde is egter geen tragiek in hierdie sin van die woord nie — die onverstaanbare waaraan die mens uitgelewer is. Nee, God het alles goed gemaak en ons mag daarom weet dat Hy ook magtig is om alles weer te herstel en weer goed te maak. Ons lewens is glad nie deel van 'n tragiese drama wat hom onbeheers, buite God se beheer, afspeel nie. Ons is nie magtelose slagoffers wat uitgelewer is aan die magte van die "kosmos" en die "wêreld" nie; aan die kragte, wat die geskiedenis voortdrywe.

Die Here ons God het alles goed gemaak. Al ons ellende is die gevolg van die sonde wat in die wêreld van God soos 'n inbreker ingebreek het. Ons kan daarom nie die Here verwyt vir die ellende van ons eie lewe nie. Sy werk was volmaak. Op die sewende dag kon Hy waarlik rus van sy werke.

Laat hulle heers ...🔗

Laat ons nou kyk wat dit beteken dat die mens na God se beeld gemaak is. Want nadat God álles goed gemaak het, is juis en veral die mens baie goed deur die Here gemaak. God het die mens na sy beeld gemaak (Genesis 1:26-27) — man en vrou. Dit beteken heel gewoon dat die Here die mens so gemaak het dat hulle die opdrag wat die Here hulle gegee het, ook werklik kon uitvoer. Hulle moes oor die hele aarde heers en dit ontwikkel. Dat God die mens na sy beeld gemaak het, beteken dat God aan die mens 'n opdrag gegee het n hom in 'n ereposisie geplaas het sodat hy hierdie opdrag kon en ook moes uitvoer. Hy ontvang 'n opdrag om te heers en word so gemaak dat hy dit ook werklik kan doen vanuit 'n posisie van heerlikheid.

Dit is die wonder wat Psalm 8 dan ook besing: "Wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek? U het hom 'n weinig minder gemaak as 'n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon. U laat hom heers oor die werke van u hande; U het alles onder sy voete gestel. ... O HERE, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde!" (Psalm 8:5-7,10). Dit is wat dit beteken dat ons na God se beeld gemaak is: dat die mens met eer en heerlikheid gekroon is, sodat ons die heerlikheid van God op aarde kan wees. En daarom eindig Psalm 8 met hierdie woorde, nadat dit die wonder van die skepping van die mens besing het: "O Here ... hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde!" Wanneer ons die heerlikheid van die mens wat oor die hele wêreld regeer sien, dan sien ons God se almag en sy heerlikheid. Met hierdie mens wat God gemaak het, was geen fout nie. Geen sprake van haat nie. Geen beletsel in Adam of Eva nie. Volmaak was hulle liefde vir mekaar en hulle gehoorsaamheid aan God. Adam en Eva kon werklik God se verteenwoordigers op aarde wees.

Van die begin af vestig die Here sy koninklike troon in die hemel. Die aarde wat volmaak deur die Here gemaak is, word deur die Here vir die mens as woning gegee waar hy as God se "ambassadeur" mag werk in God se diens en waar hy gehoorsame heerskappy uitvoer. Die Here gebruik die mens wat Hy gemaak het, om sy grootheid oor die aarde bekend te maak. Daarom is dit so opvallend dat Psalm 8 ook weer eindig met die woorde: "O HERE, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde!"" Dit beteken dus nie dat die Here afwesig van die aarde is nie. Maar die mens kry die opdrag om God se heerlikheid oor die hele aarde uit te roep! En dit kon ons werklik doen!

Dit is wat dit beteken dat ons na God se beeld gemaak is. Die mens in sy heerskappy oor die hele aarde kan en mag God se beeld vertoon. Sonder sonde. Sonder enige eiesinnigheid. Sonder haat vir sy naaste. Vol van liefde vir God. Gewillig werk Adam in die tuin. Hy gee die diere name. Selfs sy vrou word deur hom "mannin" genoem! Niks is vir Adam, wanneer hy elke dag sy groot werk vanuit sy heerskappy gedoen het, heerliker nie as om te sing: "O HERE, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde!"

Hy kon God reg ken, soos ons bely in Sondag 3 van die Kategismus. Hy kon Hom van harte liefhê. Hy kon saam met God in ewige geluk lewe om Hom vir ewig te loof en te prys. Want dit is waarvoor hy gemaak is. Nie as 'n geprogrammeerde robot nie, wat eenvoudig maar net alles doen asof hy 'n masjien is. Nee! Hy is gemaak as 'n skepsel van God om God lief te hê. Om sy geweldige liefde wat Hy aan ons bewys het, ook te beantwoord, sodat die mens ook self kon uitsing: O Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde! Die aarde is vol van u heerlikheid!

Onderkoning word rewolusionêr🔗

Maar daarby het dit nie gebly nie, want die onderkoning word rewolusionêr. En dit is waarop ons nou in die derde plek gaan let. Die onderkoning word 'n rebel. Hy voer 'n rewolusie in God se paleis. Want u en ek regeer nie meer soos Adam en Eva geregeer het nie. Ons voel daagliks die opstandigheid teen God in ons. Niks is vir ons makliker as om ons eie eer en sin te soek en daarvoor tot die dood toe te veg nie. My sin, my gerief en my begeertes, daarvoor sal ek sterf. Ons sal op ons naaste trap om 'n plek in die samelewing en selfs in die kerk te kry! 'n Sogenaamde ereposisie in die kerk! Waar kom dit alles vandaan? Die mens wat na God se gelykenis gemaak is (Genesis 1:26), wou aan God gelyk word! Gelykenis word verdraai na gelykheid.

Ons stel dit doelbewus so, want ons vra dikwels die vraag of dit nou werklik so verskriklik was vir Adam en Eva om 'n vrug van die boom te eet. Dit lyk so heel onskuldig. Dan is dit goed om daarop te let dat dit oor veel meer gaan as oor die eet van een vrug. God het die boom van kennis van goed en kwaad gegee as 'n toets vir Adam se gehoorsaamheid aan God as die groot Koning. 'n Toets om te sien of Adam werklik tevrede sou wees met die heerlike plek wat die Here hom op aarde gegee het as onderkoning. Op hierdie manier sien ons Adam en Eva se sonde vir wat dit werklik is. Dit is niks minder nie as rewolusie — opstand teen die gesag van God se Woord. Verwerping van God se Koningsheerskappy. 'n Poging om as 't ware God van sy troon af te ruk en om hulself op die troon van God te gaan plaas. Dit is wat Adam en Eva gedoen het. 'n Verwerping van die Here se heerskappy! Die mens wil self besluit wat goed en reg hier op aarde is en sal wees. En dit is die aantrekkingskrag waarmee die duiwel na Adam en Eva toe gekom het: God weet dat as julle daardie vrugte eet, sal julle self daarmee besluit wat goed en wat kwaad is. Julle sal soos God wees, julle sal vir julleself 'n norm word. Adam wou self soos God wees — hy wou self besluit wat goed en sleg is. Daar het ons die moeder van alle rewolusies! En so het alles op aarde verkeerd gegaan.

Erfsonde🔗

Vanaf Adam het hierdie ongehoorsaamheid oor die hele menslike geslag uitgebrei. Dit is wat ons "erfsonde" noem. Soos 'n inkkol wat op 'n lap uitbrei, het hierdie sonde die hele nageslag van Adam besoedel. Selfs die kleinste kindertjies in die moederskoot is daarmee besmet. Dit is soos 'n boom waarvan die wortel besmet is met 'n dodelike siekte en die siekte versprei deur die hele boom tot in die kleinste tak en blaar.

En dit sien ons reeds in die kinders van Adam en Eva. Kaïn en Abel word na hul ouers se gelykenis gebore. Abel erken dit as gelowige, maar word reeds deur die opstandige Kaïn vermoor. Selfs nadat die Here al die ongeregtigheid op aarde deur die sondvloed uitgewis het, sit die sonde steeds in Noag, die regverdige, se hart. Skaars is die grond onder sy voete droog, of hy word dronk van die wyn uit sy wingerd. Die sonde is steeds in die mens! Dit is nie maar iets daar buite ons nie. Sonde is nie 'n mag en 'n krag daar buite, waarmee ons te doen het nie. Dit is soos 'n wortel in ons. Selfs na die ingrype van die Here by die toring van Babel, wanneer Hy die verbond met Abram kom sluit, kom leer die Here vir Abram deur die besnydenis dat Abram nie sy hoop op homself of op sy nageslag moet stel nie. Laat elke seun op die agste dag besny word! In God se genadeverbond kom stel God die besnydenis in: Abraham, Ek gee jou 'n teken, sodat jy werklik ook mag weet dat al my genade vir jou gegee word. Ja, as genade, as 'n bewys van my liefde, dat jy niks van jouself en van jou nageslag moet verwag nie. Daarom die besnydenis. Daar sit niks in die mens, in sy krag om voort te plant, om te verbeter nie. Die mens kan homself nie beter maak nie. Abraham, dit moet jy goed sien, elke keer weer. Uit Abraham se nageslag sal 'n seën vir hom en vir al die nasies van die wêreld kom, maar dit is nie van Abraham te verwagte nie. God sal op 'n wonderbaarlike manier deur sy Gees moet ingryp. En Abraham het God geglo.

In die plek van daardie besnydenis kom dan die doop, en wat leer die doopformulier ons so pragtig, waarom is die doop 'n teken en seël vir ons? Dit is onder andere 'n teken hiervan dat ons, sonder dat die Gees van God ons wederbaar, nuut maak, nie in die Koninkryk van God kan inkom nie. Vandaar dat die water 'n teken is van die afwassing van die sondes, waarmee ons besmet is; selfs vir die kleinste kindjie, wat ons hier aandra. Dit bely ons as ouers oor ons kinders en oor onsself. Ons kan nie uit onsself nie; ons het 'n kern in ons wat boos is.

Dit beteken nie dat die erfsonde die mens nou in 'n dier verander het nie. Dit beteken wel dat die mens as onderkoning in 'n rebel verander het. In 'n rewolusionêr! Die een wat na God se gelykenis gemaak is, wil nou aan God gelyk wees.

Sonder wedergeboorte geen hoop nie🔗

En daarom is daar sonder die Heilige Gees geen hoop nie. Werklik nie? Dit is die laaste vraag van Sondag 3. Is die mens dan werklik so sleg? Is ons toestand werklik so sleg? Ja. Ons is werklik uit onsself tot niks goeds in staat nie en selfs tot alle kwaad geneig. Is daar werklik geen hoop uit onsself nie? Nee, daar is absoluut geen hoop uit onsself nie! Het daar dan nie êrens iets, 'n klein bietjie, in ons oorgebly waarby God tog weer kon aansluit en daaruit weer iets nuuts kon opbou nie? Sit daar in die mens nie tog nog 'n saadjie wat weer kan opgroei tot 'n nuwe boom nie? En dan antwoord die Kategismus so pragtig en duidelik: nee, daar het niks goeds oorgebly nie. Absoluut niks! Is ons toestand werklik so erg? Ja, ons is nie eers in staat om uit eie krag die wonderlike verlossing wat die Here ons in Christus gee, aan te neem nie. Ons kan dit nie eers doen nie. Ons wil is so verslaaf aan die sonde dat ons dood is in ons sonde. So getuig Paulus ook in Efesiërs 2:1: "En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes ..." Dit is die krag van die evangelie, dat wanneer dit aan ons verkondig word, dit ons lewend maak. Dit is nie so dat ek met my laaste bietjie krag Christus nog gaan omhels nie. Nee! Dit is Hy wat deur sy Heilige Gees my weer gebore laat word, sodat ek Hom kan omhels, kan vasklem en sê: buiten U het ek niks anders nie; buiten U is ek boos, is daar vir my geen verlossing nie.

Daarom is daar vir ons geen hoop sonder die Gees van God waardeur ons weer gebore kan word nie. En dit doen die Gees deur die verkondiging van die evangelie. Die wonder van die evangelie is nou dat soos wat almal deur die sonde van Adam verlore gegaan het, nou ook dié wat in Christus glo, weer deur Hom gered word. Deur 'n Ander. Soos ons ook deur 'n ander deel gekry het aan ons verdorwenheid, so word ons ook nou deur 'n Ander gered. Ons wat dood is, wat die onmag in onsself voel; wat aan ons lyf voel dat ons die Here nie kan dien uit onsself nie; juis ons mag die wonder nou hoor: daar is hoop by 'n Ander Een. Die geregtigheid waarmee ek nou voor God mag staan, is nie my eie nie, maar Christus s'n. My sonde is my eie. Die volmaaktheid waarmee ek voor die Here mag wees, as ek uit geloof leef, is nie my volmaaktheid nie, maar is die volmaaktheid van Christus. Die heiligheid wat ek vandag voor die Here het, is nie my eie heiligheid nie, maar dié van Christus. Nou mag ons weer leer om ons aan Christus te onderwerp en deur Hom God te dien. Nou het Hy vir my alles geword, sodat ek in Hom mag roem.

Dit is hierdie groot verlossing wat in Hebreërs 2 besing word, weer in die woorde van Psalm 8. Hoe sal ons ontkom, sê Hebreërs 2, as ons hierdie groot saligheid verontagsaam wat die Here aan ons bekend gemaak het deur engele en deur profete en dit nou in die laaste dae weer aan ons bekend gemaak het? Hoe sal ons ontkom? En dan bars Hebreërs 2 uit in hierdie wonderlike loflied: Wat is die mens, wát is die mens, dat God aan hom dink? Die mens, wat so in sonde geval het dat hy in homself siek, dood is. God het hom nie gelos nie. Wat is die mens, dat U aan hom dink, begin Hebreërs 2 dan weer. U het hom 'n weinig minder gemaak as 'n hemelse wese. U het die mens nie in sy ellende gelaat nie. Wat sien ons van die mens? Sy onvolmaaktheid; ons voel dit aan onsself. Nou sien ons nog nie die heerlikheid van die mens nie. Die Here het met sy groot verlossing nie na engele gekom nie, maar na die mens. Die mens in sy diepste sonde geval. Na die een wat die dood verdien. Wat is die mens dan dat die Here aan hom dink (Hebreërs 2:6)? Alles het die Here onder die voete van die mens gestel. En nou sien ons dit nog nie.

Maar ons sien Hom, Jesus, wat vir 'n kort tydjie mens geword het in sy vernedering op aarde, vir 'n kort tydjie minder as die engele gemaak is, sodat Hy aan ons en ons sondigheid gelyk kon word. Ja, nie omdat Hy self sonde gehad het nie. Maar in ons vervallenheid, in ons lyding, het Hy saam kom ly. Wat is die mens, Here, dat U aan hom dink? Dan het Christus gekom. Hy skaam Hom nie om ons broer genoem te word nie. Hy skaam Hom nie vir ons nie! Al voel u daardie sonde in u lewe, al sien u die krag en die mag daarvan in u lewe, dan kom Christus en Hy sê: Hy skaam Hom nie vir u nie. Aan die engele het Hy nie gedink nie, sê Hebreërs 2, maar aan die nageslag van Abraham. Na hulle het Hy gekom. Wat is die mens, dat Hy aan ons dink?

Want waarlik, Hy bekommer Hom nie oor die engele nie, maar oor u, die geslag van Abraham. Oor julle en oor my! Oor sy verbondsgemeente. Klein en groot! Oor julle is God bekommerd, selfs oor die kleinste kinders van ons, hulle wat in sonde ontvang en gebore is. Hulle is kinders van Abraham; oor hulle, oor julle kinders, is God besorg. Nie oor engele nie. Julle wat in hierdie tyd in julle gedagtes so verlei word oor allerhande soetsappige ou engeltjies. God is nie oor engele besorg nie, maar oor julle! Daarvoor het Christus gekom. Julle is die geslag van Abraham wat gedoop is in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Aan julle het Christus in alle opsigte gelyk geword, die sonde (ook erfsonde) uitgesluit!, sodat Hy 'n barmhartige en getroue Hoëpriester vir ons kon word. En hierdie Jesus kan ook, omdat Hy self onder die versoeking gely het, nou vir u help wat versoek word, sê Hebreërs 2, sodat as ons voel dat ons die sonde in ons nie kan weerstaan nie, as ek oorgegee is aan woede, aan selfgerigtheid, aan wellus, aan liefde vir geld, dán mag ek weet: hierdie Christus het ook kom ly op aarde, sodat Hy medelye met ons kan hê. Dat Hy die mag wat die sonde oor ons het, kan verstaan. U wat die krag van die erfsonde in u bloed voel, kan by Hom gehelp word. Vlug na Hom en moet so 'n groot saligheid nie verontagsaam nie! Want wat is die mens, dat die Here aan ons gedink het. O HERE, ons Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde!